Het meertaligheid die boot gemis?

  • 2

wanniecarstens300Die onlangse ontbinding van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) het die vrees laat ontstaan dat die strewe na meertaligheid in Suid-Afrika ’n doodgebore ideaal was. PanSAT was verantwoordelik vir die bevordering en ontwikkeling van die land se amptelike landstale, insluitend gebaretaal. Jean Oosthuizen wou by een van PanSAT se afgedankte raadslede, Wannie Carstens, weet of die doodsklokke vir meertaligheid in die land inderdaad besig is om te beier noudat die raad deur die Minister van Kuns en Kultuur ontbind is.

En daar duik PanSAT toe ook in die pomp toe dit deur Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, ontbind is. ’n Gatslag vir meertaligheid in Suid-Afrika of nie?

Ja, dit is inderdaad ’n gatslag, omdat dié liggaam die enigste is wat hom werklik vir meertaligheid beywer (het) in Suid-Afrika. Die instelling PanSAT dobber al jare op ’n onrustige oseaan rond en gaan telkens by elke hawe verby. Die matrose is wel op die dek, maar hulle weet nie juis wat om te maak as die storm opsteek nie, behalwe om weg te kruip onder die dek.

Wat sou die rede hiervoor wees?

Die rede is duidelik: die mandaat (meertaligheid) word nie gedien nie en van die werklikheid word van die taalbepalings in die Grondwet kom min in die praktyk tereg. PanSAT bestaan al jare in wese net in naam, met hier en daar ’n opflikkering as een of ander woordeboekproduk gepubliseer word.

Hoekom?

Want die organisasie is gedryf deur mense wat dikwels nie ’n idee gehad het wat hulle moet doen nie. Hulle was wel daar, maar aan inisiatief en energie het dit in die meerderheid gevalle skromelik ontbreek. En as jy nie die wese van taal en die waarde van taal vir mense kan begryp nie, kan jy min doen om dit waar te maak. In hierdie proses is die simbool van ons vryheid, die elftaalbedeling, op die agtergrond geskuif en het meertaligheid al hoe meer ’n saak geword waaraan lippediens bewys word.

Wat sit régtig agter die ontbinding van die raad? Was dit omdat die raad swak bestuur is of is daar dalk ’n politieke agenda daaragter?

Die kort antwoord hierop is: ja, die instelling is swak bestuur deur opeenvolgende rade en uitvoerende hoofde, en ja, daar is ’n stewige dosis politiek hieraan verbonde. Vir ’n meer volledige antwoorde op die fyner punte kan jy gerus die artikel lees wat ek verlede maand vir Maroelamedia geskryf het. Hier verduidelik ek puntsgewys die agtergrond oor die afgelope twee jaar se proses.

Tydens sy bestaan is die raad ook gekenmerk deur tientalle onreëlmatige aanstellings en finansiële wanbestuur, soos wat jy self al uitgewys het. Was PanSAT nie maar verantwoordelik vir sy eie ondergang omdat hy self oor jare heen so rondgefladder het van een krisis na die ander nie?

Ja, daar was talle foutiewe aanstellings (die rede hiervoor, asook die omvang hiervan, sal hopelik in ’n komende ondersoek deur die kantoor van die openbare beskermer ontbloot word); en ja, daar was swak uitvoerende hoofde – die een het na die ander gekom en ook kort voor lank met ’n gerieflike pakket gegaan. Ja, hierdeur is of was PanSAT vir sy eie ondergang verantwoordelik.

Maar wat het dan van al die mooi planne geword om meertaligheid uit te bou?

Dit is ’n klassieke geval van ’n plan wat mooi gelyk het, geïmplementeer is, maar toe langs die pad in duie gestort het. Van die mooi planne het min gekom, omdat die uitrol van die plan gebrekkig was, en dit is aangehelp deur die verkeerde mense by die uitvoer van die plan te betrek.

En toe ontaard dit maar in net nóg ’n soustrein met ’n klompie mense wat vet salarisse kry sonder dat daar iets konstruktiefs gebeur?

Ja, dit was beslis die geval. Om ’n enkele voorbeeld te noem: in die kantoor van die hoof uitvoerende beampte is vyf senior bestuurders (wat elkeen ’n groot salaris verdien het) aangestel. Wat dié mense moes doen, was vaag. Uit eie ervaring weet ek ’n effektiewe hoof uitvoerende beampte het nie ’n aantal bestuurders in sy of haar kantoor nodig nie, omdat al die instelling se bestuurders reeds vir hom of haar werk. Waarom hierdie oormatige poste skep? Dit klink inderdaad soos ’n soustreinstorie.

Wie moet uiteindelik die skuld kry vir die feit dat die raad nou in sy peetjie is? Kon die huidige raad nie die probleme wat tot sy ontbinding sou lei, voorsien het nie?

Die Departement Kuns en Kultuur het oor jare toegelaat dat PanSAT op hierdie destruktiewe pad voortgaan: swak aanstellings, en die aanvul van fondse as daar te min was. Die prop moes al jare gelede uitgetrek gewees het.

Ek het tydens die onderhoud wat met my gevoer is as potensiële raadslid, gesê dat PanSAT net op een manier gered kan word: ontbind die organisasie, herontwerp dit en begin dan ses maande later van voor af. En dan moet elkeen weer vir sy pos aansoek doen.

PanSAT kan werk as die volgende gebeur: die regte en kundige personeel aangestel word; die fondse voldoende is om die mandaat uit te voer; die instelling onafhanklik funksioneer (sonder inmenging); die instelling kans het om regsoptredes oor taaloortredings af te dwing. Maar in die praktyk van wat ek hier bo beskryf het, is dit ’n droom.

En ja, die raad het besef dat die departement en die Minister ons onafhanklikheid aantas en dat daar daarom die potensiaal vir konflik vorentoe was. Ons moes wel doen wat ons geoordeel het die regte dinge is om op die regte maniere te doen.

Is daar voorbeelde wat jy kan noem waar die raad tydens sy bestaan werklik iets beteken het vir die land se inheemse tale behalwe Afrikaans?

My gevoel was dat daar maar min hiervan tereg gekom het. Want 20 jaar later moes die Afrikatale in ’n baie beter posisie gewees het as wat vandag die geval is. Van grondige taalontwikkeling het daar min gekom – altans waarvan ek weet – en van die werk wat deur van die nasionale taalliggame van hierdie tale gedoen is, was nie altyd op ’n hoë vlak nie. Dit was die terugvoer wat ek van kundiges gekry het.

Dit is ’n skreiende skande dat ons 22 jaar ná die aanbreek van demokrasie nog op die punt is dat steeds gepraat word oor “die ontwikkeling van Afrikatale”. Dit moet voor die deur van die staat, in die besonder die Departement Kuns en Kultuur, gelê word.

Jy is ongelukkig omdat die raad ontbind is, maar wat van die groot aantal werknemers wat deur die raad self afgedank is? Kry die raad nie nou maar net van sy eie medisyne terug nie?

’n Mens sal dit natuurlik so kan interpreteer – dat ons ons “eie medisyne” terugkry. By nabaat kon seker ’n ander metode gevolg gewees het, maar die raad se oordeel was dat slegs ’n drastiese ingryping PanSAT op die herstelpad kon plaas. En daarom ’n uiters moeilike besluit.

En wat nou van meertaligheid? Wie se verantwoordelikheid is dit nou om toe te sien dat meertaligheid, soos wat dit in die Grondwet verskans word, toegepas word as daar nie meer ’n waghond is om daarna om te sien nie?

Ek wens ek het ’n goeie antwoord hierop gehad! Moontlik word die artikel 185-kommissie (die kommissie vir die bevordering van die regte van linguistiese, religieuse en kulturele gemeenskappe) die instrument wat hiervoor gebruik kan word. Ek betwyfel dit egter sterk, omdat hierdie kommissie se take te omvangryk is om hierdie besondere taak reg uit te voer.

Die ontbinde raad wil wel probeer om seker te maak dat die PanSAT-wet herskryf word om seker te maak dat die oorspronklike mandaat van PanSAT wel tot sy reg kom. Ek is egter nie baie positief hieroor nie.

Wie moet die leiding neem dat die oorspronklike mandaat van PanSAT wel tot sy reg kom as die raad self ontbind is?

Taalingestelde organisasies sal hier die leiding moet neem. Dit gaan hofsake en kostes verg om dit reg te kry. Ek hoop iemand kom hier na vore om dit te doen.

Dit is wel belangrik dat PanSAT weer opstaan met taalaktiviste aan die beheer daarvan – want as dit nie gebeur nie, is die gevolge te aaklig om aan te dink. Die land se taalgemeenskap moet deur politieke druk toesien dat PanSAT herleef.

Is die ontbinding van die raad nie maar die dun end van die wig wat uiteindelik daartoe sal lei dat Engels maar de facto die enigste amptelike taal in Suid-Afrika word nie - indien dit nie reeds die geval is nie?

Die enkele grootste rede hoekom ek my beskikbaar gestel het vir die raad, was juis om te help om die gebreke van die instelling te help regstel ten einde die implementering en bestuur van meertaligheid moontlik te maak. Juis ook omdat ek goed weet dat as PanSAT vou, daar geen skans meer teen Engelse eentaligheid sal wees nie. Ons moet dit teenstaan met alles wat ons het.

Wie is die “ons” wat dit moet teenstaan?

Die teenstand hieroor durf nie net uit die geledere van Afrikaans kom nie, maar veral uit die Afrikatale self. Die Afrikatale moet deur aktivisme hier die leiding neem en politieke steun kry hiervoor. Die ou “lobby”-beginsel is hier van kernbelang. Afrikaans moet saamwerk om die belofte van ons Grondwet te laat realiseer – dat ons vry kan wees in ons onderskeie tale.

Is Afrikaanse mense, en spesifiek wit Afrikaners, nie dalk net oorgevoelig oor hulle taal nie? Kyk hoe sterk staan die Afrikaanse boekbedryf en musiekbedryf teenoor ander inheemse tale s’n. Waarom dink ons die taal word bedreig net omdat Afrikaners die politieke mag verloor het?

Die druk op Afrikaans neem toe, hoe ons ook al daarna kyk. Enige persoon wat selfs net af en toe ’n koerant lees of van die sosiale media gebruik maak, sal dit goed weet. Ek hoef hier maar net verlede jaar se taaldebatte by US, die UV en die NWU te noem.

En  wat van die ander inheemse tale? Mens hoor selde daarvan dat die ander nege inheemsetaalsprekers so besorgd is dat hulle taal sal ondergaan.

In die kringe waar ek as taalmens beweeg het, is daar ’n groot behoefte aan dat die onderskeie Afrikatale hulle volwaardige plek in die land inneem. En nie net as praattale nie, maar as volwaardige standaardtale met al die funksies wat met ’n standaardtaal gepaard gaan. Dit moes PanSAT bewerkstellig het, maar die mislukking van PanSAT werk dit ongelukkig teen. Daar is dus baie werk wat vorentoe wag.

Ek merk wel op verskeie plekke dat daar deesdae al hoe meer stemme uit die geledere van die Afrikatale na vore om hulle tale se regte op te eis. Dit gee vir my hoop dat ons dalk wel die eentaalmodel kan vermy. Politieke steun kan makliker vir hierdie tale verkry word as vir Afrikaans, en die mense sal dom wees as hulle dit nie benut nie.

En dan is daar die regses wat altyd saam in die koor sing oor Afrikaans en dikwels met ’n rassistiese ondertoon. Is hulle nie miskien die grootste doring in die vlees nie en hoe hanteer mens dit?

In gesprekke sê ek dat die manier waarop ons met Afrikaans omgaan, die toekoms van ons taal in hierdie land sal bepaal. Afrikaans was lank ’n taal wat mense vervreem het, en ons durf nie toelaat dat dit weer gebeur nie. En hier is die negatiewe taalgebruik van persone uit regse geledere, waar Afrikaans soms nog as die eksklusiewe besit van wit sprekers beskou word, tot groot nadeel van die beeld van Afrikaans. Ons moet die aggressie uit Afrikaans haal.

Waarom sien ons nie dieselfde besorgdheid oor Afrikaans by ons bruin Afrikaanse taalgenote as onder die wit deel van die bevolking nie? Hoe voel húlle oor die taal?

Afrikaans is wat die houding van die bruin mense betref op die mespunt. Statistiek dui daarop dat bykans die helfte van die bruin gemeenskap Engels as die taal van die toekoms sien. As daar verdere aanleiding kom wat die bruin mense van Afrikaans vervreem, begin die spreekwoordelike rooi ligte vir Afrikaans flikker.

Uit gesprekke met vriende in die bruin gemeenskap is dit duidelik dat daar ’n groot verskil is hoe wit en bruin sprekers van Afrikaans oor die taal oordeel. Vir baie wit sprekers is Afrikaans deel van die unieke identiteit, maar vir baie bruin mense is Afrikaans bloot ’n instrument om kos op die tafel te sit. Hoe die totale Afrikaanse taalgemeenskap dit hanteer, is van kernbelang vir Afrikaans se toekoms.

So wat nou? Is daar ander maniere waarop meertaligheid in die land bevorder kan word en is daar enigiets wat nog gedoen kan word om die raad se ontbinding om te draai?

Ek wens ek het hier ’n goeie antwoord gehad. Die onderskeie taalgemeenskappe in Suid-Afrika sal wel moet aandring op hulle taalregte, op watter wyse ook al. Dalk moet ons saam begin toi-toi oor taal? Wat van ’n veldtog #MonolingualismMustFall?

Enige ander praktiese stappe wat oorweeg word om PanSAT te red?

Die ontbinde raad oorweeg tans verskeie opsies om PanSAT weer van ’n raad te voorsien. Een is deur die Minister se optrede op hersiening te neem (daar is regsopinies wat daarop dui dat die Minister buite sy magte opgetree deur die raad te ontbind – dit sal in die komende weke verder ontgin word).

Die doel hiervan is om seker te maak dat PanSAT weer ’n onafhanklike raad kry en dat die wetgewing rakende PanSAT hersien word sodat PanSAT sy regmatige plek in die Suid-Afrikaanse taallandskap kan inneem – hierdie keer egter met beter en kundiger personeel en sterker bestuur deur ’n bekwame hoof uitvoerende beampte en ’n onafhanklike sterk raad.

’n Tweede opsie is om die saak aan die kantoor van die openbare beskermer te oorhandig vir grondige ondersoek. Ons is van oordeel dat die forensiese verslag reeds dui op ernstige finansiële oortredings en dit moet beslis deur die OB ondersoek word. Die land verdien om hieroor duidelikheid te kry.

Hoe raak dit alles jou eie posisie?

Wat myself betref: ek is deur Afrikaanse organisasies versoek om my beskikbaar te stel vir die raad. Ek het via die raad PanSAT na die beste van my vermoë probeer dien, juis omdat taal so ’n kardinale deel van ons land is.

My kundigheid as akademikus en my netwerke is ingespan om PanSAT te probeer red. Daarom het ek my in ’n bykans onmoontlike situasie begewe. Die opoffering om dit in ’n polities onvriendelike omgewing te doen, was besonder groot. My en die ander raadslede se pogings was skynbaar nie genoeg nie.

Ek sal nie beskikbaar wees vir ’n nuwe raad nie, maar ek weet ek en die lede van die ontbinde raad het die regte dinge reg gedoen, juis om PanSAT te laat herleef. As ek (ons) daarvoor afgedank word, dan is dit goed so. Ons kon nie vrot bestuur en politiekery met ons tale kondoneer nie. En die uitkoms van die forensiese verslag sal uiteindelik wys dat ons reg was.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Johan van der Merwe

    Baie dankie aan Jean Oosthuizen vir hierdie onderhoud. Dit het 'n paar dinge vir my duideliker gemaak. En hartlik dankie aan Wannie Carstens vir al sy harde werk in belang van meertaligheid en van Afrikaans.

    Huidige omstandighede verg dalk 'n nuwe benadering en 'n nuwe strategie. Maar van ophou stry kan daar nie sprake wees nie. Daarvoor is meertaligheid verreweg te belangrik en Afrikaans heeltemal te kosbaar.

  • Uiters goeie onderhoud. Relevante vrae met eerlike respons. Skroom nie om die waarheid te vertel nie. Knap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top