Hoe is dit tog dat die Vestaalse Maagd van die Postmodernisme haar kleed so vinnig in twee kon reep? Hoe gemaak dat sý, die orakel van Mytilene, die koesteraar van groen koring en die vegknoper vir die wye demokrasie van stemme, terstond die vaalgeskufde munte van outoritanisme en adhomineemsheid uit ’n donker sak skud?
Drie weke terug, op haar blog Woorde wat weeg, tipeer Joan Hambidge, onder meer besetter van die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad, digter en boekresensent, die uwe as ’n skoenmaker, wat hom tog by sy ysterlees, die ondermaanse beoefening van die reg, moet bepaal.
Die opskrif: “Skoenmaker: Die ontologie van oningeligtheid en beterweterigheid (2018)”.
Die letterkunde en die verhewe teoretisering oor die Onbewuste wat noodwendig daarmee saamgaan – Castor en Pollux wat in die blou hemel tril – moet ek liefs vir haar en die ander ingeswore sjamaans, iedereen met ’n kongresgespe om die nek, laat staan.
Hoe durf ek met my skurwe advokatehande aan die goddelike tempelskrif raak?
Die onderwerp van die professor se beswaar was my resensie van Egonne Roth se Olga Kirsch: ’n lewe in gedigte (Naledi, 2018), wat op 28 Oktober in Rapport verskyn het.
Te midde van baie vleiende kommentaar, was my voorbehoude oor die boek die volgende:
’n Mens het ’n duisend vrae oor die rare verskynsel Olga Kirsch.
Hoe en nogmaals hoekom was die tweede vrouestem in die Afrikaanse digkuns ’n jong Jodin wat in ’n Engelssprekende huis op Koppies in die Vrystaatse platteland taal gekry en mens geword het?
Wat daarna saam met onder meer Ruth First aan die Wits-universiteit se Departement Afrikaans en Nederlands klasloop en uiteindelik met ’n honneursgraad afstudeer.
Wat in 1944, as die Tweede Wêreldoorlog nog in hoë swang is en anti-semitisme in sekere Afrikaner-kringe tot bloei kom, as twintigjarige haar eerste poësiebundel Die soeklig die lig laat sien.
Wat in 1948, as apartheid soos ’n donker kleed oor die land neerval, ’n tweede gerf verse Mure van die hart afwerp voor sy sielalleen Israel toe uitwyk.
En wat vir nouliks vyf-en-twintig jaar in die Afrikaanse sfeer ’n digterlike swye bewaar wat eers in 1972 met die knal van Negentien gedigte verbreek word.
Dis dié stapel tergende vrae wat in 2010 vir John Kannemeyer, die Afrikaanse literêre biografiekuns se ontslape reus, die kiem by Egonne Roth, eweneens ’n Suid-Afrikaanse Jodin wat metterwoon Israel toe is, laat val het.
…
Die wrede waarheid is dat die moeilikste vrae rondom Kirsch steeds onbeantwoord bly.
Roth bied geen oortuigende verklaring vir die feit dat Kirsch in die eerste plek in Afrikaans begin dig nie – veral aangesien sy, soos Jonker, haar hoërskooljare aan ’n Engelstalige meisieskool slyt.
Wat dryf ’n Joodse jongvrou om teen die Duitse oorlogsgedreun die klanke van ’n Afrikaanse soeklig te laat uitwaaier?
En les bes: wat laat ’n Israeliese vrou van byna vyftig ’n vreemde taal aan haar eie private vergetelheid ontruk om dan vir ’n veraf leespubliek gedigte te pen? Boonop in die taal van ’n gaandeweg meer brute bees.
Op die boek se voorplat tuur Olga Kirsch, ’n sydelings verligte Rembrandt-figuur, die leser met twyfel in haar oë aan.
Steeds bewaar sy haar tergendste geheime.
Aanvanklik het Hambidge se vuurpyl my verbaas.
Tót ek met die herlees besef dis Hambidge-satire hierdie op sy heel beste.
Warempel man, sy sit letterkunde-professore en ander diep-ingesworenes op hul plek wat dikwels deur gans ongemotiveerde verwysings na Hogere Teorie die letterkunde verduister eerder as verhelder.
Die skrywer van Postmodernisme (1995) sou tog nooit ironieloos die rare nosie van ’n “buiteleser” uit die troebel waters van haar bewussyn kon opdiep nie. Om daardeur te sê daar’s dié wat aan die Oop Gesprek mag deelneem en diegene wat tevrede moet wees om swygend krummels nader te skraap.
En watter slim stuk satire is dit nie.
Haar procédé loop só.
Eerstens het die Hambidge-stem dit teen hooggeleerdes wat nie basiese navorsing doen nie.
Op ’n maklik toeganklike webblad waar die uwe se biografiese besonderhede staan sal diegene wat wil weet immers sien hy het ’n honneursgraad in Latyn verwerf.
Derhalwe weet die stem waardeur Hambidge op haar blog buikpraat dat, al is ek nie die heel binneste leser nie, kan daar nie billikerwys gesê word dat ek ’n buite-in-die-wind-en-weer leser is nie. Ek staan ten minste met my kop net-net aan die inkant van die sanctum sanctorum van die lettere.
Dís dus haar eerste skyf.
Dan het sy dit teen akademici en dergelikes wat ’n argument mislees en dan daardie verbeelde konstruk Don Quijote-agtig stormloop. In my resensie sê ek die volgende oor die spesifieke tipe biografie waarvan Olga Kirsch ’n voorbeeld is, wat anders as gewone biografieë, “feite” uit die beskryfde se gedigte myn:
“Ook hou dit die risiko in ’n psigo-Babel van naweldeurprieming te ontaard wat die biografieleser – ’n gierigaard vir feite – vroeër eerder as later langs die pad verloor.”
Met haar satiriese ink wat spu, verskryf die Hambidge-persona my voorbehoud, as sou dit op alle biografieë van toepassing wees: “Hy kritiseer ook die ‘psigo-Babel van naweldeurprieming’ waarin ’n biografie kan ontaard.”
Oppas vir baiegedoktoreerde proffies wat só maak, sinjaleer sy.
Sonder verwyl beweeg die satirikus se aandag dan na diegene wat hulleself so betroon en bekroon ag dat hulle meen elke resensie van ’n boek moet presies loop soos hulle s’n geloop het – met dieselfde verwysings na PhD-tesisse, verkieslik onder hulle mentorskap voltooi.
Hoe maak sy hierdie punt? Sy skrywe:
Hiermee [naamlik: die naweldeurprieming-opmerking] bewys hy dat hy nie bekend is met Thomas Minnaar se doktorale studie ’n Herwaardering van Olga Kirsch se oeuvre: Identiteit, moederskap en ballingskap aan die hand van die psigoanalistiese teorieë van onder andere Sigmund Freud, Jacques Lacan en Julia Kristeva (UCT, 2012) [nie].
Weer eens is die satire mesfyn, want in haar eie resensie, wat etlike weke vroeër in die dagblaaie verskyn het, skrywe Hambidge so:
Thomas Minnaar het in 2012 onder my leiding aan die Universiteit van Kaapstad ’n uitgebreide doktorale studie oor haar voltooi. Dit heet: ’n Herwaardering van Olga Kirsch se oeuvre: Identiteit, moederskap en ballingskap aan die hand van die psigoanalitiese teorieë van onder andere Sigmund Freud, Jacques Lacan en Julia Kristeva.
In daardie resensie laat sy dit daar. Sy lig haar lesers nie in wat die relevansie van die daardie skripsie is en wat Roth se skuld teenoor Minnaar is nie.
Derhalwe maak sy die neerwerp van onverklaarde geleerde verwysings bespotlik.
En boonop het hierdie satirikus dit teen diegene wat sou eis dat alle resensies binne dieselfde verwysingsraamwerk uitspeel.
In ’n poging om agter die kap van die byl te kom, gee ek aan my skamele regsekretaresse – meer vertroud met tou en gom – die opdrag om ’n posduif na die UK te stuur om die skripsie op te tel. ’n Halfdag later beland ’n elektroniese weergawe daarvan in my posbus. Kennisgierig blaai ek daardeur.
Die satirikus se dieper punt sal weldra blyk.
Ek lees en lees.
En sowaar as wrintie: die proefskrifskrywer teoretiseer in helder taal, maar sy magnum opus bied geen feitlik-gefundeerde antwoord op die vrae – hierbo aangehaal – wat hierdie biografieleser steeds slapeloos laat rondtol nie.
Ook word ek verwyt dat ek nie Janet Malcolm se boek The silent woman oor Sylvia Plath sou “verreken” het nie. Toevallig het ek ’n kopie in my boekery, onder ’n stapel boeke wat ek in 2009 op ’n internet-veiling uit die boedel van die feminis Marilyn French aangeskaf het.
Dit handel grootliks oor biografieskryf en die wedywering tussen verskillende biograwe van Sylvia Plath.
Maar dit bied geen antwoord op my kwelvrae nie.
Ook moes ek konsuis in Julia Kristeva se gebundelde essays Desire in language gedelf het “oor moedertaal”.
Sowaar die meesterwerk van ’n satirikus duisend want uit al hierdie bronne – en die berge ander wat die professor al gelees het – is al wat sy in haar blogskrif aan die hand doen ter beantwoording van my opgestapelde vrae dít:
Sowel Minnaar as Roth wys op die ingewikkelde verhouding met die moeder en die komplekse verhouding met die vader. Dalk keer sy altyd terug in haar gedagtes en gedigte na haar jeug waar hulle outsiders was in die Vrystaat. Die ervaring van “andersheid” as Jode en die soeke na die aanvaarding in gedigte: hierom dat sy as volwassene die jeugdorp alleen wou besoek, sonder die trompetgeskal van die dorpsraad.
Let op die opsetlike vaagheid, die tentatiewe toon-in-die-water van die bywoord “dalk”, die wegskram van die moeilike vrae oor Kirsch se aantrek van die mantel van Afrikaans toe haar jong skouers vir iets gans anders gemaak was.
Om van haar vyftigjarige buitelandse skouers nie eers te praat nie.
Die satirikus bereik dan dawerend haar slotsom:
“Literatore sal anders kyk na Roth se biografie … as ’n buite-leser [sic]. ’n Komplekse boek soos Roth se studie verdien ’n deegliker besinning.”
Haar punt?
Dis juis daardie spesie literator wat, in die geval van ’n biografie, met blote teoretisering tevrede is vir wie mens moet ligloop.
Wat beterweterig en meerderwaardig medelesers sal uitrangeer en verdag maak.
En wat intense nuuskierigheid oor ’n boeiende lewe met ’n doktorsgraad sal probeer dooddonder.
Kommentaar
Jean Meiring se taal gaan oor my kop, maar een ding moet ek weet. Hy verwys na: "my skamele regsekretaresse - meer vertroud met tou en gom - ..." Waarna verwys 'skamele'? Na haar kleredrag, haar persoonlikheid of haar intellek?
Nee genugtig, sulke Afrikaans is ver bo my vuurmaakplek.
Wat probeer die man sê? Wat is die nut daarvan om iets te skryf as dit moeilik is om dit te verstaan? Lyk my hy probeer net oulik wees met die manier waarop hy skryf en ook om te wys hoe intellektueel hy is. Maar iewers kort daar iets. Wat dit is weet ek nie.
Ek het groot agting vir Joan Hambidge, altyd al gehad, maar hierdie repliek het my plek-plek hardop laat lag. Meesterlik!
'n Heerlik-prettige bydrae tot die bekgeveg, Jean!