Die Hilton Kunstefees is pas vir die 34ste jaar gehou en het bewys waarom dit KwaZulu-Natal se vernaamste en langslopende jaarlikse viering van teater, musiek, dans, beeldende kunste en handgemaakte produkte is. Ons woon die fees vir die eerste maal by.
Dit word jaarliks naby die Vrouedag-langnaweek op die kampus van Hilton College in die KwaZulu-Natal-middellande gehou.
Die fees is in 1993 gestig met die doel om iets soortgelyks as die Nasionale Kunstefees in Grahamstad (Makhanda) na die middellande te bring en het gegroei tot een van die land se mees toonaangewende kulturele byeenkomste. Dit sluit professionele teaterproduksies, komedies, musiekoptredes, werkswinkels en ’n uitgestrekte mark vir handgemaakte goedere en kos in.
Die feesnaweek skop Vrydagoggend af met die Jongosi-jeugprogram: ’n toegewyde skoolinisiatief wat duisende leerders van regoor die provinsie byeenbring om lewende uitvoerende kunste te ervaar – dikwels vir die eerste keer.
Ons arriveer laatmiddag na ’n besoek aan die Nelson Mandela-gevangenemingsplek-museum so ’n paar kilometer weg. Voor die indrukwekkende kollege se hoofteater brand vure in vuurputte, musiek speel oor die mense en stalletjies verkoop kos van alle geure en oorspronge. Die atmosfeer is feestelik.

John van de Ruit het Spud: Two for the Road – die laaste roman in die geliefde Spud-reeks – by die fees bekend gestel. By hom staan Andrea Nattrass en Jane Bowman van Pan Macmillan en Penguin Random House SA.
In die groot wit tent neffens ons is daar ’n voorlesing en bekendstelling van John van de Ruit se Spud: two for the road – die laaste roman in die geliefde Spud-reeks. Die laaste boek volg 21 jaar nadat die eerste boek ons harte verower het.
Nadat ons lekker gesmul het en met vonkelwyn gevier het, stap ons saam met vriende af na die sportsentrum vir die Arno Carstens-vertoning. Hy en sy trompet- en klawerbordspeler en ook musikale regisseur David Watkyns en dromspeler Giovanni “Gio” Serci laat eet die gehoor uit hul hande. Elke keer as die luide applous na die “laaste song vir die aand” bedaar het, vra Arno: “One more?” en die gehoor skree vir meer.
Die terugstap motor toe is sommer lig en lekker ten spyte van die ysige windjie, want almal het ’n wonderlike konsert beleef.

Making ground
Ons eerste ervaring Saterdagoggend is met die eerste KZN Art Fair. ’n Hoogtepunt is Making ground, ’n baanbrekende uitstalling wat die provinsie se kreatiewe ekonomie- en ontwerpuitnemendheid vier en geborg deur die bekende Pietermaritzburgse handelsmerk Belgotex.
Die uitstalling verken kontemporêre Suid-Afrikaanse materiaalkultuur deur vier temas: industrieel, mities, aards en geometries. Uitsonderlike werke in matgeweefde tekstiele, keramiek, mandjiewerk en industriële ontwerp deur top-ontwerpers, soos The Ninevites, Astrid Dahl, Studio Kalki, Siviwe Jali en Belgotex se eie YUDU-reeks, is uitgestal.
Rondleidings is deur verskillende kunstenaars gedoen en groot name het gesogte werke uitgestal.
Ek gesels later met Zama Mwandla van die Africa South Art Initiative wat haar dankbaarheid uitspreek dat hierdie kunsaspek uiteindelik in KZN posgevat het. “Al die talent is hier; ons het net ’n platform nodig gehad.”

Carmen Rodrigues
Ons kyk na musiekvertonings van Carmen Rodrigues, met Evan Roberts op klawerbord, en ook Karen and Me, met Shannon Kenny en Alan Judd wat die musiek van Karen Carpenter opgevoer het.
Ons word weggevoer na ’n ander wêreld met Behind the crimson door, ’n teatrale mode-ervaring wat mode, sirkuskuns en storievertelling kombineer. Dis geskep deur die ontwerper Gert-Johan Coetzee en die opvoeringsmaatskappy The Cirk. Die storie volg Charlotte, ’n jong plaasmeisie wat haar huis verlaat vir die groot stad om haar drome – “wat groter is as die klein dorpie waarvan sy kom” – te verwesenlik. Langs die pad navigeer sy verskeie deure waar sy vrees, versoeking, verwerping en uiteindelik ambisie in die oë kyk. Charlotte word die starlet. Dit het Gert-Johan Coetzee se lente/somer-versameling ten toon gestel met dinamiese akrobatiese toertjies, beweging en musiek, eerder as ’n tradisionele loopplank.

Master Harold ... and the boys
My hoogtepunt van die fees is die toneelstuk Master Harold ... and the boys, ’n roerende drama deur Athol Fugard. Dit speel in 1950 (vroeg in die apartheidsera) in die St George’s Park-teehuis in Port Elizabeth (Gqeberha) af. Dit is grotendeels outobiografies en gebaseer op Fugard se eie kinderjare.
Aan die begin van die drama gesels en grap Hally/Master Harold, ’n 17-jarige wit seun wie se ma die teehuis besit (gespeel deur Christopher van Selm), Sam (Wandile Skhwatha) en Willie (Thabiso Mkhize), twee swart kelners, sommer lekker saam. Hulle deel herinneringe en praat oor drome vir die toekoms.
Sam is intelligent, wys en het ’n nou amper vaderlike verhouding met Hally.
Hulle ruil idees uit oor wie hulle as mans van omvang en grootsheid beskou. Hally leer vir Sam om diep en wyd te lees en te redeneer. Sam droom van ’n wêreld waarin daar nie botsings is nie. “In stede daarvan sit ons met ’n wêreld sonder musiek waarin niemand die danspassies ken nie en ons aanhoudend in mekaar vasdans.”
Hy maan vir Willie dat almal moet leer dans soos kampioene en wonder of die mensdom dit dan nooit gaan bemeester nie.
Hally ontvang ’n oproep waarin hy verneem dat sy pa – ’n alkoholis – uit die hospitaal ontslaan word en huis toe kom. Hally skaam hom vir sy pa en is woedend, omdat hy nie wil hê sy pa moet terugkeer nie. Sy frustrasie, vrees en woede oor sy gesinslewe kook oor. Hy haal dit op Sam en Willie uit en gee toe aan die rassebevooroordeeldheid van die tyd.
In ’n skokkende oomblik eis Hally dat Sam hom “Master Harold” moet noem en spoeg in Sam se gesig.
Hally vernietig in ’n oomblik van swakheid die jarelange liefde en respek tussen hom en Sam.

And the girls in their Sunday dresses
Die lood in jou voete en die koue wat jou hart omvou, wyk nie veel as jy die gevierde skrywer, dramaturg en digter Zakes Mda se vertoning van And the girls in their Sunday dresses, wat in 1988 geskryf is, binnestap nie.
Die waarheid van die vroue se woorde sny ook diep – maar op ’n ander manier. Die toneelstuk dien as ’n skerp politieke en sosiale satire wat in die laat-apartheidstydperk afspeel. Dit fokus uitsluitlik op twee karakters – bekend bloot as The Lady en The Woman – wat dae lank in ’n lang en pynlik stadig-bewegende tou staan net om staatsgesubsidieerde rys te koop. Die rolle word deur die twee aktrises Gontse Ntshegang en Tshireletso Nkoane vertolk.
Terwyl hulle wag, lewer hulle kritiek op die korrupsie, burokrasie en sosio-ekonomiese ongelykhede om hulle. Die spesifieke reël: “It is as if the past must take of the future but with no effort in the present” weerspieël hul frustrasie met ’n samelewing wat blindelings verwag dat die toekoms homself sal regstel op grond van beloftes uit die verlede, terwyl die mense passief wag – geklee in hul “Sondag-beste” – in plaas daarvan om in die hede aktiewe, ontwrigtende stappe te doen.
Die een merk ook op dat hierdie “huis” is en dat ’n “nuwe nasie” bloot in dit is wat mense aanvaar en verdra.
Nie veel het verander in die afgelope 40 jaar nie ...
Tonya Koenderman se vertoning Bassey and me is ’n roerende huldeblyk aan een van die 20ste-eeuse bekendste balladesangers. Tonya sê tydens die vertoning dat Shirley se sukses ’n bewys is van die briljantheid en veerkragtigheid van die menslike gees.
Tonya sê sy sing “asof ek deur twee mans en ’n Oscar verloën is. Die diamante wat ek dra, is nie eg nie en my rok kom van die China Mall”, maar toe sy “Goldfinger” begin sing, lyk die diamante eg en die rok skitter blinker.
Terwyl sy deur die ander bekendste Bond-liedjies, wat Shirley nog meer beroemd gemaak het, sing, maak ek my oë toe en verbeel my ek is weer in ’n ondergrondse teatertjie op Broadway in New York. Deur die subtiele bollings rook van sigarette, sigare en teatermasjiene, sing ’n vrou in ’n fluweelrok haar hart uit en ek dink die wêreld kan eenvoudig nie mooier wees nie.
Saterdagaand sit ons by die gasvryheidstent van die ANEW Hotel Hilton oorkant die Bell Tower-verhoog, waar gratis vermaak die hele naweek aangebied is. Terwyl ons onder die wit Bedouin sit en rugby kyk met wyne uit die Kaap in ons glase, is daar ’n Zoeloe-dans-en-musiekvertoning op die verhoog. Mense stap tussen die gasvryheidstent en die verhoog – wil nie die vertoning mis nie, maar ook nie te veel van die rugby misloop nie. Ek kry trane in my oë: Dis Suid-Afrikaners. Ons harte klop warm vir Afrika; die ritme is deel van ons DNS; die manne in groen en goud speel vir ons almal op daardie veld.
Sondag het mense vroeg begin met die voëlstappe, Rockjumper birding drive of vroegoggend koffie en Franse pannekoeke by die stalletjies. Kinders loop met trompette en simbale en klarinette verby ons om op een van die gratis verhoë te gaan optree.
Ek gesels vinnig oor ’n koffie met Evan Roberts, een van die feesdirekteure, en hy vertel: “Die kunssektor is van enorme belang vir Suid-Afrika se ekonomie, al word die bydrae daarvan dikwels onderskat. Benewens die duisende kunstenaars wat ons op die verhoog sien, bestaan daar ’n hele ekosisteem van tegnici, ontwerpers, vervaardigers, lokale, gasvryheidsbesighede, handelaars en verskaffers wie se bestaan van ’n florerende kreatiewe bedryf afhang.
“Feeste en kulturele geleenthede lok mense na dorpe en stede, vul hotelle en restaurante, ondersteun plaaslike ondernemings en skep geleenthede vir opkomende talent. Die kunste is nie bloot ’n ‘lekker ekstra’ nie; dit is ’n ekonomiese dryfveer, ’n bron van werkverskaffing en ’n belangrike deel van hoe Suid-Afrika sy verhaal aan die wêreld vertel.”
Evan is ook deel van die plaaslike sangeres Carmen Rodrigues se vertoning op klawerbord en musikale regie en sê voorts: “KZN lewer al lank uitsonderlike artistieke talent – in sowel die uitvoerende as die visuele kunste – maar ’n gebrek aan geleenthede het baie akteurs, musikante en kunstenaars genoop om werk in Kaapstad en Johannesburg te gaan soek.
“In ’n poging om die groei van die plaaslike netwerk vir kreatiewe bedrywe te bevorder, bied die fees – wat jaarliks sowat 30 000 besoekers lok – die geleentheid vir die bekendstelling van ’n splinternuwe platform vir visuele kuns: die KZN Art Fair. Hierdie professioneel saamgestelde kunsbeurs sal galerye, kunstenaars en versamelaars met mekaar verbind, marktoegang skep en paaie na volhoubare loopbane versterk vir sowel opkomende as gevestigde kunstenaars.”
Gustaf Swart, wat al die heel naweek aan sy reusebromvoël uit rommel uit die Howick-ashoop werk, bring die laaste afrondings aan. Die kunswerk is aan die Thembelihle Primêre Skool geskenk om kinders te inspireer om hul kreatiwiteit op volhoubare maniere uit te beeld.
Ons drentel deur die stalletjies, koop kerse en ’n oulike antieke bordjie vir ’n vriendin se verjaardag, voor ons by die wyntent gaan raar wyne uit die Wes-Kaap proe en iets eet.

Midnight in Parys
Ons eerste vertoning vir die dag is Midnight in Parys, ’n toneelstuk deur die legendariese Suid-Afrikaanse dramaturg Paul Slabolepszy, wat ook die rol van die man Aidan vertolk. Bianca Amato speel Joanna en die regie is behartig deur die bekroonde Bobby Heaney. Twee vreemdelinge ontmoet mekaar net voor middernag in ’n leë eetplek. Joanna (die eienaar van die restaurant) is moeg en wil toemaak, maar Aidan sit peinsend by ’n tafel. Sy probeer hom oorreed om te loop, wat lei tot ’n diep gesprek.
Albei karakters dra swaar aan die lewe – die een hardloop weg van die verlede af, terwyl die ander ’n onafwendbare toekoms in die gesig staar. Sy vertel later dat sy al haar drome neerskryf en dit “kompos” noem. Dit help haar storie om te groei.
Wat begin as ligte geselsies en slegte karaoke-musiekkeuses, ontaard vinnig in ’n spanningsvolle ontmoeting wanneer hulle besef hulle deel ’n buitengewone geheim. Die stuk weerspieël die broosheid van die lewe, identiteit en die brutale, lewensveranderende keuses wat mense maak.
Die dieptreffende woorde: “Die lewe is nie begin, middel en einde nie. Die einde kan lank voor die middel arriveer” kom sit ongemaklik op my maag.
Dit tref diep en ons stap in stilte na die Chamberlain Musieksentrum, waar ons albei diep in gedagte wag dat die deure open.
Mense kom met bottels wyn, glase met ys by die Better together – a tribute to Jack Johnson-vertoning deur die Black Lapels in. Die kunstenaars is Rob Warren (hoofsanger), Garth Warren (kitaar) en Obed Ephraim (dromme).
Dis lekker informeel en ’n welkome geleentheid om net oor te gee aan musiek, ná die intensiteit van die drama wat ons koppe en harte deurmekaargekrap het.
Rob vertel dat terwyl hy die liedjies vir dié vertoning geleer het, hy ’n diep respek vir Jack se lirieke gekry het. Hy lag en sê die liedjie “Where did all the good people go?” moet altyd in ons agterkoppe wees ...

Drakensbergse Seunskoor
Ons draf vinnig oor die sportsentrum vir die laaste vertoning van die fees. Hoe kry jy ’n dawerende applous in die reusesportsentrum nog voor daar iemand op die verhoog is? Wanneer die Drakensbergse Seunskoor optree!
Die dirigent van die koor vertel aan die volgepakte saal dat die program ’n bietjie pop-, bietjie tradisionele en bietjie klassieke musiek sal insluit. “Sang behoort aan die mense en bring hoop. Een van die liedjies wat die koor sing, is tydens Covid geskryf – juis om hoop te bring.”
Hy sê almal moet net die middag met die seuns se stemme geniet en die einde van nog ’n wonderlike fees vier.
Party seuns is skaars heuphoogte; ander troon bo hul koormaats uit.
Soms is daar klokhelder solo’s met die res van die koor wat soos ’n lae dreunende vangnet by die jong solis aansluit. Dis by die a cappella waar my hart heeltemal vermurwe.
Later in die vertoning sluit Karen Louw by hulle aan op die klawerbord.
Langs my in die heel agterste ry staan ’n dogtertjie op haar stoel. Vir 30 minute beweeg sy nie. Haar ogies vasgenael op die koor; haar aandag op die klanke. Dis die mag van musiek, maar dis ook die mag van die kunste.
Dit laat jou wegdryf na ’n magiese plek. Soos die bekende woorde van “Bridge over troubled water” wat hulle uit volle bors sing: “When you’re down and out, I’ll be your bridge over troubled water.”
- Foto’s: Clifford Roberts/Canon R6

