Huis+Hou+Ding-uitstalling: ’n onderhoud met Anna Verloren van Themaat en Alet Viljoen

  • 0

............

“Ander mense se idee van perfeksie en skoonheid word op ons afgedwing en ons moet dit aanvaar sonder om vrae te vra. Daar word van ons verwag om in hierdie boksie te pas om aanvaar te word. Ons lewe voel soos ’n mislukking as ons nie voldoen aan die wêreld se idee van skoonheid nie.”

............

In hul uitstalling Huis+Hou+Ding kyk Anna Verloren van Themaat en Alet Viljoen na die moderne verbruikerskultuur wat ons beskouings binnesypel tot in ons privaatwonings, daar waar mense geneig is om die minste krities te wil wees, of dinge meer gelate aanvaar. Cliffordene Norton gesels met hulle oor dié uitstalling wat tot einde Maart 2020 by die Robert Sherwood Design-lokaal te sien is.

Anna Verloren van Themaat en Alet Viljoen

Wat het die uitstalling se tema geïnspireer?

Ons deel ’n gemeenskaplike geskiedenis as wit, Afrikaanse vrouens gebore in dieselfde era in Suid-Afrika, dus was die temakeuse spontaan en vanselfsprekend vir ons.

Waarom het julle besluit om op ’n intieme ruimte soos ’n huis te fokus?

Die huis is ’n simbool van onsself (identiteit en denke), die vertrekke verteenwoordig sekere temas van vrouwees, en in die vertrekke is objekte of karakters wat simbolies is van ons gevoelens of benaderings tot die temas.

“Met ‘Sluierdans’ wou ek Huis+Hou+Ding se spirituele tema ondersoek. Deur algemene huishoudelike objekte op ander maniere te gebruik, verander die betekenis van die objekte. Roomyslepeltjes word ’n kroon, en badpropkettings ’n sluier. Die kroon en sluier is ’n mengsel van Westerse godsdiens en Afrika-ritualistiese ikonografie, ” vertel Anna. (Foto: verskaf)

Huis+Hou+Ding is ’n fotokunsuitstalling. Waarom het julle besluit om hierdie medium te gebruik in plaas daarvan om die vollengte-beeldwerke uit te stal?

Deur fotografie as medium te gebruik kan mens ’n geheelbeeld (konteks) en atmosfeer skep. Beligting, stilering en komposisie dra by tot storievertelling. Wanneer objekte in afsondering geplaas word, het dit nie die konteks wat ons wou oordra nie. Daar is meer lae en kleiner besonderhede (nuanses) wat in die foto’s vasgevang word.

Gaste kuier buite die Robert Sherwood Design-lokaal.

Die uitstalling bestaan byna volledig uit turkoois skakerings. Het hierdie kleur ’n spesifieke betekenis?

Ja, beslis. Dit is ’n kleur wat algemeen gebruik word in kliniese, psigologiese en mediese instellings. Dit spreek tot die kliniese benadering van die Afrikaner tot emosionele onderwerpe. Die kleur was ook hoogmode in die tyd toe ons kinders was. Dis ’n kleur wat ons sterk met huishouding assosieer.

Hoe het die uitstalling by die Robert Sherwood-galery tot stand gekom? 

Ons ken Robert en Alberto al ’n paar jaar. Van ons vorige werk wat deur ander fotograwe geskiet is, is al deur hulle uitgestal. So daar was alreeds ’n verhouding. Ons het die werk met hulle gedeel en hulle het belanggestel om dit as geheel uit te stal. Dit is ’n ongewone vennootskap, maar een wat ons dink reg is vir ons en die werk.

Die uitstalling is tot einde Maart 2020 by die Robert Sherwood Design-lokaal te sien.

Julle noem in ’n persverklaring dat die uitstalling geheimsinnig is. Moet die kyker dus vir julle as kunstenaars uitvang deur die geheim te ontrafel? Of wil julle hê elke kyker moet sy of haar eie betekenis rondom die werke skep? Of is ’n kombinasie van die twee verkieslik?

Dit is onmoontlik om vir iemand te sê hoe hulle moet voel of dink oor ’n ding. Hoe hulle dit ervaar word bepaal deur hulle eie geskiedenis. Die kyker kan vra wat dit vir ons persoonlik beteken, maar is welkom om hulle eie idees oor die werk te hê.

Vertel asseblief meer oor die inspirasie agter van julle gunstelingkunwerk.

Alet: “Leuenstoel” is my gunsteling, want dit dien op ’n manier as selfportret. Daar word van jongs af vir ons onrealistiese ideale voorgeskryf van wie ons “veronderstel” is om te wees as mens. Van hoe om te lyk, tot waarin om te glo en alles tussenin.

Ander mense se idee van perfeksie en skoonheid word op ons afgedwing en ons moet dit aanvaar sonder om vrae te vra. Daar word van ons verwag om in hierdie boksie te pas om aanvaar te word. Ons lewe voel soos ’n mislukking as ons nie voldoen aan die wêreld se idee van skoonheid nie.

“Leuenstoel” is by die Robert Sherwood Design-lokaal te sien.

“Leuenstoel” is die vertolking van die onmoontlike standaarde wat die wêreld stel om in te pas en die konstante worsteling om hierdie onrealistiese vereistes na te kom. Die lewensverwagtinge is onhaalbaar, want dit waarna ons streef is nie die realiteit nie. Ons is mens en ons imperfeksies maak ons individue al is dit hoe moeilik om te aanvaar. Daar is ook ’n direkte verhouding tussen die vervaardigingsproses en die tema.

Anna: Dis moeilik om een tema of onderwerp vas te pen op een spesifieke werk, aangesien al die werke gelaai is met simboliek. As ek moet kies sou ek sê “Partjiegees” is na aan my hart. Van die uitdagende vervaardigingsproses tot die simboliek agter die materiaal self, het dit gerealiseer as iets wat ek sterk mee identifiseer. Dit het baie toewyding gevat. Geestelike en fisieke pyn veroorsaak deur aanhoudend linte te ryg en knope te maak.

“Partjiegees” (Foto: verskaf)

“Partjiegees” handel onder andere oor die druk om voor te gee. Daar word deesdae baie klem gelê op “’n goeie tyd”; ek vind mens se verwagtinge en ervarings van situasies stem nie ooreen nie. Ek dink dis omdat ons sosiaal deur mediakanale konstant aan ander mense se “goeie tye” blootgestel word – dit is natuurlik onrealisties en nie waar nie. Die geskenklint waaruit “Partjiegees” gemaak is, het self ’n dowwe en blink kant, nes elk van ons. Dit was vir my ook interessant dat die kostuum self ’n mismoedige liggaamshouding uit die model gelok het, en nie een van blydskap nie. “Partjiegees” verteenwoordig die las van “’n goeie tyd” – alle tyd is goed en waardevol.

Anna en Alet se uitstalling kyk na die wisselwerking en vervreemding tussen mens en die omgewing.

  • Foto’s: Cliffordene Norton, tensy anders aangedui
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top