Jeremiade van ’n buiteleser: Repliek

  • 3

I

Dit is in belang van die groter gesprek in die Afrikaanse letterkunde om Jean Meiring te antwoord.

Dit laat my dink aan die onderhoudvoerder wat vir Umberto Eco in sy groot biblioteek gevra het: "Wow! Signore professore dottore Eco, what a library you have! How many of these books have you read?”

Vir Eco se sublieme reaksie, kyk hier: https://www.brainpickings.org/2015/03/24/umberto-eco-antilibrary (24 November 2018 besoek).

Die ongelese boeke is net so belangrik as dit waaroor ons skryf. Of dalk belangriker.

My repliek is dan in breë trekke ’n reaksie op Jean Meiring nadat ek kritiese kanttekeninge uitgespreek het op sy resensie van die Olga Kirsch-biografie: https://www.litnet.co.za/jeremiade-van-n-buiteleser (24 November 2018 besoek).

II

Om resensies te skryf is deel van ’n lang gesprek oor kanonisering. Studente lees dit; dosente bekyk dit krities; en uiteindelik word dit deel van ’n reaksie in verhandelinge en proefskrifte. ’n Verkeerde of vreemde taksering kan juis tot ’n belangrike antwoord in ’n tesis lei. Of ’n voetnoot word.

Maar die ingeligte gesprek rondom boeke het ingekrimp. Gaan kyk maar net hoeveel verskillende resensente het in die tagtigerjare oor een boek geskryf. Goed, daar is blogs en lesersindrukke op LitNet, maar wie hom of haar aan ’n mening waag, moet ’n reaksie te wagte wees.

Hierom maak ek beswaar teen die opmerking van Meiring dat ek outoritêr is. Hy sien my, wat as vegknoper vir die wye demokrasie van stemme bekend staan, nou as iets anders ...

My werk is ook metamodernisties; ek hou my besig met psigoanalitiese studies, vertaalteorie, genderkwessies, en so meer. Nie net met die postmodernisme nie.

Hy tipeer my: "Dis juis daardie spesie literator wat, in die geval van ’n biografie, met blote teoretisering tevrede is vir wie mens moet ligloop." My gevoel: En dis juis ’n leser wat meen daar is simplistiese antwoorde op ’n komplekse lewe en digterskap waaroor ’n mens moet seg ... Pasoppa!

Ek het nog nooit die Afrikaanse letterkunde as ’n goddelike tempelskrif ervaar nie, en my polemieke, artikel en studies artikuleer ’n teenstem. Trouens, my digkuns is eweneens polemies.

Die feit dat Meiring aankondig dat hy ’n honneursgraad in Latyn het, is nie vir ’n gesprek oor die Afrikaanse letterkunde nou tersaaklik nie. Dis wel ’n bonus.

Dus: Heil die leser!

III Lectori Salutem

Jean Meiring moes alvorens hy die biografie oor Kirsch geresenseer het, die bestaande studie oor haar werk gelees het. En kennis geneem het van Jerzy Koch wat in ’n tydskrif in Pole oor haar werk gepubliseer het.1 En Louise Viljoen se uitstekende artikel begrond Kirsch goed.2

Sy skryf: "Alhoewel Afrikaans nie haar moedertaal was nie, is dit dus die taal van haar eerste skool-onderrig, haar studieonderwerp op universiteit, haar joernalistieke loopbaan en haar artistieke uitdrukking in die poësie" (28).

Ons verwag in ons beroep: ingeligtheid. En ironies genoeg onderstreep Meiring juis my kritiese punte. Kennelik het hy steeds nie die teorie begryp of gelees nie, en hierdie teoretiese spesie reageer net op relevante punte.

Ons weet immers dat daar al lange debatte oor die representasie van die San-kultuur in Afrikaans was (vide Krog en Watson), terwyl hy met groot stelligheid vra dat daar nou hieraan aandag gegee moet word. Dit na aanleiding van sy resensie van Riana Scheepers se Stormkind.

Crito het hom reeds hierop gewys:

“Wanneer, indien ooit, is toe-eiening toelaatbaar en wanneer kom die gebruik van die kultuurgoedere van ’n stilgemaakte volk net op verdere verdelging neer? Ongetwyfeld sal ’n debat hieroor van stapel gaan.”

Ek meen ’n mens kan van ’n Afrikaanse resensent verwag om bewus te wees van die beskuldigings wat Stephen Watson omtrent ’n dekade gelede teen Antjie Krog gemaak het oor Die sterre sê Tsau. Dieselfde argumente sal dan sekerlik teen Stormkind gemaak kan word. Maak nie saak of ’n mens dink (soos ek) dat Watson ’n paar van sy varkies kwyt was met sy beskuldigings teen Krog nie; dit is die groter saak van toe-eiening wat aangespreek moet word.
http://blogs.litnet.co.za/crito/2018/03/06/tweevuis/ (24 November 2018 besoek).

Sy selfbewuste, selfkoesterende styl is tog so seksie. Die spel met woorde ...

Dit verdoesel helaas nie dat hy soms die breër agtergrond mislees nie.

Om my die Vestaalse Maagd van die Postmodernisme te noem is waarskynlik as witty bedoel. Ek het Meiring sober geantwoord; bepaald nie die ad hominem-geelkaart uitgeruk nie. Hy mag bepaald resensies skryf, maar woord wek wederwoord, nie waar nie?

Die wrede waarheid is dat vele van die sogenaamde onbeantwoorde vrae dalk in die gedigte staan?

Die sogenaamde neerwerp van intellektuele verwysings is nie bespotlik nie. Ook nie satiries bedoel nie. Dis geskryf vir diegene wat dit gelees het en nie ’n posduif, koerier of sekretaresse nodig het om après le déluge te help opmop nie.

En as ’n kritiese reaksie soveel fanfare ontlok, dan moet ’n mens wonder: Waarom skryf hy resensies?

Dis tog lewensbloed van die kritiese bedryf dat ’n reaksie mag?

Net soos daar in die regsberoep (en hier is ek nou die buiteleser) verskillende sieninge is en dat ’n appèlhof byvoorbeeld anders mag oordeel?

’n Institusionele kennis van die resensiebedryf is ’n pluspunt, nie iets negatiefs nie.

Hierom gaan ek Jean Meiring "ylings" tegemoet.

Joan Hambidge

 

Eindnotas

1 Werkwinkel, 9(2):31–58, 2014.

© Department of Dutch and South African Studies

Faculty of English, Adam Mickiewicz University, Poznań, Poland

DOI: 10.2478/werk-2014-0011

2 Die opsomming van Louise Viljoen se artikel “‘The heart a dry leaf’: Loss, mourning and melancholia in Olga Kirsch’s Afrikaans poetry”. Reading Olga Kirsch’s Afrikaans poetry, one is struck by the important role that the experience of loss occupies in her oeuvre. It is evident in the first two volumes of poetry she published while still living in South Africa, as well as in the five volumes she published after emigrating to Israel in 1948. Because her poetry, especially the volumes written in Israel, exudes an air of melancholy, this article uses Freud’s writings on loss, mourning and melancholia, as well as the historical tradition preceding his work, as a guideline in exploring the way in which the experience of loss, mourning and melancholy is portrayed in Kirsch’s oeuvre. The article focusses on the way in which loss is portrayed in her poetry: her sense that the Jewish experience of loss over the centuries forms part of her history and identity, the way in which she experiences the loss of South Africa and the language Afrikaans in which she is best able to express herself poetically when she emigrates to Israel, the way in which the loss of her father and mother at different times in her life affected her, her feeling that her experience of loss and the ensuing melancholy are carried over to her children.

 

Jeremiade van ’n buiteleser

  • 3

Kommentaar

  • Nou wonder mens uit al die bronne wat prof Hambidge so rojaal ophaal, waar lê die antwoorde op Jean Meiring se kwelvrae oor Olga Kirsch? Kan sy die bronne en bladsynommers verskaf waar hulle beantwoord word? Dan kan Meiring mos erken hy was swak-/ onderbelese/ oningelig.

  • Joan Hambidge

    Hierdie polemiek laat my dink aan ‘n gesiene geskiedkundige wat vir ‘n ander geskiedkundige vra oor ‘n voetnoot: gee vir my jou ander bronne aan asseblief.

    En die bladsynommers.

    Dit was die tagtigerjare.

    Dit nadat die historikus dae in die argief gesit het.

    Dieselfde geld Kirsch. Daar is baie jare gelees aan haar werk en tyd spandeer aan die begeleiding van ‘n doktorale studie.

    Dit is Jean Meiring se werk om die gedigte te lees (waar hy die antwoorde mag vind) en wat die bronne se bladsynommers betref: doen jou eie navorsing asseblief.

  • So gedink.

    Jean, lees net die gedigte, man, die antwoorde is daar, die prof sê so. En lees die doktorale proefskrif wat sy begelei het, die antwoorde MOET daar wees ... Sy sal mos nie dit oorgesien het nie. Jou vrae is beantwoord nog voor jy hulle gevra het ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top