Ietsie waarop die siel ook kan langarm: Bouwer Bosch oor Almal maak voute

  • 0

Hierdie voorsanger van die gewilde screamo-emo-rockgroep "Straatligkinders" en daarna die tweeledige "Dans Dans Lisa", het pas sy solodebuut die lig laat sien. Die musiek is hoofsaaklik klaviergedrewe rock ’n roll. Reeds in die titel, "Almal maak voute", lê leidrade tot die tematiek. Hy het dié titel gekies omdat mense gewoonlik, wanneer hulle iets sien wat in hulle oë verkeerd is of waarvan hulle nie hou nie, geneig is om dit te probeer korrigeer. “Baie keer is dit so met vriende en ander mense in jou lewe ook,” sê hy. “Ons wil heeltyd mense verander en hulle foute uitwys. Ek het al geleer dat soms moet mens net lief wees en ander aanvaar met hulle foute, en nie hulle heeltyd wil probeer verander nie, want ek is ook iemand met baie foute en dit is nie lekker as mense jou heeltyd wil verander nie. Liefde wen.”

 

Annie Klopper het vir Bouwer ’n paar vrae oor Almal maak voute gevra:

Jy sê: “Ek kan nie sing as ek nie saamstem nie,/ of as die woorde nie sin maak nie.” Wat moet daardie “sin” volgens jou wees?

Ek dryf eintlik ’n bietjie die spot met al die snaakse en random treffers wat daar buite is. Die plan van die song is om die geheime uit te lap van die Afrikaanse bedryf. Baie treffers word rêrig gekoop van die Europese musiek mark en direk so vertaal. Ek sukkel om saam te sing en te relate met songs soos “paraparaapaappaap” of “toeter op jou water-scooter”. Dalk maak my liedjies ook nie altyd sin nie; ek wens maar net die grootste treffers in ons land wil songs wees met substance. Ietsie waarop die siel ook kan langarm.

In die openingslied vra jy: “Hoekom moet dit altyd kompetisie wees/ kan almal maar nie net een groot orkes wees nie?” So as jy so ’n ideale orkes moet saamstel uit Suid-Afrikaanse musikante, wie sal die voorsanger wees, hoe sal die res van dié orkes se set-up lyk en wat sal die genre wees?

Hunter Kennedy sal lirieke skryf, Cobus Potgieter (Google hom) sal tromme speel, Rixie Roman (Karen Zoid se vorige bassist) sal bass speel, Nic Dinnie (bassist van Desmond and the Tutus) sal die sanger wees. Ek sal klavier speel en dan sal Louwtjie Rothman (Google hom) die kitaarspeler wees. Almal amazing hardwerkende musikante. Ons genre sal "persoonlike pop" wees. Eerlike danstreffers! Ha!

 

Buiten die ligte aanpak van sommige van die liedjies word daar onderliggend ook ernstige onderwerpe aangespreek. Saam met Jaco van der Merwe van Bittereinder sing jy op “(k)anker” oor hoe jou pa met hierdie siekte worstel. Dit ontketen weer ’n worsteling met God en mortaliteit. Vertel my meer oor hierdie tematiek.

Ja, dis 'n baie persoonlike lied vir my. Dit handel oor my pa wat siek is (fase-vier-kolonkanker – kan dit nie genees nie, net onder beheer kry) en hoe ek worstel met God oor genade. Ek voel ek verdien dit nie of my pa verdien dit nie, maar then again voel ek ook ek verdien nie die sukses wat ek al behaal het nie. Die ding van genade is dat mens dit nooit sal verstaan nie. Die tricky ding van om 'n familielied te hê wat kanker het, is om nie te leef asof dit die einde is nie … my ma of broer of sus kan môre in 'n motorongeluk sterf, so dit gaan maar oor fokus en om “small victories” te vier. Die hele album bevat stories uit my lewe, soms hartseer en soms baie lig van hart. ’n Album is soos jou dagboek wat jy vir die hele wêreld (jou fans) wys. Die album is dalk sag in klank en genre, maar dis swaar wat inhoud aanbetref.

Steve Hofmeyr kom maak ’n draai op die album in “Sit en wag”. Wat is die agtergrond van hierdie samewerking? En wat word bedoel met die reël “om die woord ‘liefde’ uit te spreek, vat baie van my tyd”?

Een van my vriende, Rouxan Cloete, het die song geskryf. Ek wou hom bietjie exposure gee en ek het te insecure gevoel om een van my songs te vat om saam Steve te werk. So ek kan ongelukkig nie comment oor die liriek nie, jammer. Ek kan wel sê ek wou saam met Steve werk vir myself. Dis nie ’n publisiteit-stunt nie, ons gaan nie ’n video maak of die song radio toe stuur nie. Ons het oor Twitter “ontmoet”, ek het hom genooi vir pizza in Jeffreysbaai en hy het ingestem. Ons stem dalk nie altyd saam oor opinies nie, maar musiek is wat ons gemeen het en dus klets ons lekker van tyd tot tyd. Ek dink hy gaan ’n legacy los in Suid-Afrikaanse musiek wat die ander popkunstenaars nie gaan los nie. Hy is ongelooflik professioneel en is ’n “one-take wonder” as dit kom by studiowerk!

Whatsup met die feit dat jy NWU Pukke se logo agter op jou CD kan plak? Probeer jy ekstra krediete score of iets? Of het jy nou klaar geswot?

Haha! Ja, ek skimp vir 'n honneurs. Nee glad nie, die NWU het my baie gehelp met my laaste drie vakke wat ek moes oordoen as gevolg van Straatligkinders se besige program. Ek het vir twee jaar by hulle kreatiewe kommunikasiedepartement gewerk ook en het baie geleer, hulle was goed vir my. So dit is maar om dankie te sê vir hulle. Die meeste van my songs is ook geskryf in hulle klaskamers, so ek moet hulle bedank vir die kreatiewe dosente wat my gehelp het!

 

In watter mate was die maak van hierdie album ’n persoonlike journey vir jou?

Dit was ’n amazing ervaring om saam nuwe musikante en producers te werk. Ons het met al drie SLK-albums dieselfde resep gevolg, so hierdie projek het nogal sy uitdagings gehad. Wat die moeilikste steeds is, is om vir mense te verduidelik dat ek nie verander het nie. Mens sien ’n “solo-album” as iets wat gepaard gaan met “sellouts”. Die ironie is dat vandat ek Dans Dans Lisa en my solo-goed doen, ek baie armer is as toe ek Straatligkinders gedoen het. Ek wil net musiek maak. So die hele projek is maar daagliks ’n persoonlike journey om myself te herinner dat dit oukei is om foute te maak en dat musiek nie alles is nie. Dis my werk, maar dis ook nie alles nie. Ek voel as mense my eendag gaan onthou vir my liedjies, dan het ek misluk met my lewe. Die boemelaar op straat gee nie om watse lied is nommer een op 5FM of wat trend op YouTube nie. Om “hardcore” te wees het niks te doen met ’n musiekgenre nie en dis waar mense die punt mis. Die lewe is meer as ’n catchy chorus vir my. Musiek is maar na aan my hart, so elke liewe lied wat ek skryf, diep of cheesy, beteken iets vir my, en dis maar net belangrik dat jy jouself herinner dat almal nie altyd van jou werk gaan hou nie, en dit is oukei. Mens kan nie van alles hou nie.

Foto’s: Nelis Botha

Klik hier om Bouwer Bosch van "Dans Dans Lisa" en die nege ander Sing ’it bands se liedjies te download.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top