Hip-hop en edutainment: ’n onderhoud met rymkletser Siep

  • 0

Martin Muller (oftewel Siep, akroniem vir “Siel in Elke Persoon”) is ’n rymkletser van Kaapstad. Siep se gelyknamige album Siel in Elke Persoon word op 30 November vrygestel. Menán van Heerden het met hom gesels oor sy musiek asook oor hip-hop-aktivisme in die Kleinvlei gemeenskap.

Watter boodskap(pe) wil jy met hierdie album oordra?

Moenie laat jou omstandighede jou drome negatief beïnvloed nie, gebruik wat jy het en werk jou vrek. Wees proud op wie jy is. Die lewe wil gelewe wees. Op een van die tracks op die album feature ek Hakkies Draad Harman – die title van die track is “Werke”. Die werke moet gewerk word, en jy moet self die werke werk – niemand gan dit vi jou doen nie.

Vertel meer oor die styl “boom-bap” en jou taalgebruik op die album.

Boom-bap is basies die klanknabootsing van die beat, nl boom (drum), bap (snare). Baie mense verwys altyd na die boom-bap style van rap as Old Skool Rap (ek lag my mos ’n papie hieroor en raak ook soms kwaad), wat nie die geval is nie. Old Skool is gewoonlik songs wat lank gelede ytgekom het. Boom-bap is nie Old School nie!!! Boom-bap is en sal altyd die fondasie wees van authentic hip-hop rap style of dit nou in die ‘90’s release was of twee minute gelede.

Taalgebruik is baie belangrik vir my – ek spoeg goed wat jy nie noodwendig die eerste keer gan vang nie – dit sal jou ’n paar keer vat om punchlines ens te vang. Is baie belangrik dat jou rap style die boom-bap beats komplementeer. ’n Boom-bap beat met ’n pap verse was nog nooit brasse nie.

Waar kan mense jou album koop? Wat is die name van die ander kunstenaars op die album en waar kom hulle vandaan?

Vir eers gan ek dit smokkel yt die hand yt tot ek genoeg kroon het vir online winkels. Mense kan ook order by Ill Major Movement se website en social media platforms.

Die artist wat almal feature op die offering is Jetro Louw die Plakkerskamp Poet, Linkris, Lee-Ursus, BLK Mantis, YAH, Roksha, Laura Jane, Mr T, DJ Ice Cue, Naz Stage, Dave Dala, Loot Mauritz, almal van die Kaap. Hakkies Draad Hartman is van George en Broederbond-members Vlaktes van Kaapstad en Mr DIY van Steinkoff in Noord-Kaap.

Jy is ook deel van die groep Boesmankamp. Vertel meer waarom dit vir die groep belangrik is om op die inheemse Khoitaal en -kultuur, “Kullid”-identiteit, politiek, en maatskaplike kwessies (“social ills”) te fokus.

Hip-hop was altyd, of het onstaan, as die mond of die voice van die oppressed en het later ’n sterk politieke en kulturele impak begin maak toe manne soes NWA en KRS begin, dmv hulle rap verses, hulle monde kon ytspoel oor situasies waarin hulle hulself bevind.

Ons was deur baie van hierdie hip-hop icons beïnvloed en het ook min of meer dieselfde op die hart.

Hulle sê ook mos wat die hart van vol is loop die mond van oor. Ek spoeg yt my hart yt. Spoeg oor goed wat my pla, spoeg oor goed wat my happy maak, en is my plug as ’n MC (rapper) om te verkondig wat reg is, want ek’s ’n instrument van die Allerhoogste.

Vir hier die rede moet ons touch op sulke subjects want daar is laaities ini Skiem wat nie verstaan hoekom hy homself bevind waar hy homself bevind nie, hy voel minderwaardig, hy’t vrae wat in sy kop in dwaal wat later evolve na ’n “ek gee nie meer om” attitude toe en dai’s hoekom ons gemeenskappe soe deumekaar is. Dai’s hoekom os focus op dit, nie om jou te remind van jou omstanghede nie, maar om jou te wys jy kan styg soes ’n arend yt die ashoop yt.

Siep

Jy is ook die eienaar van Ill Major Movement. Vertel meer op watter maniere hierdie musiekproduksiemaatskappy fokus op bemagtiging, “skills transfer”, edutainment en opleiding van die benadeelde jeug en gemeenskap.

Almal is nie soe kwai in skoolwerk nie, Jy kry mense wat kwai is in sport en dai’s al waarin hy kwai is. Jy kry mense wat kwai kan sing, dans, act, teken – basies creative is. Jy kry ook som wat goed is met hulle hande en kan gou iets bou, spyker, kap ens. My ding is soes dié: wat van dié wat nie soe kwai is in sy skoolwerk nie, ma hy’s n damn good kunstenaar wat kwai kan teken of wat ever kan doen? Wat word van hom/haar? Os skole hier in os gemeenskappe het soms nie eers sport op skool nie – hoe channel dai laaitie dai energy? Nou sukkel hy nog met sy skoolwerk en glo nou hy’s nie soe bright nie. Wat doen hy nou met sy lewe? Hoe voel hy/sy nou oor homself of haarself? IMM probeer om visible te wees met os music, parkjams, events en workshops waar ons nie net mense ’n platform gee en educate oor hulle talent nie, maar ook hoe dit lucrative kan raak en ook basies net iets wees waar jy jouself kan express.

Vertel meer oor jou hip-hop-werkswinkels in die Kleinvlei-gemeenskap. Hoe dink jy kan hip-hop ’n verskil maak in gemeenskappe en brûe bou tussen gemeenskappe?

 In apartheidjare kon jy na plekke soes The Base en Teasers toe gan, dan kon jy alle rasse daar kry. Dai tyd het hip-hop al brûe gebou tussen ons, en steeds nog tot vandag toe, in fact. Kuns in algeheel doen dit.

Die werkswinkels is baie informal geraak, agv klomp politiek, en ek bedoel letterlik politiek. Ons reël alles dan wil organisasies wat niks doen nie, net kom foto’s vat, linte knip en dit op hulle profiles add. In ’n sirkel oppie hoek vannie straat of in ’n parkie sit os gou saam en gesels, rap, sing, vertel stories, inspire mekaar.

Gan op YouTube dan kyk jy hoeveel cyphers gan jy kry op skole en op hoeke van strate van laaities wat rap, dans (bboy), met sketsboeke en kitare rondloop. Dai’s hip-hop. Die jeug is ledig en jy weet wat sê hulle van ledigheid en die duiwel se kussing.

Soe my ding is soes dié: daar is klomp qualified unemployed onnies, maatskaplike werkers, community workers ... the list goes on. Hoekom sit die mense in charge nie ’n program bymekaa nie, nou kan os dan mos kyk na die unemployed, os kyk automaties na decrease van bendegeweld want laaties gan nie nou na skool oppie hoek staan vir kwaadgeld nie, maar na die program toe wat hy nog ’n stukkie DITE (kos) ook kan kry. Daar is soe baie wat ek nog wil sê oor dié punt, soes byvoorbeeld waar hip-hop met education en entrepreneur koppel, ma dai’s vi ’n anne dag.

Vertel meer oor parkjams in die Kleinvlei-gemeenskap. Wat behels parkjams, waar vind dit oor die algemeen plaas, en wie is die gehoor? Bring dit gemeenskappe saam?

Gemeenskap is honger vi parkjams as ek loop innie pad dan vra die mense wanne dan? Mense kom van oral en chill. Ouers kom kyk om hulle kinders te support. Wat die belangrikste is, is family, want charity begins at home.

Watter van jou musiekvideo’s/tracks illustreer edutainment die beste?

“Wiskunde” sal sieke die antwoord wees, maar, ek moet sê al my tracks, want eers moet jy jou vra wat is education? Opvoeding. Om opgevoed word, of dit formeel is of nie. Ek kan opvoeding kry by ’n hond deur hom net dop te hou. LOL. Klink snaaks, maar is waar. Watch this, LOL: “My opvoeding sê die hond is honger, want hy kou sy bak. Ek’t hom dopgehou, myself opgevoed deur my observations en notes wat ek gemaak het.”

Afrikaans die mooiste taal het baie dialekte – mense underestimate my onmiddellik as ek praat in my slang, my dialek, maar oë raak gou groot as hulle kom meet hoe toor ek met woorde en soe word hulle ge-edutain.

  • Luister na Wiskunde Inleiding:

  • Skakels:

SIEP ALBUM 
SIEP Short Profile and Free Music
Ill Major Movement Videos
Facebook: SIEP

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top