Hoë werkloosheidsyfer alle Suid-Afrikaners se rede tot kommer: Rapport se politieke redakteur praat met Naomi Meyer

  • 0

Hallo, Lizel, geluk met jou aanstelling as politieke redakteur van Rapport sedert die begin van die jaar. En baie dankie vir die geleentheid tot gesprek. Hoe lyk die Suid-Afrikaanse politieke toneel in jou opinie nou, nog vroegerig in 2012? Eenders, anders, onveranderd teenoor verlede jaar?

Julius Malema, geskorste ANC-jeugleier, sal binnekort weet of sy appèlaansoek teen sy vyf jaar lange skorsing uit die ANC suksesvol was. Na my mening sal die ANC se nasionale appèlkomitee Malema se skorsing bekragtig. Dit sal in alle waarskynlikheid sy politieke doodstraf wees – dog, die kwessies waaroor Malema hom herhaaldelik uitgespreek het (al is dit dan ook op ‘n militante wyse) gaan nie verdwyn nie: miljoene swart jeugdiges is werkloos, grondhervorming is ‘n klaaglike mislukking en swart mense is 18 jaar later steeds nie op ‘n ekonomiese vlak bevry nie. Die ANC kan nie bekostig om dié vraagstukke te ignoreer nie.

Die belangrikste gebeurtenis op die politieke agenda is die ANC se leiersverkiesing Desember in Mangaung. President Jacob Zuma sal waarskynlik herkies word en só ‘n tweede termyn as staatshoof verseker. Die Zuma-partytjie kan egter versuur word as iemand soos adjunkpresident Kgalema Motlanthe hom ook verkiesbaar stel. Dit lyk in dié stadium egter of Motlanthe bereid is om sy beurt af te wag tot 2017.

Voorts kies die SAKP en Cosatu in aanloop tot Mangaung nuwe leiers. Wié hier verkies word, kan ‘n beduidende invloed hê op die ANC se leiersverkiesing in Mangaung. Word Blade Nzimande tot SAKP-leier herkies, sal dit Zuma se kans om tot ANC-leier herkies te word, versterk. Cosatu kies in September sy nuwe leiers – dit is nie duidelik of Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris, hom weer verkiesbaar sal stel en of hy die paal gaan haal nie. Hy was die afgelope ruk erg krities oor die Zuma-regering, veral oor korrupsie in die staatsdiens, die hoë werkloosheidsyfer en ongelykheid. Cosatu meen die regering se ekonomiese beleid is onvoldoende om werkloosheid en ongelykheid daadwerklik aan te spreek en sal waarskynlik nog meer druk uitoefen op die regering om na sy pype te dans. Cosatu gaan waarskynlik sy spiere eerder bult by die ANC se beleidskongres in Junie.

Die beleidskongres is een van die belangrikstes vir die ANC sedert 1994. Dit is hier waar die ANC-afgevaardigdes moet besluit oor die pad vorentoe betreffende brandpunte soos grondhervorming en nasionalisering. Hoewel die afgevaardigdes eers in Desember in Mangaung die finale resolusies (ANC-beleid) sal aanvaar, sal ons in Junie ‘n goeie idee kry hoe die ANC voel oor kwessies soos gewillige koper/verkoper, onteiening sonder vergoeding, eiendomsreg, die beoogde mediatribunaal, ens.  

Baie kan dus vanjaar verander, maar die ANC is en bly ‘n lomp organisasie wat jare neem om besluite te neem en dit in werking te stel, veral waar dit op regeringsbeleid van toepassing is.

Wie is die politici om vanjaar dop te hou?

Jacob Zuma, Kgalema Motlanthe, Paul Mashatile, Tokyo Sexwale, Julius Malema, Lindiwe Sisulu, Zwelinzima Vavi en Lindiwe Mazibuko.

Het Suid-Afrikaners rede om opgewonde of bekommerd te wees vanjaar - en hoekom (of oor watter aspekte van die politieke toneel)?

Ons almal, ongeag ras of politieke affiliasie, moet bekommerd wees oor die hoë werkloosheidsyfer (36 persent), ongelykheid tussen ryk en arm, korrupsie en die patetiese onderwysstelsel. Ons ekonomiese groeikoers is te laag om genoeg werk te skep, ons onderwysstelsel lewer nie mense met die vaardighede waaraan daar ‘n tekort is in ons ekonomie of om ons ekonomiese groeikoers te stimuleer nie, en staatsamptenare en tenderpreneurs wat die staatskas plunder, kom daarmee weg. Dié realiteite gaan dienslewering toenemend knel en ongelykheid net vererger. As ons werkloosheidskoers dieselfde bly of styg, en ongelykheid op die huidige vlakke bly, sal dit op die lang duur politieke stabiliteit beïnvloed. Hoe die ANC-regering, private sektor en burgerlike samelewing dié kwessies aanspreek, sal bepaal waarheen Suid-Afrika op pad is.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top