LitNet Akademies-onderhoud: Pierre de Vos gesels met Jaco Barnard-Naudé oor die politiek van broederskap

  • 0

Jaco Barnard-Naudé se artikel “Die politiek van broederskap: Jacques Derrida, Jean-Luc Nancy en Jane Alexander se The Butcher Boys het pas op LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) verskyn. Pierre de Vos het met hom gesels.

 

Jy gebruik The Butcher Boys as aanknopingspunt vir ’n bespreking oor broederskap en demokrasie. Maar waarom juis dié beeld? Waarom gryp dit jou persoonlik so aan dat jy nie anders kon nie as om daaroor te móét skryf?

Ek dink dit het te make met wat John Peffer die "atavistiese" dimensie van die Butcher Boys noem. Hulle besit vir my ’n vreemde skoonheid, miskien selfs die "bose skoonheid van geweld" waarvan DJ Opperman in sy gedig "Vuurbees" skryf. Soos Peffer dit stel: "You want to get out of their sight, but you can’t help coming back to them. They instill a kind of animalistic reversion, which catches speech in your throat, and transfixes you to the spot with an adrenaline-induced fear. I feel, when I gaze upon the Butcher Boys, that I can then understand the slowed-down, glazed expression on the faces of onlookers after the scene of some gruesome crime or accident." Dít is presies hoe die Butcher Boys my aanvanklik geaffekteer het en steeds primêr affekteer. Maar dit is nie net hierdie "bose skoonheid" wat my weer en weer na The Butcher Boys laat terugkeer nie. Soos Peffer dit stel, The Butcher Boys verteenwoordig nie net die liggaam van die folteraar as ’n monster of setel van boosheid nie - dit verteenwoordig ook die gefolterde, of die gepynigde, as ’n slagoffer. Dit laat selfs die binariteit van die slagoffer/misdadiger-onderskeid vervaag. Dit sê soms is die misdadiger self ook slagoffer en die slagoffer self misdadiger. Die werk aktiveer die idee van ’n oorspronklike verantwoordelikheid en wakker dus ook ’n soort deernis aan, solank mens verstaan dat hierdie deernis niks te make het met ’n soort sentimentele, soetsappige simpatie nie. Die Butcher Boys is aangrypend vanweë hul kompleksiteit.

Ek wonder of sommige van die probleme wat ons land (en die "demokrasie" ter lande) tans in die gesig staar, nie juis spruit uit die afwys van (of dalk die verwerping van, of afgryse in) kompleksiteit nie. As ek jou artikel reg verstaan, beweer jy die fokus op nasionalisme en identiteit wat juis kompleksiteit vermy, en waarteen jou artikel inskryf, hou ’n gevaar in vir die idee van ’n demokrasie? Sou jy hiermee saamstem, en sou jy dus wou beweer dat The Butcher Boys juis tot die hede spreek, omdat dit kritiese vrae stel oor identiteit, die nasie en die moontlikheid van ’n demokratiese bestel?

Dit is absoluut die geval dat baie van die mens se huidige probleme (polities, ekonomies, maatskaplik, persoonlik) spruit uit ’n afgryse in kompleksiteit. Ons leef in ’n tyd van onmiddellike, vinnige oplossings (die soort oplossings wat altyd weer as probleme sal manifesteer). Die totalitarismes, nasionalismes, apartheid en identiteitspolitiek van die moderne tyd is manifestasies van hierdie soeke na ’n vinnige, doeltreffende oplossing vir die menslike toestand. Hitler se plan met die Jode het nie verniet as die "finale oplossing" bekend gestaan nie. Hannah Arendt herinner ons daaraan dat die "menslike toestand" ’n plurale toestand is - dit is niks minder as pluraliteit nie - die feit dat radikaal verskillende mense die aarde bewoon en bewerk. Pluraliteit is ’n komplekse toestand. Die totalitarisme en nasionalisme se pogings om pluraliteit te verminder, of selfs uit te wis, ten einde hierdie kompleksiteit te oorkom of teen te werk, is sonder twyfel ’n gevaar vir demokrasie.

Maar die saak is selfs meer problematies. Vandag bestaan daar outoritêre, selfs totalitaristiese, regerings wat hulself skaamteloos en sonder enige ironie as demokrasieë beskryf. Demokrasie self is besig om teen sigself te werk. The Butcher Boys lewer sterk negatiewe kommentaar op die antidemokratiese praktyke van die moderne geskiedenis, maar soos ek die werk sien, spreek dit tot die hede én die toekoms. Dit waarsku (die hede) en dit hoop (op die moontlikheid van die demokratiese bestel). Dit hoop egter op ’n wanhopige wyse. Wanhopigheid ontstaan in die oomblik van vertwyfeling, by die verlies van alle sekerhede, ook die sekerhede van die identiteitspolitiek, die nasie, die volk. Jean-Luc Nancy se werk (waarop ek sterk steun in die artikel) staan in die teken van hierdie wanhopige hoop.

Jy skryf, met verwysing na Derrida: "Elke demokrasie maak elke dag die broederlike keuse, maar sommige maak die broederlike keuse op meer onverantwoordelike wyse as ander. Met ander woorde, elke demokrasie berus, op die een of ander wyse, op broederskap en die een of ander vorm van apartheid." Dit klink erg sinies oor die moontlikheid van die totstandkoming van enige vorm van demokrasie waarin mens sou wou woon (of die moontlikheid dat ons selfs die aankomende demokrasie tegemoet sou kon gaan). Hoe sou jy op dié beswaar reageer?

Die aankomende demokrasie is altyd aankomend. Dit is altyd dringend - ’n saak van die hier en die nou. Ons kan nie terugsit en maar net rustig daarvoor sit en wag nie. Ons is verantwoordelik. Ons taak is om plek daarvoor te hou/maak. Die broederlike keuse, soos Derrida aantoon, word (as deel van die Republikeinse motto) in die demokrasie juis die vyand van die demokrasie, omdat dit verstaan word as ’n meganisme waarmee (dikwels gewelddadige) uitsluiting gelegitimiseer kan word. Die probleem van die vlugteling, die onwettige immigrant, die uitgewekene, van invalle en oornames selfs, kom hier ten sterkste ter sprake. Met die frase elke demokrasie in die aanhaling verwys ek na elke demokrasie vandag - meer of minder verantwoordelik. Dit beteken egter nie dat ek nie glo in die aankomende demokrasie of hoop op Nancy se onbeleërde/vakante gemeenskap as ’n saak van die toekoms – as dié saak van die toekoms – nie. Ek dink eenvoudig dat ons daardie demokrasie nie kan benader as ons bly klou aan die idee dat ons maar slegs die liberaal-demokratiese, kapitalistiese model van sy tekortkominge moet ontdaan maak nie. Hier kom die sinisme eintlik aan bod - by diegene wat koorsagtig bly vasklou aan wat Fukuyama die "end of history"-tesis genoem het.

Beide Derrida se idee van vriendskap en Nancy se (herskryfde) idee van broederskap word, so lyk dit vir my, in die artikel ontplooi om ernstige vrae te stel oor die subjek en oor identiteitspolitiek. Soos jy opmerk, waarsku dit teen die miskenning van vele Ander en die onhoudbare mites van ’n homogene bevolking wat die pluraliteit van bestaan ontken. Maar is dit nie wat ons politiek (nog steeds) by uitstek is nie – die strewe na ’n gedeelde identiteit en die afwys van hulle wat nie wil saamspeel aan die bou van die nuwe mite nie?

Ja, die politiek vandag staan in die teken van afwysing. Ek dink dit is hoekom Nancy twyfel of sy idee van vryheid ooreenkomstig mede-deelsaamheid bedink kan word as deel van die politiek soos dit tans verstaan word. Vir Nancy is vryheid, soos by Arendt, onlosmaaklik verbonde aan die initium, aan die maak van ’n begin, ‘n tot-stand-koming. Die politieke kan ooreenkomstig hierdie idee van vryheid bedink word slegs as ons daaraan dink as die opening van ’n ruimte, as ’n sfeer wat plek maak (vir die Ander se begin/aankoms). Vryheid is die gebeurlikheid en die gebeurtenis van bestaan ooreenkomstig die saambestaan van enighede. Vir Nancy is hierdie idee van ’n aanvanklike vryheid die basis van alle ander subjektiewe vryhede. Hy sê verder dat hierdie vryheid slegs genéém word; dit kan nie gegéé word nie - daar is iets van rewolusie daarin. Die mite van die liberaal-kapitalistiese demokrasie bestaan as ’n afwysing van hulle wat nie die identiteit van die selfsugtige, keusevrye, hipermobiele, kapitaalhoudende koper wil of kan aanneem nie. Die idee van ’n etiese politiek is die grootste bedreiging vir hierdie mite.

Maar is identiteitspolitiek nie onvermydelik, en selfs op kort termyn noodsaaklik, om verset teen die verlede (wat was) en die huidige ongeregtigheid (as ek die woord kan gebruik) moontlik te maak nie? As iemand swart of gay of vroulik is, bied die identiteitspolitiek nie juis ‘n platform wat verset teen ongeregtigheid (hoe ons dit ook al sou definieer) moontlik maak nie. Maak jou onderskrywing van Derrida en Nancy se idees oor vriendskap en broederskap dus nie juis verset onmootlik nie?

Mense wie se vryheid deur die politiek opgehef word, behoort hulle ten sterkste teen sodanige ongeregtigheid te verset. As hulle daardie verset op die basis van identitietskategorieë soos ras, geslag en seksuele oriëntasie voer, is dit op sigself nie problematies nie, aangesien bevryding (die neem van vryheid) moontlik gemaak word deur gedeelde gemoeidhede. Die problematiek ontstaan wanneer daardie kategorieë gebruik word om uit te sluit, te verminder en te ontken, met ander woorde om vryheid op te hef – en dit is die gevaar van alle verset wat in identiteitspolitiek gefundeer is. Daar is egter nog baie te sê oor die verset eenvoudig gefundeer in menslikheid, dalk selfs ’n verset gefundeer in die idee van die saambestaan/deelsaamheid van enighede.

The Butcher Boys problematiseer identiteit eerder as om dit te bevestig. Sou jy sê dat identiteit (steeds) as struikelblok gesien word vir die strewe na die aankomende demokrasie in postapartheid-Suid-Afrika? Hoe sou so ’n insig strook met byvoorbeeld die idee dat regstellende aksie op grond van ras gebaseer is op stabiele identiteite en dus bevraagteken moet word? Wat sou die politieke implikasies van so ’n insig wees?

Identiteit is ’n struikelblok in die strewe na die aankomende demokrasie in soverre dit gebruik word om vryheid op te hef. Dit is wat baie mense nie verstaan van regstellende aksie gebaseer op ras of geslag nie - dit is ’n meganisme (ja, soms ’n stomp mes) waarmee gepoog word om vryheid wat voorheen opgehef is, terug te neem. Dit is so dat sommige mense dit as uitsluitend en essensialisties ervaar. Die probleem is een van teorie en praktyk. Die feit dat die manier waarop regstellende aksie in sekere kontekste bedryf word, bydra tot uitsluiting (selfs binne die identiteitskategorie wat veronderstel is om bevoordeel te word) eerder as bevryding, beteken egter nie dat die idee van regstellende geregtigheid (‘n ander naam vir be-vryding) daarmee heen is nie. Dit help ook nie dat regstellende aksie plaasvind binne die groter strukturele geweld/ongelykheid van die kapitalisme nie.

Dié insigte laat nou twee verdere vrae onstaan. Eerstens word ons daagliks gekonfronteer met die argument dat dit ná die ineenstorting van die USSR en ander Oosblok-lande en die val van die Berlynse muur en die opkoms van globalisering in die teken van neoliberalisme, onmoontlik is om die kapitalistiese bestel te bevraagteken of jou daarteen te verset sonder katastrofiese gevolge vir ’n land soos Suid-Afrika. Fukuyama se "end of history" kom ook ter sprake. Hoe antwoord mens diegene wat om "pragmatiese" redes aanvoer dat die kapitalistiese demokrasie al is wat oorbly ("Wat is die alternatief?" roep hulle uit) en dat ons maar vir tyd en wyl daarmee vir lief moet neem? Tweedens, waar pas die reg, en meer spesifiek die grondwet, in jou analise? Legitimeer die grondwetlike bestel nie juis die kapitalistiese demokrasie nie? Is die reg, en meer spesifiek die konsep van menseregte, nie juis ’n meganisme wat gebaseer is op die tipe individualistiese subjek wat die kapitalistiese demokrasie ten grondslag lê nie?

Hoe kan ‘n grondwet wat sosio-ekonomiese regte beskerm en wil bevorder, ooit in die teken staan van neoliberale ekonomiese en politieke beleid? Slegs met heelwat oëverblindery, as jy my vra. As mense onder die idee van "menseregte in ons grondwet" verstaan dat daar ‘n soort viering van die individualisme is, dan verstaan hulle die grondwet en sy etos eenvoudig verkeerd – selfbeskikking is nie dieselfde as individualisme nie. Ons grondwet is nié eenvoudig ‘n liberaal-kapitalistiese manifes nie. Ek sal so ver gaan om te sê dit is nie in hoofsaak ‘n liberaal-kapitalistiese manifes nie. Dit plaas positiewe verpligtinge op die staat, dit behels ‘n relasionele begrip van regte, dit maak die verpligtinge in die Handves van Menseregte van toepassing op intersubjektiewe verkeer deur die horisontale-toepassing-bepalings. Die regte in ons Handves van Regte is nie ‘n stel swaarde waarmee ons veronderstel is om onsself teen die indringing van die Ander te verdedig nie. Ek is nie een wat gou sal praat oor ubuntu nie, maar as dit enigiets beteken (buite die sensasionele en sentimentele toe-eiening daarvan), dan beteken dit hierdie idee van Nancy – die bestaan singulier pluraal – die gemene feit van bestaan as saambestaan, die bestaan wat nie sonder die nodige kritiese afstand en ruimte moontlik is nie. Denkers soos Nancy, Badiou en Žižek se werk spandeer meer en meer tyd aan die herlewing van die kommunistiese idee (wat onmiddellik geskei moet word van die geïnstitusionaliseerde, totalitaristiese kommunisme), veral sedert die ineenstorting van die wêreld se finansiële markte in laat 2008 en gegewe die voortslepende aardverwarmingskrisis. Die liberaal-kapitalistiese demokrasie was nog nooit in soveel moeilikheid nie. Die alternatief is optrede teen die ongeregtighede wat die “end of history” in die hand (ge-) werk (het). Die geskiedenis is nooit voorafbepaal nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top