Huldeblyk: Theo Bekker (1955–2019)

  • 1

Ek het my naamgenoot Theo Bekker in 1984 ontmoet tydens ’n Staatsleer-vakkonferensie by Unisa toe drie van ons as nuwe dosente aan kollegas voorgestel is. Benewens my was dit Susan Booysen (destydse RAU) en Theo Bekker (Universiteit van Pretoria). Ons sou mekaar dikwels daarna weer oor die volgende 35 jaar sien. In 2012 het Theo Bekker by die Noordwes-Universiteit aangesluit, waar hy sou werk tot sy skielike oorlye na ’n kort siekbed op die ouderdom van 63 op 9 Januarie 2019.

Johannes Theodorus Bekker het sy hoërskooljare in Krugerdorp deurgebring en het na matriek (aan Hoërskool Jan de Klerk) aan die Universiteit van Pretoria en Unisa studeer. Hy voltooi sy meestersgraad in politieke wetenskap in 1981 met die titel “Die vraagstuk van die kleurlingstem: 1948–1956”. Sy hoofbelangstelling was in die Suid-Afrikaanse politiek en hy vorder tot senior lektor aan Tukkies in die periode van 1979 tot 2004, waarna hy bedank en hom by die Nasionale Intelligensiediens aansluit. Hy het ’n hele aantal meestergraadstudente gelei en die werk was van hoë gehalte; hy het noue samewerking geniet met kollegas soos Marie Muller, Anton du Plessis en Jolien Pretorius.

Theo dien daarna as bestuurder: Intelligensiestudies en Navorsing aan die Intelligensie-Akademie te Mahikeng van 2004 tot 2012, waarna hy op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit aangestel word. Van 2012 tot 2015 dien hy as direkteur: Strategiese Projekte onder die vorige rektor van die Potchefstroomkampus, Herman van Schalkwyk. Van 2015 tot sy dood het hy gedien as direkteur: Strategiese Projekte in die kantoor van die visekanselier, Dan Kgwadi. Hy het hom veral bemoei met die uitbreiding van universitêre verhoudinge en samewerking tussen die BRICS-lande. In hierdie tydperk het ons dikwels oor koffie gesels oor die uitdagings van hoër onderwys, aangesien ek tot 2013 in ’n soortgelyke hoedanigheid gedien het. Ons was dit met mekaar eens oor die byna onmoontlike vereistes wat daar aan die topbesture aan ons universiteite in Suid-Afrika gestel word.

Theo se stem en menings oor die Suid-Afrikaanse politiek is dikwels in die 1980’s en vroeë ’90’s in die gedrukte media en op radio en TV gesien en gehoor, maar sy stem het stil geword nadat hy by die intelligensiedienste betrokke geraak het. Na sy uittrede in 2012 het hy weer ’n gereelde stem op radio en TV geword, en veral in gesprek met een van sy oudstudente, Anita Visser, op RSG se Monitor-program. Hy het intussen sy strekwydte in die politiek uitgebrei en ook kundige menings oor BRICS en ander internasionale gebeure gelewer. Sy laaste akademiese optrede was tydens ’n BRICS-konferensie in Moskou gedurende September 2018, en een van sy laaste radio-onderhoude vroeg in Desember 2018 was juis met Anita Visser oor die Brexit-dilemma tussen die Verenigde Koninkryk en die Europese Unie.

Theo Bekker se oudstudente, kollegas en vriende sal hom onthou as ’n aangename en vriendelike mens wat altyd opgeruimd en gereed met ’n kwinkslag was. Hy het ’n wye perspektief op Suid-Afrika gehad en hom nie laat vasknoop in ideologiese hoeke nie. Theo was innemend, intelligent en ’n gebalanseerde politieke ontleder.

  • 1

Kommentaar

  • Dankie Theo vir die woorde. Julle politieke wetenskaplikes is ’n ander soort mens. En Theo was so. Mis hom verskriklik baie. Hy kon enige mens spesiaal laat voel. Het geluister wanneer mens iets sê. En hy het nooit uit die heup uit geskiet nie. Ook nie laat geslaan nie. Hy het vir die oomblik gelewe. NOU! Het nie oor die verlede gewroeg nie. En die toekoms was nie ’n bekommernis nie. Nou sê dinge, die hienoumaals, was sy uitdaging. Hoeveel keer moet by hom aangekom. Dan was hy nog by sy kantoor. Wanneer ek dog dis groettyd pak hy die vure. En vra mens hom wat van môre want dis reeds laat en hy moet voor sonopkoms weg wees, lag hy net en dan begin die kuier. Laatnag. Vroegoggend, lank voor sonsopkoms kry ek hom besig met vergadering oor die foon. Aangetrek vir die dag. Die eerste woorde wat ons kan gesels wil hy weet hoe die eiers en spek gebraai moet wees. Hy word gemis Theo. En jy dra ’n spesiale naam. Dankie vir jou woorde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top