...
Amelina se vriende en kollegas benadruk die belangrikheid daarvan dat die kulturele inisiatiewe wat deur haar aan die gang gesit is, voortgeset sal kan word.
...
PEN Ukraine berig met leedwese dat die Oekraïense skrywer Viktoria Amelina beswyk het aan beserings wat sy opgedoen het op 27 Junie 2023 tydens ’n Russiese missielaanval op ’n restaurant in Kramatorsk. Sy was 37.
Amelina, wat Russiese oorlogsmisdade vir die menseregte-inisiatief Truth Hounds gedokumenteer het, was in Kramatorsk saam met ’n afvaardiging van Colombiaanse skrywers en joernaliste.
PEN Ukraine en Truth Hounds beweer dat die voorval nog ’n oorlogsmisdaad van die Russiese weermag in Oekraïne is. Ontleding van die vernietigde perseel toon dat die Russe ’n hoë-akkuraatheid Iskander-missiel gebruik het. Die dodetal staan op 13 en sowat 60 mense is gewond.
In 2014 is Amelina se eerste roman, The Fall Syndrome, or Homo Compatiens, gepubliseer. Dié boek is daardie jaar onder die top-10 beste prosawerke deur LitAktsent, ’n Oekraïense literatuurwebwerf, gelys. Dit is die volgende jaar herpubliseer, en het die kortlys vir die Valeriy Sheftsjoek-prys gehaal.
In 2016 publiseer sy haar eerste kinderboek, Somebody, or Waterheart. Haar volgende kinderboek, Storie-e-es of Eka the Excavator, verskyn in 2021. Haar tweede roman, Dom’s Dream Kingdom (Dim dlya Doma), is in 2017 deur Old Lion Publishers in Lviv gepubliseer. Dié boek was op die kortlys vir nasionale en internasionale toekennings: die LitAktsent 2017-prys, die UNESCO City of Literature-prys en die Europese Unie-prys vir letterkunde. In 2021 het Amelina die Joseph Conrad-Korzeniowski-letterkundeprys ontvang.
Na die aanvang van die volskaalse inval in Oekraïne in 2022 sluit Amelina by die menseregte-organisasie Truth Hounds aan. Sy dokumenteer Russiese oorlogsmisdade in bevryde gebiede in die oostelike, suidelike en noordelike dele van Oekraïne, veral in Kapytolifka naby Izioem, waar sy ’n dagboek vind van Volodymyr Vakoelenko, ’n Oekraïense skrywer wat deur die Russe vermoor is.
In hierdie tyd begin Amelina werk aan haar eerste nie-fiksie boek in Engels. In War and Justice Diary: Looking at Women Looking at War, wat binnekort in die buiteland verskyn, vertel Amelina stories van Oekraïense vroue wat Russiese oorlogsmisdade dokumenteer, en hulle lewens tydens die oorlog.
Amelina se prosa, poësie en essays is vertaal in Pools, Tsjeggies, Duits, Nederlands en Engels. Dom’s Dream Kingdom is onlangs in Spaans vertaal.
Amelina se vriende en kollegas benadruk die belangrikheid daarvan dat die kulturele inisiatiewe wat deur haar aan die gang gesit is, voortgeset sal kan word.
Kommentaar
Sy was 37 jaar oud en duidelik begaafd. Dis 'n tragedie. Rusland beroof die wêreld ook van kreatiewe mense.
Skokkend! Tragies.