In memoriam: Deon Knobel – Paaie wat kruis

  • 0

Die toeval laat ’n mens se paaie soms onverklaarbaar en herhaaldelik kruis met diverse lede van dieselfde gesin. Vir my is so ’n geval dié van Deon Knobel, wat vandeesmaand oorlede is na ’n roemryke loopbaan as akademikus en patoloog.

Ek kom in 1955 as eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch aan. My weë kruis met dié van Wilhelm Knobel, boorling van Bethlehem in die Vrystaat. Ons deel dieselfde kennissekring, eerder as vriendekring.

Wilhelm beïndruk as woordkunstenaar, oa met sy gedigte in die kultuurblad Prisma. Die volgende jaar sluit sy ewe briljante broer, Deon, as eerstejaarstudent in die geneeskunde op Stellenbosch by hom aan. Deon sou sy MB- en ChB-grade cum laude in 1962 verwerf. Wilhelm vertrek op sy beurt met ’n nagraadse beurs van die Franse regering na die Sorbonne in Frankryk, waar hy bevriend raak met Breyten Breytenbach.

In 1959 is ek een van 36 studente wat per bus ’n toer van die Antropologievereniging (toe nog bekend as die Bantoestudiekring!) na die voormalige Transvaal, en Suid- en Noord-Rhodesië onderneem. Ons toerleier is Eddie Pienaar, wie se seun en naamgenoot vandag ons apteker is!

Op pad daarheen oornag ons by die pasgestigte NGK Sendingstasie by Tshilidzini in Vendaland. Die hospitaaldokter is Herman Visagie, getroud met Estie, ’n suster van die Knobel-broers. Ons toergroep slaap die nag op heerlike beddens in die hospitaal, ’n week voordat dit geopen en in gebruik geneem word.

Later sou die Visagie-egpaar na Stellenbosch verhuis, en word Herman ons huisdokter. By verjaardagvierings aan huis van die egpaar ontmoet ons weer vir Deon, toe professor van forensiese patologie aan UK, waar hy naam maak as uitmuntende dosent. Ons sou mekaar dikwels raakloop in die voorportaal van die Kunstekaapteater in Kaapstad voor vertonings aldaar.

Tien jaar gelede doen ek navorsing oor die Pienaar-genealogie en kom agter dat een van die Knobel-sibbes ouma Esther Geertruida Pienaar (1874–1939), getroud met Hendrik Andries Roux, was. Hulle was die sendingpastorie-egpaar van Bethlehem, en eerw Roux ’n veldprediker tydens die ABO. Hy word verraai toe hy tydens ’n nagtelike besoek aan sy eggenote tuis deur die Kakies gevange geneem en na Ceylon verban word. Deon het, soos die familie, vas geglo dat dit die Engelsgesinde NGK-predikant was wat sy oupa verraai het.

Deon is entoesiasties om my van hierdie befaamde ouma van hom te vertel. Sy was klein van postuur, net 1,12 m lank, en het nr 3-kinderskoene gedra. Van die egpaar se sewe kinders sou ses die oorerflike CMT- (Charcot-Marie-Tooth-) sindroom (neuropatie en peroneale spieratrofie) erf, met slegs Deon se moeder, Esther Pienaar Roux, en haar nageslag wat dit vrygespring het; haar sibbes was fisiek gestremd weens spierverswakking, maar het nogtans almal produktiewe lewens gelei en 80 jaar en ouer geword. Deon sou dit, en die voorkoms van bipolêre gemoedstoornis (maniese depressie) in sy familie, met kliniese eerlikheid navors en daaroor in mediese joernale rapporteer, en veg daarvoor om dit as siekte te erken.

Minder bekend is die feit dat Deon die sandsteen-sendingpastorie van sy grootouers in Bethlehem aangekoop en ingerig het as familiemuseum, waar talle familie-artefakte te sien is. Onder andere word sy beroemde ouma se skoentjies daar uitgestal. Hy onderhou die museum en stel ’n inwonende niggie as kurator aan.

Op ons weë deur die lewe kom mens soms met unieke en buitengewone families in aanraking. Die Knobels van Bethlehem is vir my so ’n geval.

 * Christo Viljoen is ’n afgetrede akademikus en ingenieur van Stellenbosch.

Lees ook

In memoriam: Deon (Gideon Jacobus) Knobel

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top