
Foto van David Piedt: Menán van Heerden (https://www.litnet.co.za/fotogalery-kknk-2020-programbekendstelling/)
Die laaste week van Julie 2020 het ons rede gegee om die titel en lirieke van die Dick Holler-treffer “Abraham, Martin and John” aan te pas.
In die oorspronklike weergawe, wat ’n treffer geword het vir onder andere Marvin Gaye en Harry Belafonte, word die lied opgedra aan die vermoorde Amerikaanse oudpresident Abraham Lincoln, menseregteleier Martin Luther King jr en ook oudpresident John F Kennedy:
Has anybody here
seen my old friend Abraham (Martin, John)?
Can you tell me
where he’s gone?
He freed a lotta people,
but it seems the good die young
I just looked around
and he’s gone.
Nou, ná die dood van drie ander persoonlikhede wat hul lewe gewy het aan die stryd vir vryheid en geregtigheid, hierdie nuwe titel: “John, Andrew and David”. Dié drie se lewens is in dieselfde week gevier, hoewel nie op dieselfde skaal nie.
In Amerika was dit John Lewis (80) s’n, ’n lid van die Amerikaanse kongres en die jongste spreker by die “March on Washington” in 1963 waar King sy “I have a dream”-toespraak gelewer het; in Soweto was dit ubab’ Andrew Mlangeni (95), wat in 1964 saam met Nelson Mandela tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is; en in die hart van die Klein Karoo was dit dié van David Piedt (80), ’n doktor in opvoedkunde, ’n “mééstig” in die oorspronklike definisie van ’n toegewyde onderwyser wat uit sy pad uit sou gaan vir sy leerders, ’n gemeenskapsleier en ’n stryder óók vir nierassigheid, vir menswaardigheid, vir versoening, vir vergifnis en vir die (steeds ontwykende) ná-apartheid regstelling wat hy geglo het sy mense toekom.
Teen hierdie tyd, ’n week nadat hy afgesterf het, is baie reeds oor dié onderwysman, struggle-ikoon en kultuurmens gesê en geskryf. In huldeblyke is hy geloof as ’n man van integriteit en as beginselvas.
“Toonaangewend” is die beskrywing wat sy kameraad en boesemvriend Franklin Sonn gebruik het; en in Labuschagne en Eksteen se verklarende woordeboek hierdie definisie van die woord: “iemand wat op sosiale, kulturele of enige ander gebied tot voorbeeld of model strek, die lewenstoon aangee, leidend, die rigting of standaard aantoon”.
In alles wat hy gedoen het, is Piedt gedryf deur die woorde van Victor Frankl, dat alles van ons af weggeneem kan word behalwe een ding – en dit is die lááste van die menslike vryheid, naamlik om jou eie houding in enige omstandighede te kies.
Die houding wat Piedt gekies het in sy dae as ’n jong onderwyser, was om nie te kniel voor die verdrukker nie. Hoed in die hand daar te staan nie, geboë, geen oogkontak te maak nie. Hy sou niemand “baas” of “miesies” noem nie; en hy sou ’n duur prys daarvoor betaal. Jy kon met so ’n houding maar van bevordering in die staatsdiens vergeet (of dit eers ná ’n groot baklei en ingryping deur invloedrykes kry); jy sou ’n uitwerpsel wees, as ’n “moeilikheidmaker” gebrandmerk word. Net soos wat die geval was met Mlangeni se stryd teen apartheid, wat hom saam met Mandela en ander, soos Walter Sisulu en Govan Mbeki, vir byna drie dekades in aanhouding op Robbeneiland laat beland het. En ’n vasteland hiervandaan was daar Lewis wat talle male opgesluit sou word vir sý opstaan teen rassediskriminasie in Amerika, maar hy het deur dié ervaring behoorlik inhoud kon gee aan die begrip “good trouble”: Wanneer jy moeilikheid maak of in die moeilikheid beland, het hy gesê, moet dit weens “goeie moeilikheid” wees.
En vandag is hulle al drie – Lewis, Mlangeni en Piedt – monumente van etiese en morele leierskap. Die aangepaste en vertaalde weergawe van die Holler-liedjie dan:
Het enigiemand my vriend (John, Andrew, David) gesien?
Kan jy my sê waar’s hy heen?
Hy het soveel mense bevry
Maar ook die goue oues moet op die ou end gaan
Toe ek omkyk, was hy gone.
Die verhale van die verguising wat hulle ervaar het en oorkom het, leef egter voort. Dis daar om aan die nageslag, soos wat dit ook hoort, oor te dra.
“Ons moet ons stories van stryd en vernedering aan ons kinders vertel,” het David Arthur Piedt geglo. “Hierdeur kan ons hulle bemoedig en versterk,” skryf hy in sy boek Behoed en bewaar, en sodoende “kan daar ’n trotsheid vir ons voorvaders ontwikkel word, wat onder moeilike omstandighede probeer het om hulle lot te verander”. En is dit nie in elk geval ’n opdrag van Bo wat in die Groot Boek aan ons gestel word nie? Uit Psalm 78 haal hy aan: “Ons moet hulle inlei in die geheimenisse van die verre verlede.”
Wat hom tot die uitleef hiervan genoop het, was die gebruik in die verlede dat bruin mense moes luister “na die geskiedenis van die Wittes [sic], hulle apartheid, hulle karaktervastheid, hulle godvresenheid, hulle trou en hulle geloof”, terwyl die bruin gemeenskap “heldeloos toekyk, want ons deelname en bydrae aan die geskiedenis is moedswillig deur hulle geskiedskrywers verswyg”.
Die geskiedenis herhaal homself, het Piedt gemaan.
Nogmaals in sy eie woorde: “Vandag moet ons weer leer, lees en luister na die volgehoue ‘courageous struggle’ van die Swartes [sic]. Die celebrations van hulle helde kry net nie einde nie.” ’n Ander raakpunt: “Soos die Wittes in die verlede die staatsmedium vir hulle eie propaganda gebruik het, so doen die nuwe Swart heersers vandag. Ons is met dubbele hulpeloosheid oorweldig en verslaan. Vir ons is daar geen identifisering met helde van ’n trotse gemeenskap nie.”
Hierdie passie vir – en toegewydheid tot – die vertel van eie verhale sou verdere gestalte gekry het by vanjaar se David Piedt-gespreksreeks by die KKNK. Piedt self sou saam met ander rolspelers hul gehoor toegelig het oor die ervarings van die apartheidsdae, maar die geleentheid sou terselfdertyd ’n stap in die rigting van genesing en versoening en vergifnis moes wees.
Soos soveel ander byeenkomste moes die KKNK egter ook noodgedwonge afgestel word weens die wêreldwye koronapandemie, wat reeds meer as 500 000 Suid-Afrikaners geïnfekteer het en die lewe van meer as 8 000 geëis het. Dié virus het nou die David wat die apartheid-Goliat oorwin het, neergevel.
Piedt is Vrydag veras en sy begrafnisdiens vind vandag plaas. Dit behoort ’n staatsbegrafnis te gewees het, maar skandaliglik nie in ’n land waar dié eer skynbaar beskore is slegs vir diegene wat “die Swart heersers” reken dit verdien nie.
Maar vir die res van ons sal sy nalatenskap staande bly, kiertsregop soos hý in die foto wat Hans van Veen van hom geneem het, selfversekerd, nadenkend, glimlaggend, tevrede met ’n toonaangewende lewe.

Foto: Hans van der Veen

