
Stephan, jy woon en werk in Switserland. Hoekom dig jy in Afrikaans?
Alhoewel ek ook in ander tale gedigte skryf, is Afrikaans vir my spesiaal – dit is my moedertaal. In gedigte druk ’n mens heelwat persoonlike gedagtes en gevoelens uit, en ’n moedertaal is uitstekend daarvoor geskik omdat dit so diep in ’n mens veranker is. Dit laat woorde en emosies spontaan vloei sonder weerstand, en kan só die gees van die digter die beste weergee.
Jy is ’n rekenaarwetenskaplike. Hoe het jou paadjie met die digkuns gekruis?
Op hoërskool het ek rekenaarstudies as vak gehad, en natuurlik ook Afrikaans, waar ons baie gedigte behandel het. So die eerste ontmoeting was sekerlik daar. Sedertdien het ek ’n groot liefde vir albei. Ek het al heelwat rekenaarwetenskaplike navorsing gepubliseer, maar het meestal aan digkuns gedink as ’n private stokperdjie. Eers onlangs het ek die idee gekry om ’n digbundel te publiseer sodat die publiek dit ook kan geniet. Terselfdertyd wou ek my waardering uitspreek vir ’n groot klomp digters en hulle werke, en graag my onderwysers en onderwyseresse bedank wat ’n sentrale rol in my opvoeding gespeel het.
Wie is juffrou Sonja Pieterse? Jy dra die bundel aan haar op.
Juffrou Sonja Pieterse was in my matriekjaar my onderwyseres vir Afrikaans. Sy het met groot liefde, fyn gevoel en geduld verskeie gedigte baie deeglik met ons behandel. Sy het baie moeite gedoen om die wonderwêreld van die Afrikaanse digkuns vir almal toeganklik en genotvol te maak. Daarvoor het ek tot vandag toe groot waardering, en ek wou graag met die bundel vir haar dankie sê en iets moois teruggee.
Nini Bennett (-Moll?) sê ’n mooi ding oor jou bundel: “Hy en sy gevolg ken die geheim: die sukses van sy bundel lê in die vermaaklikheidswaarde daarvan.” Hoe sou jy daarop reageer?
Ek waardeer dit dat sy dit uitlig. My hoofdoel met die wye publikasie van die bundel is dat die breë publiek dit sal geniet as ’n feesviering van ander digters en hul gedigte. Dis ’n vreugdefees van waardering en genot. En die lekkerste feeste gaan gewoonlik gepaard met ’n ordentlike porsie vermaaklikheid. Dit maak mense ontvanklik vir dieper ervarings soos vreugde, meegevoel en waardering. Nini besef ook dat die bundel nie bloot oppervlakkige vermaak bied nie met haar sin: “Maar moenie die bundel vlak kyk nie.”
Ek moet natuurlik ook byvoeg dat die bundel nie slegs vir die breë publiek geskryf is nie. Dit word baie meer persoonlik waargeneem deur my gesin, my ouers, vriende, familie, my oudonderwysers en -onderwyseresse. Die mense wat saam met my herinneringe deel, ervaar heelwat persoonlike aanspreking en nostalgie.
Vir my is die bundel baie, baie meer as blote vermaaklikheid. Met elke gedig deel ek ’n deel van my “sielelewe”, soos Ina Rousseau tereg gesê het. Elke gedig bevat ’n deeltjie van my – van ’n mens uit vlees en gees – wat onmoontlik is om in sy geheel in woorde of beelde vas te vat. Die stukkies skep ’n mosaïek van my huidige lewenslus, verwondering en dankbaarheid.
Jy sê self jy wil die “digterskorset losmaak”. Wat is ’n digterskorset, en hoe maak ’n mens dit los?
Dit was eintlik Nini Bennett-Moll se treffende woorde in haar resensie. Die “digterskorset” is daardie onsigbare, stywe reëls wat voorskryf dat poësie altyd swaar, neerslagtig of ontoeganklik moet wees om as literatuur beskou te word. Dit is die idee dat jy met ’n woordeboek langs jou moet sit en wroeg om ’n gedig te verstaan.
’n Mens maak daardie korset los deur jouself (en die kuns en die wêreld) nie te ernstig op te neem nie, deur ’n ligtheid saam te laat speel met elegante eenvoud om skoonheid te openbaar. Ek het ook verklarende notas bygevoeg sodat dit voel soos ’n gesellige koffiewinkelgesprek oor die gedig, eerder as ’n akademiese lesing. Poësie het absoluut reëls en struktuur, maar binne daardie reëls is daar oorgenoeg ruimte om asem te haal en lekker te kry.
Daar staan reg aan die begin van die bundel dat geen deel daarvan deur KI gegenereer is nie, dis “mensgemaak”. Hoekom?
Deesdae kan enigiemand gedigte met KI genereer. KI werk vinnig – dis glo selfs moontlik om ’n hele roman binne ’n enkele dag met KI te “skryf”. KI-gedigte kan wel mooi en vermaaklik wees, somtyds selfs roerend, alhoewel die kwaliteit van gegenereerde Afrikaanse gedigte dikwels nog nie baie goed is nie.
Ten spyte van KI dink ek dat mense ook in die toekoms self sal dig en die digkuns verder sal ontwikkel. Mensgemaakte gedigte is en bly spesiaal, omdat hulle ’n outentieke uitdrukking is van die menslike gees. Die digter deel en kommunikeer iets van sy of haar “sielelewe”. Om sulke gedigte te skryf en af te rond kos veel tyd, geduld en liefde. Die digter kan met reg trots daarop wees en ook lesers inlig dat dit nie ’n generiese massaproduksie van KI is nie.
’n Hele paar gedigte in my bundel is opgedra aan vriende, oudonderwysers en -onderwyseresse, gesins- en familielede. Vir hulle wil ek graag ook sê dat die gedigte ’n deurdagte en outentieke geskenk is, en dat dit nie sommer vinnig met KI afgerammel is nie. Ek dink dit maak die geskenke baie meer spesiaal as hulle weet dat my waardering eg is en werklik in my eie woorde daar geskryf staan.
Vir my is my digbundel ’n baie persoonlike uitdrukking van kreatiwiteit, emosies en gedagtes. Ek het nie dieselfde emosionele verbinding met KI-gegenereerde gedigte nie, en ek dink nie ek het die tyd of energie om die moeite te doen om sulke gedigte te publiseer nie. Tog kan menslike digters KI op ander maniere as ’n gereedskapstuk gebruik. Ek het byvoorbeeld die bundel se omslag met die hulp van KI ontwerp. En ek het die liriese aard van ’n paar gedigte verder vervolg deur hulle te toonset as musiek. Nou kan mense wat selfs nie Afrikaans verstaan nie, daardie gedigte ook by YouTube geniet. Dit was ’n fassinerende eksperiment vir my as tegnoloog om te sien hoe KI my woorde in verskillende musiekgenres kon vertaal.
Ek wil juis iets vra oor die skep van rekenaartoepassings en die skep van gedigte, deels omdat ek vermoed dat jy ’n wiskundebrein het. Ek weet baie musikante is goeie wiskundiges, en andersom, maar hoe bring jy self nulle en ene by die skeppingsproses uit?
Daar is eintlik baie ooreenkomste tussen die skryf van rekenaarprogramme en die skryf van gedigte. Albei is skeppende aktiwiteite wat kreatiwiteit verg. Die resultate van albei word dikwels gepubliseer, wat ander mense toelaat om dit te geniet en om verder daarop te bou. ’n Goeie rekenaarprogram is ’n kunswerk – dis ’n plesier om dit te lees, dit behels vaardige taalgebruik (van ’n programmeertaal), en dit dokumenteer knap insigte oor die probleem wat ’n elegante oplossing toelaat. Ek kan ook noem dat baie van die mooiste gedigte ook heelwat formele struktuur bevat, byvoorbeeld in die rymskema, die strofebou, die aantal lettergrepe per versreël, en die metrum en ritme. Al daardie dinge word kunstig saamgeweef in ’n indrukwekkende geheel. ’n Lekker gereg het gewoonlik ’n hele klomp bestanddele, en elke bestanddeel speel ’n rol in die uiteindelike genot.
Reg aan die begin is ’n gedig oor ’n kind se drome om groot dinge te skep, maar dan gebeur die lewe. Was poësie vir jou as kind een van jou drome?
Van my skooldae af het ek baie van poësie gehou en graag gedigte geskryf. Maar as kind, en selfs tot omtrent ’n jaar gelede, het ek nooit daaraan gedink om dit te publiseer nie. So ek het nooit daarvan gedroom om as ’n groot digter beroemdheid te verwerf nie.
Op ’n ander vlak het die gedigte self my altyd laat droom. Dis asof sommige gedigte nuwe menslike dimensies openbaar. Dimensies van die digter se ervaringswêreld en “sielelewe” en ook dimensies binne myself. Tot ’n mate dink ek dat die lewe eintlik ’n groot proses van openbaring is. My gedig aan die begin sê dat die alledaagse dinge eintlik ontsaglik veel magie besit en baie waardevoller is as dinge soos mag, hoë status en roem. Dis ’n voorbeeld van ’n openbaring of ’n insig wat die lewe ons kan laat besef.
Daar is ’n siniese gedig oor Shakespeare en kinders se drome om van hom verlos te word. Vertel iets van jou eie skoolvoorkeure?
My skooldae het ek baie geniet – by Laerskool Gustav Preller en by Hoërskool Florida op die Wes-Rand. Ek was bevoorreg om baie toegewyde onderwysers en onderwyseresse te kon hê wat met groot passie hul kennis met ons gedeel het. Hulle het ons aangemoedig om na uitnemendheid te strewe, en dit oor ’n baie breë spektrum van vakgebiede, sport, persoonlike ontwikkeling, ens. Ek was ook baie bevoorreg om saam met ander leerders skool te gaan wat met groot entoesiasme uitnemendheid nagejaag het. Ek skryf in die bundel dat Afrikaans en Engels altyd my swakste vakke was. Wat ek nie noem nie, is dat ek ook in hulle onderskeidings behaal het, en gematrikuleer het met die derde beste matriekuitslae in die hele Gauteng.
Oor Shakespeare kan ek sê: Hy is ongetwyfeld een van die beste digters wat sy werk met die publiek gedeel het. Op skool het ek dikwels gesukkel om Shakespeare se taalgebruik te verstaan. Gelukkig het juffrou Juanita Rubow dit met baie passie en groot geduld aan ons verduidelik. Alhoewel ek en baie ander leerders daarmee gesukkel het, het sy by ons ’n waardering daarvoor ingeboesem. En ek dink dít is eintlik die belangrikste ding. Shakespeare se ervaringswêreld en “sielelewe” was geweldig ryk. Dit is amper onmoontlik vir skoolkinders om die ware diepte daarvan te waardeer. Die lewe neem nou maar sy tyd om insig in temas soos die liefde en die ouderdom te openbaar wat help om Shakespeare te begryp en meer te geniet.
Jou gedigte tree in gesprek met ander digters. Talle van hulle – Totius, Antjie Krog, Ina Rousseau. Maar ook met sangers soos Koos Doep, Sonja Herholdt en Bles Bridges. Hoeveel digbundels lees jy per jaar?
Dit is ’n goeie vraag – ek weet nie regtig nie! Sekerlik minstens een per jaar. Ek lees ook graag in versamelbundels – ’n bietjie hier en ’n bietjie daar – soos ek lus het. Die internet is ook wonderlik. Somtyds as ek vir ’n trein wag, of sommer lus het om gedigte te lees, sal ek aanlyn soek. Deesdae is baie Afrikaanse gedigte aanlyn beskikbaar, byvoorbeeld op platforms soos ink.org.za, en daar is selfs forums waar mense ou gedigte opspoor en hulle dan digitaliseer, met ander woorde intik, en plaas. Ek waardeer dit veral omdat ek in Switserland bly wat ver weg is van Afrikaanse biblioteke en boekwinkels.
Ek vermoed jy is vlot in Duits en sal sekerlik Engels ewe goed lees. Watter digters inspireer jou in Afrikaans, Engels en Duits.
Eintlik inspireer alle digters my. Elke digter het ’n unieke sienswyse, en in elke digter se werk vind ek iets om te bewonder. Dit geld natuurlik ook vir gedigte wat vertaal is, byvoorbeeld Kenneth Rexroth se Engelse weergawes van Chinese en Japannese digkuns. Party mooi gedigte het ook nie eens bekende digters nie. Ek dink byvoorbeeld aan die pragtige Zen-gedig “When the wild bird cries its melodies from the treetops”.
Die gedrukte weergawe van my bundel het ’n indeks wat ’n goeie oorsig gee van die digters en die werke wat ek in my gedigte ingeweef het. Daar is werklik baie inskrywings, oor die vyf bladsye, wat bevestig dat ek inspirasie vind in ’n groot verskeidenheid van gedigte en digters. As ek so vinnig daaroor kyk, lyk dit vir my asof Eugène Marais die meeste verwysings het. My indruk van hom is dat hy ’n baie interessante persoon was met baie wye belangstellings, ’n geweldig goed ontwikkelde waarnemingsvermoë, en ’n groot bewondering vir die natuur waarin hy sielevrede en estetiese bevrediging vind.
Mense se kommentare oor gedigte is vir my ook baie interessant. Dit kan my waardering vir ’n digter se werk baie verdiep. Ek dink nou byvoorbeeld aan Shakespeare se Sonnet 62 en die kommentaar daaroor van Richard Maurice Bucke. Sy interpretasie openbaar ’n wonderlike nuwe dimensie van betekenis en begrip. Ek dink ook aan Wilhelm Knobel se insiggewende notas oor sy “Elegie” vir Val Cuenod. Daarom het ek ook aan elke gedig in my bundel verklarende notas toegevoeg. Die idee is dat dit meer diepte en kleur aan die gedigte verleen, en hulle hopelik ook meer toeganklik maak vir die breë publiek.
Jy het ’n gesin en praat graag oor jou kinders. Hoe goed is hulle Afrikaans? Kan hulle jou werk lees?
My kinders het natuurlik ’n baie spesiale plek in my hart. Hulle is nog klein: vier, ses en agt jaar oud. Alhoewel hulle ’n hele paar Afrikaanse frases en woorde ken, praat hulle (nog) nie Afrikaans nie. Tot nou toe verstaan hulle Engels, Duits en Switserduits. In die openbare laerskole in ons omgewing is Duits, Engels en Frans verpligtend, en die kinders kommunikeer gewoonlik met mekaar in Switserduits, wat heelwat anders is as gewone Duits. Met só ’n taalprofiel sal dit sekerlik maklik vir hulle wees om later Afrikaans te leer. Om baie vroeg daarmee te begin kan egter verwarring bring, want Afrikaans, Duits en Switserduits is taamlik naby verwant aan mekaar, maar het tog heelwat verskille.
Ek is bewus daarvan dat kleiner tale wêreldwyd uitsterf. Alhoewel Afrikaans op die oomblik nog tien of twintig miljoen sprekers het, en sekerlik nie binnekort sal uitsterf nie, is goeie literatuur ’n belangrike komponent om ’n taal aan die lewe te hou. Die publikasie van my bundel help hopelik ook ’n bietjie daarmee, of ten minste maak dit nie die probleem groter nie.
Jy gee die bundel weg. Gratis. Hoe kan LitNet se lesers ’n kopie in die hande kry om dit te geniet?
Elektroniese weergawes van my bundel is gratis beskikbaar, byvoorbeeld vir Android-fone en ook vir iPhone. Daar is ook gratis oudioboekweergawes beskikbaar waarna mense kan luister as hulle byvoorbeeld op pad is of sport beoefen. Lesers in Suid-Afrika wat van gedrukte boeke hou, of wat dit as ’n geskenk aan iemand wil gee, kan die bundel bestel by Groep 7 Drukkers se aanlyn boekwinkel – daar is ’n hardeband- en ook ’n sagtebandweergawe. Internasionale lesers kan fisiese boeke bestel by Amazon, Barnes & Noble, ens. My idee is om die bundel so wyd as moontlik beskikbaar te stel sodat almal wat belangstel dit kan geniet.

