Dagboek van 'n Dromer is volwasse, goeie, amperse rou rock, met eenvoudige luisterbare lirieke

  • 0
Albert de Wet
Dagboek van 'n Dromer

(Sting 2006, STIDCD 104)

 

 

Albert de Wet is nog nie die huishoudelike naam wat hy moet wees nie. Hy het egter reeds 'n welverdiende navolging. Of dit bloot is omdat hy in 2005 groot mediablootstelling gekry het as finalis in die RSG Geraas-musiektoekennings (Groentjie) en in Africa Vision Song en ook 'n semifinalis was in Crescendo 2005, en of dit hulle dinamiese optrede is, weet 'n mens nie. Ek glo dis die musiek self.

Raker gestel is eerder dat Dagboek van 'n Dromer alles bevestig wat in 2005 voorspel is vir dié jong man (na my wete vanjaar 21) – 'n groot toekoms.

In die agt Afrikaanse en ses Engelse liedjies hoor jy 'n uiters belowende musiekmaker en groep. Albert du Plessis sing nie net nie, maar speel kitaar, baskitaar, klawerbord en mondfluitjie. Musikante Paul Mc Iver, Mauritz Lotz, Denny Lalouette, Jac van Wyk, Vinnie Henrico en Johan van Schalkwyk staan hom in interessante, meestal goeie verwerkings by. Die agtergrondsangers Veronique Lalouette en Sumaré van Schalkwyk dra sinvol by tot sekere liedjies.

Benewens "Lyf" en "Within Walls", twee treffers reeds op radiostasies se speellyste, is dit Albert de Wet se weergawe van "Sarie Marais" wat my besonder geboei het – 'n eenvoudige dog verfrissend nuwe variasie op dié bekende tradisionele lied. Hierdie album bied 'n goeie verskeidenheid liedere en verveel 'n mens daarom nie as jy hom deurluister nie.

Dagboek van 'n Dromer is volwasse, goeie, amperse rou rock, met eenvoudige luisterbare (en hoorbare!) lirieke; nie alom vernuwend nie, maar met 'n gewis onderskeibare, unieke klank.

Slotsom: Koop die album. Dis 'n welkome bydrae tot die steeds ontploffende Afrikaanse én Suid-Afrikaanse musiekskat.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top