Heuristiek: konsepte en invalshoeke

  • 1

Diagram: https://www.designorate.com/applying-heuristic-evaluation-in-usability-testing

Diagram: https://www.designorate.com/applying-heuristic-evaluation-in-usability-testing

“Life is full of signs. The trick is to know how to read them. Ghosh called these heuristics a method for solving a problem for which no formula exists.” (Abraham Verghese) https://quotestats.com/topic/quotes-about-heuristics

  1. Inleiding

Heuristiek vorm deel van mense se alledaagse lewenspatrone en besluitnemingsprosesse. Indien Port Elizabeth se naam na Gqeberha verander, aanvaar baie mense die regering se besluit bloot omdat die staat as ’n gesagsfiguur beskou word. Eskom se verweer dat kragonderbrekings voorkom weens nat steenkool, word aanvaar omdat die persepsie bestaan dat dié staatsondersteunde maatskappy ’n gesagsfiguur is. Die man op straat beskik dikwels nie oor genoegsame agtergrondkennis of belangstelling om gesagsfigure se standpunte in twyfel te trek nie.

.........

Heuristiek vorm deel van mense se alledaagse lewenspatrone en besluitnemingsprosesse. Indien Port Elizabeth se naam na Gqeberha verander, aanvaar baie mense die regering se besluit bloot omdat die staat as ’n gesagsfiguur beskou word. Eskom se verweer dat kragonderbrekings voorkom weens nat steenkool, word aanvaar omdat die persepsie bestaan dat dié staatsondersteunde maatskappy ’n gesagsfiguur is. Die man op straat beskik dikwels nie oor genoegsame agtergrondkennis of belangstelling om gesagsfigure se standpunte in twyfel te trek nie.

..........

Beide voorbeelde illustreer die effek van die sogenaamde outoriteitsheuristiek.

Bostaande aanhaling deur Verghese prikkel diep nadenke oor die impak en rol van heuristiek in alledaagse probleemoplossing. Daar bestaan geen stel algoritmiese reëls of wetmatighede wat van toepassing is op prosesse soos kinderopvoeding, beroeps- en/of akademiese sukses, volwassewording en finansiële sekuriteit nie. Algemene praktiese of heuristiese riglyne of reëls (rules of thumb) word normaalweg gevolg sonder dat suksesvolle uitkomste enigsins gewaarborg word. Die aard, funksionering en uitkoms van komplekse sisteme as ’n faktor in menslike funksionering is te onvoorspelbaar vir formules.

  1. Doel

Die algemene doel van hierdie artikel is om agtergrondinligting te verskaf oor die begrip heuristiek, en om kortliks aan te toon hoe heuristiese evaluering met verbruikerservaring en verbruikerskoppelvlakontwerp in die praktyk in verband gebring word.

  1. Die begrip heuristiek

Volgens netlingo verwys heuristiek (in die rekenaarwetenskap) na “gesonde verstand”-reëls wat ontwikkel op grond van vorige ervaring met die oplossing van vergelykbare probleemsituasies. Sulke reëls uit die praktyk word normaalweg slegs losweg gedefinieer. In vergelyking met algoritmiese programmering (wat berus op wiskundig bewysbare prosedures wat opgestel word om akkurate en korrekte oplossings vir wiskundige probleme te bied) is heuristiese programmering kenmerkend van programme wat op veelvuldige en herhalende selfleer gebaseer is. Alhoewel heuristiese programmering nie altyd die beste en korrekte resultate oplewer nie, word oor die algemeen goeie resultate daardeur verkry.

........

Volgens netlingo verwys heuristiek (in die rekenaarwetenskap) na “gesonde verstand”-reëls wat ontwikkel op grond van vorige ervaring met die oplossing van vergelykbare probleemsituasies.

.......

’n Meer algemene definisie van heuristiek is dié van die Woordeboek van die Afrikaanse taal. Hiervolgens word heuristiese oplossings vir ’n probleemsituasie stap vir stap uitgevoer. Hierdie sistematiese proses sluit onder andere logiese redenering, induksie, deduksie, eksperimentering en hipotesevorming in.

Die aanlyn woordeboek Merriam-Webster omskryf heuristiek as ’n hulpmiddel tot leerprosesse, ontdekkingstogte en probleemoplossing. Tydens die soeke na oplossings vir probleemsituasies word derhalwe van beide eksperimentering en probeer-en-tref-metodes gebruik gemaak.

Heuristiek behels dus benaderingswyses wat in die plek van logaritmes gebruik word sonder enige waarborg dat optimale oplossings vir die probleemsituasies gevind sal word.

  1. Enkele toepassings van heuristiek

Heuristiek speel ’n rol in verskeie vakdissiplines, waarvan hier onder slegs ter illustrasie enkele voorbeelde genoem word.

4.1 Ekologie

Die oplossing van komplekse ekologiese en omgewingsprobleme vereis normaalweg interdissiplinêre samewerking in spanverband. Die benadering wat gevolg word, is om bepaalde probleme deur simulasiemodelle aan te pak. Min inligting is in die literatuur beskikbaar oor presies hoe sulke modelle deur middel van spanwerk gebou behoort te word. Nicolson, Starfield, Kofinas en Kruse (2002) stel ’n reeks induktiewe heuristiese reëls voor vir die skep van modelle. Dit sluit reëls in oor: die seleksie van die spanlede; die onderhandeling van ’n konsensusstandpunt oor wat die aard van die navorsingsprobleem behels; die ontwikkeling van ’n prototipe-simulasiemodel; die rol van sensitiwiteitsanalise; asook reëls vir die belangrikheid van doeltreffende kommunikasie tussen spanlede.

4.2 Rekenaarwetenskap

’n Verdere toepassing van heuristiese reëls binne rekenaarwetenskap is die aanwending van probleemoplossingstegnieke, soos die assessering en ontleding van terugvoer deur verbruikers van ’n produk om die funksionering van die produk (byvoorbeeld ’n aanlyn webtoepassing) te verbeter. Dit staan as heuristiese evaluering bekend.

4.3 Robottegnologie

’n Kletterbot (chatbot) is ’n kunsmatige-intelligensie-hulpmiddel wat met mense in verskillende kontekste interaksie kan voer. Kletterbotte is in staat om daaglikse roetinetake vlot te laat verloop, kan kliënte 24 uur per dag bedien en kan in opvoedkundige omgewings inligting oor leergeleenthede op ’n deurlopende basis verskaf. Volgens Sánchez-Adame (2021) en sy medewerkers vind die tempo van ontwikkeling op hierdie gebied uiters vinnig plaas en word verbruikers met min of geen ervaring van kletterbotte toenemend aan hierdie tegnologie blootgestel. Vele interaksieprobleme kan toegeskryf word aan ’n gebrek aan bruikbaarheidsevaluerings en deeglik saamgestelde bruikbaarheidsevaluering-heuristiek.

4.4 Oseanografie    

Spada, Olivieri en Galassi (2015) doen navorsing oor die gemiddelde globale styging in die seevlak sedert 1898. Hulle maak gebruik van ’n meta-analise van navorsingspublikasies (36 vakkundige artikels) wat sedert 1940 gepubliseer is. Die metode staan bekend as deduktiewe heuristiese assessering van die jaarlikse styging in die globale seevlak en dien as ’n alternatiewe metode van ondersoek as seevlakrekonstruksiestudies. Die resultate van die heuristiese ontleding dui op ’n gemiddelde globale seevlak styging van 0,54 mm (standaardafwyking ±0,27) per jaar van 1898 tot 1975. Vir die 20ste eeu (1 Januarie 1901 tot 31 Desember 2000) word die gemiddelde styging in seevlak gewoonlik aangedui as 1,5 tot 2,0 mm per jaar deur middel van rekonstruksiestudies van die seevlak.

4.5 Probeer-en-tref-heuristiek

Die Toring van Hanoi-probleem is ’n tipiese voorbeeld (foto 1) van ’n abstrakte wiskundige probleem. Hierdie tipe kognitiewe taak kan (veral) vanweë sy eenvoudige formaat (met drie skywe en drie penne) deur probeer-en-tref-heuristiek opgelos word.

Ronde skywe wat in penne pas, word rondgeskuif om tot ’n logiese oplossing van die probleem te kom. Die instruksies is soos volg: “Skuif al drie ronde skywe so vinnig as moontlik vanaf pen A binne sewe skuiwe na pen C. Die skywe moet in dieselfde volgorde in pen C geplaas word sonder dat ’n groter skyf bo-op ’n kleiner skyf geplaas word tydens die skuifproses. Slegs die boonste skyf mag telkens opgetel en verskuif word.” Die oplossing¹ van die probleem vereis onder andere die toepassing van kognitiewe redenering en visueel-ruimtelike geheuefunksies om die oplossing suksesvol te beredeneer. Sommige deelnemers sal egter geneig wees om ’n probeer-en-tref-strategie te volg om die probleem te vereenvoudig en op te los. Die probeer-en-tref-strategie vind veral plaas tydens die oplossing van die minder komplekse drie- of vierskyfweergawe van die Hanoi-taak.

Tydens probeer-en-tref-heuristiek, wat die mees fundamentele vorm van heuristiese probleemoplossing is, word verskillende oplossings op ’n toevallige wyse probeer totdat die probleem finaal suksesvol opgelos is.

Die drie ronde skywe kan na vier, vyf of ses (en meer) uitgebrei word. Met die byvoeging van skywe word die oplossing steeds meer kompleks. Hoe meer penne bygevoeg word, hoe minder kompleks word die oplossing. Dit is dus moontlik om hierdie probleem deur middel van óf probeer-en-tref óf stapsgewyse logiese redenering op te los, of deur ’n toepaslike algoritmiese oplossing daarvoor saam te stel.

Die drieskyfformaat van die Toring van Hanoi-probleem. (Foto: die skrywer)

Die drieskyfformaat van die Toring van Hanoi-probleem. 

Raadpleeg eindnota 1 vir die oplossing van die probleem.

  1. Heuristiese vooroordeel en heuristiese herroeping

Heuristiek speel nie slegs by kognitiewe probleemoplossingstrategieë ’n rol nie, maar ook by die onstaan van vooroordele. Dit verklaar derhalwe sekere foute wat tydens verskeie besluitnemingsprosesse gemaak word (Bodenhausen 1990).

Die wyse waarop foutiewe gevolgtrekkings oor ander individue, groepe of situasies ontstaan en uitsprake daaroor gemaak word, word deur verteenwoordigheids- en beskikbaarheidsheuristiek (Crisp 2011) geïllustreer.

 By verteenwoordigheidsheuristiek ontstaan die vraag op watter wyse ’n nuwe waarneming van ’n persoon of gebeurtenis inpas by die bestaande prototipe of skema wat voorheen reeds by die waarnemer ontwikkel het, op grond van vorige ervaring met soortgelyke persone of gebeurtenisse. Wat is die kanse dat die nuwe ervaring daardie vorige “klas” opvattings of indrukke verteenwoordig en weer in die bewussyn opgeroep word? Vorige kennis en ervaring word dus gebruik om nuwe kennis in te gee. Dit is dikwels die onderbou vir die ontstaan van stereotipiese gedrag en diskriminasie.

Beoordelende heuristiek (judgemental heuristics) word aangewend om die waarnemer se kognitiewe take waarmee hy/sy gekonfronteer word te vereenvoudig en om kortpadgevolgtrekkings te skep. Hierdie (dikwels) ongeldige gevolgtrekkings kan voortbestaan totdat die waarnemer die insig en motivering ontwikkel om op ’n doelgerigte, ewewigtige en sistematiese wyse sy of haar stereotipiese denkwyses te heroorweeg.

Beskikbare feitelike basiese inligting (base rates) wat relevant is vir ’n gevolgtrekking kan egter ook blatant geïgnoreer word. Die proses staan as die dwaling van die basisvlak (base rate fallacy) bekend.

Beskikbaarheidsheuristiek kan ’n katalisator vorm vir vinnige alledaagse besluitneming. Besluitneming word normaalweg gebaseer op die beskikbare inligting wat in die geheue geberg is. ’n Persoon onthou meestal belangrike inligting, en vergeet irrelevante inligting. Die besonderhede van gebeure wat onlangs plaasgevind het, word makliker onthou as gebeurtenisse wat in die verlede plaasgevind het. Hierdie beginsel word gevolglik “nuttig” aangewend omdat vinnig reageer kan word en besluite op onlangse inligting baseer word wat maklik uit die geheue herroepbaar is. Hierdie proses kan egter tot foutiewe gevolgtrekkings en selektiewe waarneming aanleiding gee.

.........

’n Praktiese voorbeeld van die impak van beskikbaarheidsheuristiek is die afname in die verkoop van vliegtuigkaartjies onmiddellik nadat ’n vliegtuigongeluk plaasgevind het. Die rede hiervoor is die wanopvatting dat vliegtuigongelukke meer dikwels plaasvind as wat wel die geval is.

..........

’n Praktiese voorbeeld van die impak van beskikbaarheidsheuristiek is die afname in die verkoop van vliegtuigkaartjies onmiddellik nadat ’n vliegtuigongeluk plaasgevind het. Die rede hiervoor is die wanopvatting dat vliegtuigongelukke meer dikwels plaasvind as wat wel die geval is. Die verkope van geblikte produkte deur ’n Suid-Afrikaanse maatskappy wat onlangs in die nuus was weens lekkasies by sommige items sal na alle waarskynlikheid afneem namate die inligting oor onttrekking van produkte aan die mark inslag vind.

Eweneens sou ’n potensiële belegger in infrastruktuur in KwaZulu-Natal op grond van die onlangse plunderskade en verwoesting van infrastruktuur en die effek van beskikbaarheidsheuristiek daardie belegging na ’n meer stabiele omgewing (byvoorbeeld Australië of Nieu-Seeland) verskuif.

Dit moet verder ook in gedagte gehou word dat eksterne faktore, fisiologiese veranderlikes soos slaapontneming en kognitiewe oorlading die akkuraatheid van heuristiese prosessering nadelig kan beïnvloed. Dit laat dus twyfel oor die betroubaarheid van heuristiese oordeel en besluitneming.

  1. Heuristiese evaluering en verbruikerskoppelvlakontwerp

Volgens Alonso-Ríos, Mosqueira-Rey en Moret-Bonillo (2018) verwys heuristiese evaluering na een van verskeie metodes om die bruikbaarheid van sagteware, of meer spesifiek die aard van verbruikerskoppelvlakontwerp te ondersoek. Heuristiese evaluering is deur die Deense navorser Jakob Nielsen gedurende die negentigerjare van die vorige eeu bekendgestel.

........

Heuristiese evaluering is  ’n gewilde metode veral omdat bruikbaarheid en verbruikerservaring en -koppelvlakontwerp deur middel van ’n stel goeie en bewese goeie praktyke, eerder as gedetailleerde akademiese bruikbaarheidsriglyne, geassesseer word.

..........

Heuristiese evaluering is  ’n gewilde metode veral omdat bruikbaarheid en verbruikerservaring en -koppelvlakontwerp deur middel van ’n stel goeie en bewese goeie praktyke, eerder as gedetailleerde akademiese bruikbaarheidsriglyne, geassesseer word.

Verbruikerservaring is ’n persoon se persepsies en response wat ontwikkel uit die gebruik of geantisipeerde gebruik van ’n produk, stelsel of diens.

Verbruikerservaring speel ’n uiters belangrike rol om die mate van sukses van ’n gegewe produk te ondersoek. Gevolglik word veral op verbruikerservaring gefokus in die ontwerp en diensleweringsvermoë van produkte. Verbruikerservaringheuristiek behoort eerder algemeen as spesifiek aangebied te word, en moet voldoende vereenvoudig word sodat ’n wye reeks spesialiskenners soos ontwikkelaars, interaksie-ontwerpers en navorsers oor verbruikerservaring dit betreklik maklik vind om te gebruik.

Enkele voorbeelde van heuristiese evaluering

Arhippainen (2013) stel tien verbruikersevaringheuristieke bekend wat deur produkontwerpers en -ontwikkelaars gebruik word om verbruikerservaring te assesseer tydens die ontwerp van sagteware-oplossings en verbruikerskoppelvlakke. Hierdie ervaringsheuristieke behels die volgende: Die diens of produk moet eenvoudig wees en maklik gebruik kan word; die nut of doel van die produk moet duidelik blyk; die verbruiker se verwagtings moet oortref word; die verbruiker moet gerespekteer word deur sy/haar waardes en vorige ervaring in ag te neem; daar moet in gedagte gehou word dat die produk binne ’n bepaalde konteks (veral kultuurverband) gebruik word; die verbruiker se privaatheid en sekuriteit moet gerespekteer word; daar moet pogings wees tot ’n perfekte visuele ontwerp van die produk; daar moet ’n element van  aangename verrassing in die proses wees; die verbruiker moet duidelik weet hoe die produk hom/haar in die alledaagse lewe gaan ondersteun; en verskillende metodes van interaksie tussen verbruiker en  produk moet daargestel  word.

Monkman en Griffith (2021) doen navorsing² oor die gebruikerservaring van die algemene publiek wat aanlyn gesondheidsliteratuur raadpleeg. Die rasionaal is dat indien ’n stelsel moeilik of onaangenaam is om te gebruik, verbruikers dit nie sal gebruik nie, of nie die inligting wat hulle soek, vind nie. Indien die inhoud nie helder en duidelik gekommunikeer word nie, sal die verbruiker dit nie verstaan nie of selfs verkeerd vertolk.

Een van die assesseringstegnieke wat Monkman en Griffith gebruik, is die aanlyn gesondheidsgeletterdheidvraelys. Hierdie tegniek behels vyf bewysgebaseerde heuristieke, naamlik funksionele en doenbare (actionable) inhoud; duidelike en verstaanbare instruksies; goedgeorganiseerde inhoud wat navigasie vereenvoudig; die behoud van verbruikerbetrokkenheid; die vooraf toetsing van die webblad met verbruikers wat oor beperkte gesondheidsgeletterdheid beskik.

Alonso-Ríos ea (2018) brei verder uit op Nielsen en Molich se oorspronklike metode van heuristiese ontleding deur addisionele bruikbaarheidselemente in terme van diepte en struktuur daarby te voeg en poog om terselfdertyd die nuttigheid, eenvoud van gebruik en veralgemeenbaarheid van die oorspronklike tegniek te behou. Hulle toets hul metodologie met behulp van heuristiese evaluering op ’n vlugbesprekingagentskap se mobiele toepassing. Die bevinding van die studie is dat die bruikbaarheid van die toepassing beduidend deur hierdie faktore bevorder word en daartoe bydra om potensiële bruikbaarheidsprobleme soos duidelikheid, konsekwentheid, volledigheid, universaliteit, veiligheid, robuustheid en estetika te identifiseer.

Wei-siong, Dahai en Ram (2009) doen navorsing oor die voor- en nadele van verskillende metodes om die verbruikerservaring van sagteware te ondersoek. Twee metodes, naamlik gebruikerstoetsing en heuristiese analise, word vergelyk in terme van doeltreffendheid en effektiwiteit. Hul resultate dui daarop dat die twee metodes verskillende kategorieë van verbruikerservaring verteenwoordig. Die twee metodes werk aanvullend tot mekaar en blyk ewe doeltreffend en effektief te wees in die identifisering van die spektrum aangeleenthede wat verbruikers as problematies ervaar.

Vroeër doen Chen en Macredie (2005) ’n studie oor die evaluering van verbruikerskoppelvlakontwerp soos dit van toepassing is op elektroniese winkels en aanlyn aankope. Die studie fokus op vier supermarkte wat in die Verenigde Koninkryk gebaseer is, naamlik Asda, Iceland, Sainsbury en Tesco. Hul studie bestaan uit twee fases: eers word ’n vryvloei-inspeksie en daarna ’n taakgebaseerde inspeksie van die verbruikerskoppelvlakontwerpe uitgevoer. Die resultate dui daarop dat die mees algemene en kritieke verbruikersprobleme³ te doen het met verbruikerskontrole en -vryheid, asook met die beskikbaarheid van effektiewe hulpverlening en hulpverleningsdokumentasie (raadpleeg eindnota 3 vir meer toeligting).

Ball en Bothma (2018) doen ’n heuristiese evaluering van vyf e-woordeboeke, insluitend die Algemene Nederlandse Woordeboek, die Interaktiewe Taalgereedskapstel (toolbox), die Deense Idioom-woordeboek, die Oxford English Dictionary en die Afrikaanse Idioom-woordeboek. Een evalueerder is gebruik om deur middel van ’n vaste stel bruikbaarheidskriteria ’n deeglike ontleding van die bruikbaarheid van die woordeboeke uit te voer. Die kriteria sluit in: besonderhede en kompleksiteit van die inhoud, inligtingsargitektuur, navigasie, toeganklikheid, hulpverlening, gebruikersvriendelikheid, vernuwende tegnologie.

........

Die studie se hoofbevinding is dat alhoewel die tegnologie in die meeste gevalle wel bestaan om hoogs gevorderde e-woordeboeke beskikbaar te stel, dit op grond van hierdie heuristiese evaluering van verbruikerservaring ongelukkig nie die geval blyk te wees nie.

..........

Die studie se hoofbevinding is dat alhoewel die tegnologie in die meeste gevalle wel bestaan om hoogs gevorderde e-woordeboeke beskikbaar te stel, dit op grond van hierdie heuristiese evaluering van verbruikerservaring ongelukkig nie die geval blyk te wees nie.

7. Samevatting

Heuristiese evaluering van verbruikerservaring blyk ’n  ’n koste-effektiewe en objektiewe metode te wees om ondersoek in te stel na die aard van verbruikerskoppelvlakontwerpe by ’n wye spektrum e-produkte en vakdissiplines. Dit sluit onder andere in webwerwe, mobiele toepassings, e-woordeboeke, kletterbotte, en die ontwerp van simulasiemodelle vir ekologiese en oseanografiese navorsing.

Verskillende heuristiese ondersoekmetodes wat mekaar doeltreffend aanvul, soos deskundige heuristiese inspeksie en verbruikerstoetsing, lewer veral nuttige inligting op.

Soms is hoëvlaktegnologie wel beskikbaar, maar ontbreek by verbruikerskoppelvlakontwerpe, of word nie noodwendig weerspieël deur ontwerpe waar dit wel sinvol aangewend sou kon gewees het nie.

Heuristiek is ’n tipiese verkleurmannetjiekonsep wat verskillende betekenisse in verskillende kontekste aanneem. Dit sal verder ook sinvol wees om te bepaal presies watter rol vorige ervaring van spesialiskenners en verbruikers in die proses van heuristiese evaluering speel (Bitzer 2021), ’n faktor wat nie in besonderhede in hierdie artikel ondersoek is nie.

Eindnotas

¹ Die oplossing vir die drieskyf-Toring van Hanoi-probleem is soos volg: Drie ronde skywe word in volgorde van groot (G), middelmatig (M) en klein (K) van onder na bo in pen A geplaas. Die sewe skuiwe wat benodig word, is: Skyf K word na pen C verskuif; M→B; K→B; G→C; K→A; M→C; K→C.

² Benewens die instrument wat in die teks genoem is, het Monkman en Griffiths (2021:907–8) ook ’n eie reeks bewysgebaseerde heuristieke ontwikkel: “We developed a more comprehensive set of heuristics. The set Evidence-Based Heuristics includes 8 core and 3 optional heuristics: 1. Immediately Inform Users of Purpose and Engage Users, Avoid Registration. 2. Use Complementary Interaction Methods. 3. Leverage Interactivity. 4. Provide Accurate, Colloquial, Comprehensive, Succinct Content. 5. Provide Tailored, Flexible, Layered Content. 6. Use Visuals to Complement Text, But Avoid Tables. 7. Simplistic, Consistent Navigation. 8. Simplistic, Consistent Displays. 9. (Optional) Clear and Comprehensive Communication of Risks. 10. (Optional) Clear Depiction of Monitoring Data and/or Test Results. 11. (Optional) Considerations for Mobile Devices.”

³ Chen en Macredie (2005:519) bied die volgende beskrywing en toeligting van die genoemde twee heuristieke: “User Control and Freedom: Users should be free to develop their own strategies, select and sequence tasks, and undo and redo activities that they have done, rather than having the system do these for them. Help and documentation: Even though it is better if the system can be used without documentation, it may be necessary to provide help and documentation. Any such information should be easy to search, focused on the user's task, list concrete steps to be carried out, and not be too large.”

  • Eli Bitzer word bedank vir sy kritiese kommentaar oor die artikelinhoud voor publikasie.

Bronne geraadpleeg

Alonso-Ríos, D, E Mosqueira-Rey en V Moret-Bonillo. 2018. A systematic and generalizable approach to the heuristic evaluation of user interfaces. International Journal of Human-Computer Interaction, 34(12):1169–82.

https://doi.org/10.1080/10447318.2018.1424101

Arhippainen, L. 2013. A tutorial of ten user experience heuristics. Academic Mind Trek, Oktober 1–4, Tampere, Finland ACM 978-1-4503-1992-8/13/10.

http://arhippainen.fi/user-experience-heuristics/ten-user-experience-heuristics.

Ball, LH en TJD Bothma. 2018. Heuristic evaluation of e-dictionaries. Library Hi Tech, 36(2):319–38.

Bitzer, E. 2021. Persoonlike kommunikasie, 2 Augustus.

Bodenhausen, GV.1990. Stereotypes as judgemental heuristics: Evidence of circadian variations in discrimination. Psychological Science, 1:319–22.

Chen, SY en RD Macredie. 2005. The assessment of usability of electronic shopping: A heuristic evaluation. International Journal of Information Management, 25(6):516–32.

Crisp, RJ (red). 2011. Social psychology. Oxfordshire, Engeland: Routledge.

https://www.sagepub.com/sites/default/files/upm-binaries/12462_02_Crisp_Ch_02.pdf.

Monkman, H en J Griffith. 2021. A tale of two inspection methods: Comparing an ehealth literacy and user experience checklist with heuristic evaluation. Study of Health Technology Information, 27(281):906–10. doi: 10.3233/SHTI210310. PMID: 34042805.

https://www.researchgate.net/publication/351932773_A_Tale_of_Two_Inspection_Methods_Comparing_an_eHealth_Literacy_and_User_Experience_Checklist_with_Heuristic_Evaluation.

Nicolson, CR, AM Starfield, GP Kofinas en JA Kruse. 2002. Ten heuristics for interdisciplinary modeling projects. Ecosystems, 5:376–84. doi: 10.1007/s10021-001-0081-5.

https://faculty.washington.edu/stevehar/nicolsonecosyst.pdf

Sánchez-Adame, LM, S Mendoza, J Urquiza, J Rodríguez en A Meneses-Viveros. 2021. Towards a set of heuristics for evaluating chatbots. IEEE Latin America Transactions, 19(12):2037–45. doi: 10.1109/TLA.2021.9480145.

Spada, G, M Olivieri en G Galassi. 2015. A heuristic evaluation of long-term global sea level accelerando. Geophysical Research Letters, 42:4166–72. doi:10.1002/2015GL063837.

Wei-siong, T, L Dahai en B Ram. 2009. Web evaluation: Heuristic evaluation vs user testing. International Journal of Industrial Ergonomics, 39(4):621–7.

  • 1

Kommentaar

  • Charl+Cilliers

    'n Uiters moelike onderwerp om objektiewe kommentaar oor te lewer as jy nie 'n kundige is nie! Ek oordeel dat dit tog soms nodig is om ook oor sulke moeilike onderwerpe te skryf en wil dus die skrywer gelukwens met sy poging!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top