Hoe om soos ’n professor te polemiseer – ’n laaste wederwoord

  • 6

Professore het altoos die volle waarheid in pag en speel sonder uitsondering mooi volgens die verordende reëls. Vandaar hierdie les-in-die-kleine aan die hand van die redeneerkunde van professor Joan Hambidge – ’n laaste wederwoord op haar blog-essay “Jeremiade van ’n buiteleser – Repliek”.

1

Stuur jou argument met ’n argetipiese ad hominem-aanval van stapel maar ontken dan terstond, met die onskuld van Kobie van Maasdorp, dat jy die lyf eerder as die bal gespeel het. Keer byvoorbeeld vernuftig jou rug op ’n ander resensent se argument oor die eienskappe van ’n boek en doen aan die hand dat, aangesien hy, sê maar, ’n advokaat is, hy hom tog nie met boekresensies moet bemoei nie. Doen dit sommer in die beswaarskriffie se kop deur hom as skoenmaker te tipeer. Die ingeligte leser sal tog tjoetjaf jou sillogisme snap: hou jou by jou lees en hou terstond op om boekresensies te skrywe. Ék daarenteen, sal jy só suggereer, is geen skoenmaker nie, maar ’n diepbelese uitlegkunstenaar; koerantlesers sal tog suffel daarby baat as jý ophou en ék aanhou.

2

As jy daarná van ’n ad hominem-aanval beskuldig word en die beswaarde met hiperbool ’n satiriese teenaanval loods – en jou ’n Vestaalse Maagd van die Postmodernisme en die orakel van Mytilene noem – lees met groot vertoon die ironie mis en beskuldig, met wapperende wimpers, vir hóm van ’n ad hominem-aanval. Tooi jou eie ad hominem-aanval as “kritiese kantaantekeninge” op en sê dat diegene wat ’n opinie uitspreek “’n reaksie te wagte [moet] wees.” Die leespubliek sou tog lankal die ou skoenmaker-etiketjie vergeet het. Met genoeg kennis van die semiotiek kan jy dan boonop ’n guerilla-taktiek uithaal: herhaal nie weer die woorde skoenmaker of advokaat nie, maar soek aanlyn ’n kiekie waarop die resensent veral advokaterig lyk en plaas dit boaan jou wederwoord. Siedaar: suutjies sublimaal.

3

Die rede vir bogaande strategie is om die teenstander te verguis en verdag te maak sodat jy nie sy huidige argument hoef te beantwoord nie. Ook nie argumente wat hy in die toekoms die wêreld in stuur nie. Wie sal immers luister na iemand wat jy al as oningelig afgemaak het?

4

Soos jy die teenstander só verdag aan’t maak is en in ’n verdere poging om iedereen se aandag van die vraagstuk wat te berde is weg te du, haal sommer ’n ander resensie deur die teenstander op en stel dit wan voor sodat die leser die kat aan die spreekwoordelike klepel beetkry. Sê Crito het hierdie sin geskryf, wat eintlik deur die gekritiseerde resensent in sy ander resensie gepen is:

“Wanneer, indien ooit, is toeëiening toelaatbaar en wanneer kom die gebruik van die kultuurgoedere van ’n stilgemaakte volk net op verdere verdelging neer? Ongetwyfeld sal ’n debat hieroor van stapel gaan.”

En haal dán in jou blog ’n paragraaf van Crito aan sonder die bysit van aanhalingstekens, asof dit jou eie woorde is:

“Ek meen ’n mens kan van ’n Afrikaanse resensent verwag om bewus te wees van die beskuldigings wat Stephen Watson omtrent ’n dekade gelede teen Antjie Krog gemaak het oor Die sterre sê Tsau. Dieselfde argumente sal dan sekerlik teen Stormkind gemaak kan word. Maak nie saak of ’n mens dink (soos ek) dat Watson ’n paar van sy varkies kwyt was met sy beskuldigings teen Krog nie, dit is die groter saak van toeëiening wat aangespreek moet word.”

Praat Crito klakkeloos na en ignoreer die waarskynlikheid dat die resensent se verwysing in sy resensie dat “’n debat … van stapel [sal] gaan” juis ’n bewustheid demonstreer van onder meer die debat tussen Krog en Watson. Veral gesien die resensent se bespreking van die ingewikkelde kwessies rondom die optekening van San-lektuur en die verwysing na Helize van Vuuren se boek A Necklace of Springbok Ears – |Xam Orality and South African Literature (2016) in sy resensie “Poëtiese kleed van |Xam-verhaleskat opgeteken”, wat op 24 Mei 2017 in die Media24-dagblaaie verskyn het. Maar waarom sou jy billik wees in jou poging om ’n teenstander verdag te maak – en om die aandag volkome van die onderhawige boek weg te stuur?

4

En siende dat jy teen hierdie tyd die teenstander behoorlik swart gekwas het is dit gepas dat jy jou ad hominem-aanval ’n verstellinkie hoër rig: sê lelike goed oor sy skryfstyl (jou eie prosastyl natuurlik synde filigraan-fyn en verhewe bo alle kritiek): “Sy selfbewuste, selfkoesterende styl is tog so seksie. Die spel met woorde …”

5

Sluit jou oë vir die feit dat die gekritiseerde resensent daarop gewys het dat geeneen van die bronne wat jy aangehaal het ’n bevredigende antwoord (of selfs enige antwoord) op sy sentrale vraag oor die lewe van Olga Kirsch bied nie. Stapel skooljufferig nóg bronne op en sê:

“Jean Meiring moes alvorens hy die biografie oor Kirsch geresenseer het die bestaande studie oor haar werk gelees het. En kennis geneem het van Jerzy Koch wat ’n tydskrif in Pole oor haar werk gepubliseer het. En Louise Viljoen se uitstekende artikel begrond Kirsch goed.”

Hang natuurlik voetnote – ’n professoriale pearl necklace – jou argument om die hals en verklaar:

“Sy [sc. Viljoen] skryf: ‘Alhoewel Afrikaans nie haar moedertaal was nie, is dit dus die taal van haar eerste skool-onderrig, haar studieonderwerp op universiteit, haar joernalistieke loopbaan en haar artistieke uitdrukking in die poësie.’”

Doen dít met groot bravade, asof jy nie besef nie dat – benewens die feit oor Kirsch se “eerste skool-onderrig” – Viljoen se verdere drie stellings presies die vrae is waarmee die advokaat worstel. Skreef jou oë toe en hoop dat almal vergeet het dat die lastige blessitse advokaat juis wonder waarom die Joodse Kirsch ná vyf jaar aan ’n Engelse meisieskool in die Engelse kokon van Wits besluit om Afrikaans en Nederlands te loop en in Afrikaans te dig.

6

As iemand so vermetel sou wees as om jou te vra waar in al die aangehaalde bronne die antwoorde op die advokaat se vrae te vinde is, wend jy jou tot die royal passive en deklameer:

“Daar is baie jare gelees aan haar werk en tyd spandeer aan die begeleiding van ’n doktorale studie. Dit is Jean Meiring se werk om die gedigte te lees (waar hy die antwoorde mag vind) en wat die bronne se bladsynommers betref: doen jou eie navorsing asseblief.”

Hierdie is ’n verdere slim strategie om te verdoesel dat die bronne geen antwoord bied nie (“mag vind”) – en dat gedigte tog baie meer kompleks is as grepies biografie. Jy het mos teen hierdie tyd heel effektiewelik die teenprater as ’n oningeligteling gebrandmerk. Dis mos nou ’n flinke hanetree om die feit dat die bronne stil is aan sý botheid toe te skrywe.

7

As die advokaat deur jou strategie sien en jou huidige aanslag as “outoritêr” afmaak, maak jy niks minder nie as beswaar. Jy lees die satire in sy tipering van jou as ’n postmodernis mis en haal grepe uit jou CV aan om te herinner dat jy jouself as die plaaslike Chomsky sien: “My werk is ook metamodernisties, ek hou my besig met psigoanalitiese studies, vertaalteorie, genderkwessies, ensomeer. Nie net met die postmodernisme nie.”

8

Insoverre dit teen dié tyd duidelik is dat nóg die onderhawige biografie, nóg enige van die ander bronne wat jy gelys het ’n antwoord op die advokaat se vrae oor die lewe van Kirsch bied nie, verander jy sommer-sommer die reëls waaraan biografieë heel billikerwys gemeet word en sê dat die advokaat op soek is na “simplistiese antwoorde op ’n komplekse lewe en digterskap.” Dít sal hom leer.

9

Deur dit als weef jy die leitmotiv in dat, anders as jy, die advokaat geen leser is nie. Jy hoef natuurlik geen feite te hê om hierdie verdoemende slotsom by lesers te plant nie. Ignoreer ook liefs dat die advokaat al sedert ongeveer 2002 tussendeur vir die plaaslike media oor boeke skrywe.

10

Drapeer in die finale instansie die rooi kleed van geregtigheid en die openbare belang oor jou skouers en konstateer:

“Dit is in belang van die groter gesprek in die Afrikaanse letterkunde om Jean Meiring te antwoord.”

Die Afrikaanse boekbedryf baat mos ruimskoots daarby as vermetele buitelesers deur persoonlike aanvalle gestil word sodat jou binnestem by verstek kan búlder.

 

Jeremiade van ’n buiteleser: Repliek

Jeremiade van ’n buiteleser

  • 6

Kommentaar

  • Avatar
    Nico M Ferreira

    Absoluut briljant - satire op sy beste!
    Dit laat my egter dink aan die twee resensies van Regter Johann Kriegler wat vroeër die jaar in Rapport verskyn het. Daar was Afrikaanse lesers wat gesukkel het om die argumente in die skerp resensies te verstaan en het dit toe makliker gevind om eerder die resensent negatief by te kom.
    Ja, ek weet ons rugby is nie juis wat dit behoort te wees nie, maar kom ons speel eerder in hierdie geval die bal en nie die alleswetende kenner nie.

  • Andreas van Wyk
    Andreas van Wyk

    Geagte oud-student Jean,

    Wat het jy teen professore??

    Vriendelike groete,

    Andreas van Wyk

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Ek is maar net 'n advokaat en van letterkunde weet ek niks nie, maar ek herken 'n sterk argument as ek een sien.

    Ad hominem en feitelik verantwoord in een stuk? Buitengewoon. Briljant.

    Af met alle vertonerige professorale koppe!

  • Geagte Andreas, dit lyk nie vir my Jean het dit teen professore oor die algemeen nie, miskien net die beterweteriges. Watter ander verwys jy na?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top