Herdenking van die afskaffing van slawerny

  • 4

In Maart 1658 kom die eerste skip met tot-slaaf-gemaakte mense in die Kaap aan. Twee maande daarna kom die tweede een aan. Wanneer die laaste skip met tot-slaaf-gemaakte mense aangekom het, weet ek nie. Iewers het ek gelees dat slawerny in die Kaap eers in 1834 tot ’n einde gekom het. Vandag maak dit nie saak of die waar, wanneer en hoe feitlik weergegee word nie, vandag moet ons erken dat dit wel gebeur het en dat ons moet onthou. Ons moet die opofferinge van ons voorouers herdenk, ons moet hulle eer omdat hulle staande gebly het ten spyte van wat hulle verloor het, dat hulle steeds hul menslikheid behou het sodat ons vandag hier kan staan.

En hoe onthou ons dit hier aan die Kaap? Elke jaar op die vooraand van 1 Desember kom ons bymekaar en dan loop die gevolg deur die strate van Kaapstad en stop by verskeie plekke soos die groefgat net onderkant Seinheuwel, Groentemarkplein, die boom in Spinstraat waaronder slawe verkoop is en ons eindig by Kerkplein waar ons hoor van verskeie individue wat met ons mense gebeur het. Ons hoor van digters en sangers, almal wat die pyn en seerkry nog voel en herdenk. Om en by eenuur die laatnag vertrek ons huis toe en dan is alles stil.

Watter voorreg was dit nie vir my om iets anders te sien nie! Die organisasie Stichting Eer en Herstel nooi my uit om ’n lesing by te woon oor Sarah Baartman. Hulle het die lesing deel gemaak van hulle Keti-Koti-maandvieringe. Keti-Koti is ’n woord in Sranan (Surinaamse taal wat beteken “kettings lossny”). Groot was my verbasing toe ek hoor dat die nasate van tot-slaaf-gemaakte mense in Nederland (hoofsaaklik van Surinaamse herkoms) die slawehandel en die vrystelling van hul voorouers vir ’n hele maand lank herdenk!

Kleurryke tradisionele klere word deur beide mans en vroue gedra. Die vroue dra ’n kopbedekking (Agnisa) uit respek vir hul voorouers. Dit word op ’n sekere manier geknoop en pryk op die trotse draers se koppe. Sommige vroue dra ’n groot rok, die “koto”. Ander dra ’n “pagni”, ’n stuk material wat bo-oor die klere vasgebind word en ’n “schouderdoek”, ’n stuk materiaal wat oor die skouer gegooi word.

Op 1 Junie het is ons deur die strate van Amsterdam, begelei deur ’n toergids wat ons vertel het van die geboue en kantore van sakelui wat hul rykdom uit die slawehandel verkry het. Op 18 Junie in Nijmegen by die Afrika-museum, waar ’n groot marmerbeeld van Afrika by die ingang staan, het ons fees gevier deur te dans op die maat van liedere begelei deur tromme en ander musiekinstrumente. Stories oor Afrika is vertel, stories deur die voorouers oorgedra. Dit was hartverskeurend om ’n sekere lied te hoor waarin die sangers trou sweer aan Afrika en belowe dat hulle gaan terugkom na hul vaderland. By hierdie geleentheid het ons ook tradisionele slawekos geëet. Een dis waarmee ek myself kon vereenselwig was die soutvis-smoortjie. Hoeveel maal het ek dit nie uit my ma se hand geëet nie? Ons het ook die Kabri Neti bygewoon waar daar eer gebring was aan die voorouers. By die ingang was gaste se hande met rooswater gewas. ’n Tafel het gedek gestaan met disse wat deur die slawevoorouers geëet is. Die gaste het stories vertel en speletjies uit die slawetyd gespeel. Ons het ook om die tafel gedans, daar was gebid en later het ons die kos wat oorgebly het na die Oosterpark geneem waar dit begrawe is, teruggegee aan Mama Aysha (Moederaarde).

Diana (derde van links) by die Kabri Neti

Diana by die Afrika Museum in Nijmegen

Op 28 Junie het ons per boot op ’n kanaal in Amsterdam gereis om besoek te bring aan ’n begraafplaas. Dit is ’n ou Portugees-Joodse begraafplaas waar ’n slaaf genaamd Elisier begrawe lê tussen die slawe-eienaars. Op sy klein grafsteen staan dat hy in 1629 gesterf het. Daar was hulde gebring aan Elisier deur klein wit klippies op sy graf te pak. Dit is gevolg deur ’n kranslegging by sy standbeeld en ook ’n kulturele program waar dinamiese jong kunstenaars hul werke hartstogtelik voorgedra, en so hul voorouers geëer het.

Die groot herdenking was egter op 1 Julie in die Oosterpark in Amsterdam waar ’n dramatiese standbeeld opgerig is ter herinnering aan dié wat die wrede stelsel moes deurmaak. My deelname aan die amptelike program het per abuis gebeur. Die program was gereël deur NiNsee (Het Nationaal Instituut Nederlands Slavernijverleden en Erfenis). Een van die gassprekers, Clarence Seedorf, die bekende internasionale sokkerspeler, het op die laaste nippertjie laat weet dat hy nie beskikbaar was nie. NiNsee het my toe gevra om as gasspreker op te tree. Ek het aangebied om liewers as ’n digter op te tree. Ek het met graagte “Ons komvandaan” opgesê. Die program was direk gebeeldsend met die Nederlandse vertaling onderaan. Hoe trots is ek nie oor die slag wat ek vir Afrikaans kon slaan nie! Dit was voorwaar ’n eer om deel van die program te kon wees. Hooggeplaastes het kort toesprake gelewer en is later vergesel deur kinders, geklee in kleurryke tradisionele drag, om ’n kranslegging by die slawemonument te doen. Na die verrigtinge het gaste in ’n ellelange tou gewag om eer aan die voorouers te bring by die slawemonument. Uiteindelik het bekendes mekaar opgesoek en foto’s geneem, ook dié wat onbekend was aan mekaar het uitbundig kennis gemaak en foto’s saam geneem.

Dit was ’n dag van intense emosie, waardigheid en feesviering. Oral in die park was stalletjies wat verskillende soorte memorabilia, kos en vele ander goed verkoop het. Musiek uit verskeie tente het deur die park weergalm. Honderde mense met hul kinders in kleurvolle drag in tou, het met trots deur die park gewandel.

Diana in Oosterpark

Diana (voor links) in Oosterpark

Ek was hard na my Suid-Afrikaanse werklikheid teruggeruk toe ek na lyste van name kyk wat NiNsee op groot borde in die park aangebring het. Dit was name van die tot-slaaf-gemaaktes wat aan hulle gegee was. Ek het van die omstanders vergeet, stadig en afgemete elke naam gelees en diep in my hart het ek geweet ek sou iets van myself daar kry. By die letter “E” het ek angstig my oë van bo na onder laat beweeg totdat ek dit gekry het: Elias, die naam van my oupa. Dit was asof die lang reis vir my voltooi was.

Naam van Diana se oupa Elias

Op pad terug na Almere waar ek tuis was, het ek stil in die trein gesit, die groen Nederlandse landskap het sy sjarme verloor. Ek was naar vir die groot fabrieke, die netjiesgeboude woonstelle en goedversorgde huise. Ek wou iets saam met my huis toe neem, nie materiële dinge nie, maar iets wat ek wou verander. En toe tref dit my tussen die oë. Ek sou wou hê dat ons nie net ’n paar uur lank die lyding van ons voorouers moet herdenk nie, nee, ons moet dit verander! Ons kan klein begin, miskien ’n naweek of selfs ’n week. As die afstammelinge in Nederland ’n hele maand wei aan die herinneringe van hul voorouers se lyding en vrystelling van slawerny, is ons paar uur vir ons voorouers ’n skending ...

Ons moet dit verander.

Foto's: verskaf

  • Sien die video van die voordrag van Diana tydens die Nasionale Herdenking van Nederlandse Slawerny-verlede op 1 Julie 2017 in Oosterpark in Amsterdam:

  • 4

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top