
...
Liefde is nie soos sjokoladekoek wat minder word soos ’n mens die stukke uitdeel nie.
...
Ek is lief daarvoor om op my Facebook Memories te kliek - jy weet, daai herinnering van iets wat jy verlede jaar, tydens Covid of in 2007 op hierdie datum geplaas het. Die afgelope week is daar baie van hierdie herinneringe wat met liefde te doen het. Een van my gunsteling-memes van 2020 verkondig ewe droog, swart op wit sonder versierings: “Normalise telling your friends you love them. Tell them a lot. Make it weird.” Hierdie tipe stellings maak die weirdo in my gelukkig.
Hoe wys jy liefde? En hoe wil jy liefgehê word?
Ek en my suster, ’n opvoedkundige sielkundige van beroep, gesels oor high expressed emotion (verhoogde uitdrukking van emosie) in gesinne, spesifiek ons gesin tydens ons grootwordjare. Ek is van die opinie dat in ons gesin emosie nie gereeld uitgedruk is nie – ons was dus volgens my nie ’n high expressed emotion gesin nie. “Nie?!” roep sy verontwaardig uit. Sy dink ons is juis ’n high expressed emotion gesin, en sy herinner my aan my ma, een broer en ander suster se skouspelagtige rusies. O, ja, ek het so ’n bietjie van daai vergeet. Waaraan ek gedink het, is dat ons bittermin vir mekaar gesê het: “Ek is lief vir jou.” Ons is drukkiesmense en soenmense en geskenkiesmense en gunsiesmense. Om een of ander rede nie ek-is-lief-vir-jou-mense nie.
’n Terapeutvriendin vertel my, toe ek oor bogenoemde kla, van Gary Chapman se boek The Five Love Languages: How to Express Heartfelt Commitment to Your Mate wat reeds in 1992 vir die eerste keer uitgegee is. Chapman verduidelik dat elkeen van ons ons liefde anders aan ons naastes kommunikeer. Lewensmaats het dikwels nie dieselfde “taal” waarin hulle hulle liefde deel nie, en dan voel hulle nie gesien of gehoor nie. Chapman het die volgende vyf “tale” geïdentifiseer: woorde van versekering (affirmation), kwaliteittyd, geskenke, gunsies en fisiese aanraking. (Gaan doen gerus die aanlyn vraelys om uit te vind wat joune is. Stuur sommer jou lewensmaat ook daarheen vir beter begrip.) My top-liefdestaal is kwaliteittyd. My eggenoot s’n is gunsies. Ons beide se tweede hoogste een is fisiese aanraking. Dit is vir my heerlik om ná werk ’n koppie koffie saam op die bank te geniet. Selfs al is dit in stilte. Vir my eggenoot beteken elke oggend se koffie in die bed weer ontsaglik baie.
Liefde is oorvloedig (vir die meeste mense)
As ek sê ek het liefdeloos grootgeword, vertel ek die grootste leuen van my lewe. As enkelouer was my ma beide dissiplineerder én vertrooster, en my vier ouer sibbe het elkeen gehelp om hierdie laatlam groot te kry. Hiervoor is ek baie dankbaar. Daar beweeg daagliks hordes kinders deur my klas wat nie hierdie ervaring deel nie. Soos Donovan* wat in die eerste kwartaal by my tafel kom staan en saggies sê dat sy vorm nie geteken is nie omdat sy pa die vorige aand te dronk was om dit te teken. Ek het hard moes sluk om my pose te hou. In my binneste het my hart erg aan die bloei gegaan.
My eggenoot kom op ’n dag tevore met hierdie wonderlike lewenswysheid: Liefde is nie soos sjokoladekoek wat minder word soos ’n mens die stukke uitdeel nie. Daar is ook ’n Sweedse gesegde wat lui: Gedeelde hartseer is verdeelde hartseer; gedeelde vreugde is vermenigvuldigde vreugde. Ek vermoed dit werk so met liefde ook.
Begin by jouself
My terapeutvriendin leer my dat jy nie kan gee wat jy nie het nie. Hoe kan jy liefde vir ander gee as jy niks daarvan vir jouself het nie? Sit eers die suurstofmasker op jou eie gesig voordat jy ander probeer help (as ek myself mag plagieer). Terwyl ek reeds begin skryf het aan hierdie meningstuk, kom ek toevallig op ’n gedig van Andrea Gibson af. Andrea is ’n digter van Maine in die VSA wat tans in Boulder, Colorado woon. Die gedig is getiteld “Diagnosis” en uit die bundel Lord of the Butterflies:
I suffer
from unrequited selflove.
I love myself, but I don’t
love myself
back.
Steek op jou hand as jy dieselfde probleem het. My hand is reeds op.
Hê onvoorwaardelik lief
Terug by Facebook. Oor die naweek plaas ’n lang verlore vriend, nou in Kanada, die volgende CS Lewis-aanhaling: “Love is never wasted, for its value does not rest upon reciprocity.” Dis nogal ’n baie Boeddhistiese stelling vir so ’n diep gelowige Christen soos Lewis. Ek dink Lewis was dalk ’n beter mens as ek. Ek sukkel daagliks om die ego stil te kry. Met ego bedoel ek nie my selfbeeld nie, maar daai klein stemmetjie in my agterkop wat aanhoudend vir my jok oor dinge en situasies. Dit sal tipies my ego wees wat vir my vertel dat die waarde van my liefde gemeet word aan hoe dit ontvang word; geheel teenoorgesteld as Lewis se aanhaling.
My oupa was professor in Godsdiens- en Sendingwetenskap, die studie van die wêreld se verskillende gelowe. Ek wens ek het meer gesprekke met hom daaroor gevoer toe hy nog geleef het. Een ding wat ek wel geleer het, is dat deur al die hoofstroom-gelowe van die wêreld een goue draad loop. Dit is die konsep van ander behandel soos jy self behandel wil word. Selfs die Wiccans verkondig: Doen eerstens geen leed, en daarna wat jy wil. ’n Gunstelingaanhaling wat gereeld op Facebook verskyn, is Gandhi wat sê: “Wees die verskil wat jy in die wêreld wil sien.”
Ek dwaal af.
Maak konneksies
Ek is van die opinie dat enige geskil met liefde en empatie opgelos kan word. ’n Ruk terug voer ek ’n gesprek met my skool se hoofmeisie van daai jaar oor rassisme en die sogenaamde “ander”. Sy meen dat ’n mens met die “ander” op persoonlike vlak moet konnekteer. En sy verduidelik toe verder, aan al die grootmense teenwoordig, dat die vinnigste en maklikste manier om ’n brug tussen daai twee harte te bou, is om ’n punt van empatie te vind. Hoe waar is dit nie? Terloops, een van my voorgraadse dosente verduidelik die verskil tussen simpatie en empatie sό: Simpatie is wanneer ’n vriend of iemand onder in ’n gat sit en huil en jy staan bo en gooi tissues af ondertoe; empatie is wanneer jy ’n leer gaan haal, afklim ondertoe en saam met daai een sit en huil.
Hoekom skryf ek oor liefde?
Uiteindelik kom ek uit by die Facebook-herinnering waaroor ek eintlik wou skryf.
Laas week duik een van 2014 op. My inskrywing lees:
Liewe vriende, vanaand wil ek julle herinner om julle geliefdes te waardeer en naby te hou, want in ’n oogwink kan dinge onherroeplik verander. Niemand weet wanneer die dood hom of haar (of jou) sal kom haal nie.
Soms kan ek nie onthou wat de hel ek bedoel het met die kriptiese inskrywings nie. Maar hierdie een onthou ek presies. Dis geplaas ’n dag nadat ’n goeie vriend verongeluk het. Sy jong eggenoot en hul weekoue babadogtertjie het alleen agtergebly. Ek sluit destyds daardie inskrywing af met Breyten Breytenbach se bekende gedig “26 November 1975” (uit Ysterkoei-blues):
Mag die bome groen bly
en die sterre wit,
en mag daar altyd mense wees
wat mekaar sonder skaamte
in die oë kan kyk –
want die lewe is ’n asem lank
en die sterre op die Anderplek donker
Ek doen ’n vinnige Google-soektog om te probeer agterkom wat Breytenbach die gedig laat skryf het. Ek kom af op ’n kort artikel, in die New York Times nogal, gedateer 26 November 1975. Die kop van die artikel lees “Afrikaans writer given nine years”. Breytenbach is op 26 November 1975 gevonnis vir sy werksaamhede teen die apartheidregering. Ek het hernude respek vir die man. En weer eens dink ek hy ook is ’n beter mens as ek. Alombekend as ’n aanhanger van die Zen Boeddhisme, skryf hy hierdie gedig op dieselfde dag dat hy vir nege jaar tronk toe gestuur is, waarin hy sy hoop vir die behoud van die mooi dinge in die lewe, insluitend naasteliefde, uitspreek (my interpretasie). Wow!
My raad aan die kinders wat na my toe kom en wil weet hoe hulle ’n maat kan ondersteun, is om net te luister. Luister om te verstaan en nie om te antwoord nie. As ’n mens luister om te verstaan, gebeur dit outomaties dat ’n gevoel van empatie ontstaan. En ’n hart-tot-hart-konneksie vorm sonder vreeslike harde werk.
Niemand van ons leef in afsondering nie. Simon & Garfunkel sing hieroor in “I Am a Rock”. Ook Koos du Plessis sing tong in die kies hieroor in een van my persoonlike gunstelingliedjies “Skielik is jy vry” (vanaf sy album Skadu’s teen die muur). Die spreker in die lied spreek sy behoefte aan vryheid uit, maar helaas is dit nie moontlik nie, want mense het mekaar nodig en steun op mekaar. Dit is juis deur my diep konneksie met ander mense dat my lewe betekenis kry.
My wens vir my medemens is om konneksies te maak. Wees skaamteloos lief. Maak dit weird. “Want die lewe is ’n asem lank en die sterre op die Anderplek donker”…
*skuilnaam van minderjarige
- Five Love Languages-webwerf met aanlyn vraelys: https://5lovelanguages.com/
- Die NY Times-artikel oor Breyten Breytenbach: https://www.nytimes.com/1975/11/27/archives/afrikaans-writer-given-nine-years.html

