
Grafika uit film: met erkenning aan kykNET
- Hen is die eerste film uit Afrika wat bekroon is by die internasionale Neuchâtel-filmfees.
Dawid (Stian Bam) kom op ’n afgeleë plaas op ’n verskriklike familietragedie af en maak ’n onheilspellende ontdekking in ’n houtkrat. Van daar af ontvou ’n storie oor ’n gesin wat probeer vashou aan hul menslikheid terwyl die skaduwees om hulle toesak.
...
Die gevoel van dreigende onheil hang binne die eerste paar sekondes oor jou, en bly by jou nie net tot die einde van die film nie, maar vir dae daarna.
...
An American werewolf in London (1981) se oorspronklike ouderdomsbeperking was 18, weens onder andere grafiese gruwelgeweld. Ek het dit per ongeluk op ouderdom 9 gesien. My familie het by vriende gaan eet. Terwyl die grootmense aan tafel gesels, het die kinders in ’n kamer saamgebondel om ’n video te kyk. My ma was streng oor geweld, gruwel en bonatuurlike elemente in films. Haar vriendin was blykbaar meer losgat oor die saak.
Ek kan 43 jaar later steeds tonele skoot vir skoot oorvertel. Ek het vir dae lank nie geslaap nie, my lyf het geruk en my kamerlig moes te alle tye aan wees. Opsommend, ek kon daarna nooit weer enige gruwelfilms of bonatuurlik spookstories kyk nie. As iemand wat oor film skryf, is dit ’n inperking, want die gruwelgenre bevat uitstekende films.
Toe gaan maak een van my gunstelingregisseurs Nico Scheepers Hen. Plus, hy kies die sielvolle Stian Bam (Dawid) en formidabele Amalia Uys (Hanna) vir die hoofrolle. Ek kon sterk staan vir ’n jaar of wat tot die film die HR Giger Narcisse-toekenning vir beste vollengte film wen. Dit is boonop die eerste Afrika-film wat dit wen in die fees se 25 jaar geskiedenis. Toe neem die FOMO oor en ek swig.
Goeie genade. Aan die een kant het ek absolute bewondering vir die meesterstuk wat Scheepers geskep het. Aan die ander kant het ek Nico ’n hele paar keer vervloek. Die gevoel van dreigende onheil hang binne die eerste paar sekondes oor jou, en bly by jou nie net tot die einde van die film nie, maar vir dae daarna. Dit is ’n sluiper, of dalk ’n bekruiper – ’n film wat jou lank na die tyd laat wonder, laat gril, laat vrae vra.
Die kombinasie van die glashelder klankontwerp (die eerste 18 minute sonder dialoog, skoene op gruis, voetvalle op houtvloer, karakters wat steun en kreun, ’n mes wat deur pels sny, min musiek, lang stiltes) en die verlate swart en wit kinematografie (gestroop van warmte en plattelandse nostalgie, die fokus val op die karakters, slim spel tussen lig en donker, die landskap nog harder maak) dwing jou na binne. Daar is mos al baie geskryf oor jou eie verbeelding wat veel erger goed kan opdink, as wat jy op die papier lees of in ’n film sien. Jy gaan besoek jou eie demone. Ag, dankie, Nico.
Die redigering deur Regardt Botha gee hierdie strak swart en wit stilte die ruimte om asem te haal. Dit skep ’n stadige ritme wat die spanning tot ’n bykans onhoubare breekpunt opbou. Dit dwing die kyker om stil te sit, om te luister en om die donkerte van die mense te ervaar.
Scheepers gebruik nie goedkoop truuks soos jump scares nie. Die onheil is in die dialoog, in ’n kers wat uitgeblaas word, die kamera wat fokus op Luka en die reisigers in die voorgrond en Hanna wat in die agtergrond op die dak van die huis staan. Dit laat jou nekhare rys. Goeiste. Daar is tientalle sulke tonele. Subtiel, stil en wat die Engelse noem, creepy.
Scheepers gee ook nie al die antwoorde nie. Dit is moeilik om uit te werk of die film in die verlede of hede of toekoms afspeel. Hul stewels is modern, maar hulle lees ’n Nederlandse Bybel. Dit kan ’n alternatiewe realiteit wees?
Wat is die relevansie van die droë put? Wie stuur vir hulle kerse en seep in die emmertjie wat opgetrek word?
Hoekom bied Dawid wit lappe aan? Om Lukas se voete te verbind? Sy nuwe wit kerkhemp? Is dit ’n verklaring van vrede? ’n Nuwe hoofstuk? Suiwerheid versus besmetting?
’n Hele klomp temas word uitgelig. Geloof wat verval, in isolasie leef, die dierlikheid van die mens wanneer alle morele kompasse verwyder word. Die temas wat my persoonlik geraak het, is ouerskap en ons verhouding met diere.
Wat doen die koms van die kind aan hul blykbaar vreedsame bestaan? Dawid en Hanna reageer beide verskillend op die kind (Dawian van der Westhuizen). Hy is eers beskermend, dan agterdogtig en gewelddadig. Hanna se moederlike instink gaan in die oortreffende trap in. Hulle huwelik verbrokkel uiteindelik en Lukas, wat aanvanklik as onheilspellend ervaar word, is maar ’n toeskouer tot die verval.
Vir groot diereliefhebbers gaan Hen moeilik wees om te kyk: van die slag van die bok, die breek van die hoender se nek, tot die uiteindelike verwoesting. Dit is Lukas wat die doodmaak van die diere bevraagteken. Dit is die kind wat die oorblyfsels gaan begrawe. Dit is asof die verval spoed optel nadat hulle die hoender geëet het. Hulle word wakker met blink hoendervet om hul monde.
Dit bring my by Dawian. Gits, waar kom die kind vandaan? Natuurlik speel die regie ’n groot rol in sy spel, maar hy het ’n indrukwekkende teenwoordigheid. Hy is onheilspellend én weerloos in een toneel. Ons sien hopelik baie van hom in die toekoms.
Op die ou einde is ek bly ek het Hen gekyk. Dit is soveel meer as ’n gruwelfilm. ’n Donker kunsfilm? Sosiale kommentaar? All of the above? Eintlik moet mens dit ’n tweede slag kyk om al die details raak te sien. Maar so braaf is ek nie.
Lees ook:

