Huldeblyk aan Andries Gideon van Aarde (25 April 1951 – 25 November 2024)

  • 6
’n Teologiese perspektief [1] op sy reis van geloof, geregtigheid en inklusiwiteit.

Meegevoel

Die afsterwe van Andries Gideon van Aarde op Maandag 25 November 2024 is ’n groot verlies vir die kerk en die akademiese gemeenskap, binne sowel as buite as Suid-Afrika.

Andries het sy lewe gewy aan die nastreef van ’n teologiese verstaan en die bevordering van sosiale geregtigheid. Sy bydraes het ’n onuitwisbare merk op die veld van die teologie gelaat en het talle mense geïnspireer om krities oor hul geloof en die implikasies daarvan vir die samelewing na te dink.

Die akademiese gemeenskap betuig diep meegevoel aan Andries se familie, vriende en kollegas. Sy onwrikbare toewyding aan Christus se leerstellings en sy toewyding aan radikale inklusiwiteit en geregtigheid het elkeen wat sy lewe en werk geken het, diep geraak. 

HTS Teologiese Studies / Theological Studies

Andries word onder meer vereer vir sy onskatbare bydrae tot die ontwikkeling en uitbouing van HTS Teologiese Studies / Theological Studies. As hoofredakteur van 1985 tot 2023 het hy hierdie joernaal ontwikkel tot die voorste wetenskaplike joernaal in godsdiens en verwante literatuur in die ganse Afrika. Dit is een van net drie megajoernale van die geesteswetenskappe wêreldwyd (publikasies van meer as 500 artikels in ’n driejaarsiklus). Sy leiding in die oorgang van ’n gedrukte joernaal na ’n aanlyn platform ongeveer tien jare gelede het die leserstal en impak daarvan in vandag se syfers waarskynlik duisendvoudig verhoog. Hy het ook ’n aandeel gehad in die ontwikkeling van baie ander joernale in Suid-Afrika om hierdie selfde roete te volg en het ’n reuse bydrae gelewer tot AOSIS Uitgewers wat vandag die grootste aantal ooptoegang publikasies in Suid-Afrika uitgee. Volgens AOSIS se webblad, is 12,8 miljoen artikels van die HTS die afgelope ses jaar afgelaai.

Verlede jaar het die HTS 264 portuurgeëvalueerde artikels gepubliseer, die hoogste syfer van enige soortgelyke joernaal in Afrika (die tweede hoogste is 88); die HTS se impakindeks is ’n indrukwekkende 24 (die tweede hoogste is 13); en dit het in 2023 598 sitasies behaal (die tweede hoogste is 129). (Kyk hiervoor Scimago Journal & Country Rank.)

Akademiese prestasies

Andries van Aarde se akademiese reis is niks minder as merkwaardig nie. Hy het drie doktorsgrade (DD, DLitt, PhD), asook ’n meestersgraad in Semitiese tale, met onderskeiding behaal. Sy loopbaan het by die Universiteit van Pretoria begin na ’n kort periode in die bediening (1975–1980). In die akademie het hy deur die verskeie akademiese stappe gegaan, van lektor tot senior lektor, medeprofessor, professor en departementshoof. Van sy aftrede tot sy afsterwe was Andries professor en navorsingsgenoot by die Universiteit van Pretoria se Sentrum vir die Bevordering van Navorsing asook by die Durban University of Technology.

Sy publikasierekord is indrukwekkend: minstens agt monografieë, 50 boekhoofstukke, 250 tydskrifartikels, en redaksionele bydraes tot talle boeke. Andries se bydraes is wêreldwyd erken, met uitnodigings om as ’n besoekende professor in verskeie kontinente op te tree, insluitend by gesogte universiteite in Europa, Israel, die VK en die VSA. ResearchGate dui ’n lesertal van 69 614 van sy publikasies aan en ’n h-indeks van 15. Sy akademiese vaardigheid en toewyding het hom ’n plek onder die mees gerespekteerde teoloë van sy tyd besorg.

Andries het verskeie internasionale toekennings ontvang, waaronder die volgende van Suid-Afrika is: vyf keer benoem as uitnemende akademiese presteerder deur die Universiteit van Pretoria; ontvanger van die HCM Fourie-prys in 2007 vir prestasie in Bybels-Reformatoriese Teologie; die Pieter van Drimmelen-medalje in 2008 van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur in die veld van godsdiens; die ATKV-SA Akademieprys in 2011 vir twee van sy Afrikaanse artikels wat in 2008 in die uitgawes 64/1 en 64/4 van die HTS verskyn het; die Andrew Murray–Desmond Tutu-prys in 2022 wat ten doel het om uitnemendheid en gehalte in die Christelike mediawêreld aan te moedig.

Verder was Andries ook ’n lid van verskeie gesogte professionele verenigings, insluitend die Society of Biblical Literature, die Nuwe Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika, en die Jesus Seminar van die Westar Institute.

Hierdie erkennings beklemtoon die globale impak van sy werk en die respek wat hy in die akademiese gemeenskap geniet. Sy bydraes het teologiese diepgang en betrokkenheid gedien en ’n beter begrip van die kompleksiteite en nuanses van teologie bevorder.

Teologiese bydrae

Andries se belangrikste bydrae in die teologie kan in drie hoofgebiede verdeel word: Jesus-studies en die sosiale konteks van Vroeë Christendom, Matteus-studies en hermeneutiek. Sy benadering tot teologie word gekenmerk deur ’n diep begrip van tekste deur die perspektiewe van hul oorspronklike outeurs, hedendaagse luisteraars/lesers en moderne lesers te vertolk. Hierdie metode vereis ’n geïntegreerde insig, aangesien hy poog om die innerlike dimensies en sielkundige waarde van elke stelling te verstaan.

In sy Jesus-studies ondersoek Andries die historiese en sosiale konteks van Jesus se lewe en leerstellings. Hy delf in die etiese implikasies van Jesus se boodskap en hoe dit die maatskaplike norms van sy tyd uitgedaag het. Sy werk op hierdie gebied het waardevolle insigte verskaf oor die transformerende krag van Jesus se leer en die relevansie daarvan in die hedendaagse samelewing.

Matteus-studies is ’n ander belangrike gebied van Andries se werk. Hy ondersoek die Evangelie van Matteus deur ’n kritiese lens en verken die teologiese temas en historiese konteks daarvan. Sy navorsing het lig gewerp op Matteus se unieke perspektiewe en hoe dit bydra tot ons begrip van die Vroeë Christendom.

Hermeneutiek, die studie van die vertolking van tekste, is ’n sentrale tema in Andries se werk. Hy beklemtoon die belangrikheid daarvan om die historiese en kulturele konteks van Bybelse tekste te interpreteer ten einde hulle betekenis ten volle te begryp en diensbaar vir die teologie te maak. Sy benadering van ’n hermeneutiek van suspisie is uitdagend en vernuwend en bied opwindende perspektiewe deur omsigtig met godsdienstekste om te gaan.

Radikale inklusiwiteit en sosiale teologie

Vir byna 30 jaar is Andries se gedagtes soos in sy talle publikasies weerspieël, gekenmerk deur kontroversie in sekere kringe in Suid-Afrika. Sommige het sy “sosiale teologie” en begrip van die Bybel as onortodoks en selfs ketters beskou. In sy monografie Fatherless in Galilee: Jesus as Child of God (2001) ondersoek hy hoe vaderloosheid die lewe en bediening van Jesus beïnvloed het. Die boek voeg ’n nuwe dimensie by die studie van die historiese Jesus en demonstreer oortuigend dat vaderloosheid fundamenteel was in Jesus se bediening.

Andries het altyd volgehou dat hy nie van die kern van ortodoksie afwyk nie. Sy kritiese teologie is ook oop om ryklik te put uit nie-Bybelse getuienis en onkonvensionele oortuigings. Hy kritiseer Afrikaner-nasionalisme, manlike dominansie, kerklike institusionele mag, homofobie, die onderwaardering van kinders, rassisme en ’n etniese selfbehoud met die gepaardgaande afsydigheid teenoor ekumene.

Andries se toewyding aan radikale inklusiwiteit is ’n deurslaggewende kenmerk van sy werk. Hy glo aan die Evangelieboodskap se eis van inklusiwiteit en geregtigheid en het sy loopbaan gewy aan die bevordering van hierdie waardes. Sy kritiek op maatskaplike en kerklike strukture wat uitsluiting en diskriminasie voortsit het hom gevolglik kontroversieel gemaak. Dit het hom egter ook respek en bewondering besorg by diegene wat sy visie van ’n meer inklusiewe en regverdige samelewing gedeel het.

Sy benadering tot teologie beklemtoon die belangrikheid daarvan om sosiale kwessies vanuit ’n teologiese perspektief aan te spreek. Hy argumenteer dat teologie nie tot abstrakte konsepte beperk moet wees nie, maar betrokke moet raak by die werklike probleme wat mense se lewens beïnvloed. Sy benadering tot sosiale eksegese is prakties en transformerend en bied ’n visie van geloof wat diep betrokke is by die wêreld vandag en verbind is tot sosiale geregtigheid.

Wysheid, geregtigheid en genade

Cambridge Scholars Publishing (CSP) het Andries versoek om in boekformaat aan te toon hoe sy lewensverhaal sy sienings oor God, Jesus en die Bybel beïnvloed het. Hierdie geleentheid het gelei tot die publikasie van twee omvattende volumes met die oorkoepelende titel Jesus, Paul and Matthew. Hy self bestempel hierdie twee volumes as die meesterwerk van sy akademiese loopbaan.

Hierdie volumes begin met ’n beskrywing van die diversiteit en pluraliteit van die Vroeë Christendom. Andries argumenteer dat die Koninkryk van God die etiese appèl is wat deur die historiese Jesus gemaak is, en op verskillende maniere verder ontwikkel is deur Paulus en Matteus.

Die eerste volume, Discontinuity in content, continuity in substance, fokus op Jesus se etiese leerstellings en hoe Paulus en Matteus dit geïnterpreteer het. Andries argumenteer dat hoewel daar verskille is in hoe hulle Jesus se boodskap verstaan en verwoord het, daar ’n fundamentele kontinuïteit is in hulle klem op die etiese implikasies van die Koninkryk van God.

Die tweede volume, To and from Jerusalem, ondersoek die geografiese en simboliese betekenis van Jerusalem in die ontwikkeling van vroeë Christelike denke. Andries toon aan hoe die stad Jerusalem as ’n fokuspunt gedien het vir die teologiese besinnings van Jesus, Paulus en Matteus.

In die slothoofstuk van hierdie volume bied Andries ’n outoëtnografiese besinning wat hy as sý pad van Pretoria na Emmaus, via Jerusalem, bestempel. Hy delf in die persoonlike en geestelike reis van sy vormingsjare en bied ’n diep persoonlike en besinnende weergawe van sy ontnugtering in Afrikaner-nasionalisme en die verguising wat hy in die kerk ondergaan het.

Andries se besinnings beklemtoon verder die uitdagings wat hy in sy loopbaan in die gesig gestaar het. Sy toewyding aan radikale inklusiwiteit en sosiale geregtigheid het hom dikwels in konflik met gevestigde instellings en maatskaplike norme gebring. Hy het kritiek en teenkanting in die gesig gestaar, maar het standvastig in sy oortuigings gebly. Sy reis is ’n getuienis van die krag van geloof en die eis om getrou te bly aan sy oortuigings, selfs in die aangesig van teenspoed. Ten spyte van ernstige kerklike aanvalle en selfs georkestreerde pogings tot ekskommunikasie en verskeie dissiplinêre verhore deur die amptelike organe van die kerk, het hy enduit lojaal en in solidariteit met die kerk gebly.

Ek wil die drievoudige heliks, ontleen aan die genetika, as metafoor gebruik om die betrokke zeitgeist te beskryf. Hierdie metafoor druk vir my die verweefdheid van drie besonder invloedryke teoloë van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) uit, te wete Albert Geyser, James-Alfred Loader en Andries van Aarde. Elkeen van hierdie teoloë het unieke perspektiewe en insigte na vore gebring, inderdaad verweef soos die drie stringe van ’n drievoudige heliks. Saam verteenwoordig hulle ’n dinamiese verhouding wat die teologiese diskoers beduidend in die NHKA gevorm het. Hulle afsonderlike en gesamentlike bydraes vorm ’n samehangende en transformerende visie van geloof, geregtigheid en inklusiwiteit. Hierdie benadering is waarskynlik die eiesoortige karakter van wat Hervormde teologie behoort te wees, soos aanvanklik bedink deur voorstanders van die Etiese Teologie in Nederland in die 19de eeu. Waarheid moet ’n ontmoetingsgebeure wees.

Impak en nalatenskap

Andries van Aarde het ’n diepgaande impak op teologie en die breër godsdienstige gemeenskap nasionaal en internasionaal gemaak. Sy werk het konvensionele denke uitgedaag en nuwe weë vir teologiese besinning en betrokkenheid geopen. Sy toewyding aan radikale inklusiwiteit en sosiale geregtigheid het ’n nuwe generasie teoloë en godsdienstige leiers geïnspireer om krities na te dink oor die rol van geloof in die aanpak van sosiale kwessies.

Andries se teologie is dus diep verweef met sy etiek van ’n navolging van Jesus. Hy beliggaam die liefde van Christus in sy uitreiking na gemarginaliseerde gemeenskappe en sy sorg vir diegene aan die rand van die samelewing. Sy betrokkenheid by onder andere die NHKA se To care-aksie etlike jare lank toon ook sy erns om sy oortuigings ook uit te leef. Sy ondersteuning aan die Maranatha Reformed Church of Christ (MRCC) is ’n verdere getuienis van sy onselfsugtige, Jesus-vormige uitreiking na en ondersteuning van ander.

Johan Buitendag (regs) oorhandig op 5 April 2017 ’n oorkonde van waardering aan Andries van Aarde vir sy bydrae tot die “Oopmaak van die hekke”. Van Aarde was een van 10 alumni van die fakulteit wat instrumenteel daartoe was. (Foto: EYEscape)

Andries se invloed strek duidelik verder as net persoonlike teologiese besinning. Hy het die denke en loopbane van talle akademici en ander individue, binne en buite die kerk, help vorm. Die Fakulteit Teologie en Godsdiens aan die Universiteit van Pretoria het Andries gevolglik tydens sy Eeufees in 2017 vereer as een van die tien invloedrykste teoloë van die fakulteit gedurende die afgelope 100 jaar. Hy het ’n deurslaggewende rol gespeel in die “Oopmaak van die hekke” van die Fakulteit (die leuse van die Eeufeesvieringe). Moltmann – wat tydens die Eeufees ’n eredoktorsgraad van die fakulteit ontvang het – het ook later in ’n boek hierna verwys as die “Gateway-teologie” van Pretoria. Moltmann skryf ook in ’n ander boek weer dat Jesus buite die mure van Jerusalem gekruisig is omdat dit presies sê vir wie Hy gekruisig is: juis vir diegene daarbuite.

Andries en sy vrou, Esther, het ’n klompie maande gelede na ’n aftree-oord verhuis. Weliswaar verrassend hang daar prominent teen die een muur in sy studeerkamer ’n geraamde foto van waar hy en Moltmann saam verskyn. My afleiding was dat Andries homself toenemend geassosieer het met die teologiese aksente van Moltmann se insluitende, ekumeniese en ekologiese kontoere.

Die akademiese en kerklike gemeenskap rou oor die verlies van ’n briljante teoloog, kollega en mentor.

Andries se nalatenskap sal voortleef om toekomstige geslagte teoloë en gelowiges te bly inspireer en rig.

Eindnota

1 Hierdie huldeblyk is voorgehou tydens die gedenkdiens van Andries van Aarde op 6 Desember 2024 in Pretoria-Oos Gemeente van die NHKA met die uitdruklike versoek dat dit ’n teologiese waardering as uitgangspunt moet hê; ’n ander kollega sal die kerklike waardering doen. Andries was egter ’n geïntegreerde persoon, en sy akademie en geloof was nie twee afsonderlike sake nie. Hy het sy teologie in die kerk en vir die kerk bedryf. Oorvleueling is gevolglik onvermydelik.

Lees ook:

Andries van Aarde se geestelike reis na iewers: Bybelgesag, spiritualiteite en politiekerye

  • 6

Kommentaar

  • Louise Geyser

    Andries van Aarde sal onthou word as 'n kontroversiële teoloog - 'n gewete in die teologiese gemeenskap. Iemand wat die kerklike strukture, wat uitsluiting en diskriminasie voortgesit het, ontbloot en fel gekritiseer het. Hy het die prys daarvoor betaal en het dikwels onwelkom in sy eie Kerk gevoel. Nogtans het hy tot die einde van sy lewe getrou aan die NHKA gebly en 'n teologie bly beoefen wat verweef was met sy onwrikbare navolging van Jesus Christus. Sy dankdiens op 6 Desember 2024, teleurstellend karig bygewoon, was 'n gepaste afsluiting van sy werksoorlaaide 73 jaar op aarde in diens van Sy Heer. Hierdie teologiese waardering van Johan Buitendag, wat op Hannes van der Merwe se treffende preek en liturgie gevolg het, bied waardevolle perspektiewe op Andries se akademiese reis, navorsing, publikasie-erfenis en toekennings wat hy ontvang het. Dit dwing elke leser om met kritiese denke oor sy/haar geloof na te dink en wat dit van jou vereis om 'n navolger van Jesus Christus te wees? Dankie Johan dat jy met hierdie diepsinnige huldiging daartoe bygedra het dat ons Andries met die alles-insluitende liefde van Jesus Christus kon groet?

  • Johan Koekemoer

    Andries van Aarde se prestasies in teologiese navorsing word in die huldeblyk uitnemend vemeld. Sy werkywer, liefde vir die kerk en teologiese navorsing, word deeglik behandel. Andries se nalatenskap sal steeds lewendige debat uitlok en die gesrek bly vir die teologie en die kerk; steeds van lewensbelang.

  • Johan Buitendag

    Dankie, Louise, vir jou bydrae! Andries en jou oorlede man (Piet Geyser) was boesemvriende en geesgenote. Jy het hierdie pad enduit saamgeloop as die vroulike lid van die Emmausgangers.
    (Moltmann se Christologie dra die titel, "Der Weg Jesu Christi", en dit verwoord vir my hierdie pad.)

  • Magdie van Heerden

    Baie dankie Johan. Ek het altyd gewonder, eintlik 'bekommer', wie kan, as Andries die dag sterf, saamvat wat hy vir die wêreld, vir SA, my en soveel ander gewone mense beteken het? En jy het dit uitnemend reggekry. Baíe dankie. Andries sal altyd my morele kompas wees.

  • Dankie vir 'n besondere huldeblyk vir 'n besonderse, unieke mens met wie ek vir 'n kort tydjie 'n intens persoonlike paadjie gestap het. Jou plasing van Andries in die Hervormde teologiese driemanskap met Geyser en Loader is so raak soos kan kom. Dit bly een van die groot tragedies van ons klein deeltjie van die kerk oor die afgelope 70 jaar dat ons hierdie teologiese erfenis vir 'n pot ideologiese lensiesop verruil het.
    Terug by Andries: terwyl ek sy huldigingsdiens nie bygewoon het nie, dink ek vanmôre met waardering aan 'n Man van die Woord.

  • Die groot waterskeidingsmomente van die lewe is die dood en die begrafnis, die liminaliteitsgebeure waar die unieke kan gegun word om die essensie van dit wat performatief agtergelaat word, uit te druk. Andries het 'n hand in sy eie begrafnis gehad en kon sy hart en intensie daarmee uitdruk. Besonder roerend is die byna naïewe vashou aan geloof en kernaspekte van 'n Christelike geloof, een wat getuig van 'n diepe spiritualiteit. Dit is merkwaardig dat Andries van Aarde nooit uit die kerk bedank het nie, maar tot die einde krities-lojaal gebly het, ten spyte van. Dit getuig, alles in ag genome, van iemand met 'n diep Christelike spiritualiteit. Die liedere in die erediens, die Skriflesing en die getuienisse wat gereflekteer het op sy lewe, was roerend. Ook hierdie skrywe is spesiaal en laat mens mens se eie betekeniskonstruksie uitdaag, soos in beide Derrida en Ricoeur se sin van die woord dit bedoel, in die sin van uitstel van betekenis en toelaat dat nuwe indrukke jou kan vorm soos dit van buite na jou kom in jou proses van interaksie. Mens moet, om reg te laat geskied aan mense, ook altyd oop bly om jou betekenisraamwerk aan te pas…

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top