“Daar is nog voorbeelde van jongmense wat in opstand kom en hul stem laat hoor, maar ook in ander gevalle dit verloor, sodat die wêreld en ons land besef dat jongmense se rol in die samelewing nooit onderskat mag word nie.”
Só meen die 23-jarige Herschelle Benjamin.
Die veelsydige Herschelle is tans besig met sy meestersgraad in drama en teaterstudies en is ook bekend vir sy bydrae tot die uitvoerende kunste as akteur, regisseur en dramaturg. Hy is vanjaar by die Woordfees met die Beste Opkomende Kunstenaar-prys bekroon. Verder is hy is ook ’n kranige skrywer en skryf graag vir verskeie platforms.
Herschelle vertel meer oor wat Jeugdag (16 Junie) vir hom beteken en hoe die jeug besig is om hul merk te maak.
Herschelle, vertel asseblief ’n bietjie meer oor jouself. Wie is jy, hoe oud is jy en wat doen jy alles?
Ek is 23 jaar oud en besig met my meestersgraad in drama en teaterstudies by die Universiteit Stellenbosch. Met my honneursgraad in toneelspel het ek al in studenteteaterproduksies gespeel asook gesig gewys in televisiereekse soos Die Boland Moorde en die vollengtefilm Raaiselkind.
Verlede jaar het ek gedebuteer as dramaturg, deel van die Kunstekaap se Nuwe Stemme, met my produksie Korreltjie kop klong is my dood en vanjaar by die US Woordfees met die produksie, In Slavenhuis 39. Die laasgenoemde is vereer vir die Beste Opkomende Kunstenaar-prys.
Verlede jaar het ek kunsjoernalistiek by Die Burger en Netwerk24 gedoen. Ek begin ook meningstukke by Die student skryf en skryf ook vanjaar artikels vir die nuutgestigte aanlyn publikasie Vrye Weekblad. Ek skryf ook vir ander aanlyn mediawebtuistes soos LitNet en Vulture Productions. Ek het ook tydelike werke in bemarking en sosiale media gedoen vir twee kunstefeeste vanjaar. Verder werk ek ook ’n deeltydse werk by die Stellenbosse gastehuis 107 Dorpstraat Boutique Hotel. So skryf en leer en leef en werk ek maar myself deur die wispelturige twintigs.
Jy was onlangs by die Woordfees betrokke, soos jy gesê het. Vertel asseblief meer daaroor en oor ander produksies?
My teks, In Slavenhuis 39, het by die Woordfees vanjaar gedebuteer onder regie van Philip Rademeyer met Cantona James, Eldon van der Merwe, Stefan Erasmus en Stephren Saayman. Die produksie is goed ontvang en speel later vanjaar by die Kunstekaap weer. Goeie nuus vir ander wat dit nog nie gesien het nie. Vanjaar open ’n ander stuk van my, Dooie drome, by die Vrystaat Kunstefees met twee talentvolle jong akteurs, Maria Strauss en Stephren Saayman. Ek sal ook betrokke wees as medeskrywer en regisseur by die produksie Wasem, wat by die Nasionale Kunstefees sal speel met Terence Makapan.
Wat beteken Jeugdag vir jou?
So blatant soos enige nasionale dag is, as ’n dag waarop die jeug gevier word. Dit skyn ’n lig op jongmense in die land, ons struikeling, ons hoop, ons drome en ons rol in ons land. Dit laat my terug dink aan die bravade van die jongmense in ons geskiedenis van alle kante.
Toe die Sharpeville- en al die Soweto-opstande ’n belangrike rol gespeel het in die toekoms van ons land en die stryd vir demokrasie. Dit laat my dink aan jeugvegters van vandag soos die meisies van daardie Pretoria-skool wat protesteer het teen reëls teen hul hare. Verder dink ek aan die ongelooflike Sweedse tiener Greta Thunberg wat opstaan teen klimaatsverandering en skool staak sodat regerings en die wêreld dit as ’n belangrike gevaar aanvaar en probeer werk daaraan.
Dit laat my ook hartseer dink aan Hannah Cornelius en Cheslin Marsh. Dit laat my krities dink oor al die Fall-bewegings, die werklose jeug met universiteitsgrade, en vreemd genoeg laat dit my ook dink aan die verandering in wêreldpolitiek en die impak op die toekoms vir die jeug.
Daar is nog voorbeelde van jongmense wat in opstand kom en hul stem laat hoor, maar ook in ander gevalle dit verloor sodat die wêreld en ons land besef dat jongmense se rol in die samelewing nooit verag mag word nie. Inteendeel, dit moet meer nader getrek word soos ons in die toekoms in beweeg sodat nuwe denke en ’n moderne dog holistiese/kritiese bewussyn ander paaie voortoe help oop maak.
Dink jy die kunste kan ’n rol speel in die bemagtiging van die jeug?
Die belangrikheid van die kunste in ons land word vir lank onderskat. Die mag en bemagtiging daarvan is oneindig, maar word nog nie genoeg erken en gebruik nie. ’n Skaamte wat oor ons almal val.
Dink jy daar is ’n toekoms vir die jeug in Suid-Afrika?
As die jeug weer hul plek/rol in die opset van Suid-Afrika eis, hul stem dik maak ten alle tye en altyd ’n onderskeid tussen reg en verkeerd asook waarheid en leuen kan nastreef. As daar by die jeug ’n waaksaamheid is oor die invloede op ons lewe, hetsy geloof, mag, status, kultuur, tegnologie en politiek.
As die jeug in Suid-Afrika bly en help saambou vir hul toekoms. As die jeug meer lees. As die jeug (soms) meer terugpraat. As die jeug in beheer van hul eie toekoms wil wees en belangrike rolle in ons politieke sfeer inneem en verander ten goede van ’n Suid-Afrika wat in ’n dekade of meer weer aan die voorpunt is van Afrika en ’n land bly met ’n goeie, gesonde demokrasie. So ja, ek dink so. En die bogenoemde is daagliks ’n tug vir myself ook.
Watter uitdagings staar die jeug van vandag in die gesig?
Daar is baie. Ek huiwer om vir almal te praat, maar die noodlottigheid van goedkoop politiek, werkloosheid, misdaad, tegnologiese werkskeppings of beywering, klimaatsverandering (ja, dit moet ook belangrik wees vir die jeug in ons land), bekostigbare of vry opvoeding op alle vlakke en die belangrikheid van die kunste en letterkunde in ons land, kultuur en etniese trots, geestesgesondheid en geslags- en seksualiteitsbevryding. Ek mis dalk nog baie vir soveel ander.
Dink jy daar word geluister na die jeug van vandag? Word die jeug in Suid-Afrika gehoor?
Nie so baie in ’n nasionale-regerings- en politieke opset nie. Ek weet ook nie of ons genoeg ons stem gebruik om gehoor te word nie. As ons dit wel doen, ons stem gebruik, is dit nie krities en gewaagd genoeg vir deurbraak en verandering nie.
Daar is wel baie oomblikke van toenadering en opgewondenheid. Daar is ook in verskeie velde en gemeenskappe stemme wat nog gekweek moet word. Stemme wat wag om te gebeur. Maar die jeug behoort meer na geluister te word.
Wat is jou raad vir die jeug van Suid-Afrika? Met ander woorde, watter lewenslesse het jy al geleer?
Dapperheid is nie so sleg nie. Uitgesprokenheid met kritiese denke, ’n egte menslikheid en gesonde bewussyn help in die meeste gevalle.
Daar is baie werk wat nog gedoen moet word en daarom mag ons nie op ons louere rus nie – in ons land en die veranderende wêreld. So moeilik soos dit soms is, luister, maar ook voortstry en opbou waar jy kan.
Lees alles. Kyk alles. Wees nuuskierig. Wees toeganklik. Werk met jou trauma en woede op ’n manier wat voordelig is vir jou voortbestaan. Kyk soms weg van selfone. Huil is gesond. Lag is net so gesond. Moenie alles net so aanvaar nie. Kweek jou eie belangstellings en voed dit. Maar bowenal, probeer om ’n goeie mens te wees.