Matthys se reis as rolprentregisseur het hom sy hand aan ’n verskeidenheid dinge laat waag: die antropologie, bybelse argeologie, bedryfsekonomie en ekonomie, die uitvoerende kunste en draaiboekskryf. Nadat hy by die rolprentskool afgestudeer het, het hy vir vier jaar in die kunsdepartemente van internasionale rolprente gewerk en toe ’n filmmakeropleidingsperiode by die International Film and Television Workshops in Amerika voltooi. Hy het al avonture in uiteenlopende plekke soos Afghanistan,
Patagonië en Uganda aangepak en woon tans in die hartjie van Johannesburg. In die plekke wat hy besoek, span hy sy oog in vir skoonheid, toets hy sy aptyt vir risiko, en ontwikkel hy sy sin vir ontdekking en sy waardering vir die mensdom.
In 2010 was Matthys ’n medestigterslid van AIR Films, ’n bekroonde kommersiële produksiemaatskappy.
In 2016 het hy AIR Films getransformeer om uitsluitlik op vollengteprente en reeksontwikkeling te fokus, terwyl hy steeds as regisseur vir kommersiële veldtogte saam met The Star Film Company gewerk het. Sy bekroonde kortfilm, Flesh of my Flesh is by verskeie Oscar-kwalifiserende filmfeeste regdeur die wêreld vertoon en het in 2018 sy Europese première tydens die International Competition by die gesaghebbende Clermont-Ferrand-kortfilmfees gehad. Flesh of my Flesh is ook in 2018 vir ’n Safta as beste kortfilm genomineer. Matthys is tans besig om Flesh of my Flesh in ’n vollengterolprent te verwerk, hy ontwikkel ’n historiese reeks met ’n span skrywers en is ook die regisseur van die rolprent, Die Verhaal van Racheltjie de Beer.