In memoriam: Adam Schlesinger het ’n plek in jou hart (al besef jy dit dalk nie)

  • 1

Adam Schlesinger (foto: Wikipedia)

Elke somer het poprefreine wat vassteek en een van 2003 se grotes was "Stacy’s mom has got it goin’ on …" Dit was die eerste en grootste treffer deur Fountains of Wayne, wie se vorige drie albums so min verkoop het dat hulle hul platekontrak verloor het.

"Stacy’s Mom" gaan oor ’n seun wat heeltyd by ’n klasmaat wil gaan speel omdat hy op haar ma verlief is. Die video, met die supermodel Rachel Hunter as die ma, was ’n MTV-legende en het miljoene jong mans se ore laat warm word. Dis al meer as 117 miljoen keer op YouTube gekyk.

Die album met dié liedjie, Welcome Interstate Managers, is vir twee Grammy’s benoem, ironies ook vir beste nuwe kunstenaar.

Die basspeler Adam Schlesinger en die hoofsanger Chris Collingwood het die liedjies geskryf – elkeen op sy eie, maar hulle het die krediet gedeel sodat daar nie ’n stryery oor tantiemes sou wees nie.

Die groep is vernoem na ’n plantewinkel in New Jersey en die werklike plek het in een episode van The Sopranos uitgeslaan.

"Stacy’s Mom" was Adam se werk. "Ons sou graag vir meer as een liedjie bekend wou wees," het hy eenkeer gesê, "want ons het ook honderde ander liedjies geskryf. Maar ons is oor die algemeen nie te besorg oor treffers nie – ons skryf net liedjies waarvan ons hou."

Van die begin af het hulle geskryf oor New Jersey en New York se buitewyke waar generasie X in winkelsentrums rondgehang en van kitsroem en ’n ander lewe gedroom het. Dis deernisvolle portrette van kleindorpse en voorstedelike Amerika, die begraafplaas van menige homecoming queen­-, star quarterback­- en spring break-legende. "Bright future in sales" gaan oor ’n jong man wat dronk huis toe steier na ’n kantoorpartytjie ("I got a new computer and a bright future in sales"). "Hackensack" is ’n liefdesbrief aan ’n droommeisie wat stad toe is om model te word: "And if you ever get back to Hackensack I’ll be here for you." Baie aanhangers se gunsteling is "Hey Julie": "Working all day for a mean little man with a clip-on tie and a rub-on tan".

En dan is daar "All kinds of time" – die beste liedjie ooit oor stadige aksie in sport, soos iemand dit beskryf. "Die titel is ’n cliché wat voetbalkommentators gebruik as ’n quarterback goed beskerm is," het Adam vertel. "Ek het gedink dit sou pret wees om dit letterlik te vertolk en te kyk of ek ’n liedjie kon skryf waarin dit is asof tyd regtig tydens een klein oomblik in ’n voetbalwedstryd stadiger word.'

"Ek erken dit was ’n taamlik sentimentele idee op papier, maar ek het Paul Simon se weemoedige bofballiedjie "Night game" onthou wat eintlik glad nie oor sport gaan nie en ek wou iets van daardie gevoel vasvang."

Schlesinger moes heeldag musiek geskryf het. Hy was ook in Ivy, ’n groep met ’n koel, Europese popklank – veral danksy die stem van Dominique Durandt, ’n Parysenaar wat in Amerika kom Engels swot het. Hul beste album was seker Apartment life en hul grootste bewonderaars was die Farrelly-broers, wat twee van hul liedjies in There’s something about Mary en daarna gereeld in hul flieks gebruik het.

Verder was Adam in ’n soort supergroep, Tinted Windows, saam met James Iha van Smashing Pumpkins, Bun E Carlos van Cheap Trick en Taylor Hanson. Sy temalied vir Tom Hanks se fliek That thing you do is vir ’n Oscar en ’n Golden Globe benoem.

Van 2015 tot verlede jaar het Schlesinger 157 liedjies geskryf. Die meeste was vir die TV-trefferreeks My crazy ex-girlfriend, waarvan hy die musiekregisseur was en waarvoor hy verlede jaar met sy derde benoeming ’n Emmy gewen het. Sy jongste projek was The bedwetter, ’n musiekblyspel saam met Sarah Silverman na haar boek met dieselfde naam. Dit sou (of sal dalk nog) op 10 Junie open.

Schlesinger is op 1 April aan COVID-19 dood. Hy was ’n gevoelige, produktiewe en uitstaande popmusikant wat gereeld harte ligter gemaak het – en ons het nie eens altyd geweet dit was hy nie.

  • 1

Kommentaar

  • Toast Coetzer

    Ek lees nou hierdie raak, maar het skrams die nuus oor Schlesinger gevang toe hy oorlede is. Dankie vir hierdie huldeblyk. Ek ken die naam Adam Schlesinger sedert 1996 toe Fountains of Wayne se self-titled debut album by ons kampusradiostasie in Grahamstad uit 'n padded envelope gegly het en sy pad baie vinnig na ons stasie se playlists gevind het. Hulle was dalk eers later vir Stacy's Mom bekend, maar vir my en my vriende was hulle teen daai tyd al ou nuus. Soek en koop gerus daai 1996 album. Jy sal vir ewig 'n handvol super catchy tunes in jou kop he om on demand te herspeel vir glimlagte in enige groutes. Radiation Vibe, Survival Car, Sink to the Bottom, die hilarious Leave the Biker. Dankie, Adam, en dankie Pieter vd Lugt vir die huldeblyk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top