In Memoriam: Dot Vermeulen

  • 0

Dot Vermeulen was 'n kunstenaar en die wenner van 2013 se Sasol Nuwe Handtekeningekompetisie. Vermeulen en haar vriendin Judith Erasmus is op Woensdagnag die 29ste April in 'n motorongeluk oorlede. Elizabeth Miller-Vermeulen deel as onafhanklike kurator van D-Street-galery in Stellenbosch 'n huldeblyk.


Dot Vermeulen het aan verskeie uitstallings by D-Street-galery in Stellenbosch deelgeneem en ons het haar as een van die galerygroep beskou. Wanneer sy in die Kaap kon wees tydens openingsgeleenthede, rondleidings en Last Thursdays, was Dot en haar vriende deel van die opgewonde gaste. Wanneer Dot nie ‘n opening kon bywoon nie, het haar vriendin Judith Erasmus, argitek van Stellenbosch wat ook in die ongeluk omgekom het, haar kom verteenwoordig. Ons sien hulle gesigte glimlaggend op talle foto’s wat tydens geleenthede in die galery geneem is.

Dot was uiters professioneel in haar bydrae as kunstenaar, asook in haar toewyding teenoor haar studente. Gedurende die US Woordfees vanjaar het sy ‘n afspraak met my, Ronnie en Sue gemaak. Tydens ‘n heerlik ontspanne, inspirerende middagete het sy ons foto’s en inligting gewys van Bloemfonteinse kunsstudente en medekunstenaars. Na aanleiding van ‘n vorige gesprek wou ons die moontlikheid ondersoek om uitstallings te reël om blootstelling en insluiting te bewerkstellig van Bloemfonteinse kunstenaars.

Ons het Dot beleef as “die toekoms”. Sy was begeesterd om ‘n daadwerklike bydrae te lewer tot die bevordering van kuns asook die ondersteuning van kunstenaars en kunsstudente. Dit terwyl sy besig was met die skryf van haar eie skripsie.

Dot se kuns is vernuwend, en as wenner van die Sasol New Signatures 2013 het sy sodanige erkenning vir haar eie, vernuwende, visuele werk gekry.

Die positiewe energie en gesindheid, die gemak waarmee sy ingeskakel het, haar intelligensie, insig, waardering en begrip het ons lewens verryk!

Ons gaan haar baie mis.

Simpatie aan al haar familie en vriende.

Elizabeth Miller-Vermeulen (kurator en kunstenaar)
Namens D-Street-galery en Ronnie Donaldson en Sue Acker (eienaars)

By US Woordfees 2015: Jaco Sieberhagen, Dot Vermeulen, Valiant Swart, Clare Menck, Ingrid Winterbach, Vernon Swart, Shany van den Berg en Strijdom van der Merwe.

Foto © Naomi Bruwer

Lees ook 'n onderhoud met Dot Vermeulen op LitNet

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top