Hoe lyk ’n bruin mens?

  • 0

Hoe lyk ’n bruin mens, wonder ek na aanleiding van wat Debra Meyer, bekende wetenskaplike en voormalige Afrikaanse SABC2-weeraanbieder, van haarself vertel.

Sy sê sy lyk nie soos ’n bruin mens nie omdat sy donker van kleur is en wanneer sy Afrikaans praat in die nabyheid van onbekende mense, vra mense dikwels: “Hoekom praat iemand soos jy sulke mooi Afrikaans?”

Meyer sê hierdie reaksie op haar kleur en taal kry sy by alle groepe.

Dit het miskien tyd geword om opnuut te vra: Hoe lyk ’n bruin mens?

Laat vir hierdie bespreking swartes en wittes se reaksie op Meyer se donker Afrika-vel daar. Ter sprake nou is die bruin perspektief.

Die beperkte akademiese literatuur oor die kompleksiteit van bruin wees, wys daarop dat bruines kultureel na aan wittes is en dat hulle gevolglik in daardie kultuur opgeneem moet word.

Dan is daar bewerings soos dié van George Cuvier, ’n Franse natuurwetenskaplike wat in 1832 dood is: “The Negro race is marked by a black complexion and a flat nose. These races are condemned to a never-ending inferiority.”

Is dit miskien waarom sommige bruines – insluitend diegene met donker velle – na witheid hunker?

Die kunstepraktisyn Peter Voges het dit in 2004 só opgesom: “Ons verwys graag na ons wit Skotse oupa of Ierse oumagrootjie, maar vergeet heeltemal van die donker oupa en ouma onder die matras.”

Teen dié agtergrond moet ’n mens miskien begryp hoekom Meyer se donker vel sommige bruines ongemaklik laat voel: dat die persepsie van “minderwaardige swartheid” nog altyd soos ’n (swart) spook in (bruin) buurte verjaag word.

Dis kommerwekkend dat dié benadering nie met die vloeibaarheid van bruin identiteit rekening hou nie. In sy boek Not white enough, not black enough (2005) wys Mohamed Adhikari daarop dat bruin identiteit geskep en herskep is, met bruines as die hoofagente.

Nog belangriker is dat bruines, net soos ander groepe in Suid-Afrika, ’n geskiedenis van kreolisering het. En dit is juis die gebied van identiteit of fisieke voorkoms wat die broeiplek is van ’n klassestelsel onder bruines. Ekonomiese mag en ander sosiale konstruksies is sekondêr. Hierdie verskynsel vind jy omgekeerd by ander groepe in Suid-Afrika.

Dié verskynsel van dié tipe klassestelsel (waar hare, gesigstruktuur en kleur ’n belangrike rol speel) onder bruines is nie net ongewens nie, maar dit bring ons ook nader aan die vraag: Hoe lyk ’n bruin mens?

Dit bring na vore dat bruines nie almal eenders lyk nie. Hulle is nie vervelige fotokopieë van mekaar nie. Vele bloedlyne deurkruis die psige van bruinwees. Die genetiese boustene van menswees lê dus almal in bruinwees opgesluit.

Hulle is die reënboognasie waarvan Desmond Tutu praat. Soos Thabo Mbeki dit in sy “I am an African”-toespraak gestel het, het hulle dit “te danke aan die Khoi en die San, wie se troostelose siele ronddwaal oor die groot uitgestrektheid van die Kaap, hulle wat die slagoffers was van die mees genadelose volksmoord wat ons geboorteland ooit gesien het, hulle wat die eerstes was wat dood is in die stryd om ons vryheid en onafhanklikheid te verdedig en hulle wat, as volk, as gevolg daarvan vergaan het”.

Belangriker: “Ek weet wat dit beteken wanneer ras en kleur gebruik word om te bepaal wie is menslik, en wie is submenslik.”

Ek wil byvoeg: Suid-Afrikaners is oor die algemeen geneig om ’n eenvoudige vraagstuk te kompliseer, terwyl die antwoord voor ons lê.

Die Nigeriese navorser en skrywer Kole Omotoso het opgemerk: “Coloureds [vary] from charcoal black to bread-crust brown, sallow yellow and finally off-white cream that want to pass for white …”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top