
Titel: Hoe lank is vir altyd?
Skrywer: Dina Botha
ISBN: 9781779871497
Uitgewer: Romanza
Voorin elke Romanza-boek is daar ’n motiveringslys met redes waarom vroue graag romanse lees. Een van hierdie redes is: “Romanselesers is die mees belese lesers in die wêreld. Hulle is sterk, intelligente en kreatiewe vroue wat presies weet wat hulle wil hê.” Hiermee stem ek heelhartig saam.
Die sogenaamde leessnobs wat hulle neuse optrek vir liefdesverhale, weet duidelik nie wat hulle mis nie ... Maar ek vermoed hulle lees skelm. Hedendaagse romanses is uitstekend geskryf met knap verhaallyne en interessante karakters. Skrywers toets ook die grense van die genre, en só kan jy baie maklik begin dink jy lees ’n spanningsverhaal met heerlike romantiese ondertone.
Ek het pas die multi-bekroonde Dina Botha se jongste Romanza, getiteld Hoe lank is vir altyd?, gelees en baie geniet. Dit is haas ondenkbaar om ’n boekpakkie van Lapa af te ontvang sonder dat daar ’n Dina Botha-romanse by is. Sy het die kuns van romanseskryf vervolmaak en het ’n groot aanhang lesers deur die jare opgebou.
In Hoe lank is vir altyd? ontmoet die leser vir Krista Joubert, ’n gekwalifiseerde onderwyseres wat saam met haar twee susters, Enya en Yana, ’n dating-agentskap genaamd Belladonna op ’n professionele en morele wyse bedryf. Hulle gebruik ’n hoogs gevorderde en verfynde algoritme om die perfekte pasmaats vir hulle kliënte te vind. Daar is absoluut niks bedenkliks aan wat hulle doen nie. “Ons bou ons besigheid op eerlikheid, deursigtigheid en integriteit” (9).
Maar dan stap die aantreklike, skatryk Andreas Meyer Krista se kantoor binne met ’n ongewone versoek. Hy benodig dringend ’n vrou ... Een waarvan hy ná die huwelik net so vinnig sal kan skei sonder enige drama of eise wat aan hom gestel word. Krista is onkant gevang, want gewoonlik soek mense hul vir-ewig-maat. Niemand het nog ooit voorheen ’n geleentheidshuwelik bloot om sakeredes voorgestel nie. Haar reaksie: “Ek is nie so seker ons is die regte agentskap vir jou nie. Jy verwag ’n ... e ... tref-en-trap-situasie, terwyl ons meer op die lang termyn en volhoubaarheid fokus” (8).
Krista beloof om Andreas se ongewone situasie met haar vennote te bespreek en te kyk of hulle hom wel tegemoet kan kom. “Hy kan hulle maatskappy miskien ’n goeie finansiële hupstoot gee, maar sy voel in haar beenmurg hy bring ook moeilikheid. Dis nog net nie duidelik hoe nie” (10). Krista kry die groen lig om Andreas, ’n aanlyn finansiële makelaar en waagkapitalis, se versoek offisieel te maak. Hy moet binne agt weke getroud kom, anders verbeur hy ’n groot erfporsie. Die erflating sal syne wees, mits hy op sy agt-en-twintigste verjaarsdag ’n getroude man is. Sy pa, met wie hy nie ’n goeie verhouding ná sy ma se dood handhaaf nie, moet toesien dat die bepalinge van sy oupa se testament nagekom word.
Krista stel verskeie meisies aan Andreas voor. Dit is dames wat die algoritme spesiaal vir hom as perfekte pasmaats uitkies. Die afsprake verloop goed, maar daar vind nie opvolgafsprake plaas nie. Dis asof die meisies besef Andreas is nie regtig in hulle geïnteresseerd nie en dat hy terughoudend is. Krista stem ten einde raad in om saam met hom vir ’n naweek na ’n luukse wildsplaas te gaan sodat sy hom ’n bietjie touwys kan maak in hoe om te flankeer en die sjarme-krane oop te draai. Miskien sal dit help om vir hom ’n vrou te kry wat bereid sal wees om met hom ’n blitshuwelik aan te gaan.
Natuurlik hou nie Krista of Andreas rekening met die feit dat hulle aangetrokke tot mekaar raak nie. Krista voel egter dat sy nie by een van Belladonna se kliënte betrokke kan raak nie en bowendien het Andreas volgens haar heeltemal te veel bagasie. Dan kom Andreas met die voorstel dat Krista met hom trou. Dis reeds in hierdie heerlike tussenspel waarin die sukses van die verhaal lê, want die leser is nie vir een oomblik seker of Krista en Andreas hulle verskille sal kan oorbrug, en indien wel, hoe dit sal gebeur nie.
Ek het dit steurend gevind dat daar na die vroue met wie Andreas afsprake moet nakom as “meisies” verwys word. Daar is hier en daar Engelse woorde in die teks, meestal funksioneel. Tog het ek gefrons toe ek op bladsy 105 lees: “Ons moet alle aspekte explore.” Die woord explore is nie ’n woord wat ek dink Krista sou gebruik nie. En dít terwyl iemand weer op bladsy 166 fluister: “Sit die klankversterker [verwysend na die luidspreker op die foon] aan. Ons wil ook hoor.” In hierdie geval sou ek eerder reken die karakter sou die Engelse speaker gebruik het. Op bladsy 62 kort daar die woord van in ’n sin: “’n Man [van] Andreas se ouderdom [...].”
Oor die algemeen het ek die spitsvondige en intelligente gesprekke tussen Andreas en Krista baie geniet. Die storie is slim uitgedink en die karakters geloofwaardig. Daar vind veral opvallende karakterontwikkeling by Andreas plaas – ’n emosionele reis wat die leser laat sug van tevredenheid.
Lees gerus Dina Botha se Hoe lank is vir altyd? Dit is ’n heerlike storie.

