Hoe maak jy jou kind lief vir lees? Ouers deel hul wenke

  • 2

Met die onlangse skoolvakansie het baie ouers sekerlik gevoel dat hul kinders te veel tyd op hul selfone of rekenaars of voor die televisie deurbring. Hoe moedig jy jou kinders aan om eerder ’n boek te lees? En hoe kweek jy by hulle liefde vir lees?

In LitNet se jongste kompetisie het ons ons lesers gevra vir raad of wenke vir hoe om kinders lief te maak vir lees. Die kompetisie het reeds gesluit. Hier is die aankondiging van die wenners.

Hier is ’n paar van ons lesers se wenke.


 

Annerle Barnard

Elektronika regeer: selfone, PlayStation, X-box en wat nog! Niemand wil soos ’n wurm agter ’n boek vasgemessel sit terwyl jou maats knoppies druk, lag en gil nie.

Soos die geluk dit wou hê, aard my twee seuns glad nie na my nie. Ek koop die opwindendste, nuwe jeugliteratuur. Afrikaans en Engels. Lees vir hulle saans stories totdat my tong op die vloer sleep. Maar nee! Hulle het met een helse slag van die hondeplaneet, Pluto, afgefoeter aarde toe. Beide dink hulle is Labradors. As hulle ’n bal sien, raak hulle berserk. Heeltemal! Hulle sou waarskynlik stert geswaai en geblaf het, as hulle kon.

Hulle luister wel graag wanneer ek vir hulle lees, maar dit bly ’n intense marteling en bittere beproewing om hulle agter ’n boek te kry.

Oudste (13) is muurbalverslaaf. Sedert ouderdom 9.

"Mamma, ek kort muurbalkouse," bedel hy.

"Yebo, dertig bladsye," sê ek, wat sieliglik keelvol is vir onwillige donkies water toe sleep.

"Jy's seker nie ernstig nie?"

"O ja, ek is."

En so begin ek afpers, omkoop met muurbalkouse, balle, sweetbande – en wat nog alles. Dit werk! Dit kos my geld en hóm net ’n paar bladsye. Oudste lees! En soos hy stelselmatig meer en meer lees, begin hy daarvan hou. Soveel so dat hy vroeër hierdie jaar vir my boeke begin uitneem het.

"Mamma, hier's vir jou ’n boek!" Dis ’n wetenskapfiksie-jeugroman wat ek baie graag wou lees, maar wat die biblioteek nie het nie. Toe neem hy dit vir my by die skoolbiblioteek uit.

Net voor die Maart/April 2018 skoolvakansie, het hy my gesmeek vir nommer twee en drie in die Hunger Games-reeks. Hy't my heeltemal gek geneul. Tans lees hy I am Number Four (Pittacus Lore).

Dit bevestig my vermoede: daar IS vir elke kind/mens ’n genre. Mens moet die kameel net eers kry om die water te ruik, dan lê hy oop soos ’n July-perd.

Jongste (9) is ook muurbal-mal, maar nie heeltemal so obsessief soos Oudste nie. Die muurbalkouse-afperstaktiek werk nie vir hom nie. Maar hy is MAL oor elektronika en speletjies. Omdat die seuns geen elektronika besit nie (ons keuse) smeek hy my daagliks om ’n halfuur op my selfoon te speel.

Teen hierdie tyd lui sy standard vraag: "Mag ek asseblief op jou selfoon speel? Ek sal twintig bladsye lees."

So lees Jongste ook. Wel nog baie onwillig, maar hy lees.

Die liefde vir stories is egter reeds daar, want wanneer ek soms saans sê dis te laat vir lees, hulle moet slaap, reken hy, "Jy weet mos ek kan nie slaap sonder ’n storie nie!" So het ek einde verlede jaar vir hom Awful Auntie (420 bladsye, David Walliams) in drie dae klaar gelees. Ek het myself amper in laringitis in gelees. Maar as ek wil ophou, smeek hy vir nog net een hoofstuk. En nog een. En nog een. En so onderhandel ons: vir elke hoofstuk wat ek saans lees, moet hy soveel bladsye die volgende dag vir my lees.

Ons vorder. Hy gaan soek nou self tussen die boeke om te kyk wat hy wil lees (noodgedwonge, vir selfoonspeeltyd) en wat ek saans vir hom moet lees.

Alle kinders het ’n Achilleshiel. As die kameel eers gedrink het, sal hy langs die oase gaan plak.

Algemene wenke

  1. Sorg dat daar boeke in die huis is. Koop, of neem uit by die biblioteek. Nie negentien-voertsek se verstokte ou boeke nie. Opwindende, nuwe boeke! As jy nie weet wat nie, vra. Kyk gerus ook met watter boeke loop ander kinders by die skool rond. Of Google!
  2. Lees self, al lees jy net koerant/blaai deur ’n tydskrif. Kinders volg die voorbeeld wat hulle sien.
  3. Lees saans vir kleiner kinders stories met bedtyd. Al haat jy lees. Fake it until you make it! Dis tot jou kind se voordeel.
  4. Ons almal ken ons kinders se Achilleshiel. Gebruik dit tot jou voordeel! Moenie net rugbyklere/netbalklere/selfone/fietse koop nie, laat hulle wérk daarvoor. Al is dit vyf-vyf bladsye. Jy betaal en hulle moet iets teruggee. Neem - en gee. (Ouderdomsverwant. Van my jonger seun verwag ek vyf of 10 of 15 bladsye en van die ouer een 30 of 50.)
  5. Begin aanvanklik met minder bladsye en verhoog dit stelselmatig. En laat jou kind agterna vir jou vertel wat hy/sy gelees het. "Hierdie storie lyk erg cool. Waaroor gaan dit?" Vluglees ’n stuk, sodat jy weet of dit die waarheid is. My seuns is deesdae so opgewonde oor dit wat hulle gelees het, dat hulle sommer self kom vertel.
  6. Feit: Hoe meer tyd jou kinders op elektronika/voor die TV spandeer, hoe meer gaan jy sukkel om hulle te laat lees. Beperk hulle tyd voor elektronika/die TV. Dis buitendien nie goed vir hulle nie (sê die wetenskaplikes, sielkundiges, arbeidsterapeute en onderwysers). En laat hulle léés vir die voorreg om TV te mag kyk/speletjies te mag speel. Lees 45 minute, dan kan jy ’n uur lank TV kyk. (Ouderdomsverwant.)
  7. Wees ’n goeie politikus. Speel gladde jakkals (under cover). "Lees net gou hierdie vyf bladsye, dan mag jy maar TV kyk/X-box speel." (Gladde jakkals werk natuurlik net vir kleiner kinders. Vir groter kinders moet ’n mens verduidelik wat van hulle verwag word en hoekom.)
  8. Indien jy self ’n leser is en die boek gelees het, vertel die storie totdat dit op sy interessantste is en hou dan op. Gee vir die kind die boek om self verder te lees. Dit werk wonderlik met tieners wat reeds lees, maar nie noodwendig konsekwent lees nie. Hoërskoolseuns is mal oor spioenasiereekse en baie aksie. Deon Meyer, David Baldacci, Lee Child en dies meer.
  9. Motivering: My ouer seun het uit sy eie vir my kom sê, dat sedert hy lees, hy sy skoolwerk makliker vind en dit ook geniet om opstelle te skryf. Vantevore het hy my probeer omkoop om dit namens hom te doen. My jonger seun se onderwyseres het gesê sy kan die verskil in sy woordeskat en skoolwerk sien.
  10. Daar is ’n genre vir elke kind. Kry hom/haar aan die lees. Dit maak ’n definitiewe verskil en dit verg wel aanvanklik ’n bietjie kreatiwiteit, maar later vra hulle vir boeke.

 

Stephané Burger

Met die tegnologiese revolusie wat ons deesdae beleef, kan ons werklik sê dat tegnologie ’n seën of ’n vloek kan wees. Die impak wat tegnologie op ons lewens het is fenomenaal, die feit dat ’n e-pos in breukdele van sekondes by iemand anders kan verskyn of mens met ’n horlosie iemand se beweging kan volg en selfs met hulle kan kommunikeer deur die horlosie, is in meeste gevalle ’n seën. Die probleem ontstaan egter wanneer mense nie meer weet hoe om fisies met iemand anders te kommunikeer nie, of kinders op ’n jong ouderdom aan die negatiewe kant van tegnologie blootgestel word. Ons kinders vandag weet meer van slimfone, rekenaars en die beheer daarvan af as wat ons as ouers tien teen een weet. Is dit ’n slegte ding, ’n vloek? Nie noodwendig nie, maar as ons kinders nie meer die genot van ’n boek – ’n fisiese boek met gedrukte teks – ervaar nie, voorspel ek groot gapings in die ontwikkeling van hulle verbeeldingswêreld!

Dis juis vir daardie rede dat ek en my man van babadae af reeds vir ons kinders stories voorgelees het en ’n verskeidenheid soorte boeke in ons huis aangehou het. Die belangrike faktor as dit by kinders se motivering vir lees kom, is dat Ma en Pa self ook moet lees! Jy kan mos nie verwag om ’n liefde vir lees te kweek by jou kinders as hulle jou nooit sien lees nie? Kinders leer of word gemotiveer tot aksie deur die voorbeeld wat ons as ouers stel. My wenke is soos volg:

  • Lees van babadae af vir jou kinders stories, gebruik eers prenteboeke.
  • Hou hulle betrokke by wat jy voorlees, deur dit opwindend te maak – gebruik verskillende aksente, stemtone en praat met jou gesig as jy die storie lees! Kinders hou van toneelspeel en sal definitief die storie meer geniet as ma of pa dit met groot bravade aanbied.
  • Vra hulle vrae, nie om te toets nie, maar om sommer van vroeg af hulle kognitiewe vermoëns te oefen en dit verskaf ook ’n manier om te kan weergee wat hulle as die belangrikste aspekte van die storie sien. Weergee van inligting is ’n vaardigheid wat hulle deur hulle hele skoolloopbaan en daarna sal nodig hê. Op vroeë ouderdom moet jy egter weerhou daarvan om noodwendig hulle siening as reg of verkeerd te interpreteer en hul eerder toe te laat om hulle weergawe van die storie oor te vertel. Dit laat ruimte vir die verbeelding om baie draaie te maak!
  • Neem hulle gereeld biblioteek toe, dat hulle die wonderlike plek kan ervaar, laat hulle daar tussen die rakke boeke wegraak sodat dit moeilik raak om te besluit watter boek hulle wil huis toe neem, so maak jy hulle opgewonde met julle weeklikse besoek, en sien hulle uit daarna om daardie boek wat hulle nie kon huis toe neem nie, te gaan soek!
  • Moet nooit ophou voorlees nie! Ja selfs al is hulle tieners! Baie mense mag dalk dit as vreemd vind, maar voorleestyd is ook tyd om familiebande te bou. Dis ’n tyd waar geen tegnologie toegelaat word nie, dis tyd vir ontdekking, saam lag en huil. Dis nie nodig om net prenteboeke aan jonger kinders voor te lees nie, jy kan self goeie literêre werke wat spesifiek vir kinders oorgeskryf is soos Shakespeare se Midsummer Night’s Dream of Homer se Odyssey vir hulle voorlees. Meeste kinders sal die avonture van Odysseus fassinerend vind en so kweek jy ’n liefde nie net vir lees nie, maar ook vir goeie klassieke werke wat die verbeelding aangryp, hulle wêreldkennis verbreed en ook taalgebruik ver bo hulle portuurgroep gee. Ouer kinders kan ook die kans gegun word om die voorleeswerk te doen.
  • Lees en bespreek ook nie-fiksieboeke soos ’n reisgids of ’n stadsgids en verken die wêreld vanuit julle eie sitkamer. Laat hulle die land of stad soek op ’n kaart en ’n merker daarop plaas. As julle een boek per week lees oor ’n spesifieke land of daar word melding gemaak van ’n land of stad in ’n fiksieboek, kan julle teen die einde van ’n jaar 52 lande besoek het vanuit julle sitkamer!
  • Heel laaste op my lys van wenke is oudio-boeke aangesien dit die gebruik van tegnologie insluit, My rede hiervoor is vir die kinders wat wel lief is vir boeke, maar dalk weens disleksie of ander aspekte lees as ’n groot uitdaging ervaar. Dit gee hulle die geleentheid om hulle ouditiewe vaardighede in te span en nog steeds die verbeeldingswêreld van die boek te betree.

Ek het onlangs ’n video gesien van die skrywer BJ Novak, hier lees hy sy boek, The Book with no Pictures, voor aan ’n gehoor van klein gesiggies en hulle kraai van die lag! Geen prente, net hy wat met oorgawe die boek voorlees, soos ek bo beskryf het, verskil in stemtoon, gesigsuitdrukkings en aksent ... Nie een keer het die kinders gevra om ’n prentjie te sien nie! Hulle verbeeldings word aangegryp met die lees van ’n storie – ons as ouers moet die voorbeeld wees en die tegnologie wegsit as dit tyd is om huis toe te gaan na werk, of oor ’n naweek eerder ’n goeie boek te lees as om die brein lui te maak voor die TV!

In ons huis gebruik ons deesdae bitter min ons TV, ons kinders word tuis onderrig en boeke is my grootste ondergang, ek kan nie daarby verbyloop in ’n winkel sonder om daardeur te blaai nie, en loop selde by ’n boekwinkel uit sonder ’n stapel vol nuwe boeke vir ons boekrak. Ons lees prenteboeke, fiksie, nie-fiksie, gidse, literêre werke en meer. Die gogga het ons tienerseun egter eers redelik onlangs gebyt, al het hy van kleins af geskiedenisboeke verslind, het hy nou ook besef watter waarde daar in goeie boeke lê en dat dit baie lekkerder is om iets na te slaan in ’n boek as om te Google. Ons meisiekind wat van babadae af altyd met ’n boek geloop het en vir haar poppe “voorgelees” het, is ongelukkig een van daardie lesers met ’n lees-uitdaging, maar in plaas daarvan om lees vir haar ’n tameletjie te maak, moedig ons haar eerder aan om na oudio-boeke te luister. Ek het as kind aan die Storieman-klub behoort en het my Storieman-boekies gaan uitgrawe, ongelukkig het ons nie ’n kassetspeler in ons huis nie en vir daardie rede het ek begin om die stories voor te lees en op te neem op my iPad sodat sy daarna kan luister terwyl sy deur die boek blaai in haar eie tyd. Dit motiveer haar om die woorde te ontleed en bevorder haar leesvermoë. Daar is dus ’n weg selfs vir kinders met leesgestremdheid om die gawe van lees te kan ervaar.

Neem sommer vanaand ’n leesboek saam as die familie regmaak om die TV aan te skakel en lees eerder ’n storie voor as om na die skerm te staar. Dit mag hulle dalk verbaas, maar dit mag dalk die begin wees van die lekkerste ontdekking wat julle as familie saam kan maak! Geniet dit!


 

Sunita Keyser

Maak jou kind lief vir lees.

Eintlik praat ek nou van my kinders en my kleinkinders. Want hierdie resep vir lekkerlees is soos die resepte van Kook & Geniet – dit word aangegee van geslag tot geslag. En dit werk ongeag die feit dat die leefwêrelde van die kinders verskil.

Ons maak vir die kinders ’n mobiele verskuifbare bibliotekie. Dit word gedoen in ’n piekniekmandjie, want lees moet mos ’n piekniek wees. Die mandjie is soos alle piekniekmandjies uitgevoer met ’n sagte lapvoering sodat die boekies nie beskadig van die rondkarwei nie. En die mandjie gaan oral saam. As die motor se wiele draai is die mandjie op die agtersitplek tussen die twee karstoeltjies. Net ’n armpie-lengte ver. En waar ons ook al gaan en dalk moet wag word die mandjie uitgelaai en saamgedra.

Om verveling te voorkom word die mandjie elke Sondagmiddag nuut gepak. Met boekies op die boekrak wat nog nie gelees is nie of boekies geruil by vriendinne of biblioteekboekies of nuwe boekies wat Mamma met ’n spaargeldjie kon aanskaf. Die nuwe week se voorraad.

Nooit ’n ledige oomblik en altyd ’n boekie ter ondersteuning. ’n Eenvoudige plan wat werk om lees tweede natuur by ’n kind te maak.


 

Nadene Liebenberg

My dogtertjie is nou twee jaar oud en is mal oor haar boekies. Sy wil gereeld "lees" en sleep dan ’n boekie nader wat ons saam lees. Ander kere sal sy stil op haar eie sit en self deur haar boekies blaai. Haar boekrak is in haar kamer en ek haal baie aande boekies uit haar bed wat sy gaan haal het om deur te blaai tot sy aan die slaap raak.

Ek hoop dat hierdie liefde vir boeke en lees sal voortduur tot sy self kan leer lees. Ek glo vas dat die liefde gekweek word deur die volgende te doen:

  1. Stel ’n voorbeeld deur self te lees. Ek is lief vir lees en sy sien my gereeld met ’n boek in die hand. Maak dit iets wat ’n algemene handeling in die huis is.
  2. Moet hulle nie te vroeg aan tegnologie blootstel nie. ’n Boek kan gou oninteressant lyk as dit met ’n tablet of selfoon moet kompeteer. Stel kinders van kleins af aan boekies bekend wat interaktief is: flappies wat kan lig, verskillende teksture op bladsye, ensovoorts. Dit stimuleer die brein en skakel dit nie af soos met skermtyd nie.
  3. Lees saam met jou kind. Maak tyd om saam te lees. Gebruik verskillende stemtone, sing, trek gesigte. Dit maak lees pret.
  4. Moedig hulle aan om grense te verskuif. Daag hulle uit om te sien hoeveel boeke hulle in bepaalde tye kan lees. Belonings kan ook gegee word. Hulle kan ook uitgedaag word om dikker boeke te lees.

Die bogenoemde punte is wat ek self gaan toepas en reeds doen. Hopelik word my kind ’n regte boekwurm.


 

Marisa Potgieter

Ek dink wanneer kinders besef dat boek lees nie ’n plig is nie, maar ’n reuse-avontuur, sal hulle nie anders kan as om daarvoor lief te wees nie.

Ek moedig my kinders aan om hulle eie boekies te kies. Die prentjies is vir hulle die belangrikste. Ons gesels dan daaroor en besluit eers wat die storie is nog voor ons dit lees. Ek voel dit maak hulle verbeelding bietjie wakker.

Ons lees dan die storie in die aande, nie net een keer nie, maar sommer baie, aand na aand, tot hulle dit gememoriseer het. Dit is lekker om vragies oor die karakters se emosies te vra, hoekom hulle sekere goed gedoen het, ens. Ons kyk ook na klein details in die illustrasies wat niks met die storie te make het nie en dink ’n ekstra storie uit. Dit is lekker om vir hulle te vra om alternatiewe eindes uit te dink.

Wat hulle egter die meeste geniet is as hulle die storie al so goed ken dat hulle maak asof hulle vir hulself lees. My driejarige lees graag stories vir sy sesjarige sussie, woord-vir-woord asof hy werklik lees, en dan sien ek hoe trots hy voel. Vir my is die ontsnapping na ’n manjifieke wêreld en die moontlikhede van ’n storie wat ek vir my kinders wil leer die belangrikste rede hoekom ek ’n liefde vir boeke wil kweek.


 

Christa Otto

My raad as ’n mamma van drie jong kinders (8, 6 en 3 jaar) om ’n liefde vir lees te kweek is net soos met tuinmaak – die omruil of rotasieperiode moet vinnig wees om dit interessant te hou. Plante blom op verskillende tye en gee ons heeljaar variasie – ek dink dis die geheim met kinders ook.

’n Vinnige manier om dit te onthou: KWEEK

  • "Kom saam!" Nooi die kinders saam om biblioteek of boekwinkel toe te gaan.
  • "Waarheen gaan ons?" Ons gaan op ’n lekker reis na storieland, of inligting kry oor die grootste soort pikkewyn wat ooit geleef het, of leer hoe om ’n resep vir die feetjies te skryf.
  • Een gunsteling boekie is altyd in die kar, soos wat ons tydskrifte in ’n wagkamer sal lees. Dit help baie om die rit korter te maak
  • Een van my boeke altyd bo-op die koffietafel om byderhand te hê. (Modelleer die uitkoms wat ons wil sien.)
  • Kom ons gaan ruil dit om of kry nog een! Ek dink die idee is om boeke baie vinnig om te ruil of nuwe boeke op die koffietafel te roteer.

 

Mariska Ford

Ons kinders moet hulle skermtyd “koop” deur te lees. Vir elke minuut se lees kry hulle dieselfde hoeveelheid skermtyd. In ons huis het dit so goed gewerk, dat skermtyd die stryd verloor het teen die magnetiese krag van ’n goeie boek.


 

Arliene van Wyk

So kweek jy gewillige lesertjies:

  • Skep ’n liefde vir stories: Lees vir jou kinders voor sodat hulle weet hoe lekker dit is om in ’n storie weg te raak.
  • Maak tyd vir lees: As jy elke aand voor bedtyd vir hulle ’n storie lees, sal hulle gou besef dat leestyd lekkertyd is en dat ’n mens soms ’n afspraak met lekkertyd moet maak.
  • Stel boeke beskikbaar: Boeke hoort nie net op ’n rak nie. Boeke moet deel vorm van jou tuiste. Dit is nie iets heilig wat ons met groot versigtigheid moet gebruik nie. Dis deel van wie ons is en moet gevat, gevoel, geruik en gebruik word. ’n Gebuigde bladsy of watermerk kan maklik met ’n nuwe kopie vervang word, maar die liefde vir lees kan nie gekoop of afbetaal word nie.
  • Beloon: Kinders reageer goed op belonging. Beloon jou kleinding vir elke boek gelees. Stel ’n doelwit: jy kry R1 vir elke boek wat jy lees, maar ek betaal in paaiemente van R5. So die lesertjie moet 5 boeke lees om die belonging te kry.
  • Lees-uitstappies: Gaan saam met jou kinders biblioteek toe en laat hulle self boeke kies. Laat hulle deur die verskillende boeke oor onderwerpe wat hulle interesseer blaai.
  • Kombineer gesinstyd en leestyd: Besoek ’n boekwinkel wat ’n kinderhoekie het. Sit saam met jou kinders op die mat en lees vir hulle voor uit ’n boek van hul keuse. Of laat hulle vir jou voorlees uit ’n boek.
  • Stel hulle bloot aan nuwe boeke: Laat hulle saam met jou op die internet loer na nuwe boeke en hulle gunsteling skrywers.
  • Eie stories: Laat hulle toe om hulle eie stories te vertel en soek dan boeke wat by hulle storie sal aansluit.
  • Verskeidenheid: Stel hulle bloot aan ’n verskeidenheid tekste. Dit is belangrik dat kinders besef dat daar verskillende soorte tekste is en dat dit verskillend interpreteer word en die doel van elk verskil. Deel interessante advertensies, lees oulike gedigte, wys vir hulle berigte van nuuswaardige gebeure waarvan hulle bewus is.
  • Stel die voorbeeld: Kinders doen wat ons doen, eerder as om te maak wat ons sê. As hulle jou sien lees, sal hulle self ook lees!

Lees ook:

’n Resep vir leesliefmaak

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Mariaan le Roux

    Ek is baie lief vir lees en het vir my dogter begin lees vanaf sy so 3 maande oud was en my ingeleef in haar stories met hard en sag praat en gesigsuitdrukkings. Ek het Saterdae saam met haar biblioteek toe gegaan en aan die begin net gesit en prentjies kyk en daarna het sy haar eie boeke met haar eie kaartjie begin uitneem en gelees. Ons is altyd op die uitkyk vir nuwe boeke en het ’n ingeboude boekrak in sitkamer waar maats altyd saam kan lees. Wanneer ons rustig is, lees ons albei en kan ek lekker lag as sy begin lag. Lees het baie deure oopgemaak, sy wil altyd iets nuut lees en sy is ook in die top 10 in haar graad.

  • Pingback: Hoe motiveer ek my kind om lief te word vir lees? | Bronkieland

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top