#HeTwo: Evita deur Pieter se oë

  • 0

“Net omdat sy nie bestaan nie, beteken dit nie sy is nie ’n werklike persoon nie,” sê Pieter-Dirk Uys oor sy alter ego, Evita Bezuidenhout, tydens sy jongste toneelstuk, #HeTwo: Evita exposed! wat tot 14 September 2019 by Theatre on the Bay, Kampsbaai, te sien is.

Tydens dié toneelstuk herbeleef die gehoor hoogtepunte van tannie Evita se lewe.

#HeTwo: Evita exposed!

Die produksie begin met ’n huldeblyk oor Evita wat deur Pieter onderbreek word met die woorde: “Hoe kan sy sterf indien sy nooit bestaan het nie? Slegs ek kan haar doodmaak, want ek het haar geskep.”

Saam met hom (en ’n paar bekende gesigte) kry die gehoor ’n agter-die-skerms-kykie na hoe Evita ontstaan het en wat sy tydens haar veertig jaar as ’n bekende en geliefde Suid-Afrikaanse figuur ervaar het.

Hoe het Evita haar naam gekry? Watter emosies het Evita beleef toe sy oudpresident Nelson Mandela vir die eerste keer ontmoet het?  

Die leser kry ook dieper insig in die akteur. “Ek het ook egter agter hierdie karakter geskuil,” erken Pieter tydens sy optrede, voor hy uitbrei oor die mag van Evita. Sy kon kommentaar lewer oor die politieke omstandighede wanneer hy nie kon nie. Sy kon die politici bespot en hulle het saam met haar gelag.

Tydens die toneelstuk deel hy ’n staaltjie oor toe hy ’n onderhoud met Nelson Mandela gaan voer het.

“Ek het opgedaag en gevra vir ’n plek om aan te trek. Ek is gewys na die damesbadkamers, wat leeg was. Ek was besig om my grimering op te sit, toe drie skoonmakers instap. Hulle het gevra of hulle mag kyk hoe ek aantrek. Ek het gedink ek kry ’n gehoor; ek het drie van die sterkste kritici gekry. Vir meer as twintig jaar sit ek grimering aan, maar skielik het ek dit nie reg gedoen nie. Toe ek Evita se hare aansit, staan hulle op en maak verskoning. Ek het niks gedoen nie; Evita het opgedaag.”  

Die #HeTwo-toneelstuk se titel is ’n duidelike speling op die #MeToo-beweging wat teen seksuele misbruik protesteer, en Pieter het ook tydens die produksie vlugtig aktuele sake soos die bendegeweld op die Kaapse Vlakte en die huidige politieke klimaat van bedrog, rassisme en homofobie aangeraak.

Selfs met hierdie gewigtige temas het ek met ’n ligter hart uitgestap.

Tydens die produksie prys Pik Botha, Desmond Tutu en Suid-Afrika se huidige president, Cyril Ramaphosa, Evita se invloed op die land.

Pieter neem die gehoor ook terug na Suid-Afrika kort na Madiba se vrylating: “Watter land sou Suid-Afrika nie gewees het indien ons Nelson Mandela se Rivonia-verhoor kon aanskou het nie? Waar sou ons gewees het? Met sy toespraak in Kaapstad na sy vrylating het ons gedink: Die verlede was dalk onseker, maar die toekoms is nou veilig,” vertel hy oor dié tyd.

Die produksie is ’n volle uur en ’n half en nie een keer kry jy die begeerte om op jou selfoon te loer nie. Jy is vasgevang deur die gebeure op die verhoog en dit spreek van Pieter-Dirk Uys se vermoë.

Hy was uitstekend, wat nie ’n verrassing was nie. Ek het die humor verwag, maar die hoop vir die toekoms waarmee ek uitgestap het, het my onkant betrap.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top