Die skrywers van die verhale wat in die US Woordfeesbundel vir 2018 opgeneem gaan word, is tydens die fees se programbekendstelling op Donderdagaand 16 November bekend gemaak.
Vyf-en-twintig verhale is uit 237 inskrywings gekies. Hulle sal gepubliseer word in ’n bundel – 100% – wat by die US Woordfees van 2 tot 11 Maart 2018 te koop sal wees. In 2016, die eerste jaar wat die kompetisie gehou is, het 99 skrywers verhale ingestuur. Verlede jaar was die oes net meer as 180.
Suzette Kotzé-Myburgh, die sameroeper van die beoordelaarspaneel, sê dit bly vir haar ’n verrassing om die inskrywings te lees. “Dis nou al die derde Woordfeesbundel, en elke jaar is dit ’n groot verrassing om te sien watter skrywers se verhale gekies is, want die keurproses geskied streng anoniem. Soos die vorige jare is die wenskrywers ’n mengsel van gevestigde name en nuwe skrywers – vanjaar is daar ’n hele tien skrywersname wat ek nog nie voorheen teëgekom het nie. Twee van die skrywers behaal ’n driekuns deurdat hulle werk ook in Bly (2016) en Wys (2017) opgeneem is, naamlik Martin Steyn en Gerda Taljaard.
Saartjie Botha, US Woordfeesdirekteur: “Dit maak my superopgewonde om ’n lys van 25 name te sien, en die helfte daavan nie te herken nie. Dit wys net hoeveel talent en nuwe stemme daar buite is.”
Volgens Marius Louw, uitvoerende hoof van Du Toitskloof-wyne, is die belangstelling oorweldigend. “Dit is ’n aanduiding van die kreatiewe vlam wat helder onder gepubliseerde en ongepubliseerde skrywers brand. Du Toitskloof-wyne sien uit om deel te wees van hierdie vername element van die Woordfees en glo dat die inskrywing 'n bydrae sal lewer tot die Afrikaanse letterkunde.”
Die lys van skrywers, in alfabetiese volgorde, is:
- Coen Basson
- MS Burger
- Emma de Beer
- Antoinette Diedericks
- Anton Döckel
- Natie Engelbrecht
- Nicolette Fouldien
- Rachelle Greeff
- Michael Green
- Matilda Kruger
- Martin Laubscher
- Evert Louw
- Wayne Muller
- Belinda Nel
- Johann Nell
- Clari Niemand
- Paula Pereira
- Chase Rhys
- Naas Steenkamp
- Martin Steyn
- Gerda Taljaard
- Santie van der Merwe
- Maretha van der Westhuysen
- Nanette van Rooyen
- Boeksie Wessels
Die US Woordfees word van 2-11 Maart 2018 in Stellenbosch aangebied. Die feesprogram is beskikbaar by www.woordfees.co.za.
Kommentaar
So baie oud Bloemfonteinse Skrywersvereniging-wedstrydwenners en deelnemers wat so mooi bly presteer - BAIE GELUK namens die BSV aan almal, maar veral aan Maretha van der Westhuysen, twee seges in een jaar(!), Santie van der Merwe, Evert Louw, Coen Basson, Anton Döckel.
Namens al die BSV'ers ...
Corlietha Swart