Hoop ten spyte van

  • 20

Bettina Wyngaard

’n Week gelede het ek op Tafelberg gestaan.

Dis uitsig is iets ongeloofliks. See en berg met ’n arendsuitsig oor die stad self en Robbeneiland in die verte. Dis maklik om net die mooi te sien en te vergeet van die woelinge wat op die grond aangaan. Dis maklik om tussen toeriste te staan wat vertel van hul “safari” waarop hulle die middag gaan. Weliswaar net na Aquila, maar hul opgewondenheid steek aan. Dit help om die bekende deur ander se oë te ervaar. Maak nie saak hoe mooi of wonderlik enigiets is nie, word genoeg daaraan blootgestel en mens raak dit gewoond. Toe ek in die Kaap gebly het, het ek die eerste twee weke elke dag op my woonstel se balkon gesit en my vergaap aan die berg. Binne ’n maand het ek dit nie meer raakgesien nie. Dis daar. Dit was gister daar; dit sal môre weer daar wees.

Noudat ek op die platteland bly, probeer ek minstens een keer ’n jaar opgaan. Ek doen dit om myself te herinner aan alles wat mooi is in ons land. Waar anders kan mens binne die bestek van een dag berg, see, wingerde, wildsplase en wêreldgehalte restaurante besoek?

Dan kom daar die stormsterkte-winde, en die donderweer wat die elektrisiteit uitslaan. Tafelberg word gesluit. Geen kabelkarre gaan op nie, en klimmers word gewaarsku dat hulle eerder tuis moet bly. Video’s van die Kaapse Dokter wat motorfietse omwaai doen die rondes op sosiale media.

Dan word mens herinner aan Eskom se onvermoë om die basiese te doen. Ons was vir omtrent 22 uur sonder elektrisiteit. Dis ongerieflik, maar dis nie so erg nie. Eskom se foutaanmeldingsdiens kon nie die klagtevolumes hanteer nie. Ons het later maar moed opgegee en vertrou dat iemand sal agterkom ’n hele dorp is sonder krag. Tien minute nadat die kragtoevoer herstel is, kry ons ’n SMS van Eskom dat hulle bewus is van die fout en dit sal probeer herstel.

Intussen kry ons boodskappe dat die watertoevoer na die dorp onder druk is, dat daar pompe gebreek het, en dat ons water spaarsamig moet gebruik.

’n Dief word op heterdaad betrap in ’n gebied waar misdaad hoogty vier, en keelvol inwoners kap sy hand af. Twee vriende raak in ’n stryery oor dwelms betrokke, en steek mekaar met messe. Al twee sterf later aan hul wonde. Elke dag stroom groepe jong mans na een van die drie plaaslike skrootwerwe om hul gesteelde goed te verkwansel. ’n Persoon wat onder die invloed bestuur, ry vier mense om. Neem die polisie hom in hegtenis? Nee wat, dit was vier bergies wat omgery was. Niks ernstigs nie.

Die polisie besluit om ’n lasbrief uit te reik om ’n bepaalde eiendom te deursoek. Binne ure nadat dit besluit was, en voor die lasbrief uitgereik kan word, is daar intense aktiwiteit by die eiendom. Goed toegedraai in komberse word haastig weggery.

Hoe het die skelms geweet wat besluit is in ’n vergadering waar net polisiebeamptes teenwoordig was?

Wegholbrande woed vir dae, en die geluid van helikopters wat water aandra, raak deel van die daaglikse agtergrondmusiek. Die eerste stakings van 2020 begin, en die kanse dat die N2 gaan sluit, word by die oomblik groter.

En die stilte van die politieke leiers dawer.

Hierdie is ’n kykie in die lewe van een plattelandse dorp in die Overberg. Daar is niks merkwaardigs of spesiaal aan die dorp nie. Dis bloot waar ek bly. Daar is honderde soortgelyke dorpe in die land. In elkeen speel tonele soos hierdie af. In elke afsonderlike geval is dit seker nie so erg nie, maar die kumulatiewe effek is skrikwekkend.

Dan word dit moeilik om te onthou hoekom ons land wonderlik is. Die oorweldigende gevoel is dat ons op die rand van ’n afgrond staan. Dis net ’n kwessie van tyd voordat ons tuimel. Korrupsie, misdadigheid, inkompetentheid. Die trifekta van ons alledaagse realiteit in die meeste dorpe.

En die regering, op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak, lyk nie of hulle die mas opkom nie.

Maar dan hoor mens fantastiese verhale van gewone dorpenaars wat skouer aan die wiel sit en self iets doen. Hulle het besluit hulle wag nie meer vir die politieke leiers om iets te doen nie, hulle doen dit self. Hier word slaggate reggemaak. Daar word ’n gemeenskapstuin aangeplant om honger aan te spreek. Op ’n ander plek begin gewone mense in hul skole programme om die kinders te help met maatskaplike probleme. Elders begin mense met ’n projek om hul dorp op te ruim en te verfraai.

Dink net, as elkeen wat ’n misdaad sien plaasvind, iets doen, sal misdadigers vinnig besef hulle moet ophou. Hulle maak staat op ons stilswyende medewerking.

As elkeen wat ’n stukkie rommel sien, dit optel en in ’n drom gooi, sal ons dorpe skoon wees. Nog beter, as elkeen kies om in die eerste plek nie rommel te strooi nie, sal ons dorpe skoon wees. As die gemeenskap saamstaan en protesteer by al die huise waar dwelms en drank onwettig verkoop word, sal die verkope vinnig ophou. As ouers ophou om hul kinders se skelmstreke weg te steek en goed te praat, gaan oneerlikheidsmisdade skerp afneem.

Ons moet ophou kyk na die regering om enigiets te doen. Dis gewone mense wat die verskil maak. Elkeen, maak nie saak hoeveel invloed jy het nie, kan ’n verskil maak. Die kumulatiewe effek van mense wat positiewe bydraes in hul onmiddellike omgewing maak, kan ’n hele dorp verander.

Dis wat my hier in 2020 hoop gee. Gewone mense, elkeen besig om net sy of haar stukkie aarde reg te trek. Saam.

  • 20

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Ongelukkig dring hierdie besef nie deur tot die meeste inwoners van die land nie.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Mens moet in hoop leef ongeag. Dit skep energie, motiveer, inspireer en laat jou dinge doen. Doen jy dit nie, hou jy op 'leef' en 'kwyn weg'. Die gaan dus oor keuses vir my en jou, vir ons almal. 'n Goeie begin is om te doen waarvan jy hou en jou laat goed voel. Dis die die vlammetjie vir 'n lewenslont wat meerdere aksies aktiveer. Dis goeie raad Bettina.

  • Nee, ons moenie ophou kyk na die regering om iets te doen nie; ons moet aanhou kyk na die regering om iets te doen want ons betaal hulle.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Jan Rap die regering het bykans inmekaar getuimel in Suid-Afrika, veral op die vlak van plaaslike regering. Dat mense nog die munisipaliteite enigsins betaal verbaas my. Jy is natuurlik reg dat die regering tot verantwoording geroep moet word. Net dat Suid-Afrika nie 'n normale demokrasie is nie. Daar is reeds baie inisiatiewe waar mense self beheer neem oor hulle lot. Dink maar aan Orania. Dink aan alles wat Afriforum doen in hulle plaaslike takke. Die regering sal nooit al daai werk gedoen kry nie. Die nasionale regering wil natuurlik so veel as moontlik mag sentraliseer maar die burgery moet dit teestaan.

  • Barend van der Merwe dis nie dat Suid-Afrika nie 'n normale demokrasie is nie; Suid-Afrika is GLAD NIE 'n demokrasie nie. Wat Oriania betref, hulle herstel nie infrastruktuur wat deur die regering verwoes is nie, hulle het 'n enklave daargestel waar die tariewe wat hulle betaal tot hulle eie heil aangewend word. Hulle het gevlug van korrupsie.

  • Die kern van die probleem is dat mi 95% van raadslede wat gekies is op regeringsvlakke geen benul het van hoe om die regeringsinstansie waarvoor hul gekies is te bestuur nie.
    Hulle word gewoonweg gelei deur amptenare waarvan baie in poste beland het agv hul verbintenis met die regerende party.En dit is niks vreemd nie want dieselfde het maar onder die vorige regering gebeur,waarin baie gevalle lidmaatskap van die regerende part en kerkverband,asook vriendskap met mense in hoë posisies 'n bepalende rol by aanstellings gespeel het.
    So gebeur dit dan ook dat voor die ANC aanbewind gekom het en dorpe saamgevoeg is amptenare gebombardeer is met omsendbriewe waarin klem gelê is om potensiaal van mense.Dit was amper so erg soos die onderwysdepartement wat onderwysers toegegooi het onder omsendbriewe van hoe dit nou eintlik gedoen moet word.
    Jy sien die amptenare van die distrik ens het gereken dat jy jou werk gedoen het as jy 'n klompie nuwe idees versamel het in 'n omsendbrief daaroor uitgestuur het.
    En waar het die goed beland ,in laaie en kartondose en het onderwysers met jarelange ondervinding aangegaan met onderwysmetodes wat hul weet wat werk.So sit 'n hoof wat nou erens 'n doktor of so iets is aanf ‘n universiteit,in my vrou se klas -wat engels eerste taal vir matrieks gegee het en hope onderskeidings in die vak behaal het.Sy was een van die 3% onderwysers wat prestasiebonusse landwyd ontvang het.
    Na die klas verby is en daar gewag word vir die volgende groep maak hy die volgende opmerking.'Mevrou as ek maar net by jou kon klas gekry toe ek op skool was dan het ek nie so gesukkel nie'.
    Van die kinders is nou oor die wêreld versprei, bly in ander land,beklee top posisies in hul onderskeie beroepe en bedank haar nog steeds op Facebook vir die standaard onderrig wat hul in engels by haar gekry het.
    Maar op plaaslike vlak het dit anders gewerk.So ontmoet ek mnr X watek jare gelede in 1974 leer ken het as 'n klerk in 'n swart woongebied waar ek ook gewerk het.
    Ons is redelik opgewonde om mekaar weer te sien. Hy vertel my dat hy baie uitsien om in die nuwe groter munisipaliteit te werk.Hy is aangestel as die direkteur van 'n nuwe departement wat veral gemeenskapsake sal bestuur.Hy ry ‘n splinternuwe Mercedes Benz wat hy met ‘pensioengeld’ onttrek uit sy vorige fonds gekoop het.Jy sien sy nuwe pensioenfonds is soveel beter.Geen gedagte daaraan dat die ontrekte fondse eintlik oorgeplaas moes gewees het.
    Sy aanstelling het beteken dat alle kontrakte ,soos behuisingskemas ens nou vanaf die betrokke departemente na die nuwe departement verskuif sal word.Dit sluit in kontrakte wat gefinansieër word deur subsidies van die destydse Streeksdiensteraad.
    Vergaderings word gehou en word amptenare ingelig oor die prosedures wat veral insluit hoe om nuwe projekte aan die streeksdiensteraad voor te lê vir finansiering .

    Ses weke verloop en toe kry my Departementshoof 'n oproep van 'n omgekrapte Stadsklerk wat 'n oproep van die Direkteur van die Streeksdiensteraad gekry het,wat hom meegedeel het dat die spertyd vir die indiening en voorlegging van finansiële bystand van huidige projekte en nuwe projekte verstryk het.
    Dit blyk toe dat daar in die nuwe Departement niemand was wat die donkiewerk kon of wou doen nie.Haastig word daar toe 'n nuwe aanstelling as adjunk gemaak en word 'n persoon van die Departement Administrasie vinnig bevorder.
    En toe begin die hele leerproses van vooraf.Of dit op die uiteinde suksesvol was weet ek nie,want baie van ons het ons hande vol gehad om bv batelyste van verskillende kleiner munisipaliteite in te lyf by die bateregister van die 'moeder munispialiteit.'
    Dit is toe dat ek agter kom dat onder leiding van my 'vriend' daar 'n heel vernuftige proses was om kontantvloei probleme op te los. Jy hou eenvoudig formele en in formele veilings en verkoop die raad se roerende bates,ongeag die ongerief wat die betrokke departement moet verduur.
    So is daar 38 voertuie insluitende die burgermeestersvoertuig wat nie opgespoor kan word nie.Maar in die gees van versoening word die afgeskryf tydens 'n spesiale vergadering.
    Dit was een van die vergaderings waarop die 'Comrades' soos honger wolwe op die kostafels toegesak het met borde en sakke vol weggestap het en later sou ek hoor dat die vergadering waarop elke departement 'n 'power point' voorlegging moes om die werking van die departement toe te lig,op niks uitgeloop het nie.

    Die leier van die 'Comrades' het besluit hy het genoeg van die 'clowns' van die sirkus gehad en net met die baas van die sirkus, nl die Stadsklerk wou vergader. Wat hy eintlik wou geweet het 'hoeveel geld daarin die skatkis was'.Jy sien van sy raadgewers het hom ingelig dat munsipaiteite altyd ‘poverty’ sou ‘plead’.
    En so liewe leser kry jy ‘n kykie na agter die skerms en hoef nie te wonder hoekom Suid Afrika lyk soos dit vandag is.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Jan Rap die punt is dat die mense van Orania self beheer geneem het en nie vir die regering sit en wag nie. Ek het geen hoop dat die munisipaliteite gaan verbeter nie. Inteendeel dink ek dit sal vererger. Wie binne die georganiseerde politieke bestel gaan die situasie omdraai? Die DA?

    Ek stem nie saam dat Suid-Afrika glad nie demokraties is nie. Daar is 'n parlement so konsultasie word gedoen. Daar is verkiessings. Hoe vry en regverdig die verkiessings is die weet ek nie, maar die punt is die kiesstelsel is ten minste in teorie nog in teorie daar. Dan is daar 'n onafhanklike regbank en ook 'n onafhanklike media. Die demokrasie is egter abnormaal omdat die regerende party nie tot verantwoording geroep word deur die kiessers nie.

    Die opposisie is ook lomp en ongeorganiseerd en help nie veel om die regering tot verantwoording te roep nie.

  • Barend van der Merwe om te sê die mense van Orania het ‘nie vir die regering gewag nie’ is eintlik ‘n irrelevante stelling want die implikasie is die regering sou en of ander tyd in die toekoms vir ‘n klomp Afrikaners ‘n wit dorp of gebied gee en dit is natuurlik absurd. Dit is juis vanweë die jag op die Afrikaner en Afrikaans waarom Orania gestig is.
    ‘n Parlement en vierkiesings verteenwoordig ‘n demokrasie net so min as wat ‘n stuurwiel en vier wiele kan deurgaan vir ‘n motorkar. Buitendien, hoe onafhanklik dink jy is die regbank? Die media is beslis nie onafhanklik nie; enigiets wat die polities-liberale denke net effens kritiseer word afgemaak as ‘gekkergrens regs’ en gesensor.
    Jy’s reg wat die DA betref dat hulle niks kan ‘omdraai’ nie. Trouens, dit is die DA, gebaar deur die PFP, wat die wegdraai bewerkstellig het. Ons sit nou in ‘n bestel waarvoor Colin Eglin, Zach de Beer, Van Zyl Slabbert en Helen Zille hard gewerk het; ‘n gemors.

  • Dankie Bettina dat jy ook 'n nuwe blaadjie omgeslaan het deur in te sien dit is nodig om die regering te kritiseer. Jou nuwe rigting is verfrissend. Kom ons beweeg aan en vergeet jou vorige rasse tirades. Jou artikel klink egter soos die ou soustannies smiddae op die nasionale Afrikaanse radiostasie van die SAUK. Hulle wil alewig oor hulle eie voete val om rommel op te tel, water aan te ry en bossies uit te trek. En sien, dis ok om 'n regering soos ons s'n te hê. Die ou soustannies wil almal laat verstaan dat dit ok is, betaal hulle en gaan doen dan self die werk. Basta daarmee. Laat die dorpe vergaan. En hou op om belasting te betaal. Hoe minder mens belasting betaal hoe minder gee jy om hoe dit vermors word.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Ek is bly om te lees in Barend van der Merwe se kommentaar, dat hy Orania as voorbeeld van selfbestuur sien. Dis 'n BAIE duur model van selfbestuur, maar onthou dat Orania Dorpsraad net 'n openbare organisasie van die aandeelhoudingmaatskappy, wat ’n openbare maatskappy is - dis nie vir winsbejag nie. Ek het 'n mondvol geskryf.

    Die 2 munisipaliteite rondom Orania is tekenend van swak bestuur, waar die regering se toelae die grootste ekonomiese inspuiting is in groeiende plakkerskampe en rommel.

    Selfbestuur is nie maklik nie, eerder harde werk en hoë inflasie.

    Tog is hier staatsklinieke en baie SASSA-pensioenarisse. Grondpaaie is ook vol klippe en stowwerig. Dis darem nie heeltemal 'n misdaadvrye dorpie nie, maar baie min in vergelyking met naburige dorpies met polisiestasies.
    Ek persoonlik weet dat ontwikkeling slegs die afgelope twee jaar redelike spoed gevang het. Tog is grond baie duur en klipperig.

    Nêrens is daar Utopia nie, maar die grootste bedreiging saans is hordes insekte en stof wat warm wind waai. Die grootste bedreiging is altyd die faksies, met uiteenlopende opinies en sienings. 2000 wit Afrikaners en 20 kerke?

    Wat bind, is die taal en die Christelike kultuur.

    In diverse gemeenskappe van baie politieke partye, tale en gelowe, gaan selfbestuur knetter. My beskeie opinie.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Jan Rap dit lyk my jy het jou eie definisie van demokrasie dus. Demokrasie gaan oor konsultasie en gesamentlike besluitneming, iets wat na my mening wel gebeur in Suid-Afrika. 'n Diktatorskap skaf die parlement af soos die Nazi's gemaak het. Natuurlik word minderhede ongelukkig oordonder in 'n demokrasie. Dit is hoekom demokrasie nie die perfekte sisteem is nie. Die perfekte sisteem bestaan ongelukkig nog nie. En sal waarskynlik nooit. Ek beskou Orania ook steeds dieselfde ten spyte van jou kommentaar.

  • Barend van der Merwe, 'n demokrasie is wel 'n (byna) perfekte sisteem. Die feit dat jy sê "natuurlik word minderhede oordonder in 'n demokrasie" dan praat jy van 'n sisteem wat per definisie nie 'n demokrasie kan wees nie; daar is geen minderhede in 'n demokrasie nie.

    Ons was op pad na seker so iets soos 'n federasie - 'n klomp demokrasieë (of demokrasietjies as jy wil) wat glad sou funksioneer onder allerlei samewerkingsooreenkomste ... of so iets. Beter, in elk geval, as wat die storie nou werk. Ons is geklassifiseer as rommel en die land word geplunder, iets wat nie in 'n demokrasie sou kon gebeur nie.

  • Ek probeer positief te leef en om met positiewe mense om te gaan. Ek kry myself gereeld in gesprekke waar mense kla). Ek kry dit gewoonlik reg dat die persone hulle vir my wip. Ek vra net vir wie het julle gestem. Wat my verbaas is niemand het vir die ANC gestem nie. Jy moenie kla as jy vir die regime/bende gestem het nie. Afrika se politiek is baie eenvoudig. Die westerse model is te ingewikkeld. Almal weet wat die probleem is, maar niemand wil dit reg maak nie. Dit is net dat daar onbekwame, onbevoegde, ongeletterde onkapabele mense in posisies sit wat nie daar hoort nie. Die regime/bende dink ek begin dit besef, hulle is skaam kwaad en hartseer hulle kan vet mooi nokkol daaraan doen nie. Die "regering" het 'n funksionele staat op 'n skinkbord gekry. Om die minste te sê hulle het opgefok. Ek probeer dit nog sagkins stel. Jy kannie 'n bakkie roomyse en 'n bakkie stront meng en sê dit is roomys nie. Maar hier kom 'n ding. Eskom gaan val. Wie gaan Eskom oorneem. In die Mirrel Cyril se swaer en die se bende, Jefff Radebe en kie. Hou die spasie dop. Tikkel tokkel hulle voel f....l

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Die idee dat SA 'n demokrasie is is 'n mite. Demokrasie is veel meer as universele stemreg en 'n parlement wat wette maak. (Die wette moet burgers gelyk behandel en minderhede beskerm.) Demokrasie vereis ook dat die uitvoerende gesag - op elke vlak - bekwaam en eerlik moet wees, en dat die regbank onpartydig moet wees. Het ons dit?

    Vra maar net.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Ek beskou dit as 'n ongewone demokrasie. Een waar die uitvoerende gesag en die regerende party nie juis tot verantwoording geroep word nie.

    Ja mens wonder nogals hoekom die mensdom daai jare nie 'n federasie gekies het nie. Dalk omdat hulle te veel van die grond sou moes afstaan?

  • Avatar
    Hans Richardt

    Jan Rap, selfbestuur is komplekse monster met baie klein trappies op pad na doelwit/te.
    Akademia in Pretoria is ook selfbestuur.
    Daar is wesenlike verskil tussen selfbestuur en selfbeskikking. Selfbestuur beskryf eie instellings, eie kapitaal en selfwerksaamheid. Selfbeskikking is 'n staatkundige begrip en ideaal.
    Selfbestuur is makliker haalbaar. Selfbeskikking, soos wat Catalonia wou hê of Donbass, is veel moeiliker proses.
    Selfbestuur kan vele funksies van plaaslike regering doen, as kollektief, as individue dit onderskryf en is doel van bv Solidariteit met Ankerdorpe vir wit Afrikaners as groeiende minderheid in SA.
    Tog sal jou gemiddelde liberaal onmiddelik apartheid en rassis skreeu, omdat oglokrasie van meerderheid nie deel nie. Die idee van Selfbestuur is dat jy net voordeel kry, as jy bydra en betrokke is.
    Daar is groepie gestig in 2019, iets soos "I am staying"! Gaan hul selfbestuur doen in hul gemeenskappe of die staat en plaaslike regering, deur hul verkies, blameer vir swak dienslewering?
    Kom ons meet 2 modelle teen mekaar vir sukses aan einde van 2020?

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Demokrasie, soos die juriestelsel, kan net werk in 'n homogene opset.

    Die mens is maar doodeenvoudig nie in staat om die wêreld en die mensdom om hom anders as deur 'n subjekiewe, eie-groep, eie-kleur, eie-geloof bril te aanskou nie.

  • Barend,
    Afsonderlike ontwikkeling sou kon lei tot iets soos 'n federasie maar deur die media is almal (wel, 70% van die kiesers) dat afsonderlike ontwikkeling 'apartheid' is en dis 'n onding en, in weerwil van die 'dom regses' se waarskuwing, is PFP-beleid toe aanvaar wat toe natuurlik neergekom het op 'n swart regering (een man een stem).
    Nóú, in hierdie nuwe bedeling, verloor veral die bogenoemde 70% hul grond - dié wat nie reeds oorsee gevlug het nie loop die gevaar om hul grond en/of eiendom SONDER vergoeding te verloor.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Jan Rap, selfbestuur is komplekse proses oppad na selfbeskikking vs Staatsbeskikking. Wat die politieke korrekte media dink en skryf, is nie tasbare realiteit meer nie. Die media bevorder nog die nuwe beleid van geforseerde etniese almalgamasie. Dit is juis hierdie beleid wat selfbeskikking vs Staatsbeskikking lewensvatbaar gemaak het, as realiteit in SA.
    Selfbestuur as proses in selfbeskikking, moenie nie gesien word as sesessie nie.
    Mense sukkel met begrippe.
    Selfbestuur as proses in selfbeskikking is ook erken in die Menseregte konvensie van Afrika Unie, asook in Internasionale reg. SA het hierdie AU menseregte konvensie geratifiseer. Tyd dat politieke korrekte media hul self ophoogte kry met internasionale konvensies, reg en regspraak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top