Het dit tyd geword dat ons sukses herdefinieer?

  • 1

Dis nou weer Oscar-tyd, met al die drama wat daarmee gepaard gaan. Party gaan huis toe met die goue beeldjie, ander glo dis moes eerder hulle gewees het. Dan is daar die uitrustings – die een meer uitspattig as die ander, om darem die kamera se aandag te trek.

As enige van die glanssterre oor hulle gevoelens gevra word, is dit: Hoe voel jy oor jou kanse om te wen? Of hoe voel jy noudat jy gewen het?

ʼn Foto is maar ʼn oomblik gevries vir die ewigheid. Enigeen kan ʼn glimlag, of selfs ʼn goeie faksimilee van vreugde, naboots vir die oomblik wat dit neem om die knoppie te druk.

Die persone wat by hierdie seremonies vereer word, is gewoonlik op die kruin van hul professionele sukses: hulle het geld; hulle is professioneel in aanvraag; iewers is daar groupies wat hulle oral volg, hul loopbane met fanatiese belangstelling volg en dink hulle kan niks verkeerd doen nie. As hulle jonk, mooi en vroulik is, sal hul gesigte op die voorblaaie van tydskrifte pryk.

Hul huise word in tydskrifte geplaas, ontwerpers wedywer om hulle van uitrustings te voorsien. Hulle ry die nuutste, luuksste karre en het gewoonlik meer geld as wat hulle weet wat om mee te doen.

Sukses. Dis hoe die wêreld reken dit behoort te lyk. In ruil daarvoor gee hulle alle reg op privaatheid op. Elke oomblik buite die veiligheid van hul eie huise is ʼn oomblik dat hulle werk en vertoon word – selfs al gaan hulle net inkopies doen by die supermark. Daar is ʼn hele klomp fotograwe wat hul geld daaruit maak om in onbewaakte oomblikke onvleiende foto’s van bekendes te neem.

Vir glanspersoonlikhede in Suid-Afrika is dit makliker, vermoed ek. Die georganiseerde mal koorsagtigheid wat oorsee heers, het nog nie hier geland nie. Hoop ek.

As sukses bestaan uit ʼn oombliklik herkenbare gesig, rykdom en roem, hoekom is daar soveel glanspersoonlikhede wat self-medicate? Soveel wat aan depressie ly? Soveel wat sukkel met geestesversteurings? Soveel wat ineenstortings belewe? Soveel wat uiteindelik hul eie lewens neem? Robin Williams. Anthony Bourdain. Kate Spade. Chester Bennington. Avicii. Alexander McQueen. Lee Thompson Young. Die lys gaan aan.

Dis natuurlik nie net glanspersoonlikhede nie. Gewone mense, jong kinders selfs, kies toenemend selfdood.

In die bestek van ʼn paar weke so drie jaar gelede het drie persone wat ek ken, gekies om hul eie lewens te neem. Nie een was gediagnoseer met depressie nie. Nie een het ongelukkig of beswaard voorgekom nie. Nie een het enige tekens getoon dat hulle in so ʼn donker dal was dat hulle daaraan dink om hul lewens te beëindig nie.

Facebook-foto’s wys gelukkige mense besig om hul lewens te geniet.

Enigeen kan gelukkigheid fake vir die oomblik wat dit neem om die kiekie te maak. Of dalk is hulle regtig gelukkig in daai vlietende oomblik.

Was hulle depressief? Is depressie altyd die voor die hand liggende antwoord wanneer mense kies om als te beëindig?

Ons almal beleef by geleentheid donker dae, wanneer jy net in ʼn bondeltjie wil oprol en vergeet van die wêreld daar buite. ʼn Goeie huilbui, ‘n bietjie jammer vir jouself voel en jy voel sommer beter.

Dis nie depressie nie. Depressie is ʼn kliniese toestand wat langdurig is en wat met die regte kombinasie van terapie en medikasie onder beheer gebring kan word. Te maklik skryf ons depressie toe aan iemand wat net ʼn slegte dag beleef.

Dit maak soms dat depressielyers nie die hulp kry wat hulle nodig het nie, want goedbedoelende vriende verduidelik vir hulle dit sal oorwaai.

Dit sal nie.

Ons leef in ʼn wêreld waar ons sukses, ons geluk, gemeet word aan materiële welvaart. Hoeveel geld jy in die bank het, hoe groot jou kar is, hoe blink jou ringe. Die res is bysaak. Jou emosionele welvaart is só ver teruggestoot op die lysie dat dit nie eens noemenswaardig is nie.

Dalk het dit tyd geword dat ons die idee van wat sukses is, radikaal moet herdink. Dalk het dit tyd geword dat ons ons verwagtinge verstel. Is die grootste oorsaak van ons ongelukkigheid baie keer nie dat realiteit nie aan ons verwagtinge voldoen nie?

In plaas van ryk, mooi en maer, kom ons strewe na innerlike rustigheid. In plaas van winner takes all, kom ons strewe na samewerking waar almal wen. In plaas van skatryk aan die een kant en brandarm sonder ʼn dak oor jou kop aan die ander kant, kom ons strewe na ʼn wêreld waar almal in waardigheid kan bestaan.

In plaas daarvan om kinders aan te moedig om net opleiding te ontvang in onderwerpe wat hulle van ʼn toekomstige lonende werk gaan voorsien, kom ons moedig hulle aan om dit te doen wat hul harte laat sing en hul kreatiwiteit ontsluit.

Dalk het dit tyd geword dat ons mense nie meer meet aan die waarde van hul besittings nie, maar hulle eerder aanmoedig om in interaksie te gaan met minderbevoorregtes, met diere, met organisasies wat ander help. Interaksie, nie geld skenk nie. Dis alte maklik om ʼn donasie te gee; minder maklik, en waarskynlik emosioneel meer lonend, om moue op te rol en daadwerklik iets te doen om ander te help.

Utopies en onrealisties? Miskien, maar net omdat ons nog so verknog is daaraan om sukses in rand en sent te meet.

Sal dit depressie en selfdood verminder? Ek weet nie, maar dit sal die lewe aansienlik verbeter vir die mense en diere wat gehelp word.

Depressie kan net onder leiding van ʼn opgeleide mediese kundige aangespreek word. As jy of ʼn geliefde aan depressie ly, maak ʼn afspraak met ʼn dokter. Kry hulp.

  • 1

Kommentaar

  • Jeanne Henning Els

    Aan die einde van jou lewe is AL wat regtig tel: het ek genoeg liefde gegee? Nie ontvang nie. Hoeveel liefde het ek geGEE?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top