Indrukke en foto's van Fokofpolisiekar - Kirstenbosch-somerkonserte Januarie 2018

  • 0

"ek verloor
dis in my bloed, baby
sit dit als op rooi
nie verwag om nog te lewe nie
ek dink ons vat daai stuk k*k kar van ons
en ons f*k*f” …"

So begin ’n skreeuende Francois van Coke Fokofpolisiekar se optrede laat Sondagmiddag.

Niks het verander nie; inteendeel, dit het net verbeter. Die Karre is steeds honger, angstig, dringend, omstrede, relevant en weer eens gereed om ’n hele klomp middelklas Afrikaners se emosies om te krap.

Francois van Coke, steeds angstig

Die groep het Oktober verlede jaar hul derde vollengte-album, Selfmedikasie, vrygestel, met ’n oorweldigende finansiële onderneming deur hul ondersteuners. Een van die album se liedjies, “Parkiebankie herfs 2017” is ook as ’n selfondersoekende video vrygestel (sien skakel hieronder).

Wynand Myburgh met sy toereteller in die rooi!

Die stellys is ’n mengsel van oud en nuut. Een ding bly seker: reeds met die openingsakkoorde word die krane tot maksimum oopgedraai. Polisiekar speel nie ’n liedjie nie, hul lewer dit af voor jou deur en in jou gesig – hard, rou en met hoë volume. Die meedoënlose tempo van hul optrede dreig om sy tol te eis, voordat dinge effens afkoel met die meesleurende ballade “Komma” (wat tydens die optrede vir ’n toekomstige video verfilm is).

Jaco Venter die velleman

Veertien jaar se optredes het die groep saamgesnoer tot ’n hegte eenheid en hulle vul mekaar aan met elke liedjie. Die ritmeseksie bly die enjinkamer van die groep. Met Jaco Venter (tromme) en Wynand Myburgh (baskitaar) dryf hulle die ander lede tot groter hoogtes. Hoe Francois se stem dit hou, sal net hy weet.

Na 90 minute en 21 liedjies buig die lede van Fokofpolisiekar en verlaat die verhoog. Die son is reeds agter die berg. Op Kirstenbosch se grasperke skink die

ondersteuners nog ’n paar Jägermeisters om tot verhaal te kom.

Totale aanslag!

Waarheen vorentoe vir die groep? Net die tyd sal leer. Fokofpolisiekar is ’n uitsonderlike groep musikante. Nog nooit in Suid-Afrika se geskiedenis was daar ’n musiekgroep wat so ’n beduidende impak op Afrikaners se waardes, kultuur en taal gehad het nie. Hul ondersteuners is lojaal en ken elke liedjie. Dis ’n verdere bewys van hul gewildheid en toewyding. Geen wonder nie dat ’n paar lede van die groep, nadat hulle hul skoolloopbaan reeds jare gelede voltooi het, verlede jaar teruggeroep is na hul alma mater om

erekleure te ontvang vir hul bydrae tot Afrikaanse kuns en kultuur.

Totsiens Kirstenbosch

Stellys: Dis in my bloed baby; Brand Suid-Afrika; Vernietig jouself; Dis hemel op die platteland; Ek glo in die son; Tygerberg vliegtuig; Lugsteuring; Komma; Selfoontoring; Angsaanval; Illusie van veiligheid; Afgesonder; FLVJ; Tevrede?; Maak of braak; Dagdronk; Selfmedikasie; Parkiebank herfs 2017; Antibiotika; Skyn (Heilig); Fokofpolisiekar

Teks en foto’s: Stephen Fourie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top