kykNET Silwerskermfees 2019: Ikoniese verhaal van Racheltjie de Beer tot rolprent verwerk

  • 0

Matthys Boshoff

“Die film bring gestalte, klank, beeld en ’n vars blik op ’n storie wat vir dekades lank in die gehoor se verbeelding geleef het.” 

Dít is wat die rolprent Die Verhaal van Racheltjie de Beer uniek maak, meen regisseur Matthys Boshoff.

Die rolprent is een van die rolprente wat by vanjaar se Silwerskermfees in Kaapstad wys.

Die rolprent begin 18 Oktober landwyd in rolprentteaters draai.

Matthys vertel vir Marli van Eeden meer oor die rolprent.

Waarom het julle besluit om die verhaal van Racheltjie de Beer in ’n rolprent te omskep?

Dit is ’n ikoniese verhaal wat vir dekades lank al in die verbeelding en geheue van baie Suid-Afrikaners voortleef en wat nooit verfilm is nie.

Die een oorweging was natuurlik gedryf deur die feit dat daar ’n bestaande mark vir die film is, met die hoeveelheid mense wat lief is vir die storie, maar die grootste dryfveer was ons eie verbintenis met die film wat my as kind met beide vrees en bewondering gelaat het: die treffende beeld van ’n jong dogter wat in ’n sneeustorm gedurende die nag verdwaal met ’n hulpelose kind in haar arms en wat dan die hoogste offer uit liefde bring.

...........

“Racheltjie se storie met die fokus op die grootwordjare van ’n dogter wat op die drumpel van adolessensie staan en hoe sy vasgevang is tussen kindwees, maar ook ’n volwassene vir haar broertjie moet wees.”

...........

Hierdie persoonlike verbintenis met die storie was my vertrekpunt toe ek die rolprent begin maak het, ’n prent wat  wissel van dreigende gevaar na dapperheid en liefde.

Het julle getrou gebly aan die oorspronklike verhaal in die rolprent of ’n paar veranderinge aan die storie aangebring?

Natuurlik was die oorspronklike verhaal ons vertrekpunt en ons het ook daarby gehou, maar om die verhaal te dramatiseer oor min of meer 100 minute, het ons ’n baie sterk agterstorie geskep wat vir ons ’n duideliker beeld gee oor wie die De Beer-familie is, wat hulle dryf en waarvan hulle ontvlugting soek.

Enige filmmaker wil vir ’n gehoor iets vertel of wys wat hulle nie ken of nog nooit gesien het nie en juis daarom het ons ’n vars blik geneem op Racheltjie se storie met die fokus op die grootwordjare van ’n dogter wat op die drumpel van adolessensie staan en sonder ’n ma grootword, hoe sy vasgevang is tussen kindwees, maar ook ’n volwassene vir haar broertjie moet wees.

Skermgreep uit die rolprent

Haar eie oorgang na vrouwees vind plaas tydens ’n huishoudelike storm omdat die pa van die gebroke huishouding nie in staat is om vrede met die dood van sy vrou te maak nie. En in die konteks van grootword – of vrouword – bevind Racheltjie haarself in ’n situasie waar sy haar lewe vir haar broer sal neerlê. 

Wat was julle visie met die maak van die rolprent? Watter boodskap wil julle oordra aan die gehoor?

Vanuit ’n kreatiewe oogpunt anker ons die rolprent in die harde werklikheid: ’n werklikheid om met jong kinders deur die manjifieke, dog ruwe Suid-Afrikaanse wildernis gedurende die 1800’s te trek; ons kyk na hoe dit was om op ’n afgesonderde plaas te woon; en die afgryse om in ’n sneeustorm gedurende die nag te verdwaal sonder die nodige klere om jou warm hou.

Maar die rolprent is ook geïnspireer deur fabels en mites met hul unieke kleurpalet, styl en musiek, asook die geheimsinnige kwaliteite wat aan plante, diere en natuurkragte toegeskryf word.

Skermgreep uit die rolprent

Ons het van die broeiende storm ’n karakter gemaak, dit ’n persoonlikheid gegee en sodoende die grense tussen die fisiese en metafisiese laat vervaag om waarheid en poësie bymekaar te bring in ’n pragtige sinergie wat aan die prent ’n tydlose gehalte gee.

Ek hoop dat hierdie grootword avontuur-drama, wat die skoonheid en krag van die natuur ontgin, die gehore se asems sal wegslaan en dat die vasberadenheid van ’n jong meisie wat die dood in die gesig staar, hulle hartsnare sal roer.

Hopelik sal dit hulle laat besin oor hulle eie verhoudings met die mense naaste aan hulle hart.

Skermgreep uit die rolprent

Vertel ons asseblief meer oor die akteurs wat die karakters vertolk.

’n Rolprent se sukses hang baie van die akteurs en in die geval van Die Verhaal van Racheltjie de Beer veral die kinderakteurs, wat Racheltjie en Jamie, speel af.

Ons het ons nette ver en wyd gespan en honderde kinders vir hierdie rolle oorweeg.

Zonika de Vries as Racheltjie: Ons het van die begin af geweet dat ons nie “oulike kindertjies wat in die veld rondhardloop” wil gebruik nie, maar ’n tawwe 12- tot 13-jarige dogter met ’n skerp kant, iemand met ’n sterk karakter en leiereienskappe en ’n onafhanklike en ’n sterk mening, wou hê. Sy moes die spanning van Racheltjie se reis kon vasvang: naamlik ’n kind wat soos ’n volwassene moes leef.

Alles omtrent Zonika het die teenstrydighede van Racheltjie se karakter weerspieël – haar stappie wat die selfvertroue van ’n onafhanklike moderne vrou uitbeeld en hoewel sy soos ’n dertienjarige lyk, sien ’n mens in haar oë die intellek van ’n volwassene.

Sy is modern en vroulik, maar so taai soos ’n ratel (sy hou daarvan om afdraand met haar skaatsplank te ry, om met veldmotorfietse te ry en met messe te speel) en het ’n ongelooflike emosionele intelligensie en empatie met ander. Sy is pragtig en sterk.

...........

“Hopelik sal dit hulle [die gehoor] laat besin oor hulle eie verhoudings met die mense naaste aan hulle hart.”

...........

Haar toneelspel is boonop gelykstaande aan van die beste volwasse akteurs s’n. Sy kan met ’n enkele kyk ongelooflik baie oordra en haar spel is opreg en eerlik. Ek het in geen stadium gevoel asof ek na iemand kyk wat voorgee om iemand anders te wees nie – dit was asof ek na Racheltjie in vlees en bloed kyk.

Johannes Jordaan as Jamie: Om ’n vyfjarige seuntjie vir die rol te vind wat twee bladsye dialoog in een slag kan lewer en terselfdertyd eerlik en geloofbaar klink (nie kunsmatig of ingeoefen nie), wat liefderik, avontuurlustig en spontaan is, is nie ’n maklike taak nie. Ons het iemand gesoek op wie die gehore dadelik verlief sal raak.

Johannes Jordaan het alles en nog meer gebied. Hoewel ons mekaar nog nooit ontmoet het nie, het hy tydens ons eerste ontmoeting spontaan na my gehardloop, my ’n drukkie gegee en begin gesels.

Dit dui op sy ongelooflike intelligensie, sin vir avontuur en nuuskierigheid. Sy blonde boskasie, blou oë en engelagtige gesiggie is interessant en herinner my aan Robert Redford in die lyf van ’n kind.

Ek het geweet dat die gehore dadelik van hom sal hou en dat hy hulle saam met hom op sy reis deur die storm sal neem.

Skermgreep uit die rolprent

Stian Bam as Herman de Beer: Herman is ’n baie moeilike karakter om te vertolk. In die draaiboek is hy nogal ’n eendimensionele “toornige pa”. Stian het daarin geslaag om drie dimensies na sy karakter te bring deur ’n gekweste en gefolterde man te speel met wie die gehore simpatie het ten spyte van sy hardvogtigheid.

Sy woorde kan hard wees, maar sy oë kommunikeer groot insig, begrip en omgee vir sy dogter. Stian is ook een van baie min akteurs wat deur middel van sy liggaamstaal en houding kan kommunikeer. Dit laat ruimte vir kinematiese skote wat die omvang van die landskap kan vertoon sonder om op nader skote staat te maak om emosie te vas te vang.

Sy spel is genuanseerd en weerspieël die emosies van ’n man wat worstel met die lewe: hy weet nie hoe om vrede met sy pynlike verlede te maak nie en hy is nie in staat is om sy jong dogter te ondersteun wat besig is om ’n vrou te word nie.

Skermgreep uit die rolprent

Antoinette Louw as Sara Lundt: Ons wou nie die tydperk romantiseer nie, maar eerder die harde werklikhede om op ’n afgeleë plaas in die ruwe Oos-Vrystaat in die 1800’s te woon, wys. In hierdie konteks is Sara Lundt ’n opgevoede, onafhanklike vrou wat statigheid en styl na die plaas bring, ten spyte van haar eie stryd as ongetroude, enkellopende vrou wat haar siek ma moet oppas.

Antoinette Louw is ’n sterk aktrise met statigheid en styl en sy het ’n gespanne kwaliteit na die skerm gebring wat die werklikhede van daardie tyd kommunikeer.

Onder haar sagte voorkoms skuil ’n sterk en vreeslose vrou. Antoinette beskik oor ’n warmte in haarself wat dit vir Sara moontlik gemaak het om as mentor vir Racheltjie op te tree.

Marius Weyers as George Lundt: Marius Weyers verbreek alle holrug geryde idees en menings wat ons van ’n Afrikanerboer van daardie tyd kon hê. Hy het regtig elke idee wat algemeen met Afrikanerboere geassosieer word geneem en dit in ’n driedimensionele karakter ondermyn. Sy oë getuig van ’n leeftyd wat hy in die genade van die natuur met haar oorvloed van seëninge en uitdagings geleef het.

Van die staanspoor af speel hy die karakter en nie die tipe nie. Sy verpersoonliking van die karakter herinner my aan die ouer karakters wat ons in sprokies en mites teëkom. Sy spel is bedaard, maar hy straal ’n sterk teenwoordigheid, gesag en gravitas uit.

Sandra Prinsloo as Jacoba Lundt: Ons het ’n aktrise gesoek wat die harde werklikheid van ’n vrou wat aan demensie ly, kon vertolk sonder om dit te swaar aan te bied. Sandra het al soortgelyke karakters in die teater gespeel en baie navorsing daaroor gedoen en sy het groot begrip vir haar karakter se toestand.

Sy beskik ook oor ’n wonderlike ligte aanslag en haar tydsberekening vir tragiese humor is in die kol. Jacoba praat nie baie nie en Sandra se vermoë om met haar oë, lyf en hande te kommunikeer, gee lewe aan die karakter.

Dit lyk dikwels of sy gedistansieerd is, nie daar is nie, maar wanneer ’n mens dit die minste verwag, gee Sandra die kyker ’n goddelike oomblik van helderheid en ’n vlugtige blik op die vrou wat Jacoba eens was.

Seputla Sebogodi as Lazarus: Dit is ook nie ’n maklike rol nie omdat Lazarus nie veel sê nie, maar soos die karakter Chief in One Flew Over the Cuckoo’s Nest, is hy die stil waarnemer en die spreker van die waarheid. Seputla is ’n ervare akteur met hope persoonlikheid en sy oë sê alles wat sy woorde nie sê nie – sodoende bring hy groot diepte en intensiteit na die karakter.

Skermgreep uit die rolprent

Charlie Bouguenon as Kingsley: Charlie het die talent van ’n avontuurlustige wêreldreisiger, ’n man wat altyd aan die beweeg is, wat sjarmant, snaaks en charismaties is.

Presies die teenoorgestelde van Herman. ’n Perfekte Britse aksent en goeie Afrikaans was ’n noodsaaklike voorvereiste vir die rol en Charlie se vermoë om ’n man te speel wat sy ware gevoelens deurgaans wegsteek, het hom ideaal vir die rol gemaak.

Beaté Opperman as Marie de Beer: Hoewel dit ’n klein rolletjie met min kameratyd is, is dit ’n belangrike rol vir die storie. Beaté se vermoë om haar werklike omgee en liefde sonder woorde, maar met ’n eenvoudige knip van die oog te kommunikeer, het haar die perfekte aktrise vir die rol gemaak.

Ek wil nie te veel weggee nie, maar wanneer ’n mens uiteindelik haar gesig sien, weerspreek sy hoofsaaklik met genuanseerde gesiguitsdrukkings, alles wat die gehoor oor die karakter Marie de Beer gehoor en geglo het.

Marli de Jager as klein Racheltjie: Marli is ’n dinamiese jong aktrise met ’n groot toekoms. Sy verstaan vertolking op ’n diep vlak en neem inisiatief om in die karakter se lyf in te klim.

Haar vermoë om oorweldigende emosies te onderdruk, is ongelooflik en haar vertolking van ’n sensitiewe, dog sterk kind het die weg berei vir die 12-jarige Racheltjie.

Wat was die hoogtepunte van die filmproses?

Die eerste dag, wanneer die kamera vir die eerste keer rol en dan natuurlik die laaste dag wanneer verfilming voltooi is, staan altyd uit. Eersgenoemde met opgewondenheid en ’n titseltjie vrees en laasgenoemde met ’n sin van oorwinning, verligting en dankbaarheid.

Daarbenewens was die verfilming van die storm- en sneeutonele uitdagend, gevul met avontuur en het al ons breinkrag, deursettingsvermoë en spanwerk geverg.

Om met ’n fantastiese “ensemble” saamgestel uit gesoute legendes, onder andere Marrius Weyers, Sandra Prinsloo, Stian Bam en Antoinette Louw en nuwelinge soos Zonika de Vries en Johannes Jordaan te werk, was ook ’n groot voorreg.

Skermgreep uit die rolprent

Wat maak hierdie rolprent uniek en die kyk werd? 

Die film bring gestalte, klank, beeld en ’n vars blik op ’n storie wat vir dekades lank in die gehoor se verbeelding geleef het. Die uitvoering is epies op ’n skaal wat nog nie in Afrikaanse films gesien is nie. 

Hoewel ons sterk steun op die historiese tydperk se visuele taal, gebruik die rolprent ook die visuele taal van fabels en mites in sy kleurpalet, musiek, garderobe, stilering, klank en die inbring van geheimsinnige elemente in die natuur, plante, diere en die broeiende storm. Alles saam gee aan die rolprent ’n tydlose kwaliteit.

Die film neem die kyker op ’n audo-visuele en emosionele reis wat wissel van verwondering vir die grootsheid en bedreiging van die natuur, vrees vir verskuilde gevaar, dapperheid in die gesig van bedreiging, broosheid van verhoudings en die oorwinningskrag van liefde.

  • Foto's: verskaf 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top