Hier gaat ons! Reise en rampe: ’n onderhoud met Gerard Scholtz

  • 2

Gerard Scholtz praat met Naomi Meyer oor Gerard se Hier gaat ons! Reise en rampe.

Hallo Gerard, geluk met Hier gaat ons! Die boek boekstaaf jou en jou
vrou se reise oor jare heen. Hoekom het jy hierdie boek geskryf?

Die boek het homself geskryf. Dit is die samestelling van briewe, dagboeke, artikels en blogs oor ons reise deur Europa per fietse en later met ons geliefde skoeters, Silwer en Blou. Ek dokumenteer mos alles en sit elke aand en skryf die dag se indrukke volledig neer, omdat die dae en beelde oor mekaar skuif en jy wraggies nie kan onthou waar jy gister was nie. Veral wanneer jy tot ses maande op ’n keer byna elke dag jou tent onder ’n ander boom of langs ’n ander rivier opslaan. Baie van die verhale is as’t ware in die hardloop geskryf. Daar was so baie versoeke om van die verhale te bundel, en toe dag ek: Hoekom nie?

Die subtitel, “reise en rampe”, het my laat glimlag. Wil jy dalk hierop
uitbrei?

Wanneer jy soos ons reis, is jy elke dag aan die elemente, onvoorspelbaarheid, die onbekende en gevare blootgestel. Ironie, metafisika en magiese realisme raak dan reisgenote en oorlewingsmeganismes. Daar het al verskriklike dinge met ons gebeur. Hier en daar lewensgevaarlik en met jou seningvleise aan flarde. Anuta is byvoorbeeld byna van die Col de Tourmalet, die ikoniese pas van die Tour de France, met Blou en al deur ’n stormwind oor die afgrond gewaai; of ons kon dit nog nooit regkry om die Sentrale Massief in goeie weer te oorkruis nie en beland altyd in ’n onverwagse sneeustorm of yslike haelstorm sonder skuiling; of ons klim noord van die Noordpoolsirkel by die verkeerde stasie af en toe die trein vertrek, is daar byna niks om ons nie, net die toendra; daar is kere toe ons mekaar langs die pad of in ’n stad verloor het; in Toskane breek ’n onderdeel, en wag ons vir drie weke op ’n nuwe – in een van die mooiste plekke op aarde. En so kan ek aangaan.

Maar dít is die stories, daardie ironiese reisrampe, wat jy oorvertel. Bygesê, altyd met ons kavalkade van vrolike engele fladderend agterna.

Die millenniërs glo mos as iets nie op Facebook gebeur het nie, het dit nie plaasgevind nie. Maar om 'n boek gepubliseer te kan sien oor jare se reise, is 'n nog meer permanente bewysstuk as 'n Facebook-inskrywing. Jy het al ’n bietjie vertel hoe die boek ontstaan het – stuk-stuk as dagboekinskrywings, uitknipsels, ens. Hoe besluit mens uiteindelik wat haal die boek, en wat is meestal 'n mens se eie herinnering, vir privaat-onthou? 

My grootste bekommernis was oor privaatheid, omdat my dagboeke binnegedagtes is en die briewe aan spesifieke mense geskryf was. Ek wou nie sensor nie en besluit toe om eerlik te bly en die poorte wyd oop te gooi. Dit was ’n goeie besluit waaroor ek vrede het. Daar is letterlik honderde verhale wat geskik sou gewees het. Ek het 58 geïdentifiseer en het toe die redigeerder gevra om verder te sny. Uiteindelik is 38 opgeneem wat in temas georden is. Almal verhale met Europa as agtergrond, buiten twee.

Ons reis altyd met ’n tema in gedagte. Dit gee betekenis en stuwing aan ’n reis en word jy ’n student wat meer en meer wil weet. Ons doen dan baie navorsing voor die tyd en verdere oplees tydens die reis. So het van die verhale dan ook maklik in temahoofstukke geval. Ek is ’n verstrooiingsmens en ’n liniêre tydsverloop van die verhale sou nie vir my gewerk het nie.

Groot was my verbasing toe die keurders toe die volgende oor die boek gesê gesê het: “’n Omvangryke en diepgaande reisboek wat nie maklik ’n gelyke in Afrikaans het nie”; “Dié reisindrukke word oordenkings oor menswees”; “Elke reis is ’n ongewone ervaring wat nog nie só in Afrikaans verwoord is nie.” Toe weet ek die regte keuses is gemaak. My ander groot verbasing was toe Hier gaat ons! aangewys is as die topverkoper in die Leefstyl-afdeling van die 2019-US Woordfees.

'n Praktiese vraag. Reis is nie goedkoop nie. En die rand as geldeenheid is nie aldag so 'n staatmaker nie. Hoe finansier mens dit om by plekke uit te kom wat mens graag wil sien?

Ons moet onthou dat Suid-Afrika ’n baie, baie duur land is. Ons is pas terug van Zambië en Malawi, wat op ’n manier vir die reisiger nóg duurder is. Daarteenoor is Europa, op die manier waarop ons reis, heelwat goedkoper. Ons basiese behoeftes is kos en drinkgoed, petrol en verblyf. Ons reis nou al jare met min of meer dieselfde daaglikse begroting omdat hulle nie juis inflasie het nie. Ons is nie skaam om te sê dat ons begroting tussen €60 en €65 per dag is nie.

Vroeër jare het ons gekampeer en het later gevind dat airbnb-plekke in baie gevalle goedkoper is. Museums is duur, daarom is ons baie kieskeurig en is ons so half en half uitgekuier daarvoor. Katedrale ook. Ons eet baie min uit en verkies om liewer lekkerder en varser van die markte en supermarkte te eet – verkieslik streekskosse en -produkte. Ons vervang ook wyn met bier. Goeie wyn is duur en jy weet nie altyd wat jy koop nie.

Hoe meer ons reis, hoe minder wil ons in stede kom. Ons soek na rustigheid, en stede is ook duurder. Agterpaaie neem ons na klein plekkies waar daar ’n meer tradisionele bestaan is, wat ons aanstaan en goedkoper is. Ons het ook intensief in die Balkan en ou Oos-Europese lande begin reis, wat meer bekostigbaar is as Sentraal-Europa. Die Balkangeskiedenis was ook vanaf skooldae ’n groot belangstelling.

Reis is maar die ding in ons lewens. Tuis leef ons eenvoudig en spandeer nie geld op luukses, nuwe motors en klere nie.

'n Emosionele en hartsvraag: Hoe het julle bepaal waarheen julle alles wil reis? Wat maak van 'n plek 'n droombestemming (vooraf) en dan, in die praktyk, as mens daar is?

Ons het ’n voorliefde vir die Ou Wêreld, seker maar omdat ons DNS daar gevorm is. Ons voel daar tuis en gly maklik in die kultuur en bestaanswyse in. Dit is elke keer tydens aankoms – soos drie dae gelede in Europa – ’n emosionele tuiskomsoomblik. Na maande se verblyf hier raak die vertrek terug na Suid-Afrika ook moeiliker en moeiliker. Ons het geen begeerte om byvoorbeeld die VSA te besoek nie – wil net in Europa wees.

Droombestemmings vir ons is nie luukse hotelle, strande met palmbome of in die son rondlê nie, maar gaan oor die eie ontdekking van geskiedenis, kos, argitektuur en die kultuur van ’n plek. En dan natuurlik berge. Ons soek roetes op wat ons al oor die mees uitdagende bergpasse van Europa geneem het. Dit was byvoorbeeld ’n hartsbegeerte om die 90 kilometer lange Transfăgărășan in Roemenië te doen, wat ’n geweldig emosionele en oorweldigende oomblik opgelewer het toe ons die kruin bereik het. Eenkeer sou ons net die Spaanse Pireneë oorsteek en toe bly ons vir drie weke oor en moes later net weer teruggaan. Vanjaar is dit meestal herbesoeke aan droomplekke en doen ons die Napoleonroete en die Franse en Italiaanse Alpe. Alles wat hoogtes, uitdagings en die moontlikheid tot avonture bied.

En as ons daar is? Dit hang af van waar dit is. Ek dink byvoorbeeld aan die besoeke aan die strafkampe van Theresienstadt, Auschwitz en Birkenau, dan is dit nie ek wat daar is nie, maar word my kamera die oog wat alles kil deur ’n lens bekyk – om my teen verskrikking te beskerm. Met die skryf van die verhaal was dit ook so en kon ek nie emosioneel betrokke raak nie. In Rusland, waar ons met fietse van St Petersburg na Moskou getrap het, was dit weer my plaasdae as kind wat helder voor my opgespring het. Herinneringe wat ek as kind al lankal vergeet het, is deur daardie mooi arkadiese landskap opgeroep. En wanneer dit beeldskone plekke soos byvoorbeeld Slowenië is, dan gee jy jouself oor aan die skoonheid wat jou na ander vlakke laat transendeer.

Die inskrywing oor Ierland het ek met belangstelling gelees, omdat ek en my gesin jare lank in Ierland gewoon het. Die ontwykende land, die soeke na "die Ierland van ons drome". Veral wat kos betref: die sodabrood en die Guinness wat mense so ophemel, maar waaroor mens maar bietjie mens se bedenkinge het as jy dit self proe. Of hoe? Wat onthou jy van Ierland? En onthou mens nie tog die Ierland van mens se drome as mens daarop terugkyk nie?

Dis so waar. Ek was eintlik geskok toe ek die verhaal weer opdiep en lees hoe ontwykend ons die land gevind het. Die teleurstellings en swaarkry van reis verdwyn mos en jy onthou die mooie en die goeie. Seker maar ’n verdedigingsmeganisme. Die besoek aan die Skelligeilande was byvoorbeeld ’n hoogtepunt, maar die swaar see, die seesiek, die papsopnat spat van die seesproei en die gevaarlike landing daar het ek vergeet. Ek onthou net die magtige gevoel om die rotspieke van die eiland uit te klim en die eensame en harde lewe van die priesters wat daar teen die invalle van die Vikings kom skuil het.

Nou moes ek weer lees hoe swaar ons fiets getrap het in die golwende landskap. Hoe sleg die paaie was. Hoe geld van die Europese Unie die platteland ontsier het met groot siellose gastehuise. Hoe sleg die kos was. Maar in my drome onthou ek die smaraggroen, die skoonheid van die Ring van Beara, die akkordeonmusiek in ’n pub – gelukkig!

Watter van die reise in hierdie boek bly jou in die besonder by?

By uitstek die twee maande met Silwer en Blou deur Serwië en Roemenië waar ons tema kloosters en ikone was. Ons was nie heeltemal voorbereid op die geweldige geestelike, emosionele en ook intellektuele impak wat dit op ons sou hê nie. Ons het nie geweet dat die ortodoksie en die oorweldigende natuur ons so sou oorweldig nie.

Ter voorbereiding het ons Daniel J Louw se seminale boek Icons. Imaging the unseen bestudeer. Maar dit kon ons nie heeltemal voorberei om voor ’n ikoon te staan en die onsienlike te sien en te beleef nie. In Hier gaat ons! is daar ’n afdeling, Van klooster tot klooster, met vier verhale. Ek skryf daar van die laaste oer-oerwoude van Europa, prins Charles van Groot-Brittanje wat dorpies en streke opkoop om die Middeleeuse argitektuur en boerderymetodes te bewaar, en van die streek waar die fresko’s aan die buitekant van die kerke geskilder is. Ek noem dit Komieks teen kerkmure. Ons was ook bevoorreg om tydens Pinkster vir vier dae in Serwië se hoofklooster, Studeniça, oor te bly en die liturgie van Krisostomus werklik te hoor, en nie net op ’n CD tuis nie. Roerend en ’n onwerklik-mooie sangbelewenis.

Jy is betrokke by De Kat en skryf gereeld vir hulle. Hoe is skryf vir 'n
tydskrif vir jou verskillend van die skryf van reisverhale? En wil jy dalk nog meer van jou agtergrond vertel?

Ek is DEKAT se boekeredakteur en dien ook in die senior redaksie. Verder is ek ook die Kaapse vervaardiger en soms aanbieder van DEKAT-TV. So het ek al by die 150 TV-onderhoude met skrywers gedoen, wat ’n geweldige voorreg is. My voorliefde lê by die skryf van profiele van veral skrywers – om in die gedagtewêreld van ’n skrywer rond te delf en te dwaal. En dan treur ek vir dae agterna omdat die gesprek verby is.

Onthou dat die reisverhale “in die hardloop” geskryf is, maar wanneer jy ’n artikel skryf, moet alle feite korrek wees. Ek loop en broei vir dae om die juiste invalshoek te kry en maak staat op my onderbewussyn. As die invalshoek dan by my opdaag, is dit daarna byna soos paint by numbers. Ek kan myself dan nie keer nie en voltooi die artikel in een sitting. Die versorging en redigering kom dan later. Ek kan gelukkig dan die naelstring knip en dit laat gaan. Meestal.

Oor my agtergrond: Op 16 Desember 1949 in Pretoria gebore – word dus 70 aan die einde van die jaar. In die Waterberge grootgeword, drama geswot, in 1977 met Anuta getroud, skoolgehou, toe regisseurwerk vir verhoog en TV gedoen, meer as 20 jaar klas gegee in Kaapstad by die Akademie vir Dramakuns, op 47 afgetree en op Rooiels gaan woon, van waar ons projekte aanpak en vryskutwerk doen. Ek het ook vir vier jaar in die Verre Ooste gewoon en heelwat van daar gereis.

Wat was vir jou die lekkerste en die moeilikste van die skryf van
hierdie boek?

Die maklikste was dat daar nie die druk van karakterontwikkelings en storielyne was nie. Die lekkerste was die heerlike simbiose wat daar tussen my en die redigeerder, Nellie Alberts, ontstaan het. Die gereedmaak van die boek het met Helga Steyn as uitgewer van Hemel en See soomloos verloop – al was ek soms onhebbelik moeilik.

Die moeilikste was dat ek ver drade moes gaan optel. Reise van lank gelede wat afgestof moes word (sonder om te sensureer) en vir ’n ander lesersgehoor verwerk moes word. Daar was ook die skokke dat ’n mens jou eie waarhede skep en Nellie wat met haar skerp oog dit agtergekom het.

’n Ander baie moeilike ding was die skryf van plekname in Afrikaans. Ek wou eers nie, maar Nellie was onwrikbaar dat reëls gevolg moet word. Later was ek so deurmekaar en kon ek glad nie meer spel nie. Toe het ons besluit dat wanneer ons ’n fout maak, dit deurgaans so geskryf moet word. Dit was nou slaaplose nagte.

Ek wou by elke storie ’n kaart hê, omdat kaarte so ’n belangrike rol in ons reise speel. Toe ons uitvind dit gaan te duur wees, het ek ingespring en self die kaarte geteken. Dit het weke geduur. En dan kom ons agter die name van plekke is in die verkeerde taal en moet oorgedoen word ...!

Waarom reis?

Voor in die boek is daar ’n aanhaling van Boerneef wat vir my alles saamvat: “Ek wou gaan kyk hoe dit agter die bult lyk, en dan nog ’n bult, en dan nog ’n rant en ’n hoogte. Ammelee verder. Ammelee sien hoe dit doer ver lyk.” (Andries Harlekyn in Teen die helling)

  • Foto's verskaf
  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Ria Barnard en Christine Liebenberg.p

    Baie dankie hiervoor. Nog 'n geleentheid om Gerard se onvergelyklike skryf- en denkvermoëns te waardeer en, bo alles, te geniet!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top