In memoriam: Dirk Laurie (1946–2019)

  • 0

Wyle Dirk Laurie en sy vrou Trienke (foto: Naomi Bruwer)

Dirk se professionele loopbaan het beduidend ’n wending geneem toe hy die beplande nagraadse chemiestudie verruil het vir wiskunde. Die inspirasie van die hoogs vereerde prof Goeldner en die verwante installering van die eerste groot syferrekenaar, die IBM 1620, by die Wiskundedepartement by US was sekerlik kritieke faktore. Instinktief het hy, soos enkele van ons studente, geweet dat dit die aard en impak van wiskunde in wetenskap en tegnologie onherroeplik sou verdiep. Hy het met kenmerkende entoesiasme, intellek, energie en deeglikheid ingeklim in die lewenslange verkryging van insig in die gebruik van die rekenaar.

Dirk het altyd met die hoogste dankbaarheid en respek vertel van leermeesters, sy promotor, Ron Mitchell in Dundee, asook mentors, kollegas en vriende tydens sy eerste vrugbare betrekking by die destydse WNNR – dikwels met kenmerkende humor ten koste van homself in sy leerproses. In daardie tyd het baie hom eers leer ken toe Gerhard Joubert die eerste SANUM-kongres gereël het. Met die legendariese Collatz as eerste prominente genooide gas het ’n wêreldwye, blywende professionele familieband en tuiste vir hom en ander werklikheid geword. Baie van ons is deur Dirk persoonlik, en deur sy voorbeeld, aangemoedig om oor baie jare by te dra in hierdie familieverband, selfs wanneer die eie loopbaan ook vreemde, maar verwante, wye draaie gemaak het. Van ons “stigterslede” kon oor baie jare uitstaande, pittige, interessante en leersame lesings van Dirk by SANUM, asook wêreldwyd by ander kongresse geniet. Net so belangrik was sy bydraes op sosiale vlak daar. Sommiges dink met genot terug aan lang nagte van klappende skaakhorlosies en rooiwyn in sy hotelkamer tydens kongresse, tesame met die moeisame wakkerword vir die oggendlesings, wat altyd pligsgetrou bygewoon is. Sy vakpublikasies in verskeie prominente joernale is wêreldwyd vir relevantheid en gehalte waardeer.

Onder onafwendbare beperkings is dit noodsaaklik en voldoende om Dirk se statuur en impak in numeriese wiskunde te skets aan die hand van die boek The SIAM 100-digit challenge, SIAM, Philadelphia (2004).

Prof Trefethen van Oxford, bekende genooide by SANUM, wat vanjaar nog ’n eredoktorsgraad by US ontvang het, het vroeg in 2002 ’n wêreldwye uitdaging gerig aan enige spanne wiskundiges om tien gegewe moeilike numeriese probleme te takel vir baie akkurate oplossings. Vir die wenner sou een dollar by elke probleem toegeken word vir elke korrekte desimale punt tot by 10. Hy het bygevoeg dat sy verwagte uitgawe aan die prys van die wenspan omtrent $50 uit die moontlike maksimum van $100 sou wees, omdat die probleme moeilik is, en die taak al teen Mei 2002 ingedien moet wees. Twintig spanne van regoor die wêreld het volpunte van $100 behaal. Dus was duidelik aansien, van persoon en instansie, alleen op die spel gewees. Onder hulle was vyf spanne bestaande uit net een spanlid, en Dirk Laurie, US, RSA is een van hulle. Hy is daarna gevra om, saam met drie ander prominente deelnemers, die boek oor die probleme en oplossings, elk met soms meer as een insiggewende strategie en metode uitstekend aangebied, te skryf. Dit mag een van die waardevolste boeke wees wat vir enige nagraadse student in numeriese wiskunde toeganklik is. Die aansien van SANUM en wiskunde in ons land kon skaars beter bevorder word as met hierdie prestasie. In my kopie van die boek lees ek nou toevallig in sy handskrif: “Dit het alles begin, dink ek, op daardie trippie op na Ndumu met Bill Gragg, Dirk.” So sal verskeie prominente gaste by SANUM Suid-Afrika ook onthou vir besienswaardighede en nederige gasvryheid.

Duisende sal Dirk hoogstens onthou van die Flinkdink-reeks op TV, en ander sal onthou hoe sy verkiesingsvoorspellings en ontledings alle ander oortref het. Baie studente van meer as een universiteit sal hom onthou vir sy unieke styl en eienskappe. Minder bekend is sy baie wesenlike, onbaatsugtige bydraes in baie bedrywighede soos Wiskunde-olimpiades, wat strek van organisasie tot probleemseleksie en -opstelling, opleiding, oefening en reisbegeleiding. Sy gratis bydraes by programbiblioteke, en sy doeltreffende programme wat bekende nuttige algoritmes implementeer, en gratis aflaaibaar is, sal nie wyd aandag trek nie, maar wel waar dit tel. Onlangs nog het ’n Chinese sterrekundige raad aangevra met die implementering van die vinnige pulstransform wat hy vir die waarneming van supernova wou gebruik. Voldoende was die stuur van die webadres waar Dirk se program gratis beskikbaar is.

Sommiges sal weet van sy spel vir Noord-Transvaal in die nasionale skaakliga, en moontlik van sy bydraes in die graderingstelsel. Die Havengaprys is terloops een prestasie, en nadat hy in Somerset-Wes huis opgeruim het, is verskeie interessante en uiters leersame interne verslae en wyd uiteenlopende bydraes tot projekte by baie instansies uit sy WNNR-dae in ’n agtergelate kartondoos gevind.

Uit die perspektief van iemand wat hom eers later, as getroude man, leer ken het, word hy onlosmaaklik verbind met Trienke, destyds in die bedrywige vyf-seun-huis in Transvaal. Hy het haar lewenslank ruimte gegun en steun gegee in haar bydraende liefde vir kuns. Nadat hulle baie later suid verhuis het, was daar nie net die voorreg om hom as kollega te ervaar nie, maar ook naweke in die Sederberge, by Sutherland of blommebesigtiging in Namakwaland te deel. Kuiers tuis, en soms by hul strandhuis op die see in Franskraal, was onvergeetlik. So ook die verkenningsritte deur die interessante omgewing daar. Sy geduldige hulp wanneer vriende en gades se genealogiese soektogte na voorouers vasbrand, of algemene raad oor rekenaars en sagteware gevra was, is hoog gewaardeer. Nuwe Le Carré-boeke, ou speurverhale en ander literatuur uit tuisbiblioteke is gereeld uitgeruil. Rare waardevolle boeke wat Dirk as geskenke in obskure winkels vir tweedehandse boeke gevind het, het herhaaldelik getuig van sy skerp geheue en waarneming van behoeftes aan informasie in spesifiek filosofiese en historiese kennisleemtes. Wanneer saans gebraai word, het hy dit as kenner gedoen, en as later gesing was, kon mens sy uitmuntende fluitspel geniet. Sy improvisasie op ’n klavier was meevoerend, en hy kon naatloos by die derde of vierde groep inval by die sing van ’n Duitse tafelgebed in kanonvorm. Na aftrede het hy nog by AIMS in Muizenberg verdere toegewyde, waardevolle bydraes gelewer. Uit daardie tyd onthou ek sy uitnodiging na die ETH in Zürich. Toe hy een naweek in Bruchsal kom kuier, kon ek hom die ou keiserstad Speyer wys. In die beroemde Dom daar het ons albei in sprakelose vervoering gaan sit en luister na iemand wat op die nuwe orrel speel. Toe ek af aarde toe kom, het ek te vroeg gevra watter wonderlike komposisie dit was. Nog afwesig, het hy tipies kortaf gesê: “Toccata van Vidor, natuurlik!” Ook oor musiek kon hy baie beantwoord.

Toe Dirk en Trienke finaal na Franskraal verhuis, het hoofsaaklik die nuwe uitdaging by LitNet Akademies van sy beroep oorgebly. Hy het nie teruggedeins vir hierdie enorme uitdaging aan kennis, oordeel, toewyding en verantwoordelikheid nie. Soos kollegas weet, kon sy harde oordeel of ongeduldige nee net so leersaam wees as sy geduldige, ondersteunende, waardevolle raad. Maklik of eenvoudig was hy nie. Met sy wye kennis en veelvoudige talente en belangstellings moes hy dikwels moeilike oordele energie- en tyd-ekonomies maak. Die ou wysheid van Napoleon lui: “As alles belangrik is, is niks werklik belangrik nie.” Sy ingeboude, gereeld bygewerkte, aan ervaring geykte prioriteitsalgoritme was konsekwent teenoor enigeen in sy beroepswêreld, asook homself. Ook in sy wyer omgang met mense het hy homself behandel soos hy ander behandel. Sy eng familie en vriende weet.

By een van sy laaste kuiers het hy toevallig weer die fyn kunswerk van drade en magneetjies in my geraamde bladsygroot sentrale geheue van die ou IBM 1620 met die trots prykende 16 k betrag. “My motorsleutel het miskien meer geheue!” was sy kommentaar, en toe nadenkend: “Maar dit is waar alles begin het.” Die voorreg om bydraend deel te wees van die rekenaarrevolusie, en die gepaardgaande ongelooflike nuwe gereedskap om wiskunde en insig in die skepping te bevorder, het sy meesleurende lewenslange dankbaarheid ondersteun. Hierdie dankbaarheid was duidelik sigbaar toe hy en Trienke hul goue bruilof, en alles wat dit voorafgaan, nog kort voor hul laaste Kersfees saam kon vier.

Dit is hier aangewese om in dankbare ootmoed stil te word, vir Dirk.

Lees ook Dirk Laurie se biografie op LitNet.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top