Imagine Dragons skud DHL Stadion se fondamente

  • 1

Die poprock-groep van Las Vegas in Amerika is sekerlik een van die grootstes nog wat Suid-Afrika besoek het. Hul huidige wêreldwye verkope van 75 miljoen albums maak hulle een van die beste verkopers in die geskiedenis van populêre musiek.

Imagine Dragons bestaan uit Dan Reynolds (hoofsanger), Wayne Sermon (kitaarspeler), Ben McKee      (baskitaar) en Daniel Platzman (tromme). Die naam van die groep is ’n letterkeer  vir ’n frase wat net die groep ken.

Die groep het sy oorsprong gedurende 2008 by Brigham Young-Universiteit, waar Dan Reynolds destyds gestudeer het. Hy het aanvanklik ’n groep musikante bymekaargekry; in 2009 kry hulle hul eerste groot geleentheid om voor 26 000 mense op te tree by die Bite of Las Vegas Festival.

Ná verskeie veranderinge in die lede van die groep stel hulle hul eerste liedjie “It’s Time” in 2012 vry en wen daarmee die MTV Video Music Award vir die Beste Rock-video. Hul debuutalbum Night Visions volg kort hierna. Die album verwerf gou platinumstatus en lewer twee massiewe enkelsnitte op: “Radioactive” en “Demons”. Beide breek verskeie

Billboard-rekords. Gedurende 2013 word “Radioactive” die liedjie wat die meeste nog op Spotify aanlyn geluister is. Hulle was ook die eerste rock-groep wat vier liedjies op Spotify het wat meer as 1 biljoen keer aanlyn geluister is, met “Believer” meer as 2.3 biljoen keer.

Kaapstad het genadiglik ’n bietjie afgekoel teen die tyd toe die groep net ná 21h00 op die verhoog uitstap, nadat Jesse Clegg die skare met ’n voorskou vermaak het. Nodeloos om te sê die stadion skud met die openingsakkoorde van “My life” en die hele plek ontplof met plesiergille uit 35 000 kele!

Dan Reynolds is die spil waarom alles draai. Hy vertoon groter in lewende lywe en mors geen tyd om uit te loop op die verlengde verhoog tussen die skare in nie. Dis ’n see van springende en skreeuende ondersteuners. Iemand gooi ’n Suid-Afrikaanse vlag op die verhoog en Tafelberg weergalm toe hy dit om sy skouers drapeer.

“Believer” het vir Dan op sy knieë en hy bedank die skare vir die voorreg om ons wonderlike land te besoek. Die ondersteuners ken elke woord van die liedjie en skree die koorgedeelte saam uit: “… you made me a, you made me a believer, believer!”

Die een liedjie vloei in die ander en teen die tyd dat die groep “Radioactive” bereik, is beide hulle en die jong skare heeltemal uitasem. Kaapstad is getrakteer deur ’n groep wie se musiek oor verskeie genres strek. Hul verwys graag na hulself as “genre-less”, maar daar is duidelike tekens van rock, hip-hop, rap, folk, en die hoofsanger meld sy musikale invloede as Nirvana, The Beatles, Coldplay, U2 en ook Paul Simon.

Imagine Dragons het gekom om te wys arenarock is steeds springlewendig, en gemeet aan die reaksie van die skare is dit beslis hier om vir ’n baie lang tyd te bly.

Sanglys:

“My life”
“Believer”
“It’s time”
“I’m so sorry”
“Thunder”
“Birds”
“Follow you”
“Lonely”
“Natural”
“Whatever it takes”
“Sharks”
“Enemy”
“Bad liar”
“Demons”
“On top of the world”
“Bones”
“Radioactive”
“Walking the wire”

  • Teks en alle foto’s deur Stephen Fourie
  • 1

Kommentaar

  • Dit was 'n fantastiese vertoning en ek was bevoorreg om een van die duisende in Kaapstad te wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top