Indrukke en aantekeninge oor Die boek van gelukkige eindes deur Debbie Loots

  • 0

Die boek van gelukkige eindes
Debbie Loots

Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780795802034

Semisonic se liedjie “closing time” bevat die volgende treffende reël: “Every new beginning comes from some other beginning’s end.”

Debbie Loots boekstaaf met haar opvolg op 2015 se Split ’n wye verskeidenheid ervarings wat breedweg met die liefde te doen het, maar op so n manier dat jy nie dinge noodwendig kan of sal wil voorspel nie. Nog beter: So woordvaardig en lewenswys is Loots dat jy, ten spyte van die wil om voortdurend meer te wete te kom oor die karakters – en verder saam in hul koppe te klim – allermins deur die boek jaag. Dit was n lekker langsame leeservaring vir my gewees.

Die boek van gelukkige eindes lees in vele opsigte soos n teks wat die kuns van die kortverhaal baie, baie goed onder die knie het. Dit het vir myn deeglikheid van besinning, n diepte van verstaan en weergee, en n onontbeerlike belangstelling in die gapings tussen mense, stories, norme en waardes; dit word sodoende n roman wat nie maklik laat los as jy eers aan die lees, of klaar gelees is nie.

Die herlees van hierdie flink, deprimerende, bittersoet-ironiese bosbrand van n boek bevestig en verbreed die uiters gunstige eerste indrukke van hierdie roman. Debbie Loots mag dalk die derde prys in die 2019 NB-groot Roman-prys losgeslaan het, maar hierdie is g’n derderangse trefferparade nie. Haas jou na jou naaste boekwinkel. Kom huis toe. Kry die ysbak reg vir jou wyn, sit jou foon op “silent” en val weg met ‘n lekkerleesroman wat hart, brein en buik roer. Moenie wag nie!

Loots vra: Hoe lyk liefde in die tyd van sosiale media? Is dit nou ’n geval van liefde met die eerste oogopslag wat vermeerder soos dating apps al hoe gewilder word, of is dit juis die teenoorgestelde, dat almal so bewus is van presies hoe dun, kunsmatig en “curated” ons teenwoordigheid aanlyn is dat daar maar bra moeilik gesluk word (no pun intended, belowe) aan ’n beeld wat iemand self geskep het? Vergeet eers van ware liefde en verhoudings; dink net aan hoe “Netflix en chill”, “ghosting” en vele meer terme en frases nou onlosmaaklik deel is van ons interpersoonlike, kulturele woordeskat. Dink dan nog ’n bietjie verder aan die verskil tussen die sogenaamde digital natives, die millennials, Gen X en Y, en die Boomers, en hoe hierdie verskillende groepe met ’n paar vingerdrukke ’n afspraak met mekaar kan reël.

Die moontlikhede vir misverstande, kommunikasiegapings, en pleinweg ’n enorme verskil in lewensuitkyke en lewenservarings is legio, maar maak ook vorme van konneksie en aantrekking besonder interessant en onvoorspelbaar.

Die boek van gelukkige eindes is beslis nie blind vir hierdie konteks nie, en buit dit eintlik baie slim uit. Maar ek gaan nie verklap hoe nie. Waar lê die foutlyne tussen sosiaal en antisosiaal wees? Tussen introvert en ekstrovert, tussen menssku en veilig/versigtig? Elke leser moet maar self besluit.

Hierdie boek is vir my ’n relevante, baie prikkelende roman juis omdat dit soveel belangstelling toon in die areas van die tussenin, die amper-daar, die wil-wil, die binnekort-maar-nog-nie-nou-nie, en die ek-beloof-en-ek-onderneem-om. Ek wil nie noodwendig so ver gaan en dit juis liminale ruimtes noem in die strengste sin nie, maar Loots karteer die grys areas in die samelewing. Die mure wat ons self om ons oprig, om verskillende redes. Ook die naakte vrees en onsekerhede wanneer ons die skansmuur afbreek en iemand toelaat om ons te sien wanneer ons weerloos, alleen en troosteloos onsekere paaie bewandel.

Hierdie roman is haarfyn gekalibreer. Wanneer dit skiet, tref dit die teiken sekuur. Dis liederlike  lyfgesange en soms kille, soms kwaai kopskote wat jou laat stik van die lag, dan hardop laat sug oor ‘n raak beskrywing, dan vir eers tot ’n paar diep asems (en nabetragting) dwing.

Ons almal ken die gesegde “All is fair in love and war”; Loots laat ons weer met nuwe oë kyk na die slagveld van die intieme verhouding, die opelugteaters van goeie vriendskap (ook tussen die genders), en hoe die lewe nou maar eenmaal net nie regverdig is nie.

Soos Netflix se reeks Russian doll vir ons wys, is die hedendaagse deursneemens veel meer obsessief oor eindes as wat hy of sy dalk besef, juis omdat ons steeds nie weet wat om met eindes, en die grootste einde van almal, die dood, te maak nie. Die einde van ’n verhouding is natuurlik ’n dood in die kleine, nes ’n orgasme, le petit mort, ’n klein dood is.

Elke leser sal ’n eie antwoord op die vraag hê, maar dis beslis een wat gevra moet word: Wat is die impak van ’n globale mark van ervarings, waar letterlik enigiets, teen die regte prys, gekoop van word? Ek gaan eerder die slippery slope van vergelykings met koeie koop en verniet melk kry vermy, maar ek dink darem jy sien wat ek sê.

Hierdie roman stel belang in verhoudings van korte duur en dié van lange of langer duur; dit kyk na aanpasbaarheid, verandering, opofferings, vergifnis, verskrikkings en vrees. Hoe ’n mens moet saamleef met die spoke wat jy self opgejaag het. Dit sou hoegenaamd nie onvanpas wees om Loots se skrywe hier as a traktaat oor menslike onvolmaaktheid en feilbaarheid te tipeer nie.

Die boek van gelukkige eindes het ’n omslag wat baie herinner aan David Nicholl se One day. Lesers wat albei gelees het, sal hul eie afleidings oor die binnefluisteringe tussen die twee romans kan maak.

Elke keer as ek ’n roman met “boek” aan die begin van die titel teëkom, dink ek tog maar aan die Groot Boek, die Bybel. Hoe dit sekerlik steeds moet staan as die mees populêre teks van Seks, Geweld en Sonde wat ons het. Soek jy ’n gelykenis, ’n lewenswaarheid, ’n aanhaling, ’n vinnige stukkie om ‘n standpunt te bewys? Die Bybel is jou go-to.

Loots se roman is natuurlik g’n Bybel nie, maar dit versamel soveel interessante en aardse tonele, oomblikke en besinnings rondom die sentrale akse van Seks en Dood, of Skepping en Vernietiging, of Kreatiwiteit en Stasis, nes jy wil, dat dit enorme waarde sal toevoeg tot enige leser se eie biblioteek. Hierdie roman, soms stil-stil, soms absoluut baldadig dramaties en tong-in-die-kies, het genoeg drama vir enige dag van die week!

Die boek van gelukkige eindes sal ‘n dieper leeservaring bied as jy Raymond Carver se Short cuts, Margaret Atwood se kortverhaal “Happy endings”, en Ingrid Winterbach se Boek van toeval en toeverlaat (ja, gaan dink ‘n bietjie) gelees het. Ook as die idee van ’n “happy ending” jou stout laat glimlag eerder as om in absolute afgryse weg te laat skram.

Die motto van die roman is ’n aanhaling deur Orson Welles: “If you want a happy ending, that depends of course, on where you stop your story.” Nie net is dit so ’n raak stukkie wysheid nie, maar dit verklap ook veel van die roman se filmiese aanslag aangaande perspektief en vertelling. Welles was ’n meester van die einde – ek dink veral aan sy Citizen Kane, en hoe die film omgaan met die begrip van eindes en die idee van ’n begin, en die “origin story”. Loots se kopknik na Welles, met (wait for it) ’n aanhaling oor eindes geplaas reg aan die begin, of voor die begin, van haar eie verhaal, is die soort slimmigheid wat fynproewers veel plesier sal verskaf.

Hoe eindig Loots se roman, en hoe word die eindes van elke karakter se storie weergegee? Twee kernbelangrike vrae wat ek aan die leser self gaan oorlaat om uit te snuffel. Of die individuele eindes gelukkig of hartseer is, is oop vir bespreking. Gelukkig, wel, is die feit dat Loots se boek eindes en ’n slot verskaf wat ’n mens as bevredigend sou kon bestempel. Vir ’n roman met soveel trauma en worsteling, ten spyte van al die ligte oomblikke, is dit nogal ’n oorwinning in die kleine vir die gelukkige einde. Solank jy goed onthou: Niks is vir altyd nie.

Hoe lyk geluk vandag? Is dit een ding, of vele kleiner fasette? Kan geld geluk koop? Kan ‘n huwelik goed funksioneer sonder seks, of sonder goeie, gereelde seks? Gaan liefde by die agterdeur uit as geld by die voordeur uitstap? Is dit wys om boek te hou van elke klein dingetjie wat jou lewensmaat verkeerd doen, of moet ons eerder vergewe en vergeet, sewentig maal sewe keer? Is dit belangriker om reg te wees, of om gelukkig te wees? Hoe kompliseer ’n kind, of kinders, ’n verhouding? Hoe beïnvloed pa-wees of ma-wees jou manier van liefde uitdruk en ontvang in ’n intieme verhouding? Hoe maak jy dinge reg as ’n ouer wanneer jou eggenoot of voormalige minnaar niks met jou kind te doen het, of wil hê nie? Kan jy iemand dwing om vir iemand anders lief te wees, onder bepaalde omstandighede? Al hierdie vrae, en nog vele meer, kom aan bod.

Terwyl ek die roman gelees het, kon ek nie anders as om gereeld aan die meesterlike HBO-reeks The affair te dink nie. As jy hierdie reeks gesien het, sal jy weet presies hoe omvattend en intens die soektog na outentisiteit in die modern wêreld is en kan wees. Tog is Loots se skrywe nie swaartillend nie. As ’n ma van drie dogters en ouma vir twee kleinkinders het sy klaarblyklik baie werk gedoen om mense in hul fasette waar te neem en die waarnemings op skrif vas te lê. Haar karakters is nie een naastenby perfek nie. Hul almal het ooglopende gebreke, selfs fatal flaws. Hulle is koppig, eiewys, het blinde kolle, is bevooroordeeld, neem dom besluite, wroeg, doen ander en hulself leed aan, probeer hulself verbeter en het ook goeie eienskappe.

Dis hierdie jin en jang, die donker en die lig, wat Loots se karakters so eg vermaaklik en lewensgetrou maak. Sy spot met hulle, bied ’n seepkis vir bedenklike idees en lewenswyshede, prop ’n kwas in hul hande en beveel: Verf!

Verskillende verbindings staan sentraal. Nie net die maklik-naspeurbare verhoudings tussen geliefdes en minnaars en vriende nie, en tussen ouers en kinders nie, maar ook die verhouding van die skrywer tot die karakters wat hy of sy skep, en die verhouding van die skrywer tot die leser, die verhouding van fiksie tot die werklikheid, tussen illusie en waarheid, tussen skyn en geloof. Loots skryf oor mans en vroue – gay, straight, bi, oop om te eksperimenteer, of ietwat geslote en afgesonder, of ongelukkig in ’n bepaalde verhouding – en wys dan hoe iemand van buite ‘n spesifieke karakter se lewe kan kompliseer, die lewenskwaliteit kan verhoog of verbeter, of pleinweg amok kan maak.

Wanneer geraamtes in die kas (ja, ook die Kas) begin verskyn. Wanneer “unfinished business” klaar moet kom. Wanneer groot en klein en middelmatige en weggooi-liefdes kom aanklop en aandring om gesien en gehoor te word. Dit sit nie in elke skrywer se broek om stemme vas te vang wat onmiddellik weergalm en eg klink, dog ook verras en ontroer namate ons hulle leer ken nie.

Daar word boekgehou van begeertes en vorme van begeerte en vervulling, ook die versugting na oplossings, nie altyd binne die raamwerk van die wet nie. Loots skryf op hoe verskillend individue reageer wanneer hulle begeertes en behoeftes onbevredig bly, en wanneer woorde bloot faal. Wat doen jy dan? Hoe gereeld is ons nie aandadig aan iets wat iemand anders diep sou knou, selfs verwoes, as ons dit hardop moes sê nie? Hoe gereeld is ons salig onbewus van die mag wat ons geniet om iemand anders seer te maak of op te bou?

Die boek van gelukkige eindes maak ’n kuns daarvan om in te val op kritieke periodes of episodes in karakters se lewens, wat my baie laat dink het aan Altman se filmweergawe van Short cuts. Loots die skrywer speel alte lekker choreograaf, en vra ek my af oor die redigeringsproses van die roman. Mike Nicholls se film Closer het hom ook by my kom aanmeld. Verder nog: Die redigeringsproses wanneer ons weer van voor af aan iemand nuuts ons storie of lewensverhaal moet vertel, maar elke keer met ‘n nuwe “edit” en voetnotas daarby.

Soos jy ouer word, moet jy ook besluit waaraan jy wil klou, en wat jy van ontslae wil raak, uit jou eie herinnerings-en-mense-biblioteek. Dis eenvoudig onmoontlik, en nie wenslik nie, om te poog om elke klein trauma, verwyt of mislukking, of dié wat jou te na gekom het, in jou “cloud” te stoor. Wat sal die “bio” van jou lewe onthul, en wat sal dit verswyg?

Ek sou ’n essay net hieroor kon skryf, maar die karakters word almal op ‘n manier saamgebind deur hul verhouding – soms naby, soms net lukraak – tot die sielkundige Chris. Terapie, maniere van stories vertel, en die waarde van stories word ondersoek. Daar is ’n begin, middel, einde, en ’n “na die einde”, maar ook behoorlike kophou – sonder ‘n indeks (wat beslis sou gehelp het met tye) om mee rekening te hou. Die middel het nie ‘n vet pens nie, en is lekker bedrywig en vol dinge. Interessant genoeg is die “begin” besonder vol detail en wrang humor, en is die einde en “na die einde”… Nee, nee, laat ek eerder nie daai poephol wees nie.

Iets waarvan ek baie gehou het, is die tegniek om deur Chris as ’n soort bindingsagent elke karakter se sogenaamde einde of lewensverloop – wat in ‘n vorige deel opgeskryf was – te vertel uit die perspektief van iemand met wie daardie karakter ‘n soort verhouding het. So word vaste en absolute waarhede voortdurend bevraagteken, en word perspektief en maniere van sien voortdurend ironiseer. En ironie, ‘n gedugte wapen in die hande van ‘n bedrewe skrywer, is inderdaad goud werd.

Loots se sinne is gereeld so blink gepoets, en die voetwerk so vernuftig, dat jy sommer hele paragrawe wil onderstreep en ‘n hele paar keer wil herlees. Is ons altyd die hoofkarakters in ons eie lewensverhaal, of laat ons alte dikwels toe dat iemand anders seggenskap het oor wie ons is, of graag wil wees? We are all the villain in someone else’s story.

Soms is jy nader aan ‘n karakter, en ander kere weer ver. Soms moet jy hoor van iemand wat jy onlangs in ‘n ander lig beskou het en jou opvatting oor hulle nou weer moontlik kan verander. So is daar nie ‘n stabiele basis van karakter wat vir die leser geskep word nie, en moet jy self oordeel, of nie oordeel nie. Die uiteinde is gereeld simpatie, of selfs empatie. Swaarkry is swaarkry, of jy nou van die persoon of karakter hou of nie. Identiteitskrisisse slaan nie aldag so hard in fiksie soos hier nie!

Van Checkhow, en gewere, gaan ek nou liefs niks sê nie. In Die boek van gelukkige eindes is die leser altyd bewus van die storie-binne-die-storie, en is die meta-element alomteenwoordig. Alle waardige kuns bemeester die tegniek om die gevoel van manipulasie en kunsmatigheid te oorkom, maar met ‘n storie soos hierdie kan jy nogal waaghalsig wees en met baie wegkom.

Ek het nogal gevoel daar kon heelwat meer uitspattighede op ‘n metavlak gewees het, en kon die internet se impak op intimiteit en die verslaggewing self nog ‘n aks sterker ontgin gewees het. Die platform was beslis daar.

Die sneller in die breë van die verhaal is die wraak op die sielkundige Chris deur ‘n vrou, lank reeds moeder, wat hom kom opsoek. Hulle kortstondige “verhouding” het beide van hul lewens geraak, maar op uiteenlopende wyses. Chris word afgepers, goed deur die proses afgetakel, en ons word stuk-stuk meer wys oor die karakters en hul hebbelikhede en belangstellings soos ons vertel word van hulle en wat Chris van hulle dink. Loots was slim om met die idee van die gevaarlike of mal eks rond te speel. Daar is groot pêre soos een gay en een straight eks die pap dik kom aanmaak. Chris se “midlife crisis” neem toe nie naastenby die vorm aan wat hy sou verwag het nie.

Ek wil regtig nie veel sê oor die ander karakters nie, behalwe dat die leser baie aangenaam verras sal word deur die onverwagte wyses waarop die karakters se paaie met mekaar kruis, en die alliansies wat gevorm word. Die boek van gelukkige eindes is inderdaad baie slim aanmekaargesit, die intriges legio en soms watertandlekker, al weet jy dinge gaan nie ‘n gelukkige einde hê nie. Of gaan hulle? Watter prys vir onbesonne dade? Onmoontlik, ook, om nie te glimlag oor ‘n protagonis wat vir ander “hulp” aanbied terwyl sy eie lewe besig is om uitmekaar te val nie.

Ek vermoed Woody Allen sou iewers tel onder die skrywer se invloede, ook beslis studies oor die psigoanalise en psigoanalitiese teorie, soos uiteengesit deur Freud en Jung. “Satisfaction is the death of desire” het oor en oor en oor en oor by my opgekom terwyl ek Loots se roman geniet het. Dis juis daai gaping tussen “enjoyment” en “satisfaction” op die psigiese vlak wat hierdie roman ook betrek.

Loots skryf op ‘n heerlik loslit (losklit?) wyse oor seks en lyflikheid, en daar’s nie veel van taboes hier ter sprake nie. Tog is dit ook nie so eksplisiet dat die boek ‘n plakker op die voorblad moet kry nie. So mag Loots ook maar skryf oor Kaapstad en die Kaapse milieu, en die soort karakters wat die strate bewandel. Nes Quentin Tarantino nie juis die grootste hippie fan is nie, is daar ook ‘n paar groepies mense wat nogal deurloop. Jy hoef nie die boek te gelees het om te kan vermoed wie hulle sou wees nie. Sou NB soos met die onlangse Die biblioteek aan die einde van die wêreld ook ‘n sensitiwiteitsleser vir hierdie roman aangestel het? Ek wonder nogal.

Die boek van gelukkige eindes het my kennelik veel vreugde verskaf – die literêre ekwivalent van ‘n besonne, besonder sexy soen! Glad nie te versmaai nie, of hoe?

Lees ook:

Die boek van gelukkige eindes: ’n onderhoud met Debbie Loots

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top