Huldeblyk aan John Nicholson, die man met ’n biblioteek in sy agterplaas

  • 0

John Nicholson is oorlede. Dit is onwaarskynlik dat die Staatspresident sal opdaag by sy begrafnis, want vir die meeste mense was in Suid-Afrika was hy onbekend. Vir baie kinders in Lavender Hill, ’n bitter arm woonbuurt op die Kaapse Vlakte, het John Nicolson egter oneindig baie beteken.

John het by ’n meubelfabriek gewerk. Eendag het hy, soos elke ander werker, voor ’n geslote perseel opgedaag. Daar was swaar slotte aan die hekke. Die eienaars het oornag verdwyn.

Lavender Hill is ’n arm buurt. Brandarm. John woon in een van die baksteenhuisies, maar talle ander woon in sink- of houtkaias.

Werkloosheid is hoog, en wanneer een of meer ouer werk, voorsien hulle uitgebreide gesinne van kos.

Alkohol is ’n enorme probleem.

Vir John Nicolson was dit nie genoeg om sy Christenskap in die kerk uit te leef terwyl daar kinders op straat rondloop nie. Hy het, soos Jesus van ouds, gesê: “Laat die kindertjies na my toe kom.”

Dit het begin met kinders wat ’n veilige hawe soek. Hulle het gewoon by John en sy vrou Gail kom skuil wanneer dinge moeilik raak by die huis, of wanneer die ouers nie teenwoordig was nie.

Daardie kinders was dikwels honger. John en Gail het van hulle eie kos vir die kinders gegee.

Ná hy sy werk by die fabriek verloor het, kon John darem privaatstoffering doen. Geld was skaars, maar die nood elders was groter as in sy eie huis.

Ander het daarvan gehoor. Dit was ’n bietjie soos die gelykenis van die brood en die vissies: John se projek het hulp gekry. In 2005 het hulle ’n sopkombuis oopgemaak om die honger kinders te voer.

John het egter gesê dit help nie jy sit kos in ’n kind se maag en die kop bly leeg nie. Aanvanklik het hy en Gail sommer hulle eie boeke aan die kinders gegee om te lees, maar uiteindelik het hulle skenkings gekry, en in 2008 is ’n biblioteek begin in ’n skeepshouer wat aan hulle geskenk is.

Die pers, veral dan die Kaapse koerant The Voice, het oor John se werk begin berig. Skenkings het ingekom. Meer kinders het ingeval.

John en Gail voor die agterplaasbiblioteek

John het ’n dak op sy agterplaas gesit en die biblioteek kon uitbrei.

John en Gail net voor die aanvang van die ATKV-Woordveertjies

In 2016 het die ATKV die Woordveertjie vir leesbevordering aan John en Gail toegeken. Dit het ’n kontantbedrag ingesluit.

John met die ATKV-Woordveertjie in sy hand

’n Paar maande later het ook die Afrikaanse Taalraad ’n toekenning aan John gegee vir sy werk in Lavender Hill.

Dié toekennings het ongelukkig ’n vreemde nadraai gehad. Die Stad Kaapstad het kom inloer en daar is bevind dat die dak oor die agterplaas nie sterk genoeg is nie. John moes afbreek.

Hy het. Die biblioteek moes weer in die skeepshouer en die huis inpas.

Die dak kon ná ’n lang gespook uiteindelik weer opgesit word, dié keer met die nodige papiere.

Studente van 'n plaaslike onderwyskollege het John kom help in die biblioteek

John wou in 2020 van George na Kaapstad stap om geld in te samel vir die langermynoorlewing van die projek. Covid het gemaak dat hy nie persdekking kon kry nie; almal is boonop vir groot dele van die jaar genoop om tuis te bly.

Nou is hy weg.

Dit was ’n voorreg om nou en dan by John en Gail in te loer.

In hierdie video vertel John self oor die projek.

Lees ook:

https://www.litnet.co.za/fotos-atkv-woordveertjies-2016

https://www.litnet.co.za/word-n-boekfluisteraar

Teks en fotografie: Izak de Vries

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top