
Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans bied in Oktober 'n gratis Wiskundekongres in Oudtshoorn aan. Naomi Meyer het vir Marise Oberholzer, Projekbestuurder: SBA Wiskundekongres, hieroor uitgevra.

Hallo Marise, LitNet verneem met belangstelling van die SBA se Wiskundekongres in Oudtshoorn wat julle in Oktober aanbied. Gee ons ’n bietjie agtergrond, asseblief. Ek sien die program maak voorsiening vir onderwysers in die Senior Fase en die VOO-fase. Is daar nog ander mense wat by hierdie kongres sal baat?
Wiskunde is vanjaar die nuwe fokus van die SBA. Die SBA deel die kommer oor die swak Wiskunde-uitslae en die agteruitgang van Wiskunde in openbare skole in die algemeen en wil iets daadwerkliks doen om hierdie swak prestasie aan te spreek. Daarom dat ons van 4 tot 6 Oktober 2012 ’n Wiskundekongres, getiteld “Woeker met Wiskunde”, vir hoërskoolwiskunde-onderwysers aanbied. Die kongres vind plaas in die banketsaal van die Oudtshoorn-munisipaliteit.
Die kongres is prakties van aard en onderwerpe in die Senior Fase en VOO-fase sal aangebied word. Onderwerpe in die Senior Fase sluit in: die belangrikheid van graad 8 ter voorbereiding vir Wiskunde op hoërskool, die oorbrugging van graad 9 tot graad 10 en kreatiewe benaderings in die onderrig van Wiskunde. Onderwerpe in die VOO-fase sluit in: waarskynlikheid, finansiële wiskunde en meetkunde.
Van die voorste wiskundiges in ons land sal as aanbieders optree. Elkeen van hulle is passievol oor Wiskunde en wil ’n verskil maak.
Alle onderwysers wat Wiskunde aanbied in die Senior Fase en VOO-fase is welkom om die kongres by te woon, en so ook enige persoon wat waarde uit hierdie kongres sal put. Ons het reeds inskrywings ontvang van onderwysstudente en persone wat kinders buite skoolure met Wiskunde help.
Hoekom is Wiskunde as vak so belangrik, meen die SBA?
Dit is die visie van die SBA om geletterde, selfonderhoudende en omgewingsbewuste gemeenskappe te vestig. Wiskunde en taal gaan hand aan hand. Deur ook op Wiskunde te fokus, word gemeenskappe holisties bemagtig.
Wat dink julle staan onderwysers in die klas te doen met leerders wat op verskillende maniere leer en op verskillende maniere by antwoorde uitkom? Sal die kongres sulke soort vrae ook kan help beantwoord? Of waarop sal die kongres hoofsaaklik fokus as julle met die onderwysers oor die aanbieding van die vak gesels?
Die aanbiedings sal interaktief wees en onderwysers sal die geleentheid kry om vrae aan die aanbieders te stel.
As julle self iets vir julle oud-Wiskunde-onderwysers kon vra, wat sou dit wees? Sou jy iets wou verander aan die manier hoe Wiskunde vir jou as leerder aangebied is?
Dit sal natuurlik van persoon tot persoon verskil. Ek sou ’n beroep doen op ’n benadering van energieke, entoesiastiese aanbiedings van die vakinhoud en ’n opregte belangstelling in die vordering van elke leerder.
Dis alles gratis, sien ek: die verblyf en die kongres. Hoe op aarde kry julle dit reg?
Ons het baie goeie borgskappe ontvang wat dit vir ons moontlik maak om die kongres en verblyf gratis aan te bied.

