
Stella Tembisa Ndabeni Abrahams (Wikimedia Commons)
Ek is gekant teen ’n polisiestaat. Ek is gekant teen ’n polisiestaat. Ek is gekant teen ’n polisiestaat.
Ek is gekant daarteen dat regte en vryhede waarvoor ons hard geveg het, sonder meer weggeneem word. Ek is bekommerd dat die weermag en polisie gewapend met vuurwapens in strate rondloop en met geweld, sonder enige due process, mense aanjaag om huis toe te gaan, of hulle selfs arresteer. Daar is alreeds ’n ondersoek aan die gang nadat ’n Kaapstadse man gesterf het minute nadat hy deur die polisie met ’n skokstok aangerand was. Berigte dat lede van die publiek met rubberkoeëls geskiet word as aansporing om uit die strate te bly, kom daagliks voor.
Het die mense geweld gebruik, of was hulle andersins ’n onmiddellike bedreiging vir die polisie of ander mense? Is elke persoon ondervra om seker te wees hulle is nie vir ’n wettige rede op straat nie? Nee en nee. Ek weet van een geval waar ’n jong vrou binne haar eie erf was, besig om haar baba se klere op die wasgoedlyn te hang, en sy deur die polisie uitgevloek is omdat sy nie in haar huis bly nie.
Reg aan die begin van die lockdown het ’n persoon wat al vantevore iets soortgelyks deurgemaak het, ’n lys met advies deurgestuur. Een wat my bygebly het, was die volgende: "Vermy enigeen in ’n uniform sover as wat jy kan. In sulke omstandighede soos wat ons nou binnegaan, is daar altyd ’n paar wat op ’n power trip gaan en hul nuutgevonde mag misbruik."
Natuurlik is dit nie almal nie. Daar is polisiebeamptes wat met die grootste respek optree en hulpvaardig is. Daar is egter ook die ander, en hulle word aangespoor deur Bheki Cele se retoriek van kragdadigheid. Die lollery is mens weet nooit met watter een jy te doen het voor jy nie in die situasie is nie, en dan is dit te laat.
Boonop het ons te doen met ’n situasie waar die regulasies gereeld verander word, en kommunikasie oor wat die nuutste moets en moenies is, word nie goed deurgegee aan die publiek nie. Daar is dus egte onsekerheid en verwarring oor wat toelaatbaar is, en wat nie. Ek vermoed die polisie weet meer as een dag self nie of hulle wettig optree wanneer hulle mense toesluit nie.
Die een beginsel wat egter reg van die begin onveranderd gebly het in hierdie lockdown, is dat ’n oor-en-weer-gekuier en sosiale samesyn nie mag gebeur nie. Of jy nou in ’n shack in Khayelitsha met tien ander persone ingesardyn sit, en of jy in ’n multimiljoenrandpaleis bly, jy gaan nie onthaal nie.
Vir die meeste van ons wat die wet probeer gehoorsaam en nie juis yslike paleise bewoon nie, bring die lockdown verskillende grade van ongerief mee. Hoe armer, hoe meer ongerief. Terselfdertyd is die armste gebiede ook die gebiede waar die weermag en polisie met die grootste kragdadigheid optree. Gaan hulle rubberkoeëls in Bishops Court of Sandton skiet? Natuurlik nie, netnou tref hulle ’n ANC-hoëkop.
Die gevaar van die regulasies wat nou ingestel is, is dat dit potensieel van gewone, wetsgehoorsame landsburgers kriminele maak. Op ’n stadium kon koerante verkoop word, maar nie tydskrifte nie. Huisgenoot was nou contraband. Sover ek weet, mag supermarkte wat in elk geval oop is, nou weer tydskrifte verkoop. Sover ek weet. Die regulasies het alreeds die afgelope week drie keer verander (nie hieroor nie, maar oor ander goed).
Gister spreek ’n vriendin op Facebook haar simpatie teenoor Stella Ndabeni-Abrahams uit. Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, is deur die President op "spesiale verlof" geplaas vir twee maande en een maand daarvan sal onbetaald wees. "Spesiale verlof" is skynbaar Newspeak vir "skorsing". Haar oortreding? Ek is nie heeltemal seker nie. Sy het twee goed gedoen. Sy het die regulasies oortree deur by vriende van haar te gaan eet. Dololo social distancing. Dololo maskers en handskoene. Die tweede, en skynbaar meer ernstige oortreding uit regeringsoogpunt, is dat sy toegelaat het dat foto’s daarvan geneem en op sosiale media gepos word, wat heel voorspelbaar tot woede van die publiek gelei het.
Was die President korrek in sy optrede? Ek dink nie so nie. Ten eerste is daar geen rede hoekom hy nie albei maande onbetaalde verlof kon maak nie. Boonop is daar ander byvoordele wat ministers ontvang waaroor hy swyg. Dus moet ons aanneem haar ander voordele gaan voort. Ten tweede: As sy in die moeilikste tyd van hierdie pandemie in elk geval nie werk nie, hoekom haar dan nie heeltemal van haar pligte onthef nie? Haar afdank, met ander woorde. Dit sal nie meer van ’n versteuring van die staatsrespons tot die pandemie veroorsaak as om haar twee maande te skors nie.
Vergelyk dit met die respons van Nieu-Seeland se Jacinda Ardern toe haar minister van gesondheid saam met sy gesin op ’n strand gaan piekniek het. Sy het dit baie duidelik gestel dat sy hom sou afdank indien sy portefeulje nie so belangrik was nie. Sy het dit onomwonde gestel dat sy optrede onaanvaarbaar was. Ons president se grootste kommer was oor die "optics" van die ete.
Ek is van mening dat Ndabeni-Abrahams formeel aangekla moet word, soos sovele ander Suid-Afrikaners wat met hul hond gaan stap het, of gaan swem het, en steeds sosiale afstand gehandhaaf het. Sy moet gestraf word, soos sovele ander Suid-Afrikaners wat bitter graag sosiale afstand wil handhaaf en nie kan nie, omdat hulle histories en huidig benadeel word.
Sy word een maand se salaris betaal terwyl sy op haar alie sit en niks doen nie. Hoeveel mense het hul werk verloor en word glad nie betaal nie vanweë die regulasies? Hoeveel mense gaan honger ly omdat hulle wetsgehoorsame burgers is en wegbly van hul werke af?
As sy nie krimineel aangekla word nie, moet al die klagtes teen al die ander Suid-Afrikaners teruggetrek word. Of anders moet almal toegelaat word om maar te gaan kuier en sosialiseer. Moenie verwag dat die publiek tevrede gaan wees met ’n moontlike verlenging van die lockdown as almal nie oor dieselfde kam geskeer word nie.
As sy nie krimineel aangekla word nie, dan het ons amptelik ’n polisiestaat geword. Een waar die elite skotvry afkom daarvan om openlik die reëls te oortree, terwyl gewone mense kragdadig geforseer word om te gehoorsaam. Dis nie ’n toedrag van sake wat lank geduld sal word nie. Honger en dors en frustrasie sal mense na die strate dryf.
Dit kan anargie veroorsaak. En daarom, juis daarom, behoort daar van die Minister ’n voorbeeld gemaak te word. Om haar te beskerm kan al die voorsorgmaatreëls om ’n pandemie te voorkom, in die wiele ry.


Kommentaar
Presies, gebruik een standaard. Waarom swyg die DA soos die graf hieroor? Wat sê min Cele, waarom versuim sy polisiedept hulle plig, waarom is die oortreder nog nie gearresteer nie? Dubbele standaarde? Een wet vir die gepeupel en 'n ander vir die regering? Mnr Ramaphosa?
Bettina, jy verwoord nou presies wat ek voel.
Dit lyk weer of die President net so ’n ou halfhartige veeg na ’n ongehoorsame kind swaai. Green erns of beginsels word gerespekteer nie. Green duidelik uitspraak word gemaak nie. Hy minag sy regstelsel ook deur haar self te tug en nie die regverdigheid van sy regstelsel te vertrou nie. Kry ’n ruggraat Mr. President!