In die land van Kammalielie

  • 1

Die sangeres Anna Davel, die kinderboekskrywer Jaco Jacobs en ’n briljante produksiespan het kragte saamgespan vir ’n CD met splinternuwe Afrikaanse kinderliedjies.

Die album, getiteld In die land van Kammalielie, is ’n versameling liedjies wat ure se vermaak vir kleuters beloof. Jacobs, tans een van die gewildste en produktiefste skrywers van Afrikaanse kinderverse, se bundels Die Teddiebeerbus en Oempakadoempa was die bron waaruit Davel verse gekies het om te toonset.

Die 21 snitte op die album word gesing deur Davel en die Jakaranda-kinderkoor. Die verwerkings is deur Davel en die gesoute musiekvervaardiger Devereaux van der Hoven gedoen.

Naomi Meyer het met Anna Davel gesels.

Hallo Anna, dankie vir die geleentheid tot gesprek. Ek sien jy het kindergedigte en -rympies van Jaco Jacobs getoonset: In die land van kammalielie. Hoe het die projek oor jou pad gekom?

Lapa-uitgewers het my genader om die reeds bestaande en baie gewilde kinderverse van Jaco Jacobs deur te lees en te kyk watter tekste kan werk as toonsettings. Ek het sommer vinnig-vinnig gesien hoe lewendig sy gedigte is. Al die stories word vertel in kleure, klanke, teksture, komedie, geluide en smake. Om dan daarmee te speel en dit vir die kleintjies nóg meer lewendig te maak met musiek, ritme en byklanke was net ‘n heerlike proses. Dit was soos om ‘n troukoek te bou, vermoed ek. Die fondasie was daar, maar bo-op die bestaande lirieke kon die musiek en instrumente staan, en daarop die spesiale effekte en kinderstemme, en alles moes bymekaar inpas en mekaar ondersteun. Dit het soms baie kreatiwiteit geverg, maar op die ou end vorm alles ‘n mooi geheel.

Wat was vir jou die lekkerste en die moeilikste aspekte van hierdie toonsettings?

Tydens hierdie projek was daar baie grappies, en ek en die klankingenieur, Didi, en die koorkinders het gereeld gelag in die ateljee. Veral ook met die opnames van die bygeluide. Sommige klanke kon ons nie op die internet koop nie, en moes ek self genereer. Ek bôgom byvoorbeeld soos ‘n histeriese apie op een van die liedjies wat gaan oor ‘n besoek aan die dieretuin. Die klankingenieur het ‘n paar keer bekommerd in my rigting gekyk terwyl ek so gebôgom het! Verskeie van die klanke wat ek probeer maak het (soos die leeu se brul) was ‘n flop, en moes oorgedoen of gaan soek word. Ek kon ook nie die dinosourus se gaap outentiek laat klink nie, en moes ‘n vriend van my, Thean Kotze, inroep om te help met al die manlike stemme op die CD. Ons het vreeslik gelag in daardie sessie, want hy is ‘n regte nar. Hy moes oor die mikrofoon bulderend lag en het so ‘n goeie job gedoen dat ek elke keer maar net saam begin lag het!

Daar is regtig niks wat nie vir my lekker was nie. Dit was ‘n wonderlike span mense om mee saam te werk. Hier en daar moes ek baie ander werk tussenin doen, en ek moes soms baie balle in die lug hou om alles gedoen te kry tussen my konserte, produksie en feeste deur, maar dit is deel van musikant-wees en ek is eintlik al gewoond daaraan. Ek moes net soms hard konsentreer om my akkoorde en intervalle maklik te hou vir die kleintjies, sodat hulle kan saamsing. Dit is belangrik dat hulle die liedjies uit volle bors kan saamsing.

Sal daar altyd iets van jou Cutt Glass-agtergrond in jou werk neerslag vind? Hier werk jy met ‘n kinderkoor: hoe verskillend was dit van alles wat jy al vantevore gedoen het?

Ek het nog nooit voorheen ‘n kinderalbum opgeneem nie, maar het al ‘n paar kinderliedjies oor die jare geskryf en was gelukkig genoeg dat Carike Keuzenkamp een van my liedjies opgeneem het ‘n paar jaar terug. Miemie du Plessis van Lapa het gevra dat ek kinderstemme op die CD gebruik, en ek het toevallig in die tyd wat ek beplan het, saam met die Jakaranda-kinderkoor opgetree by Skouspel.

Om mooi harmonieë te gebruik is deel van alle musiek, maar ja, ek het ‘n spesiale passie vir stemme wat mooi harmonies saamwerk. Die kinders van die Jakaranda-kinderkoor was so professioneel. Hulle het die liedjies in ‘n japtrap geleer en dit so entoesiasties kom sing in die ateljee. Ek is baie trots dat hulle bereid was om saam met my te sing en het dit baie geniet om hulle in die ateljee te dirigeer – ook ‘n eerste vir my natuurlik.

Die instrumentasie en byklanke maak ook natuurlik ‘n groot deel van die sukses van enige kinderalbum uit en dit is iets waarop ek baie gefokus het. Ek moes voorheen nog nooit regtig daarmee werk nie. Devereaux van der Hoven het stewig die leisels vasgehou met die basiese verwerkings en ons het saam getimmer tot ons gevoel het elke liedjie is die beste wat dit kan wees. Daarna het ek letterlik dae gesit om die regte byklanke en spesiale effekte te soek. Op die albums is daar leeus wat brul, olifante wat trompetter, badwater wat spat, kinders wat lag, dinosourusse wat gaap, ‘n reus wat sing en ‘n perd wat runnik en galop. Dit was ongelooflik lekker en nie klanke wat mens sommer ooit op ‘n gewone album sal gebruik nie! So ja, dit was ‘n heel nuwe ervaring.

  • 1

Kommentaar

  • Riana de Beer

    Hierdie CD (In die land van Kammalielie) gee ure se plesier aan ons kleindogter en ook aan die volwassenes in die familie. Eindeik 'n kinder-CD wat mens regtig oor en oor kan luister sonder dat dit jou begin irriteer. Ek hoop regtig dis die eerste van vele deur Anna Davel en Jaco Jacobs

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top