Hoe ver is eendag? deur Dina Botha: ’n resensie

  • 0

Titel: Hoe ver is eendag?
Skrywer: Dina Botha

ISBN: 9781779871626
Uitgewer: Romanza

Enya Joubert en haar twee susters, Krista en Yana, bedryf ’n dating-agentskap, genaamd Belladonna. Lesers het reeds in Hoe lank is vir altyd? hulle verlustig in Krista se ontluikende romanse met die skatryk aanlyn finansiële makelaar en waagkapitalis Andreas Meyer, nadat dié dringend getroud moes kom of hy verbeur sy erfporsie. Lees my resensie daaroor hier. In Hoe ver is eendag? kom Enya se mooi liefdesverhaal aan die beurt. Ek het heel lekker daaraan gelees. Dit bevat al die heerlikhede wat lesers van ’n Dina Botha-romanse kan verwag.

Dina skryf al vir langer as ’n dekade liefdesverhale en het ’n hele rits titels op haar kerfstok. Onlangse titels uit haar pen is Die perfekte meisie (2025), Jy is my hartklop (2025) en Liefste Kersvader (2025). Volgens haar biografie het sy sedert haar skooldae boeke van onder meer Ena Murray, Elmar Steyn en ander romanseskrywers verslind. Dit het haar geïnspireer om self die pen op te neem en stories met hart te skryf.

Ek het reeds net nou die dag onthou hoe ek as hoërskoolleerder vakansietye boeke van Susanna M Lingua, Ettie Bierman, Dricky Beukes en ander geniet het en ook sulke mooi stories soos hulle wou skryf. Ek wonder hoeveel skrywers besef dat hulle stories ander inspireer om ook hulle hand aan storieskryf te waag. Is dit dan nie juis omdat jy die magiese aantrekkingskrag en emosionele genoegdoening van ’n goeie storie ervaar het, dat jy wens jy kan dieselfde ervaring aan ander gee nie?

In Hoe ver is eendag? neem Enya waar as bestuurder in haar suster Krista se plek, terwyl dié op wittebrood is. Die volgende oomblik stap ’n woedende man, ene Keenan Luyt, haar kantoor binne en dreig Belladonna met reperkussies nadat sy kleinsus Imke liederlik bedrieg is deur ’n man wat sy op hulle afspraaktoepassing ontmoet het en nou depressiewe gedrag toon.

Enya wys hom daarop dat hy geen voet het om op te staan nie. Sy suster het hulle vrywaringsklousule geteken. Hy dring egter daarop aan dat sy in persoon aan Imke gaan verduidelik dat daar sadistiese mans is wat sulke dinge aan onskuldige, naïewe meisies doen. Enya stem in, nie omdat Belladonna – wat ’n onkreukbare reputasie het – enigsins aandadig is nie, maar omdat ’n man haar sus Yana in die verlede ook sleg behandel het.

Die storie skop op ’n boeiende wyse af. Emosies en gemoedere loop hoog en die leser is dadelik nuuskierig oor hoe die situasie ontlont gaan word. Ek het in Enya ’n tipe karakter gevind waarmee lesers maklik sal identifiseer. Haar gedagtegang is lewendig en interessant en haar optrede word goed gemotiveer. Sy laat nie oor haar loop nie en staan haar man, maar terselfdertyd het sy ’n sagte hart en ’n mooi manier waarop sy met mense omgaan. Sy is heerlik méns en boonop grappig ook.

Enya se plan is eenvoudig: “Ek gesels met die sussie, verduidelik dat daar baie wolwe daar buite is en kry haar só uit haar skynbare put van depressie” (24). H’m, famous last words, soos die Engelsman sou sê. Die voorgenome praatjie met Imke gebeur glad nie soos beplan nie. En voor Enya haar kom kry, word sy gestoomroller om langer op Keenan se ouma se gasteplaas in KwaZulu-Natal te vertoef en hom boonop in Imke se plek met ’n belangrike funksie te help.

Ek het Enya se innerlike dialoog geniet. Hier is ’n voorbeeld:

Nou gaan sy bly wonder hoe sy soen sou geproe het. Want ’n soen kan nogal baie omtrent ’n man verklap. Daar is dié wat net gryp en soen, en dan is daar ander wat ’n soen lank en heerlik kan uitrek, sonder om die spreekwoordelike kasteel te bestorm en te probeer oorwin. Nou gaan sy nooit weet nie, sy het eiehandig haar eie kans opgeskroef. (103)

Maar ek moet ongelukkig erken dat ek baie stadig opgewarm het teenoor die manlike hoofkarakter. Keenan Luyt kom aanvanklik net té koud, bombasties, dreigend, manipulerend en onbeskof voor. Ek het as leser geen emosionele verbintenis met hom gevoel nie. Dit het my gepla, want ek sou vroeër in die storie al wou begin hoop dat die held en heldin verlief sal raak. Keenan begin eers ’n paar hoofstukke in ontdooi. Dit is tóé eers dat ek kon agterkom dat hy eintlik wonderlike kwaliteite het en selfs kwesbaar is. Daarna het ek sommer baie lekker gelees en die liefdesspel tussen die karakters begin geniet. Ouma Lenie oortuig as newekarakter en speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die storie. Imke bly ietwat van ’n enigma tot heelwat later in die boek.

Hier en daar is Engelse woorde in die teks verweef, maar ek het dit nie steurend gevind nie. Die woord dampkring word ’n paar keer in die plek van persoonlike ruimte gebruik, byvoorbeeld: “Die feit dat hy haar dampkring so onverwags binnegedring het, betrap haar totaal onkant” (102). Ek het elke keer by die woord vasgesteek en gewonder of dit die beste keuse was. Dit kon net nie vir my die regte prentjie in my verbeelding optower nie.

Hoe ver is eendag? hou as subtema die euwel van aanlyn swendelaars, valse identiteite, catfishing en ghosting aan die leser voor. Dit word uitstekend in die storielyn verweef en ek het ná afloop van die boek gevoel dat ek meer ingelig is oor hierdie tipe misdrywe en hoe om daarvoor lig te loop.

Dina Botha kán skryf. Haar lesers sal nie teleurgesteld wees nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top