Brandfort, Winnie en die ambassadeur

  • 4

Die onlangse nuus dat die klein Vrystaatse dorpie Brandfort na Winnie Mandela vernoem gaan word, het my weer herinner aan ’n interessante ervaring wat ek as ’n jong TV-aanbieder gehad het. Dit gaan oor die tegniek van onderhoudvoering. Die Winnie-storie het die raamwerk geskep vir ’n les wat ek geleer het en wat vele kere nuttig te pas sou kom.

Ek is aan die begin van 1991 die eerste keer vas aangestel as aktualiteitsaanbieder. Dit was vir die nuwe program Agenda. My mede-aanbieder (in Engels) was die ervare John Bishop. Ons program is uitgesaai op ’n Sondagaand en dit was 45 minute lank. Dit het die kans geskep om behoorlike onderhoude te voer. Maar jy moes jou storie ken.

Soos die ander aanbieders (behalwe John) het ek geen opleiding gehad as onderhoudaanbieder nie. Ek moes maar staatmaak op my ervaring as TV-joernalis oor die jare. Verder het ek darem die voordeel gehad van drie jaar se diens as Europese korrespondent van die SAUK, met my basis in Londen. Dus het ek baie blootstelling gekry aan programme waarin ’n mens kon sien hoe ervare aanbieders soos dié van die BBC optree. Maar dit het gou geblyk dat ek weinig geleer het, of ’n verkeerde opvatting ontwikkel het oor hoe ’n goeie aanbieder sy taak suksesvol moet uitvoer.

My idee was basies dat ’n goeie onderhoud “tough and challenging” moet wees. Dit beteken dat jy sommer met die intrapslag aggressiewe vrae moet vra. Ek het geen idee gehad dat ’n mens ’n strategie vir elke persoon en omstandigheid moet hê nie.

Kort voor lank het die nuusbase my ingeroep. Volgens hulle was daar heelwat negatiewe terugvoer van die kykers. Gevolglik het die program se kyksyfers nie te goed gelyk nie. Een van die klagtes was dat ek te aggressief was. Ek het hulle gevra wat dan spesifiek verkeerd was en hoe ek anders moes optree om die situasie te beredder. Hulle kon my nie antwoord nie, want niemand van hulle het die ervaring gehad nie.  

Nogtans het hulle gedreig om my van die lug af te haal indien ek nie verbeter nie. Ek het begin rondvra oor wie my sou kon help. Een van die voorstelle was om Wynand Pienaar van Unisa se Sakeskool van Leierskap te nader. Hy het toe na opnames van my aanbieding gekyk en my gou-gou op ’n paar probleme gewys.

Hy het gesê aggressie is selde ’n positiewe ding. Die mens se natuurlike reaksie op aggressie is om terug te veg of om jouself te onttrek van die situasie. In albei gevalle word die verlangde uitkoms gewoonlik nie bereik nie. As die persoon met wie jy die onderhoud voer, hom of haar vererg, is die gevolg dat jy ’n klomp emosie kry en nie inligting of beredeneerde verduideliking nie – tensy jy natuurlik emosie wil hê.

(Ek het deur die jare byvoorbeeld geleer dat as jy die voormalige minister van buitelandse sake, Pik Botha, op sy stukke wil sien, moet jy hom kwaad maak. Jy wag net jou kans af en gooi ’n skewe word in. Dan is dit of jy ’n “perform”-knoppie druk.)

Aan die ander kant, as die persoon in reaksie op aggressie hom of haar onttrek, kry jy niks verder uit so ’n mens nie. In die ergste gevalle is die gas so ontsteld dat hy opstaan en uitloop.

Pienaar het ook daarop gewys dat ek ’n aggressiewe houding aanneem deur vorentoe te leun. Dit beteken jy dring die privaat spasie van die ander persoon binne. En soos ons almal weet, is talle oorloë al oor spasie geveg. Hy het daarop gewys dat die hele atmosfeer sommer meer neutraal word as jy regop sit. Dis letterlik ’n kwessie van jou bolyf so 15 grade terug te laat leun. Dit maak ’n reuseverskil.

So het hy heelwat dinge uitgewys, maar seker die interessantste was sy raad oor strategie – spesifiek of dit moontlik is om ’n persoon se standpunt oor ’n kwessie binne enkele vrae in die onderhoud te verander. 

Dis nou waar Winnie in die prentjie kom – en Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA in die middel-tagtigerjare, Herbert Beukes.

Winnie is op 15 Mei 1977 verban na die klein dorpie Brandfort in die Vrystaat. Dis omtrent so 50 km noord van Bloemfontein. Dit was die hoeveelste keer dat sy verban is, maar dié keer is sy basies onder huisarres geplaas – ver weg van haar huis en vriende in Soweto.

Sy sou vir sowat agt jaar daar bly. Die nuus oor haar ontbanning was skaars bekend, toe verbied die destydse minister van polisie, Louis le Grange, haar om na haar huis in Soweto terug te keer. Sy kon ook nie nader as vyf kilometer aan enige lughawe kom nie (dis omdat sy ’n uitnodiging gekry het om haar saak aan die Amerikaners in Washington te stel – en die regering wou ’n stokkie daarvoor steek).

Die bekende en hoogs gerespekteerde aanbieder van die Amerikaanse televisiemaatskappy ABC se Nightline-program, Ted Koppel, het ambassadeur Beukes genooi om sy regering se saak oor die ontbanning van Winnie te stel.

Pienaar het vertel dat Koppel glo klasgeloop het by ’n beroemde Amerikaanse maatskaplike sielkundige, Robert F Bales van die Universiteit Harvard. Hy het interaktiewe kommunikasie van klein groepe teenoor mekaar bestudeer (soos tydens arbeidsonderhandelinge). Bales het ’n strategie uitgewerk vir hoe om ’n ander persoon of groep se standpunt te verander. Volgens hom (in baie vereenvoudigde terme) werk die brein se prosesse so: Vanaf geboorte versamel die mens feite en stoor dit saam met belewenisse in die basis van die brein. Die brein verwerk alles en probeer sin maak daarvan. Dan word ’n standpunt geformuleer en ’n gevolgtrekking gemaak.

Die Bales-tegniek om mense so ver te kry om van standpunt te verander, behels die volgende stappe:

  1. Vra ’n uiteensetting van die amptelike standpunt
  2. Vra wat die persoon se eie mening is.
  3. Vra vir feite waarop die standpunt berus.
  4. Gee ’n ander stel feite.
  5. Gee ’n eie mening daaroor.
  6. Gee ’n nuwe standpunt op grond van nuwe feite.
  7. Aanvaar die persoon dit so?

Dis die tegniek wat Koppel toe gebruik het in die onderhoud met ambassadeur Beukes. Die ambassadeur was ’n “verligte” wat verbasend eerlik was oor gebeure in Suid-Afrika en nie geskroom het om te erken as iets nie reg was nie.

Kortliks in Afrikaans geparafraseer:

  1. Koppel: Ambassadeur Beukes, wat is die betekenis van vandag se ontbanning van Winnie Mandela?

Beukes: Die feit dat sy vry is om na agt jaar die huis in Brandfort te verlaat, is ’n teken van die Suid-Afrikaanse regering dat hy bereid is om die demokratiese beginsels van vryheid van beweging en van spraak te aanvaar.

  1. Koppel: Mnr Beukes, wat is jou eie standpunt oor die ontwikkeling?

Beukes: Ek dink dis ’n positiewe stap wat die land nader kan bring aan ’n situasie waar burgers van die land bereid is om met mekaar te praat oor oplossings – selfs al sou hulle skerp verskil.

  1. Koppel: Ambassadeur, kan jy net ter wille van ons kykers wat miskien nie so goed ingelig is oor sake in jou land nie, verduidelik wat dit behels as ’n persoon verban word?

Beukes: Dit beteken dat jy basies in huisarres geplaas word. Jy mag net twee persone op ’n slag as besoekers ontvang – en hulle moet toestemming kry by die polisie. Jy moet twee keer ’n dag by die polisie aanmeld; jy mag nie aan politieke bedrywighede deelneem nie; jy mag nie in die openbaar aangehaal word nie;  ens.

  1. Koppel: Wel, Ambassadeur, ek het hier voor my ander feite. Ons het verneem dat Winnie Mandela wel vry is om Brandfort te verlaat, maar julle minister van polisie het haar opnuut ’n verbanning opgelê dat sy nie na haar eie huis in Soweto mag terugkeer nie
  2. Koppel: So, ambassadeur Beukes, as Winnie Mandela nie eens vry is om na haar eie huis in Soweto te gaan nie, glo jy werklik haar ontbanning van Brandfort is ’n positiewe stap?
  3. Koppel: Dit dui ook glad nie daarop dat jou regering die demokratiese beginsels van vryheid van spraak en beweging aanvaar nie.
  4. Koppel: Stem jy saam?

Beukes: Ek kan nie daarteen stry nie.

Binne ’n kwessie van ses vrae is die ambassadeur gedwing om om te swaai.

(Ek het ambassadeur Beukes oor die storie gebel. Hoewel hy nie die spesifieke onderhoud kan onthou nie, glo hy sy antwoorde, soos ek dit geskryf het, getrou sou wees aan hoe hy dit sou gehanteer het.)

Die Bales-tegniek het my al etlike kere gehelp om politici ’n bietjie vas te vat. As jy weet hulle feite is verkeerd, of dat hulle net die halwe waarheid beet het, kan jy hulle met redelike sukses konfronteer – dit alles in ’n baie kalm stem en sonder aggressie in die lyftaal.

Winnie het Brandfort op die wêreldkaart geplaas. Winnie en dié stowwerige dorpie het daartoe gelei dat ’n deur na groter kennis en tegniek vir my as aanbieder oopgemaak is.

Dit het dalk my loopbaan gered.

  • 4

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Ervaring en advies waarop huidige en toekomstige onderhoudvoerders ag op kan slaan en in hul pylkokers kan bêre.

    Die realiteit is egter ook dat nuushuise self sekere politieke oortuigings het en wil bevorder. Daar word dan van onderhoudvoerders verwag om uitdrukking daaraan te gee. Dit het baie in die verlede gebeur en gebeur steeds - wêreldwyd. Ook, is daar onderhoudvoerders wat of 'n ego het en onderhoude meer oor hulleself maak. Ander weer, is subjektief met 'n eie agenda en formuleer vrae so dat iemand wat 'n ander standpunt huldig, nie die geleentheid kry om sy/haar mening te lug nie.

    Miskien kan Mnr. Robinson ook hieroor sy mening gee en sodoende 'n verdere bydrae maak waaruit ander kan leer. Dis 'n baie aktuele en akute onderwerp en 'n paar verdere artikels sal nie skade doen nie.

  • David Willers

    Great comment, Freek. Read with interest since I was familiar with your earlier technique in the 'eighties!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top