In gesprek met Karen Meiring oor Soomloos by die Suidoosterfees

  • 0

Soomloos
Met: Kaapstad se Filharmoniese Orkes, Amanda Strydom, Tarryn Lamb, Lynelle Kenned, Francois van Coke, Emo Adams, Craig Lucas, Early B en Dean Balie
Teks: Saartjie Botha
Musikale regie: Stefan Lombard
Regisseur: Nico Scheepers
Taal: Afrikaans, Engels
Venue: Operahuis
Datum en tyd: 1 Mei 16:30
Tydsduur: 70 min
Prys: R140 | R100

Soomloos is sinoniem met die Suidoosterfees en Jakes Gerwel, een van die fees se stigterslede. Twintig jaar gelede, by die eerste Suidoosterfees, het hy feesgangers so verwelkom:

Soomloos – Om in Afrikaans saam te kuier met almal wat saam met ons wil kuier. Ons wil kyk of daar regtig nierassig in Afrikaans geleef, gewerk, gespeel, gepraat kan word.

Vandag gee ons steeds gestalte aan dié inspirerende boodskap en ons vier Jakes Gerwel se nalatenskap met hierdie herdenkingskonsert.

Izak de Vries het met Karen Meiring gesels oor hierdie spesiale geleentheid.

Gerwel was ’n reus in die akademie, die politiek, die sakewêreld en in sportadministrasie. Was dit sy noue verbintenis met Media24 wat gemaak het dat hy by die Suidoosterfees betrokke geraak het?

Gerwel het SOF gestig toe hy voorsitter van Media24 was en direkteur van Naspers. Dit het ook uit die sinergievergaderings gegroei. Gerwel het toe vir Mari Lategan van Media24 aangestel om saam met hom gestalte te gee aan die fees.

As Saartjie Botha betrokke is, kan die vertoning nie anders as grensverskuiwend wees nie. Dit is egter ’n musiekproduksie. Hoeveel nuwe teks het Botha geskryf, en hoeveel gaan bestaande werk in die stuk ingepas word?

Saartjie skryf die bindingsteks in oorleg met die musiek waarop ek saam met haar, Nico en Stefan besluit het. Die teks sal die tekstuur en betekenis van die musiek weerspieël, en ook ’n blik bied op die enigmatiese Gerwel-persona.

Dis ’n ongelooflike groep kunstenaars wat julle versamel het. Wie het die kunstenaars op die verhoog gekry? Was dit jy?

Dit was ’n spanpoging, maar ’n produksie soos Soomloos moet in styl verteenwoordigend wees van wat as “soomloos” beskou kan word. Ons vier Gerwel se lewe en ongelooflike bydrae tot die nuwe Afrikaanse gemeenskap, maar dit is nie ’n geskiedenisles nie. Ons fokus is hoe lyk ons nou selfs al kyk ons soms na die verlede.

Stefan Lombard is nou al meer as 30 jaar in die bedryf, maar dit moet nogal ’n uitdaging wees om so ’n diverse groep soomloos te laat saamwerk. Wat is julle geheim?

Almal is soomloos in die benadering tot ’n groter Afrikaanse en Suid-Afrikaanse leefwêreld. Elkeen is uitsonderlik goed in hulle genres. Dit is beslis ’n unieke samestelling vir ’n produksie soos hierdie een. Ek is baie dankbaar vir Stefan se ervaring en sy leiding met die verwerkings en samestelling van die program.

Nico Scheepers is natuurlik ’n legende in eie reg. Jy ook. Hoe werk al die groot name saam?

Nico en Saartjie het onlangs saamgewerk op twee TV-produksies, Nêrens, Noord-Kaap en Donkerbos. Ek vervaardig vir die eerste keer in ’n lang tyd ’n musiekproduksie saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes en werk vir die eerste keer saam met Stefan Lombard. Dit is so goed om mense wat ’n passie soos hierdie deel, by mekaar te bring.

Waarom is dit ’n moet vir mense om te bespreek vir Soomloos?

’n Eenmalige geleentheid om die Afrikaanse leefwêreld in al haar hoedanighede musikaal te vier. Soomloos gaan rock, pop, hip hop en roer; ’n ryke diversiteit van stemme en sterre ondersteun deur ’n filharmoniese orkes. Natuurlik moet almal kom kyk. Ons hoop ook om met hierdie vertoning reg te laat geskiet aan die ryk nalatenskap van Jakes Gerwel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top