Help! My dorp hou ’n kunstefees!
Koos Kombuis
Naledi
Met die noem van die teoretikus Bakhtin en die karnavaleske in dieselfde asem as sy nuwe komiese novelle sal Koos Kombuis sekerlik sy voorstedelike oë tol.
Binnensmonds mompel: Kan dié blessitse resensent dan nie lees nie? Die grap wat dié ligte snuistery onderspan is dan juis die idee dat hogere letterkunde vir die voëls is.
Dat Groot Skrywers soos Etienne van Heerden, hoofindoena van LitNet en die voortbrenger van dodelike boeke soos Die biblioteek aan die einde van die wêreld, die oorsaak is van die tot stand bring op onwaarskynlike plekke van kunstefeeste, ons volk se nuwe antikerke. Dis dan juis die swáár wat met die lees, onder die veroordelende oë van medeboekklubgangers, van sulke eindelose boeke gepaard gaan wat mense hul middelklasborstrokke laat losskeur en in ’n bachanaalse dans oopkantel.
Selfs iemand so stigtelik as Sanet Watermeyer-Grové op die haas onbekende Noord-Kaapse dorpie Vredelus – wat geseën is met ’n hardewarewinkel, ’n kappery vir mans en een vir vroue, én drie kerke.
En hoe lus hulle ook vir vrede was – vrede; rus en duurte; stilligheid – is die dorpenaars dit nie meer beskore nie, nadat Sanet, wat dit maar net ’n entjie diep in Die biblioteek in kon maak, opsluit besluit: Ná die pandemie wat mense uit mekaar laat dryf het, sal daar hiér ’n kunstefees uit die stof moet verrys.
En só begin die poppe rinkhals.
......
En só begin die poppe rinkhals.
..........
Op Vredelus is daar ’n rits eksentrieke karakters: die mooie Tessa Hanekom en haar man Attie, die enigste manlike lid van die dorp se boekklub; dominee Tiaan Holtzhausen en sy vrou Colette; Tom Skêre die manshaarkapper; Vlokkie-met-die-kroeg; Madelief van Biljon en haar opgeskote dogter Vytjie; en Wimpie die landdros, Sanet se bedrywige man.
Van buite kom Terblanche Tuisnywerheid aan, die rocker wat bier rook en dagga drink. Ook die chanteuse Cassandra D’Ole, ingenestel langs Dok Olewage in sy grassnyer van ’n vliegtuigie.
Én hoeveel poniejoernaliste en -fotograwe en rolprentlui wat kom om die oopwaaierende tafereel, tegelyk burlesk en fataal, gade te slaan en vir die nageslagte op die rekord te plaas.
........
Help! My dorp hou ’n kunstefees is snaaks – maar dun. In ’n sin is dit ’n enkele grap wat Kombuis in etlike verskillende gedaantes oorvertel. Maar, dit ís snaaks, soms – in die stilligheid van jou binnekamer – raserig snaaks.
.........
Help! My dorp hou ’n kunstefees is snaaks – maar dun. In ’n sin is dit ’n enkele grap wat Kombuis in etlike verskillende gedaantes oorvertel. Maar, dit ís snaaks, soms – in die stilligheid van jou binnekamer – raserig snaaks.
En daarmee sou ek kon volstaan.
Maar in die wesenlik eendimensionele intrige lê daar die eerste hale van ’n klug in die Franse tradisie gekruis met die Engelse kusdorpposkaartstuitigheid: deure wat oopskiet om kale jonkers te onthul; weggesteekte geheime wat op onverwagse plekke ontbloem word; die fraaie boog van ’n rug wat omdraai en twee gepunte vrugte son toe laat uitreik.
Daar’s iets van Tom Sharpe se histeriese malligheid, van sy vernuftige plotting hier. Kombuis wéét warempel hoe om ’n storie te vertel. Die tonele wissel mekaar so vinnig af dat jy later uitasem is van al die frenetiese omblaai.
Op een vlak wérk die boek dus. Baie lesers sal dit vir ’n uur of drie ’n salwende verligting vind ná al die swarigheid van die afgelope anderhalf jaar. Ek het ook lekker gelag.
.......
Op een vlak wérk die boek dus. Baie lesers sal dit vir ’n uur of drie ’n salwende verligting vind ná al die swarigheid van die afgelope anderhalf jaar. Ek het ook lekker gelag.
.........
Maar juis daarom wonder ek wat die boek kon gewees het as Kombuis ’n bietjie langer daaraan gewerk het.
Karakters uitgebou het. Temas verder ontwikkel het. Selfs die oorsprongsgrappie van die onleesbare belletristiese boek verder die verhaal in ingeweef het.
Kombuis se skoolvriend, die aangevalle romansier Van Heerden, het sekerlik reeds op bladsy 13 – wat eintlik bladsy 1 is – die vriendskap opgeskort.
’n Mens leer darem ook ’n klompie nuwe woorde en spelwyses ken. Soos: vereers.
Ek volstaan – ahem – vereers hiermee: ’n glimlag; ook ’n skaterbui soos in die biertuin by ’n kunstefees; en ’n versugting.
Lees ook:
Kommentaar
Uitstekend gebalanseerde resensie, pragtig geskryf en in dieselfde gees as Koos se boek, glo ek. Welgedaan.