Hoe gemaak met TV-ego’s?

  • 1

Skets: Mohamed Hassan | Pixabay

So ’n paar weke gelede het ek geskryf oor die kuns van onderhoudvoering. Dit was oor die tegniek om in ses vrae ’n persoon te dwing om van standpunt te verander. Gustaf Claassens het toe ingeskryf en gevra dat ek my mening oor die volgende punte moet gee:

“Die realiteit is egter ook dat nuusinstellings self sekere politieke oortuigings het en wil bevorder. Daar word dan van onderhoudvoerders verwag om uitdrukking daaraan te gee. Dit het baie in die verlede gebeur en gebeur steeds – wêreldwyd. Ook is daar onderhoudvoerders wat ’n ego het en onderhoude meer oor hulleself maak. Ander weer is subjektief met ’n eie agenda en formuleer vrae só dat iemand wat ’n ander standpunt huldig, nie die geleentheid kry om sy/haar mening te lug nie.”

...
Die groot vraag is of dit moontlik is om volkome objektief te wees. En die antwoord is natuurlik “Nee”. Die beste wat ’n joernalis kan doen, is om te probeer.
...

In wese gaan sy argument oor objektiwiteit. Dis ’n tema wat al oor dekades heen bespreek is. Die groot vraag is of dit moontlik is om volkome objektief te wees. En die antwoord is natuurlik “Nee”. Die beste wat ’n joernalis kan doen, is om te probeer. Maar dis ook nie ’n doodsonde as jy nie daarin slaag nie. Solank jy en jou media-instelling net openlik verklaar dat julle wel ’n bepaalde standpunt het. Dis selfs niks snaaks dat ’n instelling ’n spesifieke politieke oriëntasie het of politieke party ondersteun nie. Ek het ’n klompie jare in Londen gewoon. Daar was dit duidelik: As jy wil weet wat in die Konserwatiewe Party aangaan of wat sy beleid is, lees jy The Telegraph. As jy die standpunt van die Arbeidersparty wil hê, lees The Guardian. Die leser kan met ander woorde self ’n gebalanseerde standpunt ontwikkel deur albei koerante te bestudeer. Mense wat vir dié koerante werk, is gewoonlik dan ook ondersteuners van die onderskeie partye. Jy as leser kan dit duidelik onderskei in hulle berigte.

Dit was in die laaste jare van apartheid, uit daardie situasie van verstikkende inperking van mediavryheid, dat ek in Londen geland het. Wat my getref het van die media in Brittanje was die byna totale vryheid wat mense het om enigiets te skryf of te sê.  

Ek was verstom om advertensies of berigte in dagblaaie te sien van die snaaksste groepe, soos die Trotskyites Society (of so iets) wat glo aan “demokratiese sentralisme” en permanente revolusie – wat oor die hele Europa en verder moet versprei. Uit nuuskierigheid het ek dan van sulke snaakse groepe se vergaderings gaan bywoon. Gewoonlik is dit ’n eksentrieke klompie wat doodluiters opruiende goed kwytraak. Nadat hulle bors skoon gemaak het, sal die mense heel rustig saam tee drink en huis toe gaan. Ek kon nie verhelp om te dink nie: Sjoe, as hierdie vergadering in Suid-Afrika plaasgevind het, sou daar seker ’n horde polisiemanne op die vergadering toegesak het en almal in hegtenis geneem het. Soos een Britse joernalis aan my gesê het: “Media freedom also entails that you must allow insanity at the edges in order to determine the sane centre.”

Ons as joernaliste hier in Suid-Afrika het op 19 Oktober weer oor “swart Woensdag” besin. Dit is die dag in 1977 toe die regering die koerant The World toegemaak, verskeie senior joernaliste in hegtenis geneem en 19 organisasies verbied het. Tog het die onluste selfs vererger terwyl ’n heel gematigde man soos Percy Qoboza ’n rol kon gespeel het om dialoog aan te moedig. Duidelike standpuntstelling deur media-instansies en gewone burgers help om begrip te bevorder en debat te stimuleer. Natuurlik is daar perke ook. Die meeste vrye-media-instansies het hulle eie kodes, gebaseer op internasionale praktyk. Een beginsel is byvoorbeeld dat geweld nie aangehits sal word nie. Oortree ’n instelling of individu so ’n reël, kan hulle voor selfregulerende instellings soos die persraad of die uitsaaiklagtekommissie gedaag word.

Waaraan die meeste joernaliste ’n broertjie dood het, is dat die regering die rol as reguleerder oorneem. Dit kan daartoe lei dat ander standpunte nie geduld word nie en die staat beheer neem van wat mense mag lees, hoor of sien. So ’n situasie beteken die einde van ’n vrye media en burgers se reg op vryheid van spraak.

...
Moet nooit ’n gas verneder nie. As jy sien dat jy die persoon met jou vrae in ’n hoek het, los dit daar en beweeg aan na ’n volgende punt. Die kykers sal wel weet indien die gas kleigetrap het.
...

Die laaste deel van Gustaf se brief handel oor onderhoudvoerders wat sulke ego’s het dat die onderhoud eintlik meer oor hulle gaan. Hy verwys seker in die besonder na TV-aanbieders. In my ervaring hou sulke ankers nie lank nie. ’n Mens moet altyd onthou dat jy uitsaai vir ’n breë spektrum kykers. Elk het sy eie mening. Jy moet die kykers nooit onderskat nie. Hulle voel gou-gou aan as jy nie opreg is nie en besig is om iets in hulle kele af te druk. Dit tas jou geloofwaardigheid aan en daarsonder is jy eintlik niks nie. Die gevolg is dat mense afskakel. Die bestuur van televisiekanale ontvang weekliks die kyksyfers van programme. Kwalitatiewe navorsing word ook van tyd tot tyd gedoen. Daarby skryf kykers in of bel en kla oor ’n bepaalde anker. So kan ’n mens redelik gou agterkom of die anker ’n bate is of nie. En as die kanaal kykers verloor, verloor hy inkomste en is al die personeel se werk in die gedrang.

Oor Gustaf se opmerkings aangaande sommige onderhoudvoerders se groot ego’s kan ek die volgende opmerkings maak:

  • Kykers verwag op die minste van ’n aanbieder dat jy regverdig is. In ’n debat- of besprekingsprogram moet jy billik wees teenoor elke gas. Jy moet streng wees en orde handhaaf, maar tog elk die vryheid gee om sy/haar standpunt te stel. Jy durf nie in die loop van die program aktief betrokke raak in die gesprek nie. Jou rol is om te fasiliteer.
  • In ’n een-tot-een-onderhoud moet jy vrae stel sodat die gas gelei word om inligting te openbaar of ’n mening te motiveer. Jy mag nie in ’n argument betrokke raak nie.
  • Vra vrae, moenie ’n toespraak hou nie. Sodra ’n aanbieder lang stukke praat voordat hy/sy by die punt kom, weet jy so ’n persoon het ’n vergrote ego. Die aanbieder wil wys hoe slim hy of sy is. Die beste is dat die onderhoudvoerder kort vrae vra: Wie? Wat? Waar? Wanneer? Hoe? Hoekom?
  • Soms neem die aanbieder baie van die tyd in beslag deur sommer drie, vier of meer vrae te vra. Die gas se strategie daarteen is om bloot die vraag te kies wat vir hom/haar ter sake is en die ander te ignoreer.
  • As anker moet jy besef dat jy eintlik namens die kykers vrae stel. Dit gaan nie oor jou nie, maar oor die diens aan die publiek. ’n Goeie strategie is dus om uit verskillende hoeke vrae aan die gas te stel. Daardeur toon jy balans. Ek het dikwels in my navorsing voor ’n belangrike onderhoud met byvoorbeeld ’n politikus ander partye gebel en gevra: Wat sou jy vir die persoon wou vra?
  • Moet nooit ’n gas verneder nie. As jy sien dat jy die persoon met jou vrae in ’n hoek het, los dit daar en beweeg aan na ’n volgende punt. Die kykers sal wel weet indien die gas kleigetrap het. Toe ek nog ’n parlementêre joernalis was, het daar by geleentheid ’n storie die ronde gedoen dat oudpresident PW Botha glo gesê het: “I’ll never kick an opponent when he is down – unless he wants to get up.” Dis nie nodig om só ver te gaan nie. Deur ’n ander persoon te vertrap, wil jy eintlik wys jy is beter.
  • Wys empatie. Dit gebeur soms dat ’n gas wat nog min blootstelling gehad het aan regstreekse uitsendings benoud raak en “vries” voor die kamera. Die aanbieder kan dan sy/haar medemenslikheid toon deur die persoon aan te moedig en deur strategiese vrae te stel wat dan die persoon se geheue verfris.
  • Moenie lag oor ’n ander se verleentheid nie. Dis snaaks dat mense dit lagwekkend vind as iemand iets oorkom en verleë is. ’n Gas stamp byvoorbeeld per ongeluk sy glas water om en die water beland op sy hemp en broek. Pleks van te lag, behoort die aanbieder die persoon gerus te stel en desnoods ’n advertensiebreuk aan te kondig sodat die situasie gehanteer kan word.
  • Beskerm die gaste. Dit gebeur soms in ’n debat of paneelbespreking dat een persoon uithaak en so kwaad word dat hy letterlik ’n ander gas te lyf wil gaan. Ek het by geleentheid tydens ons programme voor die ’94-verkiesing so ’n situasie beleef. Die destydse leier van die AWB, Eugène Terre’Blanche, was deel van ’n gemengde paneel. Ek het van die begin af nie die vrede vertrou nie en gereël dat Terre’Blanche langs my sit. Tydens die bespreking het hy so kwaad geword vir die skerp kritiese opmerkings teenoor hom dat hy opgestaan het met die doel om die ander persoon by te dam. Ek het hom aan sy mou afgetrek terug tot op sy stoel en kalm aan hom gesê: “Meneer Terre’Blanche, jy is ’n baie goeie spreker. Gebruik jou stem, gebruik jou talent en antwoord die man. Hy en ons het ore om te kan hoor. Sê vir hom wat jy wil sê.” 
  • ’n Aanbieder moet vrae vra, nie stellings maak nie. Sommige ankers is geneig om wilde stellings te maak, dit dan net so in die bloute te laat hang en verwag die gas moet daarop reageer. Maar waar kom die stelling vandaan? Is dit reg aangehaal? Of is dit dalk die aanbieder se eie standpunt wat hy/sy by die gesprek insleep?
  • Is die vrae relevant? As die gas gepeper word met vrae wat skynbaar niks te doen het met die onderwerp soos ooreengekom nie, moet jy maar weet: Die onderhoudvoerder voer iets in die mou.
  • Leidende vrae. Dis tipies waar die anker vra: Maar dink jy nie …? Dit is meermale sy eie standpunt waaroor hy dan ’n argument met die gas wil uitlok.
  • ’n Arrogante aanbieder val die gas te veel in die rede. Die gas moet darem ’n redelike kans kry om ’n standpunt te verduidelik. Dis die beste om die bogenoemde kort vrae (wie? wat? ens) in te glip en dus minder steurend te wees. As dit te erg raak, moet die gas sommer die aanbieder reguit aanspreek deur iets te sê soos: “Jy het ’n relevante vraag gevra. Gee my nou die kans om dit te beantwoord.” ’n Buitengewone geval was die optrede van toe nog die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe. In ’n regstreekse televisie-onderhoud het hy aan die aanbieder, wat hom gedurig in die rede geval het gesê: “This is a monologue, not an interview. I’ll wait for you to finish.”
  • Onthou: Alles wat jy aan ’n joernalis sê, is op die rekord – al kom julle anders ooreen. As jy belangrike dinge aan ’n aanbieder sê voordat die onderhoud begin, sal ’n moedswillige aanbieder jou êrens tydens die onderhoud daarmee konfronteer.

Daar is veel meer te sê oor onderhoudvoering as wat hier genoem is, maar dit gee ’n prentjie van hoe aanbieders met ’n ego optree en wat daaromtrent gedoen kan word. Die belangrikste is dat die aanbieder en gas deeglik voorbereid moet wees met die relevante feite en inligting, gefokus bly om in die belang van kykers op te tree, dit met oorgawe te doen en ook vermaak te lewer deur eintlik net lekker te gesels.

Lees ook:

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met Arrie Rossouw

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met Gert Grobler

Brandfort, Winnie en die ambassadeur

  • 1

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Dankie vir die moeite Freek en die insiggewende stuk met antwoorde en riglyne. Lesers sal verseker baie baat hierby vind omdat dit van 'n bron kom met jare se ervaring in die dié bedryf. Die bekentenis dat mens nooit volkome objektief kan wees nie verdien ook 'n pluimpie. Dis nodig om eerlik te wees wanneer onderwerpe soos hierdie ter sprake kom.

    Ek is dit eens oor koerante soos die Daily Mail en Guardian in Brittanje waar mense die een koop wat met sy eie voorkeur resoneer. Dis bloot menslik. Die probleem kom by koerante of TV (Nuus) Netwerke wat voorgee dat hulle onafhanklik en objektief is en glo in eerlike beriggewing terwyl mens voor jou siel weet dis nie die geval nie. CNN is 'n goeie voorbeeld. Hulle poog baie hard om so 'n indruk te skep. Hulle aanbieders is egter niks anders as politieke aktiviste nie. Hulle dien opsigtelik 'n spesifieke agenda wat mens met 'n stok kan aanvoel. Insgelyks met FOX alhoewel daar verskil van menings binne die Netwerk is. Dit bring mee dat kykers inskakel op die een wat hulle hulle mening en standpunte verteenwoordig. In die proses ly die waarheid dikwels erg skade maar ironies genoeg, bring dit ook balans, sou jy natuurlik toegang tot albei hê.

    Die meeste lande in die wêreld, ook ons in SA, kommunikeer hoofsaaklik standpunte van CNN asook die New YorkTimes en soortgelyke koerante in Amerika. In die geval van Brittanje is SKY News en die BBC die bronne van nuus wat dekking in ander lande kry. Dit word gedoen deur nuusinstellings soos Reuters (en andere) wat nuusberigte dra en deur plaaslike koerante oorgeneem word. Deur herhaling geskied beïnvloeding en word mense se menings gevorm.

    Dit daar gelaat. Wat meer en baie belangrik is, is die beginsel van vryheid van spraak en daarmee saam, media vryheid. Dit is iets wat in 'n ware en oop demokrasië gewaarborg is en uitgeleef word. Hier te lande word dit ook as 'n ononderhandelbare beginsel onderskryf. Dit word in art. 16 (2) van ons Grondwet beperk in gevalle van oorlogspropaganda, aanhitsing tot geweld en haatspraak. Iets wat vir sigself spreek en heel logies is. Daar's tans ernstige gesprekke oor haatspraak en onlangse uitsprake van howe bevestig dit. Dis egter 'n debat op sy eie.

    Ek stem dus volkome saam dat media vryheid van uiterste belang in enige demokrasie is en gerespekteer moet word. Die rooi ligte wil-wil soms flikker maar vir nou is dit iets wat steeds hoop gee en 'n uitlaatklep is vir joernaliste en burgers om hulle oor sake van belang uit te spreek. Wat kommer wek is dat media berigte in baie gevalle as eensydig beskou word. Mense wend hulle dan na sosiale media en 'nuus' word die wêreld ingestuur wat dikwels ook niks anders as fopnuus is nie. Dis daarom dikwels die waarheid wat skade ly. Net om te bewys dat 'die waarheid' ook maar subjektief is aangesien die waarheid vir mense dit is waarin hy/sy glo.

    NS: Wat van belang is, is dat praktiese ervaring in die media bedryf 'n groot voordeel is. Freek is 'n goeie voorbeeld van iemand wat die meeste tyd van sy lewe in die media wêreld deurgebring het. Soos Thuli Madonsela tans haar praktiese ervaring by die Universiteit van Stellenbosch doseer, so kan Universiteite in die breë ook baat vind om mense soos hy te gebruik in joernalistieke studie kursusse.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top