In memoriam: Deon (Gideon Jacobus) Knobel

  • 3

Deon Knobel (foto: verskaf, afkomstig vanaf Facebook)

5 April 1939 – 1 Maart 2019

“Soek jy daai hond wat nou net deur die taxi getrap is?” vra die man vir Deon Knobel, hoofspesialis in forensiese patologie en hoof van die departement regsgeneeskunde aan die Universiteit van Kaapstad. “Die hond het seergekry en hy is hier om die draai.” 

En dit is hoe Deon vir Lady gevind het. Laat in die nag onderweg na die Soutrivierse lykshuis om ’n lykskouing te doen. Hy het haar wonde verbind en behandel en besluit dié maltesie gaan saam huis toe.

By die huis in Kloofnek gekom, wou sy lewensmaat, Roy Allan, niks weet nie. “Nie nog ’n hond nie.” Wanneer Deon terugkom van ’n konferensie en Lady is beter, moet sy ’n ander huis kry. “Twee weke later, toe ek terugkom, was sy op Roy se skoot en sy het nooit weer daar afgeklim nie.”

Toe die foon op 1 Maart lui met die nuus dat Deon oorlede is, toe dink ek aan Roy se dood. Want Deon het sy dood vir hom mooi en gemaklik gemaak. Hy het my daarvan vertel.

Roy het swaargekry en Deon het die dokter laat kom om vir hom morfien in sy mond te spuit. Kort voor sy dood het Roy na Lady gevra en hulle het haar by hom op sy bed getel.

Roy het gesterf met Deon wat sy een hand vashou, en sy ander hand wat op Lady rus, en die dokter wat weer sy hand bo-op dié hand geplaas het. Rustig by hulle huis in Kloofnek.

Nadat Roy weg is, het Lady om en om hom geloop, haar kop geskud en dit het gelyk of sy hom met haar neus “begrawe”. Lady is tuin toe saam met Deon en daar het hy ’n skoenlapper sien doodgaan. Besig om te transformeer.

Hy het die skoenlapper opgetel en gebêre. Deon het die dood verstaan, want hy het elke dag die lelike daarvan gesien.

Wat mense nie geweet het nie, was in dié tyd, toe Roy (sy lewensmaat van 39 jaar) oorlede is, moes Deon in een van die grootste hofsake nog getuig. Dié van Marike de Klerk. Hy het niks laat blyk nie, net voortgegaan met sy werk.

Ek het Deon leer ken as ’n fier en regop man, geklee in ’n das en pak klere, byna 20 jaar gelede. Sy stem was diep en mooi. Niemand kon hom vasvra in ’n hof nie – hy het lykskouings onthou van mense wat drie jaar gelede vermoor is. Hy het met geordende lêers by die hof opgedaag.

By ’n ander moordtoneel, waar die slagoffer drie dae lank gelê het voordat sy ontdek is, het Deon weer ’n hond gesien. Buite vasgemaak, sonder kos of water. Die familie was heel aggressief teenoor hom. Hy het besluit: basta, nou neem hy vir Timmie huis toe.

Sy huis was vol honde, katte, boeke, skilderye, musiek, allerhande interessanthede van iemand wat belangstel in die lewe. Die tuin het welig gegroei. Timmie het weggeraak, Deon het haar weke lank gesoek, en daar is selfs advertensies geplaas en mense wat vir hom gejok het dat hulle haar by hulle het. Net oor die beloningsgeld.

Uiteindelik het Deon haar dood gevind, iewers in die wilde inheemse tuin, vermoedelik doodgepik deur ’n slang.

Hy het huilend gebel. Oor Timmie. En die mense wat vir die tarentale wat hy voer, gif gee.

En ék het hom ook huilend gebel op ’n dag. Toe my pa besluit het om nie op my troue daar te wees nie.

Kort voor die oproep na Deon, het ek my pa gebel om hom te vertel ons gaan troue hou, nou wel nie in die kerk nie, maar by Alphen in Constantia. My pa het geweet ek is gay, gelukkig en lank reeds met ’n lewensmaat, maar stééds ... dis onaanvaarbaar.

Deon Knobel, Elsabé Brits en Carol Hodes by Elsabé en Carol se troue (foto: verskaf)

Deon was die dag van ons troue in Oktober 2009 my pa, en eintlik ook my vrou Carol s’n, want haar pa was toe al oorlede. Hy het homself soos ’n regte pa hanteer, ’n toespraak gemaak wat te lank aangehou het, en ’n heildronk ingestel. Ons het lekker gelag vir hom. Hy was wonderlik opreg, eerlik en innemend.

Hy het vir ons elkeen ’n individuele boodskap geskryf, en daardie dag vir ons gegee. Saam met ’n plant vir die tuin. Een wat ons steeds koester.

In kontras met die dood waarmee Deon soveel jare gewerk het, en die derduisende lykskouings wat hy gedoen het, was hy nooit sinies, negatief of morbied oor die lewe nie. Dit was asof hy die gawe gehad het om ’n stem van vertroosting te bied aan die dooies en dié wat leef.

Soos ’n tussenganger tussen dit wat ons almal vrees – die einde – en nou.

Op ’n baie jong ouderdom is Deon gekonfronteer met die bipolêre stoornis van sy broer Wilhelm, toe dié op universiteit was en Deon op hoërskool in Bethlehem. Wilhelm, ’n bekende digter en skrywer, is toe later op 38 jaar in 1974 dood. Deon het sy lewe lank self teen bipolêre gemoedstoornis geworstel. (Hy het nog twee susters, Estie en Thereschen, en ’n broer Henri wat oorlede is.)

Na sy aftrede, het Deon Wilhelm se dokumentasie begin orden en vele interessante ontdekkings oor sy lewe gemaak. Hy was grootliks verantwoordelik daarvoor om Wilhelm se gedigte lewend te hou. Hiervoor het hy onder meer ’n reeks roerende briewe aan sy broer vir LitNet geskryf, en ook van sy gedigte gepubliseer. (Lees een van die briewe hier.)

Daar is baie mense wat Deon beter geken het as ek, daarvan is ek seker. Daar is baie ander mense wat ook lief was vir Deon se enigmatiese, eksentrieke menswees. Vir sy sin vir humor.

Ek het gelag toe hy, soos gereeld na sy aftrede met sy bromponie by my werk opdaag vir koek en tee, met Timmie wat hy voor by sy baadjie ingedruk het. Hy het wéér mense op hulle plek gesit omdat hulle mislik was. Dié keer ’n klomp kinders in ’n skoolbussie.

Die kinders het hom by die verkeerslig getart omdat die hond nie ook ’n “valhelm” op het nie, en wat nou as daar ’n ongeluk kom. Eintlik het hulle skoor gesoek met ’n ouer mens.

“As ek julle is, sal ek my nie steur oor ’n ou man en ’n hond op ’n bromponie nie, maar gaan selfondersoek instel oor my eie skool wat lelik was met ’n onderwyser net omdat dié gay is. Sies vir julle!” En daar ry hy weg, die kinders oopmond.

Dit was Deon, hy het opgestaan, ten alle koste, en baie keer ten koste van homself, vir dit wat reg is. Hy was een van die grootste kampvegters teen die stigmas wat kleef aan psigiatriese siektes, omdat hy verstaan het wat dit aan mense doen. Dit was nog belangiker omdat hy ’n gesagsfiguur was, wat nie bang was om eerlik te wees nie. En mense wat nie wil verstaan wat psigiatriese siektes is nie, oor hulle eie onkunde, arrogansie en vooroordele, het hulle mes vir Deon ingehad, hy is “histeries” genoem en ’n “kakprater”. Verguis.

Die kritiek wat dit hom gebring het, het hom soms omstrede gemaak, maar vir die regte redes. Deon het gestaan by die moed van sy oortuiging. Ook in sy jarelange bydrae as een van die land se eerste en ware vigsaktiviste, nog lank voor dit mode geraak het om een te wees. Deon en John Pegge  het op eie onkoste die Vyfde Internasioale MIV-kongres in Kanada in Junie 1989 bygewoon.

Tussen 1985 en 1995 het hy 40 lykskouings uitgevoer op persone wat aan MIV-/VIGS-verwante siektes gesterf het. “Al die ander patoloë het geweier, behalwe die hoof van die Departement van Anatomiese Patologie, wat my bygestaan het met die eerste twee lykskouings in die klein dodehuisie van die Somerset-hospitaal waar die meeste pasiënte behandel was en afgesterf het,” het Deon op ’n seminaar in 2002 gesê. Hy het dit as sy etiese plig gesien om dit te doen.

Dit is nou haas onmoontlik om dit te dink, maar Deon het hom teen mure vasgeloop en geleerde kollegas het teen hom gedraai toe hy geveg het teen swak behandeling van pasiënte, onetiese gedrag, vertrouensbreuke, en toe hy gepleit het dat mense opgevoed word oor MIV/vigs.

Met die kuiersessies by Napers se koffiewinkel het ons hofsake “opgelos”, geskinder, oor boeke en geskiedenis gepraat en veral grappe vertel. Sy telefoonoproepe was soos niemand anders s’n nie, want jy weet nooit wat Deon vandag gaan sê nie. Dit is oor selfsugtige redes, sê mense, dat ons treur indien iemand sterf, omdat dit is oor die leemte gelaat in ons lewens.

Die afgelope paar jaar het Deon begin kwyn, selfs sy stem het sagter geraak. Hy was broos en amper breekbaar. Die kloue van die ouderdom slaan genadeloos in elkeen van ons, sou ons daar kom. Magteloos.

Dankie, liewe Deon, jy was een van die mooiste mense nóg in my lewe.

Gedenkdiens vir Deon Knobel: Saterdag 16 Maart om 09:30 vir 10:00 by die Groote Kerk in Kaapstad. Mense word egter versoek om te RSVP by: deonknobelmemorial@gmail.com

 

’n Brief aan Wilhelm Knobel oor Wopko Jensma

  • 3

Kommentaar

  • Engela le Roux

    Baie Dankie Elsabe. Treffend jou skrywe en deel van 'n pragtige vriendskap. Het Prof Deon geken deur opera; mekaar raakgeloop en geselsies en saam met Dr Roy gewerk!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top