In gesprek met David Ralph Viviers, skrywer van Mirage

  • 0

Titel: Mirage
Skrywer: David Ralph Viviers
ISBN: 9781485904977
Uitgewer: Umuzi

Akteur en nou ook skrywer, David Ralph Viviers, het onlangs sy debuutroman Mirage deur Umuzi vrygestel. Mirage word beskryf as ’n “metafisiese misterie” wat fassinerende detail van die Karoo-landskap en -flora, astronomie en kosmologie insluit (met ’n feministiese aanslag). As medeakteur was Emma Kotze nuuskierig oor presies hoe Viviers hierdie kreatiewe skuif moes maak van akteur na skrywer, en hoe sy kreatiewe proses vorm aangeneem het.

Mirage het ontstaan as deel van jou MA in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Daar het vanselfsprekend daarna nog geweldig baie werk ingegaan om die roman gepubliseer te kry. Vertel my asseblief ’n bietjie meer oor die kreatiewe skryfwerk-proses, wat jy uit hierdie proses geleer het en hoe jy dit sal toepas in volgende werke?

Ek was ongelooflik bevoorreg om Damon Galgut as my studieleier te hê deur die hele proses. Om te skryf, kan geweldig frustrerend en alleen wees, ek is nie seker hoe enigeen ’n boek kan skryf sonder ’n vriend wat jy saam met jou op die reis kan neem nie.

Ek dink skryf is een van daardie dinge, soos om ’n akteur te wees, wat hoe meer jy dit doen, hoe meer jy probeer en misluk, hoe beter (of ten minste met groter selfvertroue) word jy. Ek dink ook, soos met film-/teaterspel, is die beste skryfwerk sonder inspanning en neem nie dit self te ernstig op nie. In beide gevalle kan jy net tot op daai punt kom ná vele mislukte probeerslae, van jouself te ernstig opneem, of ander probeer nastreef, voordat jy die ding kan vind wat jou jy maak. Ek dink dit is waarna mense verwys as hulle verwys na jou “skrywerstem” (en miskien neem dit ’n paar romans om werklik te weet wat dit is).

Ek dink ek het die heel meeste geleer tydens die redigeringsproses saam met Bronwyn McLennan. Ek het skielik die skryfwerk in ’n totaal ander lig gesien. Ek het besef hoeveel krag daar tussen die woorde lê, in die dinge wat ongesê bly. Om die leser te vertrou om jou halfpad te ontmoet. Ek dink ons het in die redigeringsproses meer as 15 000 woorde gesny, wat tegelykertyd angswekkend en bevrydend is.

Die nosie van naamgewing in romans het my nog altyd gefassineer. Hoe het jou naamgewingsproses gewerk? Voel jy dat ’n naam by ’n karakter behoort of is dit dat sekere name vir jou betekenis dra en die karakters vervolgens vernoem word?

Dit was eerstens vir my belangrik dat die name iets van die karakters se gees vasvang. Sommige van die name het verander deur die loop van die skryfproses, soos wat die karakter vir my duideliker geword het. Ek het ook name gekies wat vir my persoonlike betekenis inhou. Elizabeth is my ouma se naam en Michael my pa s’n. [Mirage volg twee tydlyne en Elizabeth en Michael is die hoofkarakters van die onderskeie tydlyne.]

Daar is ook die botaniese elemente wat deur name soos Elizabeth Rose en Erica op die voorgrond geplaas word. Dit het net reg gevoel dat Michael se moeder na inheemse flora vernoem is. Terwyl Elizabeth se blom (die roos) iets moois is, maar wel ingevoer is en heel waarskynlik ook nie lank in die Karoo sal oorleef nie. Daar bestaan ook spieëlbeelde van name soos wat die twee narratiewe mekaar ego: Erica en Elizabeth, William en Wilhelm.

Jy skryf in Engels, maar die Suid-Afrikaanse landskap word met soveel sukses vasgevang op ’n manier wat byna herinner aan die werk van Michiel Heyns en selfs Deon Meyer. As Afrikaanssprekende was ek op tye so vasgevang in die landskap dat ek nie onmiddellik sou kon antwoord of ek nou in Afrikaans of Engels gelees het nie. Dit word onder andere bewerkstellig deur plekname en die roman se wortels in die Karoo, maar daarteenoor ook in die teenwoordigheid van die unieke landskap van die stad Kaapstad. Vertel my ’n bietjie meer oor hierdie proses.

Ek was definitief daarop gerig om ’n boek te skryf wat Suid-Afrikaans was, wat hier gewortel is. In ’n baie spesifieke landskap. Die gebruik van Afrikaanse frases, in beide spraak en vertelling, het byna voor die hand liggend gevoel. Ek dink byvoorbeeld nie daar is ’n vertaling van koppie nie, mountain of hillock sou eenvoudig net nie gewerk het nie. Karoo is ook nie ’n Engelse woord nie, maar ’n Afrikaanse woord wat leen van ’n KhoeKhoe-woord. Dit was ook deel van Elizabeth se uitdaging as skrywer: om woorde te vind wat vir hierdie landskap werk en die beperkinge van ’n ingevoerde leksikon te besef. 

“Even here, miles away in the desert, one is expected to use the same words that have worked so well in other places.”

Wat was vir jou die grootste uitdaging in die proses ná die voltooiing van jou manuskrip tot by die uiteindelike publikasie van Mirage?

Die moeilikste deel van die hele proses was by verre om dit te laat gaan. Ek het gedink die skryfproses self sou die grootste uitdaging wees, om eintlik te sit en ’n boek te voltooi. Ek was verkeerd. Dit is wat gebeur die oomblik wanneer die gepubliseerde boek voor jou lê en jy nie meer enigiets kan verander nie. Die boek behoort nie meer aan jou nie. Dit is soos ’n vreemde break up.

Ek besef die ironie, want dit is in die storie. Michael se probleem is dat hy te styf vasklou en nie in die proses kan vertrou nie. Ek sukkel nog daarmee! Die dag toe die boek uitgekom het, het die mees voor die hand liggende oplossings tot sekere dinge my skielik getref, maniere hoe ek dinge beter kon gedoen het. Dan is dit alles skielik so duidelik! Maar ek veronderstel dit is altyd so, ook as akteur. Jy maak ’n toneel klaar, hulle roep “cut!” en “clearance!” en dan besef jy skielik hoe jy dit moes gedoen het en jy wil jouself skop. Ek weet nie hoekom die mens se brein so werk nie. Dit is baie frustrerend! Maar soos Elizabeth sê: “Whatever is meant to occur in the blank space after the last word must now do so.” 

David Ralph Viviers is ’n Kaapse skrywer en film- en teaterakteur. Hy het sy BA in theatre and performance en sy MA in kreatiewe skryfwerk beide met lof aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. As akteur is hy in 2020 ’n Fleur du Cap-toekenning toegeken en het hy ook al verskeie Kanna-benoemings ontvang. Sy film-/TV-werk sluit die volgende in: Binnelanders, Tali’s Baby Diary, Troukoors, Desert Rose, Kanarie, No Hiding Here, Home Affairs 1 & 2, Rage en Black Sails.

***

Mirage word 2 Maart 2023 by die Book Lounge in Kaapstad vrygestel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top