Huldeblyk: Ena Murray

  • 0

Die bekende en geliefde skrywer, Ena Murray (Mostert), is vanoggend omstreeks 04:00 op Mosselbaai oorlede. NB-Uitgewers vereer haar vir die groot werk wat sy gedoen het en vir haar nalatenskap.

Ena Murray

Ena Helena Murray is op 27 Desember 1936 op Loxton in die Karoo gebore, die tweede van drie dogters van die plaaslike geneesheer, dr Mans. Sy het op Loxton skoolgegaan en het reeds in die laerskool begin skryf. Sy het aan die Hoërskool Victoria-Wes gematrikuleer.

Ná skool gaan verpleeg Ena in Bloemfontein en in 1959 is sy met Boet Murray getroud. Sy is na 20 jaar geskei en het haar in die Wildernis gaan vestig. In 1981 is sy met Jacques Mostert getroud. In 1991 het hulle na Santos Haven-aftree-oord in Mosselbaai getrek.

Nadat Ena haar eerste twee verhale voltooi het, het sy een aan Rooi Rose gestuur en een aan Ela Spence. Die eerste is in Rooi Rose as vervolgverhaal gepubliseer en die ander een, Lisé, verskyn in 1960 by JP van der Walt-uitgewers.

Die publikasie van Lisé was die begin van Ena se lang loopbaan as een van die gewildste skrywers van Afrikaanse ontspanningsverhale.

Ena se resep vir haar sukses was selfdissipine en ’n streng skryfprogram. Haar 131 titels is meestal snags vanaf eenuur geskryf, en tussen dertien en vyftien uur per dag agter die tikmasjien was vir Ena niks snaaks nie.

George Louw, wat destyds verhaleredakteur by Huisgenoot was, het nooit een van haar verhale van die hand gewys nie. “Haar verhale het uitgestaan. Ek weet nie wat dit is wat haar so gewild gemaak het nie. ’n Mens sou dit seker ’n X-faktor kon noem.”

In 1996 het Ena haar tikmasjien weggepak, maar gelukkig vir haar lesers is haar verhale in 40 omnibusse gebundel.

Reënboog van koraal is vir skole voorgeskryf, terwyl twee van haar boeke, Vrou uit die nag en Plekkie in die son, verfilm is.

Oor hoe sy nederig bly ná al haar sukses, het Ena gesê: “Wanneer ek sien een van my boeke is bo-aan die topverkoperlys, sê ek vir myself: ‘Dis alles net genade’.”

Nèlleke de Jager, wat jare lank Ena se uitgewer was, sê “Ena se boeiende vertelstem, humorsin, deernis en insig in mense verklaar haar sukses.Wat my altyd die meeste van haar werk opgeval het, is dat Ena gegló het in die liefde. En vandaar die oortuiging waarmee sy haar stories geskryf het.”

Etienne Bloemhof, die hoof van NB-uitgewers se fiksie-afdeling, sê: “Ena se werkywer was ongekend. Sy het oor die jare gereeld haar hele oeuvre hersien, en daardie werk sal bly voortleef, onder meer in die huidige Ena Murray Keur-reeks wat sy self georden het. Sy was ’n uitsonderlik nederige en godsdienstige mens, iemand wat haar morele waardes gelééf het. Wat my van haar altyd sal bybly, is haar meelewing, dat sy sonder uitsondering altyd eerste na ander se welstand sou verneem, sodat die fokus nooit moes wees op haar eie omstandighede nie. Haar soort kom net een keer in ’n leeftyd verby.”

Marga Stoffer, waarnemende hoof van NB-Uitgewers, sê: “Ons is hartseer oor die heengaan van Ena Murray. Sy was ’n geliefde skrywer en ’n merkwaardige mens. Sy is vir lank beskou as ‘die mees gelese skrywer in Afrikaans’, en haar boeke word steeds heruitgegee. Mag sy in vrede rus.”

Bronne:
Ena Murray (1936–2015). LitNet se ATKV-Skrywersalbum
Roux, Jaybee. 2009. “As jy voel jy wil skryf, het jy dit in jou om suksesvol te wees”. Die Burger, 16 Maart

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top